Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/11 bl. 19-21
  • Wie is my ware vriende?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is my ware vriende?
  • Ontwaak!—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe kan ek goeie vriende maak?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Het ek beter vriende nodig?
    Ontwaak!—2009
  • Wat beteken dit om ’n goeie vriend te wees?
    Ontwaak!—2014
  • Jy kan Jehovah se vriend wees
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 9/11 bl. 19-21

Jongmense vra

Wie is my ware vriende?

“Ek het al soveel by Cori geleer. Wanneer ek saam met haar is, ontmoet ek nuwe mense, probeer ek nuwe dinge en geniet ek elke oomblik. Cori se vriendskap het werklik my lewe verander!”—Tara.a

Klink hierdie soort vriendskap te goed om waar te wees? Indien wel, moenie mismoedig voel nie. Daar is potensiële vriende oral om jou. Hierdie artikel sal jou help om uit te vind wie hulle is.

‘EK IS omring deur vriende, maar ek het geen vriende nie.’ Dit is wat die 21-jarige Shayna sê oor hoe dit voel om baie mense om jou te hê, maar nie juis na aan enige van hulle te voel nie. Hierdie gevoel kan veral onder dié wat ’n sosiale netwerk gebruik, algemeen wees. “Jy het miskien ’n lang ‘vriendelys’, en dit lyk asof jy gewild en wonderlik is”, sê die 22-jarige Serena, “maar in werklikheid kan daardie lys vol betekenislose kontakte wees.”b

Wat sal jy verkies—honderde kontakte of ’n paar ware vriende? Hoewel albei voordele inhou, kan ’n ware vriend jou help om uitdagings te oorkom en jou selfs aanspoor om ’n beter mens te wees (1 Korintiërs 16:17, 18). Gebruik die volgende maatstawwe om jou te help om te bepaal wie van jou kennisse moontlik alreeds die eienskappe van ’n ware vriend openbaar.

’N WARE VRIEND IS BETROUBAAR

“My vriendin het vir my haar geheime vertel, en daarom het ek gedink dat ek haar met myne kan vertrou. Eendag het ek vir haar gesê dat ek mal is oor ’n sekere ou. Sjoe, dit was ’n fout! Sy het ander onmiddellik daarvan vertel!”—Beverly.

“Ek kan vir my vriend Alan enigiets vertel, en ek weet hy sal dit nie oorvertel nie.”—Calvin.

Watter een van die bogenoemde jongmense het ’n ware vriend gehad? Watter van jou vriende dink jy kan jy in jou vertroue neem?c Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief.”—Spreuke 17:17.

DIE SLEUTEL TOT WARE VRIENDSKAP

  1. Konsentreer op gehalte, nie hoeveelheid nie. “Dit is lekker om baie mense te ken, maar selfs in ’n groot groep soek ’n mens gewoonlik die paar uit met wie jy die meeste in gemeen het.”—Karen.

  2. Wees self ’n goeie vriend. “Ek verwag dat my vriende lojaal en betroubaar moet wees, en daarom probeer ek om self so te wees.”—Evelyn.

  3. Spreek waardering uit. “Wanneer ek iemand se vriendskap waardeer, sê ek dit in ’n kaartjie of met ’n geskenk.”—Kellie.

Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat jy weet betroubaar is.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

’N WARE VRIEND IS SELFOPOFFEREND

“In enige vriendskap is daar tye dat die een persoon sterker is as die ander. ’n Ware vriend besef wanneer jy die swakker een is en doen dan iets om jou te help. Daardie vriend het natuurlik die vertroue dat jy dit ook sal doen as hy of sy hulp nodig het.”—Kellie.

“Toe my ma oorlede is, het ek ’n nuwe vriendin gehad. Ons was nog nie hegte vriendinne nie, maar ons het beplan om saam na ’n troue te gaan. Ongelukkig was my ma se gedenkdiens toe op dieselfde dag as die troue. Ek was verbaas toe my vriendin na die gedenkdiens gekom het eerder as om na die troue te gaan. Op daardie oomblik het ek geweet dat sy ’n ware vriendin is!”—Lena.

Watter van jou vriende openbaar ’n selfopofferende gees? ’n Ware vriend sal “aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek”.—1 Korintiërs 10:24.

Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat getoon het dat hulle selfopofferend is.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

’N WARE VRIEND HELP JOU OM ’N BETER MENS TE WORD

“Party mense verwag dat ek aan hulle lojaal moet wees of met hulle moet saamstem, selfs as dit beteken dat ek my waardes moet prysgee of iets moet doen wat my gewete sal pla. Sulke mense is nie ware vriende nie.”—Nadeine.

“My suster is my beste vriendin. Sy spoor my aan om uit my gemaksone te kom en help my om meer uitgaande te wees. Sy vertel vir my die waarheid, al is dit nie wat ek wil hoor nie.”—Amy.

“Toe ek eenkeer deur ’n moeilike tyd gegaan het, was my beste vriende nie dié wat my opgepiep het nie, maar dié wat vir my reguit raad gegee het. Die ander het óf gewag dat ek die probleem self oplos óf my aandag daarvan probeer aflei. Hulle het nie erken dat iets fout is nie.”—Miki.

“My vriendin is die persoon wat meer as enigiemand anders potensiaal in my sien, en sy spoor my aan om my doelwitte te bereik. Sy is doodeerlik met my wanneer sy moet wees—en ek hou daarvan!”—Elaine.

Help jou vriende jou om jou potensiaal te bereik, of moet jy jou standaarde verlaag om by hulle in te pas? Spreuke 13:20 sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”

VRA JOU OUERS

Watter ondervindinge het julle in verband met vriendskap gehad toe julle my ouderdom was? Het ’n vriend al ooit julle vertroue geskend? Indien wel, wat het julle uit die ondervinding geleer? Wie het bewys dat hulle lojale vriende is, en hoe het julle hulle gevind?

Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat jou gehelp het om ’n beter mens te word.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

Kyk na die name wat jy in die drie dele hierbo neergeskryf het. As een persoon se naam in al drie dele voorkom, is dit ’n ware vriend! Maar as jy nie kon dink aan enigiemand wat aan die bogenoemde vereistes voldoen nie, moet jy nie mismoedig voel nie. Daar is heel moontlik oral om jou persone wat jou ware vriende kan word. Dit sal dalk net ’n bietjie langer neem om hulle te vind.d Intussen kan jy jou bes doen om self ’n goeie vriend te wees. “Ek probeer altyd om my vriende te ondersteun”, sê die 20-jarige Elena. “Wanneer hulle hulp met iets nodig het, bied ek aan om te help. Wanneer hulle wil praat, luister ek. Wanneer hulle hartseer is, gee ek hulle ’n skouer om op te huil.”

DIE GRONDSLAG VIR VRIENDSKAP

Die grondslag vir ’n goeie vriendskap is gemeenskaplike waardes. Dit beteken dat jou vriend dieselfde geestelike, sedelike en etiese oortuigings as jy het.

Die volgende faktor, soortgelyke eienskappe, is minder belangrik.

En heel dikwels maak dieselfde belangstellings die minste saak. Jy kan tog vriende wees met iemand wat ander stokperdjies en talente as jy het.

Waarskuwing: Wees versigtig vir vriendskappe wat net op dieselfde belangstellings gegrond is. As daardie vriend nie dieselfde waardes as jy het nie, sal die vriendskap waarskynlik nie lank hou nie—of nog erger, dit kan jou in die moeilikheid laat beland.

Jy is dalk bevriend met baie mense, en dít is beter as om deel van ’n kliek te wees (2 Korintiërs 6:13). Maar sal jy nie ook ’n paar ware vriende wil hê wat “gebore [is] vir die tyd wanneer daar benoudheid is” nie? (Spreuke 17:17). “Dit is goed om baie mense te ken”, sê die 20-jarige Jean, “maar dit is soos om ’n kas vol klere te hê wat mooi op die hangers lyk, maar wat nie alles pas nie. Jy maak altyd staat op die paar kledingstukke waarin jy gemaklik voel. En dit is dieselfde met hegte vriende.”

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

a Van die name in hierdie artikel is verander.

b Vir meer inligting oor sosiale netwerke, sien die “Jongmense vra”-artikels in die Ontwaak! van Julie en Augustus 2011.

c Soms is dit nie verstandig om iets geheim te hou nie—soos as ’n vriend ’n ernstige sonde gepleeg het, aan selfmoord dink of die een of ander soort selfvernietigende gedrag openbaar. Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van Desember 2008, bladsye 19-21, en Mei 2008, bladsye 26-29.

d Vir meer inligting, sien die artikel “Jongmense vra . . . Het ek beter vriende nodig?” in die Ontwaak! van Maart 2009.

WAT JOU PORTUURS SÊ

“As jou standaarde te hoog is, sal jy nie vriende hê nie omdat jy te veel van mense verwag. As jou standaarde te laag is, sal jy sommer enigiemand as jou vriend aanvaar—en dit is ook nie goed nie.”

“Dit lyk of party mense wat sosiale netwerke gebruik, meer besorg is oor die aantal vriende op hulle lys as oor die verhouding wat hulle met daardie vriende het. Wanneer dit by vriendskap kom, is gehalte baie belangriker as hoeveelheid.”

“Wanneer ’n meisie by my skinder oor haar ander vriendinne, weet ek dat sy dalk ook by hulle oor my skinder. Dit laat my ongemaklik voel. ’n Ware vriend skinder nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel