’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe mede-Getuies van Jehovah
Wat ’n vreugde is dit tog om aan julle dierbare broers te skryf! Ons voel soos die apostel Johannes, wat gesê het dat hy sy medegelowiges “waarlik liefhet” en bly is omdat hulle “in die waarheid wandel” (2 Joh. 1, 4). Wat ’n seën is die waarheid tog vir ons almal! Die waarheid het ons bevry van Babilon die Grote asook van die leerstellings en tradisies daarvan wat God tot oneer strek. Gehoorsaamheid aan die waarheid het ons gehelp om liefdevolle, vriendelike, barmhartige mense te word. En die waarheid het dit vir ons moontlik gemaak om ’n rein posisie voor God sowel as die vooruitsig op die ewige lewe te hê.
Hoe dankbaar is ons tog ook vir Jehovah se gees, wat ons daagliks rig en versterk! Ons vertrou dat julle dit geniet het om verskeie aspekte van hierdie liefdevolle voorsiening van Jehovah tydens die onlangse “Gerig deur God se gees”-streekbyeenkomste te ondersoek. Te midde van verslegtende wêreldtoestande is dit noodsaaklik dat ons op Jehovah se kragtige gees vertrou om ons te rig deur die betekenisvolle dae wat voorlê.
Ons is seker dat dit julle hart geraak het toe julle die opwindende verslae in die Jaarboek gelees het van ons broers wat soveel lyding ter wille van hulle geloof verduur het. En dit is verbasend om te dink dat baie van hierdie getroues nog nie lank gedoop was of glad nie gedoop was toe die probleme begin het nie. Hoe lief het ons hulle tog weens hulle lojaliteit en hulle standvastige regverdigheid! Hulle voortreflike voorbeeld versterk inderdaad ons vasbeslotenheid om lojaal aan die Koninkryk te bly, ongeag watter teëspoed oor ons kom.—1 Tess. 1:6-8.
Ons weet, liewe broers en susters, dat julle baie probleme op ekonomiese en ander gebiede die hoof moet bied om julle gesinne in liefde saamgebind te hou. Vir party van julle is dit ook ’n uitdaging om die Koninkrykspredikingswerk en ander noodsaaklike gemeentelike bedrywighede gereeld en lojaal te ondersteun. Om dié rede het ons, nadat ons die saak biddend en deeglik bespreek het, ’n paar veranderinge in gemeentelike vergaderinge aangebring wat vanaf 1 Januarie 2009 in werking tree. Ons vertrou dat julle hierdie reëlings ten beste sal benut deur meer tyd aan persoonlike en gesinstudie te bestee.
Dit was ’n ware vreugde om vanjaar so baie by al die byeenkomste te sien wat aan die vereistes voldoen het om gedoop te word. Van hulle was nog redelik jonk. Ouers, julle moet geprys word omdat julle julle kinders grootmaak met ’n waardering vir die waarheid en hulle aanmoedig om hulle toe te wy om Jehovah te dien terwyl hulle nog jonk is. Die feit dat sulke dierbare jongmense voor baie uitdagings op skool te staan kom en nog steeds aan die vereistes voldoen het om gedoop te word, getuig van die goeie opleiding wat hulle by die huis ontvang het.—Ps. 128:1-6.
Die prysenswaardige toename in die Bybelstudiewerk moenie oor die hoof gesien word nie—en ons hardwerkende sendelinge en spesiale pioniers het ’n groot aandeel hieraan gehad. Almal van ons op die Bestuursliggaam waardeer werklik die groot aandeel wat ons broers en susters regoor die wêreld daaraan het om aan opregtes van hart te sê “Kom!” en almal wat dors is te nooi om “die water van die lewe [te] neem, verniet” (Op. 22:17). Ons wil die 289 678 wat die afgelope jaar hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer het, hartlik verwelkom in ons wêreldwye broederskap!
Ons moet ons voortdurend herinner aan die woorde van die apostel Johannes, wat geskryf het: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). En om te dink dat ons so na aan die tyd lewe wanneer hierdie wêreld sal ‘verbygaan’! Dit is voorwaar verstandig om ons lewe toe te spits op die uitvoering van God se wil en ‘aan te hou waak’ (Matt. 24:42). As ons dit doen, sal ons beslis nooit spyt wees nie en sal ons die voordele van Jehovah se liefderyke goedhartigheid geniet.—Jes. 63:7.
Ons hoop dat die roerende verslae uit baie lande wat in hierdie Jaarboek verskyn, julle almal sal aanspoor om Koninkryksbelange eerste in julle lewe te stel. Ons wil julle verseker dat julle altyd in ons gedagtes en gebede is en dat ons julle innig liefhet. Mag Jehovah sy ryk seën oor julle uitstort.
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies