Selfmoord—’n plaag onder jongmense
ASOF oorlog, moord en gruweldade nie genoeg is om die lewens van ons jongmense te verwoes nie, is daar selfvernietiging in die vorm van jeugselfmoord. Dwelm- en alkolholmisbruik verwoes die verstande en liggame van jongmense en veroorsaak baie sterfgevalle onder hulle. Daar word al hoe gereelder gesê dat ’n slagoffer dood is weens ’n oordosis dwelms, wat opsetlik of per ongeluk geneem is.
Die Morbidity and Mortality Weekly Report van 28 April 1995 het gesê dat “selfmoord in die Verenigde State die derde grootste doodsoorsaak is onder adolessente van 15-19 jaar oud”. Dr. J. J. Mann skryf in The Decade of the Brain: “Meer as 30 000 [in 1995 was die syfer 31 284] Amerikaners pleeg elke jaar selfmoord. Dit is tragies dat jongmense gewoonlik die slagoffers is . . . Tien keer meer mense as daardie 30 000 probeer selfmoord pleeg, maar oorleef dit. . . . Dit is vir klinici ’n baie groot uitdaging om te bepaal watter pasiënte dalk selfmoord sal pleeg, aangesien hulle nie maklik kan onderskei tussen pasiënte met ernstige depressie wat wel selfmoord sal probeer pleeg en diegene wat dit nie sal doen nie.”
Simon Sobo, hoof van psigiatrie by die New Milford-hospitaal, Connecticut, VSA, het gesê: “Daar was hierdie lente [1995] meer selfmoordpogings as wat ek in die 13 jaar gesien het wat ek al hier is.” In die Verenigde State is daar duisende tieners wat elke jaar selfmoord probeer pleeg. Elke poging is ’n uitroep om hulp en aandag. Wie sal daar wees om hulp te verleen voordat dit te laat is?
’n Wêreldwye probleem
Die situasie is nie veel anders in baie ander wêrelddele nie. In Indië het sowat 30 000 jongmense, volgens India Today, gedurende 1990 selfmoord gepleeg. In Finland, Frankryk, Israel, Kanada, Nederland, Nieu-Seeland, Spanje, Switserland en Thailand het selfmoordsyfers onder jongmense gestyg. ’n Verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) in 1996 sê dat die hoogste selfmoordsyfers onder jongmense in Finland, Letland, Litaue, Nieu-Seeland, Rusland en Slowenië aangetref word.
Australië het ook een van die wêreld se hoogste selfmoordsyfers onder jongmense. In 1995 was 25 persent van alle sterfgevalle onder jong mans en 17 persent onder jong vroue in hierdie land weens selfmoord, aldus ’n berig in die koerant The Canberra Times. Die aantal “suksesvolle” selfmoorde onder Australiese seuns is ongeveer vyf keer groter as onder meisies. ’n Soortgelyke verhouding word in die meeste lande gevind.
Beteken dit dat daar ’n groter moontlikheid is dat seuns selfmoord sal probeer pleeg as meisies? Nie noodwendig nie. Beskikbare data toon ’n geringe verskil tussen die geslagte wat selfmoordpogings betref. Maar “volgens die jongste syfers van die WGO [Wêreldgesondheidsorganisasie] pleeg ongeveer vier keer meer jong mans as vroue selfmoord in die nywerheidslande”.—The Progress of Nations, uitgegee deur UNICEF.
Maar selfs hierdie skokkende statistiek gee moontlik nie die volle omvang van die probleem weer nie. Statistiek oor jeugselfmoord, wat in kliniese en ontledende terme uitgedruk word, is verbasend maklik om te lees. Maar wat dikwels nie in ag geneem word of agter die koue statistiek raakgesien word nie, is die verpletterde gesinne en die hartseer, ellende, pyn en wanhoop van diegene wat agtergelaat word terwyl hulle na redes soek.
Kan tragedies soos jeugselfmoord dus voorkom word? ’n Paar sleutelfaktore is al geïdentifiseer en kan nuttig wees om hierdie droewige situasie te vermy.
[Venster op bladsy 5]
Redes vir selfmoord
Daar is baie teorieë oor die redes vir selfmoord. “Selfmoord is die gevolg van iemand se reaksie op ’n probleem wat as oorweldigend gesien word, soos sosiale afsondering, die dood van ’n geliefde (veral ’n huweliksmaat), ’n gebroke gesin gedurende kinderjare, ernstige siekte, die ouderdom, werkloosheid, finansiële probleme en dwelmmisbruik.”—The American Medical Association Encyclopedia of Medicine.
Volgens die sosioloog Emile Durkheim is daar vier basiese soorte selfmoord:
1. Egoïstiese selfmoord—Dit “spruit vermoedelik voort uit ’n individu se gebrek aan inskakeling by die gemeenskap. Omdat slagoffers van egoïstiese selfmoord grotendeels alleen gelaat word, is hulle nie ingeskakel by of afhanklik van hulle gemeenskap nie.” Hulle is geneig om alleenlopers te wees.
2. Altruïstiese selfmoord—“Die individu is so gebonde aan ’n groep dat hy of sy meen dat geen opoffering te groot is nie.” Voorbeelde wat gegee is, is Japannese kamikazevlieëniers in die Tweede Wêreldoorlog en godsdiensekstremiste wat hulleself opblaas terwyl hulle hulle vermeende vyande doodmaak. Ander voorbeelde is diegene wat gesterf het deur hulleself op te offer om die aandag op ’n saak te vestig.
3. Anomiese selfmoord—“Die slagoffer van anomiese selfmoord is nie daartoe in staat om ’n krisis op ’n rasionele manier te verwerk nie en kies selfmoord as die oplossing van ’n probleem. [Dit] gebeur wanneer die individu se verhouding met ander skielik en drasties verander.”
4. Fatalistiese selfmoord—Dit word “vermoedelik veroorsaak wanneer ’n gemeenskap te veel regulasies het wat ’n individu se vryheid wesenlik beperk”. Sulke slagoffers “voel dat daar vir hulle geen toekoms is nie”.—Adolescent Suicide: Assessment and Intervention, deur Alan L. Berman en David A. Jobes.
[Prent op bladsy 5]
’n Paar van die skadelike gebruike wat tot jeugselfmoord kan lei