Hoe om woede—joune en ander s’n—die hoof te bied
ONS lewe in ’n gemeenskap wat geneig is tot woede. Verkeersknope, teenstrydige en veranderende waardes, misverstande, onregverdighede of ander frustrasies van die daaglikse lewe veroorsaak baie spanning. Spanning is kumulatief, en feitlik elke persoon bereik ’n punt waar hy kwaad word. Ons moet derhalwe leer om te ontspan. Ons kan elke dag met ’n positiewe gesindheid begin—deur geduld, verdraagsaamheid en goedgehumeurdheid aan die dag te lê. Die meeste van ons het ’n gesin wat vir ons lief is. Christene het ook lojale mede-Christene in die gemeente en hulle het bowenal die liefdevolle Herder, Jehovah God. Daar is derhalwe geen rede om een algemene oorsaak van woede—die gevoel dat ’n mens alleen of verlate is—te vrees nie.—Psalm 23:1-6; Hebreërs 13:5, 6.
Maar as ons kwaad is of voor iemand anders se woede te staan kom, moet ons dit behoorlik die hoof bied om ons geluk en welstand te behou. Hoe? Die Bybel sê vir ons: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spreuke 16:32). Pleks van haastig te besluit om uiting aan ons woede te gee, moet ons die moontlike nadraai van ons dade oorweeg. As ons tot tien tel, kan dit voorkom dat ons iets doen waaroor ons dalk later spyt sal hê.—Spreuke 14:17, vgl. NW.
Wanneer ons kwaad is en nie weet waarom nie, moet ons nederig en eerlik om hulp vra. Dit is nie swakheid om ons vrese of behoefte aan hulp teenoor ander, veral teenoor dié wat vir ons omgee, te erken nie; dit is die verstandige en moedige weg. Dan kan ons tot die kern van die probleem deurdring. Die Bybel sê: “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.”—Spreuke 15:22.
As ons probeer om te verstaan waarom ander op ’n sekere manier optree, sal dit ons help om ons emosionele reaksies te beheers. En as ons vir ’n woedende persoon sê: “Ek verstaan waarom jy kwaad is”, sal hy dalk gou afkoel. Die Bybel vermaan: “Die insig van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe.”—Spreuke 19:11, vgl. NW.
Indien ons iemand onopsetlik seermaak, is ons hom ’n apologie verskuldig. As iemand byvoorbeeld op jou toon trap, sal jy dalk geneig wees om kwaad te word. Maar as hy verskoning vra, verdwyn jou woede. Jou toon sal dalk nog seer wees, maar jou waardigheid word gerespekteer. Ons goeie maniere, tesame met algemene beleefdheid en goedgehumeurdheid, kan eweneens gekrenktheid laat verdwyn en daartoe bydra dat ons in ons verhouding met ons huweliksmaat, kinders, vriende en lede van die Christengemeente met respek bejeën word.—Spreuke 16:24; Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:8.
Wanneer ons te kampe het met ’n situasie wat ons kwaad maak, help dit as ons weet hoe om oor ons woede te praat sonder om die ander persoon aan te val. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen mondelinge aggressie (“Jou idioot!” of, “Ek sal jou ’n opstopper gee!”) en blote melding van ’n mens se woede (“Ek is baie ontsteld” of, “Ek voel gekrenk”). Mondelinge aggressie misluk gewoonlik omdat dit die ander persoon uitlok om terug te kap, terwyl melding van hoe jy voel nie ’n aanval is nie en die ander persoon dalk sal beweeg om die saak reg te stel. Soos die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom. ’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.”—Spreuke 15:1, 18.
Regverdige woede
Dit is vir die meeste van ons natuurlik om van tyd tot tyd kwaad te word. Die Bybel sê dat selfs Jehovah kwaad word (Sefanja 2:2, 3; 3:8). Dit is dus nie verbasend dat die mens, wat na Sy beeld geskape is, ’n soortgelyke gevoel ondervind nie (Genesis 1:26). Die gevoel van woede op sigself is dus nie ’n sonde nie.
Maar wanneer Jehovah kwaad is, is dit altyd om ’n geldige rede: Die skending van regverdige beginsels. En sy reaksie is altyd presies reg en volmaak beheers. Met onvolmaakte mense is dit anders. Ons word dikwels kwaad omdat ons eer gekrenk is of weens ’n ander menslike swakheid. Ons moet dus versigtig wees hoe ons ons woede hanteer. Soos die apostel Paulus gewaarsku het: “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efesiërs 4:26, 27). Ja, Satan kan ons onbeheerste woede uitbuit. Trouens, “toornigheid” word genoem onder “die werke van die vlees” wat verhinder dat ’n mens God se Koninkryk beërwe.—Galasiërs 5:19-21.
Daarom vermaan die dissipel Jakobus: “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet . . . stadig [wees] om toornig te word. Want die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie” (Jakobus 1:19, 20). Al is ons woede geregverdig, kan onvolmaaktheid ons onbeheers, verkeerd laat reageer. Ons moet ons derhalwe altyd deur die beginsel laat lei: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Omdat ons onvolmaak is, moet ons ook in gedagte hou dat ons verkeerd kan wees. Dit is gevolglik gevaarlik om ander haastig onder die sluier van regverdige verontwaardiging te oordeel.—Jakobus 2:13; 4:11, 12; 5:9.
Volgens die Skrif lewe ons in die tyd van die einde. In hierdie laaste dae het “die nasies . . . vertoornd” geword op God se Koninkryk, en die Duiwel het “groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 11:17, 18; 12:10-12). Die enigste ware beskerming vir ons is derhalwe om volgens die Woord van God te lewe (Psalm 119:105). God sal binnekort ’n oordeel uitspreek oor die nasies, en die aarde sal van alle ongeregtigheid gereinig word (Jesaja 35:10; 65:23; Miga 4:3, 4). Intussen moet ons sorg dat ons nie die weë van hierdie toornige wêreld navolg nie. As ons ons woede behoorlik beheers, sal dit ons help om huweliksliefde, Christelike eenheid en persoonlike vrede en geluk te bewaar. En dit sal bowenal daartoe bydra dat ons Jehovah God se guns en seën behou.—Psalm 119:165.