Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/8 bl. 6-7
  • Wat is party van die probleme?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is party van die probleme?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer daar nie meer gesels word nie
  • Jou voorbeeld kan ’n verskil maak
  • “’n Vonkeling in ons lewe”
  • Lewe in liefde saam
    Ontwaak!—1995
  • Hoe kan ek nader aan my grootouers kom?
    Ontwaak!—2001
  • Waarom moet ek my grootouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2001
  • Grootouers—die vreugdes en uitdagings
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/8 bl. 6-7

Wat is party van die probleme?

Grootouers, ouers en kleinkinders—drie geslagte wat deur net ’n paar dekades geskei word, maar in gees dikwels deur ’n afgrond.

BAIE grootouers het die skrikwekkende ondervinding van die Tweede Wêreldoorlog met al sy verwoestende gevolge deurgemaak. Hulle kinders was waarskynlik jonk gedurende die protestyd en die ekonomiese oplewing van die sestigerjare. Hulle kleinkinders leef vandag in ’n wêreld sonder waardes. Met die hedendaagse vinnige verandering van openbare rolmodelle is dit nie maklik vir een geslag om waardering vir hulle ondervinding aan die volgende geslag oor te dra nie. Iets ontbreek, iets om mense van verskillende geslagte te oorreed om saam te werk en mekaar te respekteer. Maar wat kan dit wees?

Welmenende grootouers meng hulle dikwels in in die gesinsaangeleenthede van hulle getroude kinders en kla dat die ouers óf te streng óf te laks met die kleinkinders is. ’n Spaanse spreekwoord sê daarenteen: “Straf deur grootouers bring nie goeie kleinkinders voort nie”—aangesien grootouers geneig is om te toegeeflik te wees. Hulle tree moontlik tussenbeide omdat hulle wil hê dat hulle kinders sekere foute moet vermy wat hulle, danksy hulle eie ondervinding, duidelik kan sien. Maar hulle is moontlik nie daartoe in staat om die veranderende verwantskap met hulle getroude kinders op ’n gebalanseerde manier te herwaardeer en te vertolk nie. Die kinders, wat deur middel van die huwelik die langverwagte onafhanklikheid verkry het, is nie bereid om inmenging te duld nie. Noudat hulle werk om die gesin te onderhou, wil hulle nie hê dat daar inbreuk gemaak moet word op hulle reg om hulle eie besluite te neem nie. Die kleinkinders, wat miskien dink dat hulle reeds alles weet, vererg hulle oor reëls en regulasies en meen dalk dat hulle grootouers nie meer voeling met die lewe het nie. In die moderne gemeenskap lyk dit of grootouers hulle aantrekkingskrag verloor het. Hulle ondervinding word heel dikwels geïgnoreer.

Wanneer daar nie meer gesels word nie

’n Ondeurdringbare muur, ’n gebrek aan wedersydse begrip, sonder die grootouers soms van die res van die familie af selfs wanneer hulle by hulle kinders woon. Ongelukkig vind dit presies op die tyd plaas wanneer die grootouers ’n selfs groter behoefte aan geneentheid het, omdat die jare swaar begin druk. ’n Mens hoef nie alleen te wees om alleen te voel nie. Wanneer daar nie meer gesels word nie, wanneer eerbied en geneentheid deur neerbuigendheid of irritasie vervang word, is die resultate algehele vervreemding en diepe teleurstelling aan die kant van die grootouers. Dit maak hulle diep seer. Die opvoedkundige Giacomo Dacquino skryf: “Liefde in die familie, wat iemand onlangs met ’n verouderde model vergelyk het, is steeds die beste geriatriese medisyne. ’n Gesigsuitdrukking wat begrip toon, ’n vriendelike glimlag, ’n goeie woord of ’n teer gebaar help meer as baie medisyne.”—Libertà di invecchiare (Vryheid om oud te word).

Jou voorbeeld kan ’n verskil maak

Die spanning weens verslegtende familiebetrekkinge veroorsaak ook voortdurende klagtes van die een geslag teen die ander. Een familielid voel dalk dat alles wat ’n ander een doen verkeerd is. Maar die nadelige gevolge raak almal. Die kinders sien hoe hulle ouers die grootouers behandel en hoe hulle grootouers op hulle beurt daarop reageer. Hoewel die bejaardes dalk meestal in stilte ly, hoor, sien en onthou die kleinkinders dit. So word hulle eie toekomstige gedragspatrone beïnvloed. As volwassenes gaan hulle heel moontlik hulle ouers behandel net soos hulle ouers die grootouers behandel het. ’n Mens kan nie die Bybelbeginsel ontwyk nie: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

As kleinkinders sien dat die ouers die grootouers neerbuigend behandel—met hulle spot, hulle op ’n onbeskofte wyse stilmaak of hulle selfs uitbuit—is dit die manier waarop hulle op hulle beurt dalk teenoor hulle ouers sal optree wanneer dié ouer word. Dit is nie genoeg om die grootouers se geraamde foto op die buffet te hou nie—hulle moet as mense gerespekteer en bemin word. Mettertyd sal dieselfde behandeling deur die kleinkinders uitgedeel word. Daar word gesê dat die verskynsel van mishandelde grootouers al hoe algemener word. In party Europese lande is telefoonhulplyne ingestel om vir mishandelde bejaardes tussenbeide te tree en is soortgelyk aan dié wat reeds vir die beskerming van kinders bestaan.

Selfsug, trots en ’n gebrek aan liefde voed en vererger ’n gebrek aan begrip. Die aantal mense wat van grootouers ontslae probeer raak deur hulle in ouetehuise te sit, neem dus toe. Party ontsien geen koste om ontslae te raak van die probleem om vir die bejaardes te sorg nie en vertrou hulle óf aan gespesialiseerde sentrums toe wat met al die jongste tegnologie toegerus is, óf aan aftree-oorde soos dié in Florida of Kalifornië, VSA, wat baie supermarkte en vermaaklikhede daar naby het, maar waar die glimlag en teer gebaar van geliefdes en die omhelsing van kleinkinders steeds ontbreek. Baie soek veral gedurende vakansietye ’n plek om ouma of oupa te “laat staan”. In Indië is die situasie soms nog erger wanneer party grootouers net verlaat word en self moet sien en kom klaar.

Die probleem om familieverhoudinge heg te hou, word deur egskeiding vererger. In net 1 uit 4 Britse gesinne woon albei ouers nog in die huis. Egskeiding neem egter wêreldwyd toe. In die Verenigde State is daar elke jaar meer as ’n miljoen egskeidings. Grootouers bevind hulle dus onverwags van aangesig tot aangesig met hulle kinders se huwelikskrisisse en die gevolglike drastiese veranderinge in hulle verhoudinge met hulle kleinkinders. Buiten die verleentheid van kontak met ’n gewese skoonseun of ’n gewese skoondogter, is daar ook die probleem wanneer daar “skielik ‘bykomende’ kleinkinders aankom” as, soos die Italiaanse koerant Corriere Salute berig, “hulle seun of dogter se nuwe maat kinders uit ’n vorige huwelik het”.

“’n Vonkeling in ons lewe”

Tog is ’n hartlike, liefdevolle verhouding met jou grootouers, of hulle nou by die res van die familie woon of nie, vir almal van groot nut. “Om iets vir ons kinders en kleinkinders te doen”, sê Rioko, ’n ouma in Foekoei, Japan, “is genoeg om ’n vonkeling in ons lewe te sit.” Volgens die bevindinge van navorsing wat deur Corriere Salute gepubliseer is, het ’n groep Amerikaanse deskundiges na bewering gesê: “Wanneer grootouers en kleinkinders gelukkig genoeg is om ’n innige en liefdevolle verhouding te geniet, is dit nie net vir die kinders van groot waarde nie, maar ook vir die hele familie.”

Wat kan dan gedoen word om persoonlike verskille, generasiegapings en ingebore neigings tot selfsug wat so ’n negatiewe invloed op familieverhoudinge het te oorkom? Hierdie onderwerp sal in die volgende artikel bespreek word.

[Lokteks op bladsy 6]

“Wat verskriklik omtrent die ouderdom is, is dat daar nie na jou geluister word nie.”—Albert Camus, Franse romanskrywer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel