Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/22 bl. 17-19
  • Hoe kan ek keer dat ’n vriend my met liefde versmoor?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek keer dat ’n vriend my met liefde versmoor?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die behoefte aan persoonlike tyd en privaatheid
  • ‘Word verruim’
  • Bring tyd saam met die regte vriende deur
  • Jy kan Jehovah se vriend wees
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Waarom kan ek nie vriende behou nie?
    Ontwaak!—1996
  • Wie is my ware vriende?
    Ontwaak!—2011
  • Hoe jy vriende kan maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/22 bl. 17-19

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek keer dat ’n vriend my met liefde versmoor?

“My vriendin het opgetree asof sy my besit. Sy het my geen blaaskans gegee nie.”—Hollie.

“DAAR is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer”, sê ’n wyse spreuk (Spreuke 18:24). En as jy ’n vriend het wat dieselfde oortuigings of humorsin as jy het of wat in dieselfde dinge as jy belangstel, is dit net natuurlik dat julle graag saam wil wees. ’n Jong meisie met die naam Caroline sê: “Die hegte vriendskappe wat ek met sommige in die Christengemeente aangeknoop het, is as gevolg van die feit dat ons dinge saam doen.” As een van Jehovah se Getuies het Caroline ’n maand opsy gesit waarin sy beplan het om 60 uur aan die evangelisasiewerk te wy. Haar vriende het hulle sake so gereël dat hulle haar in hierdie werk kon ondersteun!

Maar hoewel ons by samesyn baat vind, kan dit soms ’n bietjies te erg word. Hollie, wat aan die begin aangehaal is, voel asof een van haar vriende haar met liefde versmoor. En sy is nie die enigste een wat so voel nie. Hollie sê: “Dit lyk of dit ook met ander kinders gebeur. Hulle is byna altyd bymekaar totdat daar ’n groot uitbarsting is. Dan praat hulle weke lank nie met mekaar nie.”

Die probleem is dat dit nie maklik is om vir ’n vriend te sê dat hy jou met sy liefde versmoor en jy ’n blaaskansie nodig het nie. Jy is dalk bang dat jy jou vriend sal seermaak. Jy is moontlik ook bang dat jy julle verhouding in gevaar sal stel. Maar as ’n redelike hoeveelheid ruimte in ’n vriendskap toegelaat word, sal dit eerder help as om skade te doen.

Ter toeligting: In ’n openbare tuin in Sydney, Australië, moes ’n groot boom met ’n ketting afgekamp word. Waarom? Omdat duisende besoekers die grond geleidelik vasgetrap en die wortels sodoende verstik het. Die boom sou doodgegaan het as dit onbeskermd gelaat is.

Dieselfde kan vir vriendskappe geld. Te veel samesyn kan ’n verhouding verstik. Koning Salomo het geskryf: “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.”—Spreuke 25:17.

Die behoefte aan persoonlike tyd en privaatheid

Waarom het Salomo dit gesê? Een rede is dat ons almal ’n behoefte aan ’n bietjie persoonlike tyd en privaatheid het. Selfs Jesus Christus het so ’n behoefte gehad. Hoewel hy na aan sy dissipels was, het hy af en toe ‘alleen gegaan om te bid’ (Matteus 14:23; Markus 1:35). Die godvresende Isak het eweneens tyd ingeruim om alleen te wees (Genesis 24:63). Jy het ook ’n sekere hoeveelheid persoonlike tyd nodig om dinge soos huiswerk, huishoudelike take en jou persoonlike studie van die Bybel te doen. En as jou vriende ’n gebrek aan bedagsaamheid toon deur nie in hierdie opsig jou behoeftes in ag te neem nie, kan kwade gevoelens maklik ontstaan.

Moet dus nie bang wees om vir ’n vriend te sê wanneer jy ’n bietjie tyd op jou eie wil deurbring nie. Aangesien Christelike liefde ‘nie sy eie belang soek nie’, sal ’n ware vriend gewoonlik probeer verstaan (1 Korintiërs 13:4, 5; Spreuke 17:17). “Gedurende die tyd net voor my finale eksamen”, skryf ’n jongmens, “het my vriende my baie onderskraag en begrip getoon. Wanneer ek tyd nodig gehad het om te studeer, was dit vir my maklik om hulle te vra om te gaan. Dit is maklik om eerlik te wees met my vriende; hulle weet dat ons almal verantwoordelikhede het.”

Die Gulde Reël vereis natuurlik dat jy dieselfde bedagsaamheid teenoor jou vriende betoon (Matteus 7:12). ’n Jongmens met die naam Tamara skryf: “Die feit dat ek baie verantwoordelikhede het, het my beslis meer bewus gemaak van my vriendin se behoefte om tyd vir haarself te hê.” En wanneer Tamara take by die huis moet doen, vra haar vriende nie dat sy dit moet afjaag of tot later moet los nie. “Hulle sal my gewoonlik [eerder] help om my werk te doen sodat ons daarna dinge saam kan doen”, sê Tamara. Hoe kosbaar is sulke onselfsugtige vriende tog nie—en hoe goed word die tyd saam nie gebruik nie!

‘Word verruim’

Daar is nog ’n rede waarom dit goed is om ruimte in ’n vriendskap te hê. Wanneer ons al ons tyd en emosie aan net een vriendskap wy, kan ons geneig wees om ander belangrike verhoudings te verwaarloos—soos ons verhouding met ons ouers en broers en susters, asook met ander Christene. Ons emosionele en geestelike groei word ook grootliks daardeur beperk. Die Bybel sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Dit spreek vanself dat die mate van ‘slyping’ beperk sal wees as jy net met een persoon assosieer—veral wanneer daardie persoon ’n portuur is.

Die Bybel ontmoedig ons dus om kliekerig, eng of uitsoekerig te wees in ons keuse van vriende. Dit moedig ons aan om “verruim [te] word” (2 Korintiërs 6:13). “Selfs al het jy ’n spesiale verhouding met iemand”, raai die boek Moods and Feelings aan, “is dit belangrik dat jy tyd inruim om ander vriende ook te besoek.”

Dit is nie altyd maklik om sulke raad toe te pas nie. ’n Jong Christen met die naam Michael sê: “Ek en Troy het altyd alles saam gedoen, in die gemeente sowel as op sosiale gebied. Ons was onafskeidbaar. Toe het ’n ander jong Getuie na ons gemeente gekom. Ek en hy wou saam as voltydse evangeliedienaars dien, daarom het ons baie tyd saam begin deurbring.” Die gevolg? “Troy het opgehou om met my te praat”, sê Michael, “en nadat ek tevergeefs ’n versoening probeer bewerkstellig het, het ek opgehou om met hom te praat. Dit het ’n jaar lank so aangehou.” Hy beskryf hulle vriendskap as “oordrewe besitlik”.

Maar in ’n gesonde verhouding behandel vriende mekaar nie soos besittings nie. As ’n vriend dus jou pogings teëstaan om verruim te word, moet julle openhartig met mekaar praat. Jou vriend het dalk net die versekering nodig dat jy steeds sy of haar vriendskap waardeer. Stel dit duidelik dat julle sal voortgaan om dinge saam te doen.

Dit kan weliswaar ’n rukkie duur voordat jou vriend aan die idee gewoond sal wees. Die 16-jarige Zaneta het byvoorbeeld ’n bietjie jaloers gevoel toe haar goeie vriendin tyd saam met ander begin deurbring het. Maar Zaneta sê dat sy hierdie gevoelens “danksy gebed en persoonlike Bybelstudie” oorwin het. Sy kon dus ’n hegte verhouding met haar vriendin handhaaf. Michael se vriend Troy het ook sy aanvanklike jaloesie oorkom, en hulle het weer goeie vriende geword. Jou vriend sal moontlik dieselfde doen. Trouens, op die lange duur strek dit alle betrokkenes tot voordeel wanneer ons verruim word. Wanneer die 17-jarige Debbie se vriende nuwe vriende maak, vind sy dat “hulle dikwels ook haar vriende word”.

Maar hoe nou gemaak as jou vriend eenvoudig weier om hierdie veranderinge in julle verhouding te aanvaar? Julle sal dalk geen ander keuse hê as om elkeen sy eie weg in te slaan nie. Voordat jy egter tot die gevolgtrekking kom dat daar geen salf aan te smeer is nie, waarom vra jy nie jou ouers wat hulle van die saak dink nie? Godvresende ouers is tog per slot van rekening jou beste vriende. En hulle het dalk ’n paar praktiese wenke wat jou die vriendskap kan help red sonder dat jy jou behoefte aan ruimte hoef in te boet.

Bring tyd saam met die regte vriende deur

’n Woordjie van waarskuwing: Om verruim te word, beteken nie dat jy voor die voet moet vriende maak nie. ’n Boek oor vriendskap sê: “Dit is natuurlik om soos die mense te raak saam met wie jy baie tyd deurbring. Soms kan dit gebeur sonder dat jy daarvan bewus is. Jy begin moontlik soos jou maats dink en optree ongeag hoe jy dalk daaroor voel. Op dié manier kan jou portuurgroep jou regeer.” Die Bybel het duisende jare gelede hierdie selfde punt gestel deur te sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Spreuke 13:20.

Wanneer jy by die skool of by die werk is, sal jy dalk tyd saam met mense moet deurbring wat nie daarin belangstel om Jehovah te dien nie. Maar wanneer jy hegte vriende kies, moet jy die Bybel se raad in gedagte hou: “Slegte metgeselle bederf ’n goeie karakter.”—1 Korintiërs 15:33, Today’s English Version.

Onthou ook dat ’n mens se vriendskap met ons Skepper, Jehovah God, baie belangriker is as enige vriendskap met ’n mens. Debbie, wat vroeër aangehaal is, het ’n hele paar goeie vriende. Nogtans is haar raad om “seker te maak dat Jehovah altyd eerste kom”. Getroue Abraham van die ou tyd het dit gedoen, en Jehovah het hom uitdruklik “my vriend” genoem (Jesaja 41:8). En dink daaraan: Jehovah misgun jou nie die tyd wat jy saam met jou vriende deurbring wat ook vir hom lief is nie; trouens, hy moedig dit aan. Wat ’n ware Vriend is hy tog nie!

[Prent op bladsy 18]

Ware vriende erken mekaar se behoefte aan private tyd

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel