’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe mede-Getuies van Jehovah:
Dit verskaf ons groot vreugde om te skryf aan julle as dierbare getroue knegte van Jehovah, wat nou meer as sewemiljoen tel. Wanneer ’n mens ’n medegelowige uit ’n ander deel van die wêreld ontmoet, voel jy onmiddellik ’n spesiale soort liefde vir daardie persoon (Joh. 13:34, 35). Wanneer jy hierdie Jaarboek lees, sal die boeiende verslae van die geloof en lojaliteit van jou broers en susters in verskillende lande jou ongetwyfeld weer hierdie unieke liefde laat voel.
Verslae van regoor die wêreld toon dat baie van julle julle program van Gesinsaanbidding ernstig opneem. Dié van julle wat jong kinders het, het groot vindingrykheid aan die dag gelê om hulle aandag te boei (Ef. 6:4). Egpare kom nader aan mekaar danksy die wedersydse geestelike aanmoediging wat hierdie program bied (Ef. 5:28-33). Ja, individue en gesinne vind baat by hierdie reëling wat ’n deeglike studie van God se Woord moontlik maak.—Jos. 1:8, 9.
Ons het diepe medelye met dié van julle wat verliese gely het as gevolg van die onlangse natuurrampe. Ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat ten tye van hierdie rampe nie geaarsel het om met die noodlenigingspogings te help nie (Hand. 11:28-30; Gal. 6:9, 10). En ook is daar in elke gemeente dié van julle wat die materiële behoeftes van ons broers raaksien en die inisiatief neem om hulle te help. Soos Dorkas van ouds, is julle oorvloedig in “goeie dade en barmhartigheidsgawes” (Hand. 9:36). Wees verseker dat Jehovah dit raaksien en julle daarvoor sal beloon.—Matt. 6:3, 4.
In party lande word julle regte geskend deur diegene wat wette manipuleer om “moeilikheid deur verordening [te] beraam” (Ps. 94:20-22). Julle volhard moedig en vertrou op Jehovah as julle toevlug omdat julle besef dat Jesus hierdie vervolging voorspel het (Joh. 15:19, 20). Dierbare broers en susters, wees verseker dat ons gereeld vir julle bid terwyl julle voortgaan om “julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis”.—1 Pet. 3:13-15.
Ons wil die miljoene van julle hartlik prys wat jaar ná jaar sedelik rein bly ten spyte daarvan dat Satan onophoudelik verdorwenheid bevorder en listige metodes gebruik om dit te versprei. Terwyl die wêreld se sedelike standaarde nuwe laagtepunte bereik, “hou [julle] aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte” (Ef. 6:10). Julle het ‘die volle wapenrusting van God aangetrek’, en daarom staan julle vas teen “die sette van die Duiwel” (Ef. 6:11, 12). Wees verseker dat Jehovah julle voorbeeld gebruik om ’n kragtige antwoord te gee aan die een wat hom uittart, Satan!—Spr. 27:11.
Ons was verheug om te verneem dat 19 374 737 in 2011 die Herdenking van ons Here se dood bygewoon het. Hierdie indrukwekkende bywoningsyfer kan onder andere toegeskryf word aan julle wonderlike reaksie op die oproep om April verlede jaar as hulppioniers te dien. Miljoene mense regoor die aarde kon die verenigde lofbetuiging hoor wat Jehovah se lojale Getuies aan hom gebring het! (Rom. 10:18). Hetsy jy een van die 2 657 377 was wat daardie maand as hulppioniers gedien het of een van dié was wat meer in die bediening probeer doen het, julle almal het ons harte van vreugde laat oorloop weens julle gewillige gees en ywer vir die werk.—Ps. 110:3; Kol. 3:23.
Verlede jaar het 263 131 nuwe broers en susters hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer. Ons dank Jehovah hiervoor, en ons dank julle almal dat julle saam met ons die uitnodiging aan ander rig: “‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Nadat ons fasette van God se opgerigte Koninkryk by ons 2011-streekbyeenkomste bespreek het, sê ons nou met selfs meer gevoel: “Laat God se Koninkryk kom!” Aangevuur deur Jesus se versekering: “Ek kom gou”, sê ons heelhartig saam met die apostel Johannes: “Amen! Kom, Here Jesus.”—Op. 22:20.
Terwyl julle aanhou waak en op hierdie opwindende gebeurtenis wag, wil ons julle verseker van ons innige liefde vir elkeen van julle, ons geliefde broers en susters, wat julle liefde vir Jehovah “met dade en in waarheid” bewys!—1 Joh. 3:18.
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies