Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwbq artikel 152
  • Wat sê die Bybel oor woede?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sê die Bybel oor woede?
  • Antwoorde op Bybelvrae
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel se antwoord
  • Is dit altyd verkeerd om kwaad of woedend te wees?
  • Wanneer is dit verkeerd om kwaad of woedend te wees?
  • Hoe kan jy jou woede beheer?
  • Is dit altyd verkeerd om kwaad te word?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe om woede—joune en ander s’n—die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Woede—Wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die probleem met woede
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Antwoorde op Bybelvrae
ijwbq artikel 152
’n Vuis

Wat sê die Bybel oor woede?

Die Bybel se antwoord

Die Bybel leer dat onbeheerste woede skadelik is, vir die persoon wat woedend is sowel as vir die mense rondom hom (Spreuke 29:22). Al is daar soms ’n goeie rede om kwaad of woedend te wees, sê die Bybel dat dié wat aanhou om “vlae van toorn”, of woede-uitbarstings, te hê, nie gered sal word nie (Galasiërs 5:19-21). Die Bybel bevat beginsels wat ’n persoon kan help om woede te beheer.

  • Is dit altyd verkeerd om kwaad of woedend te wees?

  • Wanneer is dit verkeerd om kwaad of woedend te wees?

  • Hoe kan jy jou woede beheer?

  • Bybelverse oor woede

Is dit altyd verkeerd om kwaad of woedend te wees?

Nee. Soms is daar goeie rede om kwaad te wees. Byvoorbeeld, die getroue man Nehemia “het baie kwaad geword” toe hy uitvind dat party van sy mede-aanbidders onderdruk word. – Nehemia 5:6.

Soms word God kwaad. Byvoorbeeld, toe sy eertydse volk hulle ooreenkoms om hom alleen te aanbid, verbreek het en valse gode begin dien het, “het Jehovah se toorn teen Israel ontvlam” (Rigters 2:13, 14). Tog is woede nie ’n oorheersende deel van Jehovah God se persoonlikheid nie. Daar is altyd goeie rede vir sy woede, en hy beheer dit altyd. – Eksodus 34:6; Jesaja 48:9.

Wanneer is dit verkeerd om kwaad of woedend te wees?

Dit is verkeerd om kwaad te wees wanneer dit nie beheer word nie en daar nie ’n goeie rede daarvoor is nie, en dit is dikwels die geval wanneer onvolmaakte mense kwaad word. Byvoorbeeld:

  • Kain “het baie kwaad geword” toe God sy offerande verwerp het. Kain het toegelaat dat hy so kwaad word dat hy sy broer vermoor het. – Genesis 4:​3-8.

  • Die profeet Jona “het kwaad geword” toe God medelye aan die Nineviete betoon het. God het Jona tereggewys en gesê dat hy nie “met reg kwaad geword” het nie en dat hy medelye moes hê met daardie berouvolle sondaars. – Jona 3:10–4:1, 4, 11.a

Hierdie voorbeelde toon dat die woede van onvolmaakte mense “nie God se regverdigheid [bewerk] nie”. – Jakobus 1:20.

Hoe kan jy jou woede beheer?

  • Besef hoe gevaarlik onbeheerste woede is. Party dink dalk dat dit ’n teken van krag is as jy wys dat jy kwaad of woedend is. Maar in werklikheid het iemand wat nie sy woede kan beheer nie, ’n ernstige swakheid. “Soos ’n deurbreekte stad sonder ’n muur is die man wat sy gees nie in bedwang hou nie” (Spreuke 25:28; 29:11). Aan die ander kant wys ons ware krag en onderskeidingsvermoë wanneer ons leer hoe om ons woede te beheer (Spreuke 14:29). Die Bybel sê: “Hy wat nie gou toornig [kwaad] word nie, is beter as ’n sterk man.” – Spreuke 16:32.

  • Beheer jou woede voordat jy iets doen waaroor jy spyt sal wees. “Laat staan die toorn”, sê Psalm 37:8, en dit voeg by: “Moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen.” Let op dat ons ’n keuse het wanneer ons kwaad is – ons kan kies om dit te laat vaar voordat ons ‘kwaad doen’. Soos Efesiërs 4:26 sê: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie.”

  • As dit moontlik is, gaan weg voordat jy kwaad word. “Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat”, sê die Bybel. “Gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het” (Spreuke 17:14). Al is dit wys om verskille met ander vinnig op te los, het jy en die persoon dalk tyd nodig om af te koel voordat julle sake kalm kan bespreek.

  • Kry die feite. “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn”, sê Spreuke 19:11. Dit is wys om eers al die feite te kry voordat jy ’n gevolgtrekking maak. Wanneer jy aandagtig na alle kante van ’n saak luister, sal jy minder geneig wees om sonder goeie rede kwaad te wees. – Jakobus 1:19.

  • Bid vir gemoedsrus. Gebed kan jou help om “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, te ondervind (Filippense 4:7). Gebed is een van die belangrikste maniere om God se heilige gees te ontvang. Die heilige gees bring eienskappe in ons voort soos vrede, geduld en selfbeheersing. – Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23.

  • Wees versigtig met wie jy assosieer. Ons is geneig om te word soos die mense met wie ons assosieer (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Die Bybel waarsku met goeie rede: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie.” Hoekom nie? “Sodat jy nie met sy paaie vertroud raak en beslis ’n strik vir jou siel span nie.” – Spreuke 22:24, 25.

Bybelverse oor woede

Spreuke 16:32: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man.”

Betekenis: Om jou woede te beheer, is ’n teken van krag.

Spreuke 17:14: “Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat; gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”

Betekenis: Gaan weg as iemand sy humeur begin verloor.

Spreuke 19:11: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.”

Betekenis: Ons kan onnodige woede voorkom deur alle aspekte van die situasie in ag te neem eerder as om gevolgtrekkings te maak voordat ons al die feite het.

Spreuke 22:24, 25: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie, sodat jy nie met sy paaie vertroud raak [nie].”

Betekenis: As ons assosieer met mense wat geneig is om kwaad te word, sal ons waarskynlik soos hulle word.

Spreuke 29:11: “’n Sot laat al sy gees uit.”

Betekenis: Iemand wat sy emosies beheer, is wyser as iemand wat hom deur sy emosies laat beheer.

Galasiërs 5:22, 23: “Die vrugte van die gees ... is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Betekenis: God se heilige gees, of sy werkende krag, kan eienskappe in ons voortbring wat ons kan help om woede te beheer.

Efesiërs 4:26: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie.”

Betekenis: Ons kan nie altyd keer dat ons kwaad word nie, maar ons kan beheer hoe ons dit hanteer.

Jakobus 1:19: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”

Betekenis: Ons kan keer dat ons nie gou kwaad word nie deur ’n goeie luisteraar te wees.

a Jona het blykbaar die teregwysing aanvaar en sy woede laat vaar, want God het hom gebruik om die deel van die Bybel te skryf wat sy naam dra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel