Waarom soveel selfmoorde?
BRUCE se vader was sy hele lewe lank ’n suksesvolle sakeman. Hy en Bruce se ma is vroeër, uitmekaar en, daarna is hy met ’n jonger vrou getroud. Maar hy het nog steeds belangstelling in sy kinders getoon en eenkeer probeer om ’n onderneming saam met sy kinders op die been te bring. Maar toe hy in sy vyftigerjare was, het sy lewe dramaties verander. Een van sy ondernemings het misluk, en skielik was hy diep in die skuld. Hy is ’n paar dae lank hospitaal toe, maar wou vir niemand sê waarom nie. Toe het sy jong vrou hom verlaat. Daarna het hy selfmoord gepleeg.
Bruce sê: “Ek wens werklik ek kon meer doen om hom te help. Om in sy laat-middeljar’e weer finansieel van meet af aan te begin, was skynbaar vir hom net te veel. En die gedagte om oud te word, alleen te wees en in pyn te lewe—hy kort geen sin daarin sien nie.”;
Ongelukkig is hierdie tragedie vandag nie buitengewoon nie. Statistiek toon dat in die Verenigde State alleen 27 294 mans, vroue en kinders in net een jaar doelbewus die hand aan eie lewe geslaan het. Daarbenewens sê sommige dat daar vir elke geslaagde selfmoord ten minste tien persone is wat probeer om; hulself om die lewe te bring en misluk.
Tog voer mense rondom die wêreld onder die haglikste toestande ’n verbete stryd teen die dood. Mense wat aan pynlike kwale ly, gevangenes met lang vonnisse en mense wat in volslae armoede lewe, doen oor die algemeen hulle bes om aan die lewe te bly. Waarom probeer sommige wat nie in so ’n fisies slegte situasie is nie om ’n einde aan alles te maak?
Die vraag word nog moeiliker in lande waar mense bely dat hulle Christene is. Die Bybel leer dat die lewe heilig en ’n kosbare gawe van God is (Psalm 36:10). Die dood is ’n vyand, en met groot inspanning en opoffering het Jehovah God dit vir ons moontlik gemaak om die ewige lewe te verkry (Johannes 3:16). En tog bring al hoe meer mense selfs in sogenaamde Christenlande hulself om die lewe, of probeer hulle om dit te doen. Waarom? Watter soort druk kan ’n persoon se kosbaarste besitting—sy lewe—so ’n groot las maak dat hy dit wil weggooi?
Dodelike emosies
“Vertwyfeling . . . wanloop . . . gekwetste gevoelens . . . alles het my oorweldig”. So beskryf ’n vrou wat impulsief ’n oordosis pille gedrink het die emosies wat haar selfmoord laat probeer pleeg het. ’n Dokter wat pasiënt met selfmoordneigings behandel het, voeg by: “Hulle voel dikwels nutteloos, hulpeloos of wanhopig. En hulle het dalk sterk skuldgevoelens.”
In baie gevalle word mense dus tot selfmoord gedryf deur negatiewe, dodelike emosies wat hand-uit ruk. Die eintlike probleem is dikwels wanhoop. Die voornemende selfmoordenaar kan geen ligstraaltjie in die toekoms sien nie. Dit lyk sinloos om voort te gaan.
Wat veroorsaak sulke wanhoop? Baie mense word ongetwyfeld net soos Bruce se vader deur hulle omstandighede oorweldig. Een groep in die bevolking wat blykbaar besonder vatbaar hiervoor is, is die bejaardes. Dr. Nathan S. Kline, ’n deskundige op die gebied van depressie, sê: “Bejaardheid bring ’n spesiale soort eensaamheid mee, en die selfmoordsyfer styg progressief met ouderdom’* (From Sad to Glad, deur Nathan S. Kline). Maar daar kan ander oorsake wees.
Wanhoop, Skuldgevoelens en depressie
’n Skuldgevoel kan byvoorbeeld ’n baie moeilike emosie wees om te verduur. Wanneer iemand hom aan ’n ernstige oortreding skuldig gemaak het, kan sy gewete hom folter, veral as sy sonde iemand anders benadeel het. Koning Dawid van die eertydse nasie Israel het beskryf watter uitwerking skuldgevoelens op hom gehad het: “Daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie. Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ’n swaar pak het hulle vir te swaar geword.”—Psalm 38:4, 5.
Skuldgevoelens as gevolg van ’n skuldige gewete het party laat dink dat hulle geen toekoms het nie en hulle gevolglik laat besluit om die hand aan hulle eie lewe te slaan. Een jong man het hom byvoorbeeld skuldig gemaak aan hoerery en homself toe geskiet. In ’n selfmoordbrief het hy verduidelik dat hy ander nie meer smaad wou aandoen nie.
Sommige is in vertwyfeling omdat hulle emosioneel verwond is. Hulle is moontlik permanent geskaad deur ’n slegte ondervinding wat hulle nooit heeltemal uit hulle gedagtes kan ban nie. Een sodanige persoon was ’n jong vrou wat deur haar vader onteer is toe sy ’n meisie was. Hoewel sy nou ’n volwassene was, was haar skuldgevoelens en gevoel van nutteloosheid as gevolg van hierdie ondervinding so sterk dat sy probeer het om haarself dood te maak.
Ander verkeer in vertwyfeling omdat hulle aan ernstige depressie ly en nie glo dat hulle gesond gaan word nie. Dit is moeilik vir diegene wat nooit ernstige depressie ondervind het nie om te besef presies hoe verwoestend dit kan wees. Dit is nie net mismoedigheid, iets wat ons almal van tyd tot tyd ervaar nie. Dit is eerder ’n diepgesetelde emosionele benoudheid wat die lyer voortdurend teister ongeag wat hy doen en waar hy gaan. Dit lyk of daar geen ontvlugting is nie.
Dit is nie buitengewoon vir diegene wat aan sulke depressie ly om aan selfmoord te dink nie. Een vrou wat aan verwoestende depressie gely het, het gesê dat sy baie versigtig moes wees. Terwyl sy gebad het, het die gedagte by haar opgekom: “Dit sal so maklik wees om my kop onder die water te steek en dan sal dit alles verby wees.” Of wanneer sy met die pad langs geloop en ’n motor sien aankom het, het sy gedink: “O, dit sal so maklik wees!”
Mense wat aan depressie ly, kan ook skuldgevoelens hê. Waarom? Een Christin wat aan ernstige depressie gely het, het skuldig gevoel omdat sy nie haar gesin kon versorg soos tevore nie en gedink het dat sy hulle verhinder om die dinge te doen wat hulle graag wou doen. En sy het gedink dat God sy gees aan haar onttrek het omdat sy geen gemoedsrus of blydskap ervaar het nie (Filippense 4:7; Galasiërs 5:22). Dit was slegs met die grootste inspanning dat sy oor Jehovah God kon praat. Baie het dieselfde ondervinding, en sommige dink selfs dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het.
Dit is miskien nie moeilik om te begryp waarom sommige met sulke negatiewe gevoelens eindelik wonder of dit die moeite werd is om voort te gaan nie. Dit is egter nie die enigste dinge wat mense beweeg om hulself om die lewe te bring nie.
Ander redes vir selfmoord
Sekere sielkundiges meen dat sommige pogings tot selfmoord eintlik pogings is om aandag te kry. Die voornemende selfmoordenaar roep as ’t ware om hulp. Hy kan selfs probeer om iemand anders te straf—dieselfde soort denke wat kinders openbaar wanneer hulle sê: “Julle sal jammer wees wanneer ek dood is!”
Daar word soms ook gemeen dat die persoon met selfmoordneigings probeer om diegene om hom te beïnvloed. ’n Meisie wat deur haar kêrel afgesê is, kan byvoorbeeld ’n halfhartige poging tot selfmoord aanwend in die hoop om hom te dwing om na haar toe terug te kom. Of ’n bejaarde ouer sal poog om selfmoord te pleeg om haar volwasse kinders te dwing om haar nie meer te ignoreer nie en meer tyd saam met haar deur te bring.
Sulke voorbeelde gee ’n mens ’n idee van die soort druk wat by die saak betrokke is. Die situasie woord verder bemoeilik deur die feit dat die lyer dikwels nie oor sy probleme praat nie. Hy kom dalk vir ander kalm voor, maar in sy binneste woel die spanninge. Onder sulke druk is net ’n klein voorvalletjie nodig om aanleiding te gee tot ’n poging tot selfmoord.
’n Man kan byvoorbeeld probeer om selfmoord te pleeg nadat hy sy werk verloor het. Of ’n tiener kan dit doen nadat hy of sy die teleurstellende uitslae van ’n eksamen gesien het, ’n troeteldier verloor het, deur ’n kêrel of nooi afgesê is of verneem het dat ’n gunsteling-onderwyser weggaan. Sulke dinge is nie werklik die oorsaak van die selfmoordpoging nie. Dit is bloot die laaste druppel wat die emmer laat oorloop, die laaste vernedering in ’n lang reeks voorvalle wat druk veroorsaak.
’n Vrou wie se tienderjarige dogter haarself om die lewe probeer bring het, was verskriklik geskok toe dit gebeur het. Maar later het sy te hore gekom van die verborge spanning wat tienderjariges kan ondervind. Sy sê: “Ek weet nou hoe verward ’n jong meisie kan wees. Dinge het vir haar te veel geword en ek was te besig met ander dinge om te help. Nou probeer ek om haar beter te leer ken, meer met haar te gesels, nader aan haar te kom. En dit werk. My dogter lag en skerts nou met my net soos die tyd voor alles gebeur het.”
’n Uitweg
Selfmoord is nooit geregverdig nie. Maar vir diegene wat emosioneel ly, lyk dit soms aanloklik, na ’n vinnige manier om ’n einde aan die foltering te maak. Maar Jehovah, wie se Woord vir ons sê dat die lewe heilig is, bied hulp aan diegene wat onder sulke druk verkeer. Die Bybel beloof dat Hy “nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie”. Daardie teks praat van die verlokking van “slegte dinge”, soos afgodediens en onsedelikheid (1 Korinthiërs 10:6, 13). Maar niks is slegter as selfmoord nie. Daar is gevolglik ook ’n uitweg vir diegene wat daardeur versoek word. Jehovah verleen hulp deur sy Woord, die Bybel, sowel as deur die Christengemeente.
[Venster op bladsy 5]
Het iemand selfmoord gepleeg?
Dan het die oorlewendes baie ondersteuning nodig. Hulle sal waarskynlik verward en skuldig voel en wonder wat hulle moes gedoen het om die tragedie te voorkom. Hulle moet gehelp word om te besef dat daar waarskynlik niks was wat gedoen kon word indien die slagoffer vasbeslote was om ’n einde aan sy lewe te maak nie.
Dit is eweneens nutteloos om te gis oor watter toekoms ’n selfmoordenaar het. Net Jehovah en sy aangestelde Regter, Jesus Christus, kan se wat omgegaam het in die hart van ’n persoon wat ’n einde aan sy lewe gemaak het. Die belangrike saak is om die tragedie agter te laat en die oorledene op te dra aan Jehovah, die “Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting”.—2 Korinthiërs 1:3.