Wanneer hoop en liefde verdwyn
’N 17-JARIGE Kanadese meisie het die redes neergeskryf waarom sy wou doodgaan. Hier volg ’n deel van haar lys: ‘Ek voel eensaam en bang oor my toekoms; ek voel werklik minderwaardig teenoor my kollegas; kernoorlog; die osoonlaag; ek is regtig lelik, en daarom sal ek nooit ’n man kry nie en op die ou end alleen wees; ek dink nie daar is werklik veel om voor te lewe nie, waarom moet ek dus wag om uit te vind; dit sal die las van ander af wegneem; niemand sal my ooit weer kan seermaak nie.’
Kan dit party van die redes wees waarom jongmense selfmoord pleeg? In Kanada “is selfmoord, buiten motorongelukke, nou die algemeenste doodsoorsaak onder hulle”.—The Globe and Mail.
Professor Riaz Hassan, van die Flinders-universiteit van Suid-Australië, sê in sy verhandeling “Kortgeknipte lewens: Selfmoordtendense onder jongmense”: “Daar is etlike sosiologiese redes wat betrekking het op die kwessie en wat blykbaar ’n groot invloed op die toename in selfmoord onder adolessente het. Dit is die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense; veranderinge in die Australiese gesin; toenemende dwelmgebruik en -misbruik; toenemende geweld onder jongmense; geestesgesondheid en ’n toenemende gaping tussen ‘teoretiese vryheid’ en ware onafhanklikheid.” Die verhandeling sê verder dat die resultate van verskeie opnames getoon het dat hulle ’n pessimistiese gevoel oor die toekoms het en daarop dui dat “’n groot aantal jongmense met vrees en angs vervul word wanneer hulle aan hulle toekoms en dié van die wêreld dink. Hulle sien ’n wêreld wat deur kernoorlog en deur besoedeling en omgewingsagteruitgang verwoes word, ’n verdierlikte gemeenskap waarin tegnologie buite beheer is en werkloosheid hoogty vier.”
Volgens ’n Gallup-opname onder 16- tot 24-jariges is bykomende oorsake van selfmoord die gaping tussen rykes en armes wat groter word, die toenemende aantal enkelouergesinne, die groeiende vuurwapenkultuur, kindermolestering en ’n algemene “gebrek aan geloof in môre”.
Newsweek berig dat “die beskikbaarheid van vuurwapens moontlik die vernaamste faktor is [in tienerselfmoord in die Verenigde State]. ’n Studie wat jong selfmoordslagoffers sonder enige sigbare geestesversteurings vergelyk het met kinders wat nie selfmoord gepleeg het nie, het net een verskil gevind: ’n gelaaide vuurwapen in die huis. Dit strook nie juis met die redenasie dat dit nie vuurwapens is wat mense doodmaak nie.” En daar is gelaaide vuurwapens in miljoene huise!
Vrees en ’n ongevoelige gemeenskap kan kwesbare jongmense vinnig tot selfmoord dryf. Beskou die volgende: Die aantal geweldsmisdade wat teen 12- tot 19-jariges gepleeg word, is twee keer soveel as die aantal misdade teen die bevolking oor die algemeen. Studies het bevind dat “jong vroue tussen 14 en 24 die grootste kans staan om aangerand te word”, berig die tydskrif Maclean’s. “Vroue word meestal aangeval en vermoor deur die mense wat sê dat hulle hulle liefhet.” Die gevolg? Hierdie en ander vrese “ondermyn die vertroue en gevoel van sekuriteit van hierdie meisies”. In een studie het byna een derde van diegene wat ’n verkragting oorleef het en met wie daar ’n onderhoud gevoer is selfmoord oorweeg.
In ’n verslag uit Nieu-Seeland word jeugselfmoord uit ’n ander oogpunt beskou: “Die heersende materialistiese, wêreldse waardes wat individuele sukses met rykdom, aantreklikheid en mag gelykstel, laat baie jongmense voel dat hulle eintlik nutteloos is en deur die gemeenskap verstoot word.” Daarbenewens sê The Futurist die volgende: “[Jongmense] het ’n sterk neiging tot onmiddellike bevrediging; hulle wil alles hê en hulle wil dit gou hê. Hulle geliefkoosde TV-programme is strooisages. Hulle wil graag hê dat hulle wêreld gevul moet wees met dieselfde aantreklike mense, wat in die jongste modes geklee is, met baie geld en aansien en sonder dat hulle te hard hoef te werk.” Daar is soveel van hierdie onrealistiese, onvervulbare verwagtinge dat dit blykbaar ’n mate van wanhoop veroorsaak en tot selfmoord kan lei.
’n Lewensreddende eienskap?
Shakespeare het geskryf: “Liefde is so verkwikkend soos sonskyn ná die reën.” Die Bybel sê: “Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). In daardie eienskap is ’n sleutel tot die probleem van jongmense wat tot selfmoord geneig is—hulle hunkering na liefde en kommunikasie. The American Medical Association Encyclopedia of Medicine sê: “Mense met selfmoordneigings voel gewoonlik baie eensaam, en die geleentheid om te gesels met ’n simpatieke luisteraar wat begrip toon, is soms genoeg om die wanhopige daad te voorkom.”
Jongmense het dikwels ’n oorweldigende behoefte aan liefde en ’n samehorigheidsgevoel. Dit word elke dag moeiliker om hierdie behoefte te bevredig in ’n liefdelose en boosaardige wêreld—’n wêreld waarin hulle min of geen sê het nie. Ouerlike verwerping weens gesinsverbrokkeling en egskeiding kan ’n bydraende faktor wees by selfmoord onder adolessente. En hierdie verwerping kan op baie maniere getoon word.
Beskou die geval van ouers wat selde saam met hulle kinders tuis is. Die ma en pa is dalk diep betrokke by hulle werk of besig met die een of ander soort ontspanning wat die kinders uitsluit. Die indirekte boodskap aan hulle kinders is dat hulle verwerp word. ’n Vooraanstaande joernalis en navorser Hugh Mackay sê dat “ouers al hoe meer egosentries word. Hulle stel hulleself eerste ten einde hulle lewenstyl te handhaaf. . . . Om dit reguit te sê: kinders het uit die mode geraak. . . . Die lewe is moeilik en dit draai al hoe meer om die self.”
In party kulture wil mans met ’n macho selfbeeld nie gesien word in die rol van iemand wat kinders vertroetel nie. Die joernalis Kate Legge stel dit goed: “Mans wat van openbare diens hou, kies oor die algemeen reddingswerk of brandbestryding bo die take wat ondersteuning vereis. . . Hulle verkies die sterk, stil heldhaftigheid wat nodig is om teen eksterne kragte te stry bo werk waarby mense betrokke is.” En ouerskap is natuurlik vandag een van die take wat die meeste omgang met mense behels. Swak ouerskap is gelykstaande met verwerping van die kind. Gevolglik kan jou seun of dogter ’n negatiewe selfbeeld en swak sosiale vaardighede ontwikkel. The Education Digest sê: “Sonder ’n positiewe beeld van hulleself het kinders nie die grondslag om besluite te neem wat in hulle eie belang is nie.”
Wanhoop kan die gevolg wees
Navorsers meen dat wanhoop ’n vername faktor by selfmoord is. Gail Mason, ’n skryfster oor jeugselfmoord in Australië, het gesê: “Wanhoop word beskou as iets wat baie meer verband hou met selfmoordgedagtes as depressie. Wanhoop word partykeer gedefinieer as een simptoom van depressie. . . . Dit neem gewoonlik die vorm aan van ’n algemene gevoel van vertwyfeling en moedeloosheid met betrekking tot jongmense se toekoms, en veral hulle ekonomiese toekoms, en in ’n mindere mate ’n gevoel van wanhoop in verband met die wêreldsituasie.”
Slegte voorbeelde van eerlikheid deur gemeenskapsleiers spoor jongmense nie aan om hulle eie etiese en sedelike standaarde te verhoog nie. Die gesindheid word dan: “Waarom moet ek die moeite doen?” Harper’s Magazine lewer kommentaar oor jongmense se vermoë om skynheiligheid agter te kom en sê: “Jongmense, wat skynheiligheid gou kan uitsnuffel, is om die waarheid te sê uitstekende lesers—maar nie van boeke nie. Wat hulle met soveel vernuf lees, is die sosiale tekens wat van die wêreld af kom waarin hulle ’n bestaan sal moet maak.” En wat vertel daardie tekens vir hulle? Die skryfster Stephanie Dowrick sê: “Ons het nog nooit so ’n stortvloed van inligting gehad oor hoe om te lewe nie. Ons was nog nooit ryker of meer geleerd nie, en tog is daar oral wanhoop.” En daar is so min goeie rolmodelle in die hoër range van die politieke en godsdienstige gemeenskap. Dowrick vra ’n paar gepaste vrae: “Hoe verkry ons wysheid, herstelvermoë en selfs sin uit sinlose lyding? Hoe kweek ons liefde aan in ’n klimaat van selfsug, liggeraaktheid en hebsug?”
Jy sal die antwoorde op hierdie vrae in ons volgende artikel vind, en dit sal jou dalk verbaas.
[Lokteks op bladsy 6]
‘’n Groot aantal jongmense word met vrees en angs vervul wanneer hulle aan hulle toekoms en dié van die wêreld dink’
[Lokteks op bladsy 7]
“Die geleentheid om te gesels met ’n simpatieke luisteraar wat begrip toon, is soms genoeg om die wanhopige daad te voorkom”
[Venster op bladsy 6]
’n Paar waarskuwingstekens van selfmoord
• Slaapprobleme, eetlusverlies
• Afsondering en onttrekking, geneig tot ongelukke
• Loop van die huis af weg
• Dramatiese veranderinge in voorkoms
• Dwelm- en/of alkoholmisbruik
• Geïrriteerdheid en aggressie
• Praat oor die dood; skryf boodskappe oor selfvernietiging; teken prente wat geweld uitbeeld, veral teenoor homself
• Skuldgevoelens
• Wanhoop, angs, depressie, huilbuie
• Gee persoonlike besittings weg
• Kan nie baie lank konsentreer nie
• Verloor belangstelling in aangename bedrywighede
• Selfkritiek
• Seksuele promiskuïteit
• Presteer skielik swakker op skool, probleme met skoolbywoning
• Word lid van kultus of bende
• Euforie ná depressie
Gebaseer op Teens in Crisis (Amerikaanse Vereniging van Skooladministrateurs) en Depression and Suicide in Children and Adolescents, deur Philip G. Patros en Tonia K. Shamoo
[Prente op bladsy 7]
Opregte liefde en deernis kan ’n jongmens help om die lewe te waardeer