Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 18-19
  • Is dit altyd verkeerd om kwaad te word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit altyd verkeerd om kwaad te word?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebalanseerde beskouing
  • Regverdige woede
  • Hoe jy woede kan verwerk
  • Wat sê die Bybel oor woede?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Woede—Wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Hoe om woede—joune en ander s’n—die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die probleem met woede
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 18-19

Die Bybelse verskouing

Is dit altyd verkeerd om kwaad te word?

“WOEDE is ’n tydelike kranksinnigheid.” Só het die eertydse Romeinse digter Horatius ’n algemene beskouing van een van die kragtigste van alle emosies uitgedruk. Hoewel nie almal saamstem dat woede ’n soort tydelike kranksinnigheid is nie, beskou baie dit tog as inherent sleg. Reeds in die sesde eeu G.J. het Katolieke monnike die bekende lys van “die sewe hoofsondes” opgestel. Dit is nie verbasend dat woede op daardie lys verskyn het nie.

Dit is maklik om in te sien waarom hulle hierdie beskouing gehuldig het. Die Bybel sê wel: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid” (Psalm 37:8). En die apostel Paulus het die gemeente in Efese gemaan: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.”—Efesiërs 4:31.

Maar jy wonder dalk tereg: ‘Is dit al wat die Bybel se beskouing oor woede behels? Trouens, het Paulus nie ook geprofeteer dat daar in hierdie “laaste dae” waarin ons lewe “swaar tye sal kom” nie?’ (2 Timotheüs 3:1-5). Verwag God werklik van ons om in hierdie tye te lewe, wanneer mense ‘wreed, sonder liefde vir die goeie en sonder natuurlike liefde’ is—en nooit eers ’n bietjie kwaad te word nie?

’n Gebalanseerde beskouing

Die Bybel se beskouing oor hierdie onderwerp is nie so simplisties nie. Kyk byvoorbeeld na Paulus se woorde in Efesiërs 4:26: “Word toornig en moenie sondig nie.” Hierdie vers sou heelwat verwarring veroorsaak het as woede outomaties ’n “hoofsonde” was wat die ewige straf verdien het.

Paulus het uit Psalm 4:4 aangehaal, wat lees: “Raak ontstoke, maar moenie sondig nie” (NW). Volgens Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words is die Hebreeuse woord wat hier met “ontstoke” vertaal word, ra·ghazʹ, wat beteken om te “sidder van ’n kragtige emosie”. Maar watter kragtige emosie? Was dit woede? In die Septuagint-vertaling van Psalm 4:4 is ra·ghazʹ in Grieks weergegee as “om toornig te maak”, en dit is klaarblyklik wat Paulus hier bedoel het.

Waarom sou die Bybel woede veroorloof? Omdat nie alle woede verkeerd is nie. Die beskouing dat, soos een Bybelkommentator dit stel, “’n mens se woede nooit op sigself billik en geoorloof is nie”, is onskriftuurlik. Die Bybelgeleerde R. C. H. Lenski het tereg oor Efesiërs 4:26 gesê: “Die etiek wat alle woede verbied en onverstoorde kalmte in elke situasie vereis, is Stoïsyns en nie Christelik nie.” Professor William Barclay het eweneens gesê: “Woede moet ’n deel van die Christelike lewe wees, maar dit moet die regte soort woede wees.” Maar wat is “die regte soort woede”?

Regverdige woede

Hoewel woede nie een van Jehovah se oorheersende eienskappe is nie, word daar herhaaldelik in die Skrif na Jehovah verwys as iemand wat toornig word en uiting aan sy toorn gee. Tog is sy toorn om twee redes altyd regverdig. Eerstens word hy nooit toornig sonder ’n grondige rede nie. En tweedens openbaar hy sy toorn op ’n billike en regverdige wyse en verloor hy nooit beheer nie.—Exodus 34:6; Psalm 85:4.

Jehovah word deur doelbewuste onregverdigheid vertoorn. Hy het byvoorbeeld vir die Israeliete gesê as hulle weerlose vroue en kinders onreg aandoen, sal hy “hulle geroep sekerlik hoor”. Hy het gewaarsku: “My toorn sal ontvlam.” (Exodus 22:22-24; vergelyk Spreuke 21:13.) Jesus het, soos sy Vader, ’n teer plekkie in sy hart vir kinders gehad. Toe sy dissipels met goeie bedoelings probeer keer het dat van die kinders na Jesus toe kom, ‘was Jesus verontwaardig’ en het sy arms om die kindertjies gesit (Markus 10:14-16, NAV). Dit is noemenswaardig dat die Griekse woord vir “verontwaardig” oorspronklik na “fisiese pyn of irritasie” verwys het. Voorwaar kragtige gevoelens!

Regverdige verontwaardiging is eweneens in Jesus se hart opgewek toe hy gesien het dat handelaars en geldwisselaars sy Vader se huis van aanbidding “’n rowerspelonk” gemaak het. Hy het hulle tafels omgekeer en hulle uitgejaag! (Mattheüs 21:12, 13; Johannes 2:15). Toe die Fariseërs en skrifgeleerdes meer besorg was oor hulle beuselagtige Sabbatwette as oor die siekes wat hulp nodig gehad het, was Jesus “diep bedroef toe hy besef hoe onmenslik hulle is” en “hy het die gesigte rondom hom met woede aangekyk”.—Markus 3:5, Phillips.

Getroue Moses van die ou tyd was op soortgelyke wyse met regverdige verontwaardiging vervul oor die Israeliete se ontrouheid toe hy die tafels van die Mosaïese Wet neergegooi het (Exodus 32:19). En die regverdige skrifgeleerde Esra was só kwaad oor die Israeliete se ongehoorsaamheid aan God se wet in verband met die huwelik dat hy sy kleed geskeur en selfs van sy hare uitgepluk het!—Esra 9:3.

Almal wat ‘liefhet wat goed is’, streef daarna om te “haat wat sleg is” (Amos 5:15). Dus kan regverdige woede in hedendaagse Christene se hart opwel wanneer hulle doelbewuste, onberouvolle dade van wreedheid, huigelary, oneerlikheid, ontrouheid of ongeregtigheid sien.

Hoe jy woede kan verwerk

Dit is geen toeval dat die Bybel woede dikwels met ’n vuur vergelyk nie. Soos vuur het dit sy plek. Maar dit kan ook uiters verwoestend wees. Mense word, anders as Jehovah en Jesus, alte dikwels sonder ’n grondige rede kwaad of gee op ’n onregverdige wyse aan hulle woede uiting.—Sien Genesis 4:4-8; 49:5-7; Jona 4:1, 4, 9.

Dit is andersyds ook nie regverdig dat jy jou woede opkrop en voorgee dat dit nie daar is nie. Onthou Paulus se raad: “Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie” (Efesiërs 4:26). Daar is skriftuurlike maniere waarop daar aan woede uiting gegee kan word, soos om ‘in stilte daaroor na te dink’, ’n ervare vertroueling van jou gevoelens te vertel of selfs deur die oortreder op ’n kalm manier te konfronteer.—Psalm 4:4, NW; Spreuke 15:22; Mattheüs 5:23, 24; Jakobus 5:14.

Daarom is dit beslis nie altyd verkeerd om kwaad te word nie. Jehovah en Jesus het albei al toornig geword—en hulle sal weer toornig word! (Openbaring 19:15). As ons hulle wil navolg, sal ons selfs voor situasies te staan kom wanneer dit verkeerd sal wees om nie kwaad te word nie! Die sleutel is om Bybelraad toe te pas, seker te maak dat ons ’n geldige rede vir ons gevoelens het en dat ons op ’n regverdige, Christelike wyse daaraan uiting gee.

[Prent op bladsy 18]

Kain en Abel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel