Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/22 bl. 20-24
  • Ons stry vir die reg om te preek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons stry vir die reg om te preek
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My standpunt vir Bybelwaarheid
  • Inhegtenisname en mishandeling
  • Die verhoor
  • ’n Nuwe predikingstoewysing
  • Nog inhegtenisnames en gevangenskappe
  • Die Appèlhof besluit
  • ’n Voortgesette stryd
  • ‘Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus’
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Koninkrykspredikers stel hulle saak in die hof
    God se Koninkryk regeer!
  • “Deur al die nasies gehaat”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die wetlike beskerming van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/22 bl. 20-24

Ons stry vir die reg om te preek

Soos vertel deur Grace Marsh

’n Paar jaar gelede het professor Newton, wat toe aan die Huntingdon-universiteit in Montgomery, Alabama, verbonde was, ’n onderhoud met my gevoer oor dinge wat meer as 50 jaar gelede gebeur het. In 1946 het die Appèlhof van die Verenigde State in ’n hofsaak uitspraak gelewer oor my bedrywigheid as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies. Professor Newton se belangstelling in wat gebeur het, het my aan baie dinge herinner. Laat ek by my kinderdae begin.

EK IS in 1906 gebore in Randolph, Alabama, VSA, en ek was ’n Bybelstudent van die vierde geslag, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. My oupagrootjie, Lewis Waldrop, en my oupa, Sim Waldrop, is teen die einde van die negentiende eeu as Bybelstudente gedoop.

Sim Waldrop se seun, Joseph, was my pa. Joseph het ’n meisie met die naam Belle beïndruk deur vir haar ’n boekie te gee wat die kerkleerstelling van ’n helse vuur aan die kaak gestel het. Belle was so ingenome met wat sy gelees het dat sy die boekie aan haar pa geleen het, en dit het ook sy belangstelling geprikkel. Joseph het later met Belle getrou, en hulle het ses kinders gehad. Ek was die tweede oudste.

My pa het ons gesin elke aand voor die kaggel laat bymekaarkom en dan hardop uit die Bybel en Die Wagtoring voorgelees. Wanneer hy klaar gelees het, het ons almal gekniel terwyl my pa ’n innige gebed gedoen het. Ons het elke week etlike kilometers met ’n perdewa na oupa Sim se huis gery om saam met mede-Bybelstudente te vergader.

Op skool het ons klasmaats dikwels met ons gespot en ons Russelliete genoem. Dit was nie juis vir my ’n belediging nie, want ek het groot respek gehad vir Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Hoe opgewonde was ek tog om hom in 1914 in lewende lywe by ’n byeenkoms in Birmingham, Alabama, te sien! Ek kan hom nog goed onthou waar hy op die verhoog staan en die rolprentvertoning met die titel “Fotodrama van die Skepping” verduidelik.

In 1920 het ons gesin na Robertsdale getrek, ’n dorpie oos van Mobile, Alabama. Vyf jaar later is ek met Herbert Marsh getroud. Ek en Herbert het na Chicago, Illinois, getrek, en kort daarna is ons seun, Joseph Harold, daar gebore. Ek het ongelukkig van die godsdiens van my kinderdae afgedwaal, maar dit was nog steeds in my hart.

My standpunt vir Bybelwaarheid

’n Dag in 1930 was vir my ’n keerpunt toe ek gesien het hoe die woonsteleienaar ’n Bybelstudent op gewelddadige wyse die trappies afstamp. Ek was woedend en het met die woonsteleienaar oor sy gedrag gepraat. Hy het vir my gesê dat ek en my man nie meer daar kan woon as ek dié man in ons woonstel innooi nie. Dit is onnodig om te sê dat ek die Bybelstudent onmiddellik ingenooi het vir ’n koppie tee.

Ek en my man het die volgende Sondag ’n vergadering van die Bybelstudente bygewoon, en ons was baie bly om Joseph F. Rutherford te ontmoet, wat ná Russell se dood die president van die Wagtoringgenootskap geword het. Rutherford het Chicago op daardie tydstip besoek. Hierdie gebeure het my beweeg om weer bedrywig in die Christelike bediening te word. Kort daarna het ons teruggetrek na Robertsdale, Alabama.

In 1937 het ek by ’n streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, besluit om ’n pionier te word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. My man, Herbert, is mettertyd gedoop, en hy het kort daarna as die presiderende opsiener van die Robertsdale-gemeente begin dien. Ons seun, Harold, het my dikwels in die huis-tot-huis-bediening vergesel.

In 1941 het ek ’n uitnodiging ontvang om as ’n spesiale pionier in Brookhaven, Mississippi, te dien. Violet Babin, ’n Christensuster van New Orleans, was my pioniermaat. Ons het die uitdaging aanvaar en ons karavaan en ons kinders geneem om solank in Brookhaven te gaan begin. Ons mans sou later by ons aansluit.

Ons het aanvanklik welslae behaal in ons bediening, en Violet se dogter en Harold het goed gevaar op skool. Maar nadat Pearl Harbor in Desember 1941 deur die Japannese gebombardeer is en die Verenigde State oorlog verklaar het, het die reaksie op ons werk drasties verander. ’n Gees van superpatriotisme sowel as ’n vrees vir sameswering het geheers. Weens ons politieke neutraliteit was die mense agterdogtig teenoor ons, en hulle het ons selfs daarvan beskuldig dat ons Duitse spioene was.

Harold is uit die skool gesit omdat hy geweier het om aan die vlagseremonie deel te neem. Sy onderwyser het vir my gesê dat Harold slim en goed gemanierd was, maar die hoof het gemeen dat hy ’n swak voorbeeld gestel het omdat hy nie die vlag gesalueer het nie. Die superintendent van skole was so kwaad oor die hoof en die skoolraad se besluit in verband met hierdie saak dat hy bedank en aangebied het om te betaal sodat Harold na ’n privaat skool gestuur kon word!

Ons het daagliks dreigemente van gepeupelgeweld ontvang. By een geleentheid het die polisie ons by ’n vrou se deur uitgestoot, ons grammofone teen ’n boom stukkend gegooi, ons plate met Bybellesings gebreek, ons Bybels en lektuur aan stukke geskeur en uiteindelik alles waarop hulle beslag gelê het aan die brand gesteek. Hulle het gesê dat ons die dorp voor donker moet verlaat, anders sal ons deur ’n oproerige skare uitgejaag word. Ons het gou-gou briewe geskryf waarin ons om beskerming gevra het en dit persoonlik na die dorpsamptenare geneem. Maar hulle het geweier om dit te voorsien. Ek het selfs die Federal Bureau of Investigation in Jackson, Mississippi, gebel en om hulp gevra. Hulle het ons ook aangeraai om die dorp te verlaat.

Daardie nag het byna eenhonderd woedende mans ons karavaan omsingel. Ons was twee vroue met net ons kinders. Ons het die deure gesluit, die ligte afgesit en vurig tot Jehovah gebid. Die skare het uiteindelik uiteengegaan sonder om ons leed aan te doen.

In die lig van hierdie voorvalle het Herbert besluit om onmiddellik by ons in Brookhaven aan te sluit. Ons het Harold teruggeneem na sy grootouers in Robertsdale, waar die plaaslike skoolhoof ons daarvan verseker het dat hy daar kan skoolgaan. Toe ons weer in Brookhaven kom, was die karavaan verniel en ’n lasbrief vir ons inhegtenisname teen een van die binnemure vasgespyker. Ten spyte van hierdie teenstand het ons standvastig gebly en met ons bediening voortgegaan.

Inhegtenisname en mishandeling

In Februarie 1942 is ek en Herbert in hegtenis geneem terwyl ons ’n Bybelstudie in ’n beskeie huisie gehou het. Die eienaar van die huis was so kwaad oor die behandeling wat ons ontvang het dat hy sy geweer van die muur afgehaal en gedreig het om die polisieman te skiet! Ons is van onregmatige betreding aangekla en skuldig bevind tydens die verhoor wat die volgende dag gehou is.

Ons is 11 dae lank in ’n smerige, koue sel aangehou. ’n Plaaslike Baptistepredikant het ons besoek terwyl ons daar was en ons daarvan verseker dat hy sy invloed sou gebruik om ons uit die tronk te kry as ons sou instem om die dorp te verlaat. Ons het gedink dat dit ironies was, aangesien ons in die eerste plek weens sy invloed daar was.

Een hoek van ons sel is voorheen as ’n toilet gebruik. Die plek het gewemel van weeluise. Kos is op ongewaste, vuil blikpanne bedien. As gevolg van hierdie toestande het ek longontsteking gekry. ’n Dokter is ingeroep om my te ondersoek, en ons is vrygelaat. Daardie nag het ’n oproerige skare na ons karavaan gekom, en ons het derhalwe na ons huis in Robertsdale gegaan om ons verhoor af te wag.

Die verhoor

Baptiste van regoor die staat het vir ons verhoor na Brookhaven gekom om die Baptistepredikant te ondersteun wat vir ons inhegtenisname verantwoordelik was. Dit het my beweeg om ’n brief te skryf aan my swaer, Oscar Skooglund, ’n ywerige Baptistediaken. Dit was ’n vurige brief en nie baie taktvol nie. Maar die behandeling wat ek ontvang het en die inhoud van my brief moes Oscar ten goede beïnvloed het, want kort daarna het hy ’n ywerige Getuie van Jehovah geword.

Ons prokureurs, G. C. Clark en Victor Blackwell, mede-Getuies van Jehovah, was daarvan oortuig dat ons nie ’n regverdige verhoor in Brookhaven sal kry nie. Hulle het dus besluit om soveel besware aan te teken dat die saak afgewys kon word. Elke keer as die aanklaer iets gesê het, het een van ons prokureurs beswaar aangeteken. Hulle het ten minste 50 keer beswaar aangeteken. Die regter het uiteindelik alle aanklagte afgewys.

’n Nuwe predikingstoewysing

Nadat ek uitgerus het en weer gesond was, het ek my pionierdiens hervat saam met my seun Harold. In 1943 het ons ’n toewysing nader aan die huis ontvang, Whistler en Chickasaw, klein gemeenskappe naby Mobile, Alabama. Ek het gedink dat hierdie nuwe gebiede veiliger sou wees, aangesien die Amerikaanse Appèlhof kort tevore ’n aantal uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies gelewer het en openbare gesindhede teenoor ons werk begin verbeter het.

Daar was spoedig ’n groep Bybelstudente in Whistler, en ons het ons eie vergaderplek nodig gehad. Enigeen wat ’n spyker kon inslaan, het gehelp om ons Koninkryksaaltjie te bou, en 16 mense het ons eerste vergadering bygewoon. Die situasie in Chickasaw was egter heel anders, want dit was ’n maatskappydorp wat aan Gulf Shipbuilding Corporation behoort het. Tog het dit net soos enige ander dorpie gelyk, met sy sakegebied, poskantoor en winkelsentrum.

Op ’n dag in Desember 1943 het ek en Aileen Stephens, ook ’n pionier, die nuutste nommers van ons Bybeltydskrifte vir verbygangers in Chickasaw aangebied toe konstabel Chatham vir ons sê dat ons geen reg het om te preek nie, aangesien ons op privaat eiendom is. Ons het aan hom verduidelik dat ons nie besig was om te smous nie en dat ons werk godsdienstig van aard is en deur die Eerste Wysiging van die Amerikaanse Grondwet beskerm word.

Nog inhegtenisnames en gevangenskappe

Die volgende week het ek en Aileen mnr. E. B. Peebles, die adjunkpresident van Gulf Shipbuilding, gaan spreek en die belangrikheid van ons godsdiensbedrywighede aan hom verduidelik. Hy het ons gewaarsku dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies nie in Chickasaw geduld sal word nie. Ons het verduidelik dat mense ons met graagte in hulle huise ontvang het. Kon hy hulle die reg ontneem om die Bybel te bestudeer? Hy het vyandig geraak en gedreig om ons in die tronk te gooi vir onregmatige betreding.

Ek het keer op keer na Chickasaw teruggegaan en is elke keer in hegtenis geneem. Maar ek is elke keer op borgtog vrygelaat. Die borgtog is uiteindelik buitensporig hoog gemaak, en ek moes al hoe meer tyd in die tronk deurbring totdat ons die vereiste bedrag bymekaar kon maak. Toestande in die tronk was onhigiënies—geen toiletgeriewe nie, smerige matrasse sonder lakens en een vuil kombers as bedekking. As gevolg hiervan het my gesondheidsprobleme weer kop uitgesteek.

Op 27 Januarie 1944 is die sake van ses Getuies wat op 24 Desember 1943 in hegtenis geneem is tegelyk verhoor, en my getuienis is as verteenwoordigend van die ander verweerders beskou. Selfs al het die verhoor openlike diskriminasie teen Jehovah se Getuies aan die lig gebring, is ek skuldig bevind. Ons het teen die beslissing appèl aangeteken.

Op 15 Januarie 1945 het die appèlhof sy uitspraak gelewer: Ek was skuldig aan onregmatige betreding. Daarbenewens het die Appèlhof van Alabama geweier om my saak te verhoor. Op 3 Mei 1945 het Hayden Covington, een van Jehovah se Getuies en ’n moedige en wakker prokureur, by wyse van petisie by die Amerikaanse Appèlhof om appèl aansoek gedoen.

Terwyl ek en Aileen gewag het om van die Appèlhof te hoor, is die bordjies verhang toe ons ’n siviele saak aanhangig gemaak het teen ons aanklaers, E. B. Peebles en sy bondgenote in die balju se departement, en ons skadevergoeding geëis het. Ons aanklaers het die aanklag wat hulle teen ons gebruik het probeer verander van onregmatige betreding na ontwrigting van die verkeer, maar toe ek in die tronk was, het ek ’n dokument uitgesmokkel wat deur konstabel Chatham geteken is waarop hy ons van onregmatige betreding aangekla het. Toe hierdie getuienis in die hof voorgelê is, het die balju, mnr. Holcombe, opgespring en amper sy sigaar ingesluk! In Februarie 1945 het die verhoor geëindig omdat die jurie ’n dooie punt bereik het.

Die Appèlhof besluit

Die Amerikaanse Appèlhof het in my saak belanggestel omdat die onregmatige betreding van privaat eiendom ’n nuwe aspek van die kwessie van godsdiensvryheid aangeroer het. Covington het bewys dat Chickasaw se regulasie nie net die regte van die verweerders geskend het nie, maar ook dié van die gemeenskap in sy geheel.

Op 7 Januarie 1946 het die Amerikaanse Appèlhof die laer hof se beslissing ter syde gestel en ’n geskiedkundige beslissing in ons guns gelewer. Regter Black het die uitspraak gelewer wat die volgende woorde ingesluit het: “Aangesien die staat [Alabama] kriminele straf aan appellant [Grace Marsh] probeer oplê het omdat sy onderneem het om godsdienslektuur in ’n maatskappydorp te versprei, kan hulle besluit nie geldig wees nie.”

’n Voortgesette stryd

Ek en Herbert het ons uiteindelik in Fairhope, Alabama, gevestig en deur die jare heen voortgegaan om ons vir Koninkryksbelange te beywer. Ek het Herbert in 1981 verloor, maar ek het talle gelukkige herinneringe aan ons tye saam. My seun, Harold, het later in sy lewe opgehou om Jehovah te dien en is kort daarna, in 1984, oorlede. Dit was een van die grootste terugslae in my lewe.

Maar ek is dankbaar vir die feit dat Harold en sy vrou, Elsie, my drie wonderlike kleindogters gegee het en dat ek nou ook agterkleinkinders het wat gedoopte Getuies is. Drie van my susters, Margaret, Ellen Jo en Crystal, leef nog en dien steeds as getroue knegte van Jehovah. Crystal het met Lyman Swingle getrou, wat ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is. Hulle woon by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Ten spyte van ernstige gesondheidsprobleme in die afgelope paar jaar het Crystal ’n wonderlike voorbeeld en bron van aanmoediging vir my gebly.

In die meer as 90 jaar van my lewe het ek geleer om nooit bang te wees vir wat mense kan doen nie, want Jehovah is sterker as enige balju, enige regter, enige mens. Namate ek aan hierdie gebeure in die verlede terugdink, ag ek dit ’n groot voorreg dat ek ’n aandeel aan die “verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” kon hê!—Filippense 1:7.

[Venster op bladsy 22]

Gewapen Met Die Grondwet

In 1995 het Merlin Owen Newton Armed With the Constitution geskryf, ’n boek wat die rol beskryf wat Jehovah se Getuies daarin gespeel het om die toepassing van die Eerste Wysiging van die Amerikaanse Grondwet duidelik te maak. Mev. Newton was toe adjunkprofessor van geskiedenis en staatsleer aan die Huntingdon-universiteit in Montgomery, Alabama. Haar boek, wat deeglik nagevors en goed gedokumenteerd is, hersien twee hofsake in Alabama wat tot by die Amerikaanse Appèlhof gevoer is.

Grace Marsh, wat haar lewensverhaal in die bygaande artikel vertel, was betrokke by een van hierdie sake in die Appèlhof. Die ander saak, Jones v. City of Opelika, het gehandel oor die reg om godsdiensoortuigings te versprei deur van lektuur gebruik te maak. Rosco en Thelma Jones, ’n swart egpaar, was voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies.

Ter voorbereiding van haar boek het professor Newton aktuele en regstydskrifte gebruik, Getuies se gedenkskrifte en briewe, onderhoude met Getuies en materiaal wat deur hulle uitgegee is, asook geleerdes se studies van Getuiebedrywighede. In Armed With the Constitution lewe ’n gedeelte van die regsgeskiedenis van Jehovah se Getuies in die boeiende besonderhede en persoonlike weergawes van die verweerders, prokureurs en regters.

[Prent op bladsy 20]

Saam met my oupa Sim Waldrop

[Prent op bladsy 23]

Grace Marsh vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel