God se naam versier Tsjeggiese argitektuur
Deur Ontwaak!-medewerker in die Tsjeggiese Republiek
IN BAIE dele van die wêreld word die naam Jehovah uitsluitlik met Jehovah se Getuies geassosieer. Dit sal jou dalk verbaas dat versierings op ’n aantal historiese geboue in die Tsjeggiese Republiek die Tetragrammaton bevat, die vier Hebreeuse letters (יהוה) vir die Goddelike naam, Jehovah.
Die bekendste voorbeeld van die Tetragrammaton is seker die een op die Charles-brug, wat in 1357 oor die pragtige Vltavarivier, naby die ou deel van die stad Praag, gebou is. Aan albei kante van hierdie brug is daar beeldhouwerk, waarvan een die aandag trek van byna almal wat daar verbygaan. Dit is ’n standbeeld van Jesus Christus aan ’n kruis, wat omring word deur glansende goue Hebreeuse karakters—waaronder die Tetragrammaton—wat sê: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërs.”
Hoe het hierdie uitdrukking, wat in die Bybel in Jesaja 6:3 (NW) staan, op hierdie standbeeld gekom? ’n Inskripsie op die voetstuk daarvan vertel van ’n Jood wat eendag in 1696 hier verbygestap het en blykbaar iets oneerbiedigs van die kruis gesê het. Gevolglik is hy voor die Koninklike Appèlhof gebring en ’n boete opgelê. Ter betaling het hy ’n vergulde stralekrans vir die kruis voorsien, met die bogenoemde aanhaling daarop.
Daar naby is die Ou-Nuwe Sinagoge en die oudste Joodse begraafplaas in Europa. In hierdie sinagoge verskyn die Tetragrammaton in ’n silwer raam op die kantor se verhoog. Maar die Tetragrammaton word nie net in Joodse geboue gevind nie. Suidoos van Praag, op ’n rotsagtige rantjie langs die Sázavarivier, staan die Middeleeuse kasteel van Český Šternberk. Bo die altaar van die kasteel se kapel is vier goue letters—die Tetragrammaton. Aangesien die letters aan drade hang, lyk dit of hulle in die lug dryf. Agter hulle skyn ’n lig—maar nie dié van ’n lamp nie! ’n Dakvenster, wat nie van binne af gesien kan word nie, werp ’n rosige gloed op die wit altaar, met die Tetragrammaton wat daaroor hang.
Die Tetragrammaton verskyn ook in fresko’s in ander Tsjeggiese geboue. Dit is ’n verdere bewys dat baie mense hier in die verlede God se naam geken het. Vandag is Jehovah se Getuies, in die Tsjeggiese Republiek en in meer as 200 ander lande, bly om die Goddelike naam te ken en om dit aan ander te leer (Jesaja 43:10-12, NW). Daarbenewens vertel die Bybelboek Jesaja van die tyd wanneer God se naam—sowel as sy eienskappe, voorneme en bedrywighede—‘op die hele aarde bekend sal wees’.—Jesaja 12:4, 5.