Die “nuwe” grootouers
“Welkom by Ouma en Oupa se huis—Ons bederf kinders terwyl jy wag.” Dit staan op ’n uithangbord by die ingang van Gene en Jane se huis.
MAAR as jy ingaan, sien jy nie ’n bejaarde egpaar in skommelstoele sit nie. Jy sal eerder ’n jeugdige, energieke egpaar in hulle veertigerjare sien. In plaas van hulle rol as ‘veterane’ te probeer ontwyk, is Gene en Jane heel entoesiasties daaroor om grootouers te wees. “Dis seker een van daardie klein dingetjies in die lewe wat toon dat ’n mens besig is om ouer te word”, sê Gene, “maar kleinkinders is een van die belonings daarvoor dat jy jou kinders grootgemaak het.”
’n Ou spreuk sê: “Kindskinders is ’n kroon vir grysaards” (Spreuke 17:6). Daar is dikwels ’n baie spesiale band van liefde en intimiteit tussen grootouers en kleinkinders. En volgens die tydskrif Generations “is ’n ongeëwenaarde aantal mense in Amerika grootouers”. Die rede? “Die feit dat mense langer lewe en dat daar nuwe patrone in die lewensiklus van die gesin is”, verduidelik die artikel. “Veranderinge in mortaliteit en vrugbaarheid beteken dat ongeveer driekwart van alle volwassenes in hulle leeftyd grootouers sal word . . . Die meeste middeljarige mense word grootouers wanneer hulle ongeveer 45 jaar oud is.”
’n Nuwe geslag grootouers het in sommige lande verskyn. Maar baie vind dat hulle al hoe meer betrokke raak by die versorging van hulle kleinkinders. Gene en Jane se seun en gewese skoondogter is byvoorbeeld geskei en het gesamentlike toesig oor die kinders. “Ons probeer help deur ons kleinseun op te pas terwyl ons seun by die werk is”, verduidelik Jane. Volgens een opname bestee grootouers in die Verenigde State wat vir hulle kleinkinders sorg ongeveer 14 uur per week aan hierdie taak. Dit kom te staan op tot 29 miljard dollar (163 miljard rand) in arbeid per jaar!
Watter vreugdes ervaar die grootouers van vandag? Voor watter uitdagings kom hulle te staan? Die volgende artikels bespreek hierdie vrae.