Wanneer grootouers ouers word
“Ek het kort tevore van ’n vergadering by die Koninkryksaal af tuis gekom. Iemand het hard aan die deur geklop, en daar het twee polisiemanne gestaan en twee smerige kinders met gekoekte hare wat gelyk het asof hulle maande laas gebad het. ’n Mens kon skaars sien dat hulle kinders was! Hulle was my kleinkinders, en hulle ma—’n dwelmverslaafde—het hulle verwaarloos. Ek was ’n weduwee, en ek het self alreeds ses kinders gehad. Maar ek kon net nie nee sê nie.”—Sally.a
“My dogter het my gevra of ek na haar kinders kon kyk totdat sy haarself reggeruk het. Ek het nie geweet dat sy aan dwelms verslaaf was nie. Op die ou end het ek haar twee kinders grootgemaak. Jare later het my dogter nog ’n baba gehad. Ek wou haar nie neem nie, maar my kleinseun het my gesmeek en gesê: ‘Ouma, kan ons nie vir nog net enetjie plek maak nie?’”—Willie Mae.
GROOTOUERSKAP is voorheen beskryf as “vreugde sonder verantwoordelikheid”. Maar nie meer nie. Sommige skat dat daar in die Verenigde State alleen meer as driemiljoen kinders is wat by hulle grootouers bly. En die getal neem vinnig toe.
Wat sit agter hierdie verontrustende neiging? Kinders wie se ouers skei, gaan bly dalk op die ou end by hulle grootouers. Dit is ook moontlik die geval met kinders wat deur hulle ouers verwaarloos of mishandel word. Die tydskrif Child Welfare sê dat ‘crack-kokaïen besig is om ’n verlore geslag te skep’, weens die ontwrigtende uitwerking wat dit op verslaafde ouers het. Daar is ook miljoene kinders wat “ouerloos” is omdat hulle ouers hulle weggooi, sterf of geestelik versteurd is. Kinders wat hulle moeder weens vigs verloor, kan ook uiteindelik in die sorg van hulle grootouers beland.
Dit kan baie moeilik wees om gedurende die middeljare of gedurende “die ongelukkige dae” van ’n mens se oudag die verantwoordelikheid te aanvaar om kinders groot te maak (Prediker 12:1-7). Baie mense het eenvoudig nie die energie om gedurigdeur ’n ogie oor klein kindertjies te hou nie. Sommige grootouers versorg ook nog hulle eie bejaarde ouers. Nog ander is weduwees of wewenaars of is geskei en moet dan sonder die hulp van ’n maat oor die weg kom. En baie vind dat hulle nie finansieel daarop voorbereid is om so ’n verantwoordelikheid te aanvaar nie. In een opname was 4 uit 10 grootouers wat hulle kleinkinders grootmaak se inkomste net bo die broodlyn. “Die kinders was siek”, vertel Sally. “Ek moes noodgedwonge baie geld aan medisyne uitgee. Ek het maar min finansiële hulp van die staat ontvang.” ’n Bejaarde vrou onthou: “Ek moes my aftreegeld gebruik om my kleinkinders te versorg.”
Die spanning en druk
Dit is geen wonder nie dat een studie bevind het dat “dit aansienlike spanning vir grootouers veroorsaak het om hulle kleinkinders groot te maak, en 86 persent van die 60 grootouers in die studie het gesê dat hulle ‘die meeste van die tyd depressief of angstig’ voel”. Trouens, baie van hulle ondervind gesondheidsprobleme. “Dit het ’n fisiese, verstandelike en geestelike uitwerking op my gehad”, sê Elizabeth, ’n vrou wat vir haar tienderjarige kleindogter gesorg het. Willie Mae, wat hartprobleme en hoë bloeddruk het, sê: “My dokter dink dat dit verband hou met die stres wat daarmee gepaardgaan om kinders groot te maak.”
Baie is onvoorbereid op die gedwonge verandering in lewenstyl wanneer ’n mens kleinkinders grootmaak. “Daar is soms tye wanneer ek nêrens heen kan gaan nie”, sê ’n grootouer. “Ek het skuldig gevoel . . . wanneer ek hulle by iemand anders gelos het, daarom bly ek eerder tuis as om iewers heen te gaan of iets te doen.” ’n Ander het gesê dat sy “absoluut geen” tyd vir haarself het nie. Sosiale isolasie en eensaamheid is algemeen. Een grootmoeder het gesê: “In ons ouderdomsgroep het die meeste van ons vriende nie [jong] kinders nie, en gevolglik wys ons dikwels uitnodigings van die hand omdat ons kinders [die kleinkinders] nie genooi is nie.”
Die emosionele druk is ook pynlik. ’n Artikel in U.S.News & World Report sê: “Baie van hulle [grootouers] word verteer deur skaamte en skuldgevoelens oor die feit dat hulle eie kinders as ouers misluk het—en baie blameer hulleself en wonder watter foute húlle as ouers gemaak het. Om ’n veilige en liefdevolle tuiste vir hulle kleinkinders te skep, moet sommige grootouers hulle emosioneel distansieer van hulle eie kinders wat die kleinkinders mishandel het of aan dwelms verslaaf is.”
’n Opname sê: “Meer as ’n kwart . . . het gesê dat hulle huweliksgeluk daaronder ly omdat hulle hulle kleinkinders moet grootmaak.” Veral mans voel dikwels afgeskeep aangesien hulle vrou die grootste deel van die kindersorg op haar neem. Party mans voel dat hulle eenvoudig nie die druk kan hanteer nie. Een vrou sê die volgende van haar man: “Hy het ons verlaat. . . . Ek dink hy het net vasgevang gevoel.”
Kinders met opgekropte woede
U.S.News & World Report sê: “Die spanning word vererger deur die feit dat party van die kinders wat [deur grootouers] geërf word, van die kinders in dié land is wat die meeste hulp nodig het, die grootste emosionele skade gely het en die meeste opgekropte woede het.”
Kyk na die geval van Elizabeth se kleindogter. Die kind se pa het haar letterlik op die straathoek gelos waar Elizabeth gewerk het om skoolkinders ’n besige straat te help oorsteek. “Sy is ’n kind met baie opgekropte woede in haar”, sê Elizabeth. “Sy het seergekry.” Sally se kleinkinders het soortgelyke letsels oorgehou. “My kleinseun is verbitterd. Hy voel dat niemand hom wil hê nie.” Dit is ’n kind se geboortereg om ’n liefdevolle vader en moeder te hê. Stel jou voor hoe dit vir ’n kind moet voel as hulle hom weggegooi, verwaarloos of verwerp het! Begrip vir hierdie gevoelens kan ’n grootouer help om geduldig te wees met kinders wat gedragsprobleme ontwikkel. Spreuke 19:11 sê: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig.”
Byvoorbeeld, ’n kind wat deur sy ouers weggegooi is, verset hom dalk teen jou pogings om vir hom te sorg. Begrip vir die kind se vrese en angs kan jou help om met deernis te reageer. As jy sy vrese erken en hom verseker dat jy alles in jou vermoë sal doen om vir hom te sorg, kan baie help om sy vrese te stil.
Verwerk die druk
‘Ek het baie seergemaak en jammer vir myself gevoel. Dit is net nie regverdig dat dit met ons gebeur nie.’ Dit is wat een ouma gesê het wat haar kleinkind grootmaak. As jy jou in hierdie situasie bevind, het jy dalk soortgelyke gevoelens. Maar die situasie is beslis nie hopeloos nie. Om maar een rede te noem, jou ouderdom beperk dalk jou liggaamlike energie, maar ouderdom is ’n voordeel wanneer dit kom by wysheid, geduld en vaardigheid. Dit is dus nie verbasend nie dat ’n studie bevind het dat “kinders wat net deur hulle grootouers grootgemaak is, heel goed gevaar het in vergelyking met ander kinders in gesinne waar een biologiese ouer wel teenwoordig was”.
Die Bybel spoor ons aan om ‘al ons sorge op Jehovah te werp, want hy is besorg oor ons’ (1 Petrus 5:7). Bid dus gedurig tot hom vir krag en leiding, soos die psalmis gedoen het. (Vergelyk Psalm 71:18.) Skenk aandag aan jou eie geestelike behoeftes (Matteus 5:3). “Christelike vergaderinge en die predikingswerk het my gehelp om voort te gaan”, sê ’n Christenvrou. Doen jou bes om jou kleinkinders God se weë te probeer leer (Deuteronomium 4:9). God sal jou pogings om jou kleinkinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” beslis seën.—Efesiërs 6:4.b
Moenie bang wees om hulp te soek nie. Vriende kan dikwels help, veral in die Christengemeente. Sally vertel: “Die broers en susters in die gemeente het my baie ondersteun. Wanneer ek terneergedruk was, was hulle daar om my op te beur. Party het my selfs finansieel gehelp.”
Hou ook in gedagte dat jy moontlik by die staat hulp kan kry (Romeine 13:6). Dit is interessant dat een opname onder grootouers getoon het dat “die meeste nie weet wat beskikbaar is of waar om hulp te soek nie” (Child Welfare). Maatskaplike werkers en plaaslike instansies wat bejaardes help, kan moontlik vir jou sê waar jy hulp kan kry.
In baie gevalle is grootouers wat hulle kleinkinders moet grootmaak ’n produk van hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Gelukkig is hierdie swaar tye ’n teken dat God binnekort gaan ingryp en “’n nuwe aarde” gaan skep waarin die tragiese situasies wat soveel gesinne vandag teister iets van die verlede sal wees (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Intussen moet grootouers wat hulle kleinkinders grootmaak, doen wat hulle kan in hulle situasie. Baie behaal groot welslae in hulle pogings! Onthou altyd dat daar vreugdes kan wees ten spyte van al die frustrasie. Jy kan selfs die vreugde daarvan ervaar om te sien hoe jou kleinkinders opregte liefhebbers van God word! Sal dit nie al jou harde werk die moeite werd maak nie?
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Die boek Die geheim van gesinsgeluk (uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.) bevat baie nuttige Bybelbeginsels wat grootouers kan gebruik in die grootmaak van hulle kleinkinders.
[Venster op bladsy 10]
Geregtelike sake
Of jy wetlike toesig oor jou kleinkinders moet verkry of nie is ’n netelige en ingewikkelde vraag. Mary Fron, ’n deskundige op hierdie gebied, verduidelik: “Aan die een kant het jy min wetlike regte as jy nie toesig het nie. In die meeste gevalle kan die biologiese ouers terugkom en die kind of kinders enige tyd wegneem. Aan die ander kant is baie grootouers huiwerig om toesig te probeer verkry omdat dit beteken dat hulle in ’n hof moet getuig dat hulle kind ’n onbevoegde ouer is.”—Good Housekeeping.
As grootouers nie wetlike toesig het nie, ondervind hulle dikwels probleme om hulle kleinkinders by die skool in te skryf of selfs om mediese behandeling vir hulle te kry. Maar om toesig te verkry, kan ’n duur, tydrowende en emosioneel uitputtende beproewing wees. En selfs al verkry grootouers toesig vind hulle dalk dat hulle nie kwalifiseer vir finansiële hulp van die staat nie. Die tydskrif Child Welfare raai grootouers dus aan om “raad te vra by ’n plaaslike prokureur wat die staat se gesinswette, toesigsake en kinderwelsyn goed ken”.
[Venster op bladsy 11]
Bereken die koste
Dit is hartverskeurend om ’n kind in nood te sien—veral as hy jou eie vlees en bloed is. En die Bybel beveel Christene om vir ‘hulle huisgesin’ te sorg (1 Timoteus 5:8). Dit sal nietemin in baie gevalle wys wees as ’n grootouer ernstig nadink voordat hy so ’n verantwoordelikheid aanvaar (Spreuke 14:15; 21:5). ’n Mens moet die koste bereken.—Vergelyk Lukas 14:28.
Dink biddend oor die volgende na: Is jy fisies, emosioneel, geestelik en finansieel gesproke werklik in ’n posisie om in die behoeftes van hierdie kind te voorsien? Hoe voel jou maat oor die situasie? Is daar enige manier waarop jy die kind se ouers kan aanmoedig of kan help sodat hulle self vir hulle kind kan sorg? Ongelukkig hou party onverantwoordelike ouers eenvoudig aan om ’n onsedelike lewe te lei. Een ouma vertel met bitterheid: “Ek het ’n hele paar van haar kinders in my sorg geneem. Maar sy het aangehou om dwelms te gebruik en nog babas te kry. Ek het ’n punt bereik waar ek moes nee sê!”
Maar wat sal van jou kleinkinders word as jy nie vir hulle sorg nie? Sal jy kan saamlewe met die wete dat ander mense, dalk selfs vreemdelinge, vir hulle sorg? Wat van die kinders se geestelike behoeftes? Sal ander hulle volgens God se standaarde kan grootmaak? Ten spyte van al die probleme kom sommige dalk tot die gevolgtrekking dat hulle geen ander keuse het as om die verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Hierdie bekommernisse is pynlik, en elke individu moet sy of haar eie besluit neem.
[Prent op bladsy 9]
Vir baie grootouers is dit moeilik om die verpligtinge na te kom wat daarmee gepaardgaan om klein kindertjies groot te maak
[Prent op bladsy 10]
Godvresende grootouers kan daarvan verseker wees dat Jehovah hulle pogings sal seën