Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Julie bl. 14-19
  • Leer jy Jehovah beter ken?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer jy Jehovah beter ken?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT BETEKEN DIT OM JEHOVAH TE LEER KEN?
  • HOEKOM MOET ONS AANHOU OM JEHOVAH TE LEER KEN?
  • HOE LEER KEN ONS JEHOVAH BETER?
  • ONS SAL NOOIT OPHOU LEER NIE
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Onthou dat Jehovah “die lewende God” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • “Kies . . . self wie julle gaan dien”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Julie bl. 14-19

21-27 SEPTEMBER 2026

LIED 12 Groot God, Jehovah

Leer jy Jehovah beter ken?

“Jy moet die God van jou vader leer ken, en jy moet hom met jou hele hart . . . dien.” – 1 KRON. 28:9.

FOKUS

Wat dit beteken om Jehovah te leer ken, hoekom ons hom beter wil leer ken en hoe ons dit kan doen.

1. Hoe voel ons wanneer ons nadink oor Jehovah se kennis, wysheid en al die wonderlike dinge wat hy gedoen het?

HET jy al ooit gedink oor die diepte van Jehovah se kennis, sy eindelose wysheid of al die wonderlike dinge wat hy gedoen het? Ons is verstom wanneer ons aan ons Skepper dink. Jy voel dalk soos die apostel Paulus wat geskryf het: “Hoe diep is God se rykdom en wysheid en kennis tog! Niemand kan sy besluite ten volle verstaan of sy dade ten volle begryp nie!” – Rom. 11:​33, 34.

2. Wat bewys dat ons Jehovah kan leer ken?

2 Al sal ons nooit alles omtrent Jehovah weet nie, is dit moontlik om, tot ’n sekere mate, uit te vind watter soort Persoon hy is. Koning Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Jy moet die God van jou vader leer ken, en jy moet hom met jou hele hart . . . dien . . . As jy hom soek, sal hy sorg dat jy hom vind” (1 Kron. 28:9). Die apostel Johannes het sy mede-Christene eeue later herinner dat ons “insig [het] sodat ons die kennis van die ware God kan verkry” (1 Joh. 5:20). En Jesus het self gesê dat kennis van Jehovah beskikbaar is aan “enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar”. – Matt. 11:27.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Almal wat hulle aan Jehovah toegewy het, het alreeds baie dinge oor hom geleer. Maar ons hou nooit op om Jehovah te “leer ken” nie (Joh. 17:3). Ons kan altyd meer leer oor wat hom gelukkig maak en hoe om ons vertroue in hom te versterk. Kom ons bespreek drie vrae waaraan ons almal moet dink maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie: Wat beteken dit om Jehovah te leer ken? Hoekom moet ons aanhou om hom beter te leer ken? En hoe leer ken ons hom beter?

WAT BETEKEN DIT OM JEHOVAH TE LEER KEN?

4. Wat behels dit om Jehovah te leer ken?

4 Ons leer wat dit behels om Jehovah te leer ken deur te kyk na wat hy vir die Jode wat uit Babilon sou terugkeer, gesê het. Jehovah het belowe: “Ek sal hulle ’n hart gee om my te ken, dat ek Jehovah is” (Jer. 24:7). Dié wat uit Babilon teruggekeer het, het sekerlik alreeds basiese feite oor Jehovah geken. Maar hulle harte, insluitende hulle gevoelens en motiewe, sou betrokke moes wees by hulle pogings om Jehovah te leer ken. Een naslaanwerk stel dit so: “Daar is ’n groot verskil tussen iemand wat van God weet en iemand wat God ken. Ons kan dit vergelyk met die verskil tussen iemand wat van liefde lees en iemand wat self verlief raak.” Dit is nie genoeg om net te weet dat Jehovah ’n naam het en dat hy God is nie. Ons wil die Persoon agter die naam leer ken.

5. Wat kan ons by koning Josia leer oor wat dit beteken om Jehovah te leer ken?

5 Terwyl ons Jehovah leer ken, leer ons wat hom gelukkig maak en wat hom ongelukkig maak. Om te illustreer, dink aan die voorbeeld van koning Josia. Die Bybel sê: “In die 8ste jaar nadat hy koning geword het, toe hy nog maar ’n seun was, het hy die God van sy voorvader Dawid begin dien” (2 Kron. 34:3). Maar Josia het meer gedoen as om net te studeer. Hy het dit wat hy geleer het, toegepas. Deur middel van die profeet Jeremia het Jehovah gesê dat Josia “geregtigheid en regverdigheid uitgeoefen” het en dat hy die hulpelose en die arme verdedig het. Toe het Jehovah verder gesê: “Is dít nie wat dit beteken om my te ken nie?” – Jer. 22:​15, 16.

6. Watter uitwerking sal dit op ons hê wanneer ons Jehovah leer ken volgens Psalm 9:10?

6 Lees Psalm 9:10. Hoe meer ons Jehovah leer ken, hoe meer sal ons op hom vertrou. Daardie beginsel was waar in die apostel Paulus se geval. Gedurende sy laaste gevangenskap en nie lank voor sy dood nie, het hy geskryf: “Ek skaam my nie. Want ek ken die Een in wie ek geglo het” (2 Tim. 1:12). Wat Paulus gedurende sy lewe geleer en ondervind het, het hom beweeg om heeltemal op sy God te vertrou. Paulus het die vertroue gehad dat Jehovah hom en sy getroue diens nie sou vergeet nie en dat Hy hom sou opwek.

HOEKOM MOET ONS AANHOU OM JEHOVAH TE LEER KEN?

7. Wat kan gebeur nadat ons Jehovah al jare lank gedien het?

7 Met verloop van tyd probeer ons dalk nie meer so hard om Jehovah te leer ken as wat ons gedoen het toe ons eers oor hom geleer het nie. Hoekom nie? Wanneer ons die Bybel op ons eie of saam met ander by gemeentelike vergaderinge lees, is ons dalk geneig om te fokus op hoe die inligting ons persoonlik op praktiese maniere kan help of hoe ons dit kan gebruik om ander te help. Die Bybel moedig ons aan om dit te doen (2 Tim. 3:​16, 17). Maar die Bybel openbaar ook baie omtrent die Skrywer daarvan (Ps. 25:​8-10). Ons moet nooit so verdiep wees in hoe die Bybel se boodskap ons of ander bevoordeel dat ons nie onsself vra: ‘Wat sê dit vir my omtrent Jehovah God?’ nie.a

8. Watter impak sal dit op ons vriendskap met Jehovah hê wanneer ons hom beter leer ken? (Psalm 73:​24-28)

8 Terwyl ons Jehovah beter leer ken, sal ons vriendskap met hom al hoe sterker word. Byvoorbeeld, hoe voel jy oor Jehovah nadat jy jou daaglikse Bybellees gedoen het, na ’n maandelikse Broadcasting-program gekyk het of ’n byeenkoms bygewoon het? Ons voel dikwels nader aan ons hemelse Vader. Hoekom? Omdat ons meer oor hom geleer het. As gevolg daarvan word ons beweeg om hom te loof en te bedank. Ons voel soos die psalmis wat oor Jehovah se sorg vir hom nagedink het, en wat gesê het: “God is vir ewig die rots van my hart en my deel.” (Lees Psalm 73:​24-28.) Elke keer dat ons probeer om Jehovah beter te leer ken, vergroot dit ons waardering vir ons kosbare vriendskap met hom.

9. Watter uitwerking sal dit op ons besluite hê wanneer ons Jehovah “in ag [neem]”? Illustreer.

9 Wanneer ons Jehovah “in ag [neem]” – deur te dink aan wat ons oor hom geleer het en oor watter uitwerking ons dade op hom het – sal ons beter besluite maak (Spr. 3:​5, 6). Om te illustreer: Baie broers en susters hou ’n foto van hulle huweliksmaat op hulle lessenaar, in hulle beursie of op hulle foon. Dit help hulle om dikwels met liefde aan hulle maat te dink, om besluite te maak wat hulle weet hulle maat gelukkig sal maak en om dit te vermy om enige iets te doen wat daardie persoon sal seermaak. Net so, hoe meer ons aan Jehovah dink, hoe groter is die kans dat ons besluite sal neem wat hom gelukkig maak. – Ps. 19:​13, 14.

10. Wat sal ons kan doen wanneer ons oor Jehovah leer?

10 Ons is na Jehovah se beeld gemaak, wat ons die vermoë gee om sy eienskappe te weerspieël (Gen. 1:26). En hoe meer ons oor Jehovah se eienskappe leer, hoe beter sal ons verstaan hoe om hom na te volg. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs veroordeel omdat hulle nie eienskappe wat God gelukkig maak, betoon het nie. Al het hulle baie gefokus op die fyner besonderhede van die Wet, het hulle “die belangriker sake van die Wet geïgnoreer, naamlik geregtigheid, genade en getrouheid” (Matt. 23:23). In teenstelling met daardie godsdiensleiers, laat ons ons bes doen om te verstaan hoe Jehovah se eienskappe in sy wette en beginsels weerspieël word. As ons dit doen, sal dit ons help om daardie einste eienskappe te openbaar. – 1 Joh. 4:​8, 11.

HOE LEER KEN ONS JEHOVAH BETER?

11. Hoe het jy Jehovah eers leer ken?

11 Wie het jou aan Jehovah voorgestel? Dalk is jy deur Christenouers grootgemaak. Hulle het jou waarskynlik van Bybelverslae vertel wat God se eienskappe openbaar en geleer hoe die dinge wat hy gemaak het, sy persoonlikheid weerspieël. Of dalk het jy ’n Bybelstudie van een van Jehovah se Getuies aanvaar. Jou Bybelonderrigter het jou deur middel van ’n studiehulp, soos die Geniet die lewe vir ewig!-boek, gehelp om Bybelverslae te ondersoek en om oor Jehovah se pragtige eienskappe te leer deur die natuur te bestudeer (Neh. 8:8; Hand. 14:17).b Kom ons kyk hoe ons kan aanhou om oor Jehovah te leer.

12-13. Wat kan ons oor Jehovah leer wanneer ons die Bybel lees? Gee ’n voorbeeld. (Jeremia 39:​15-18) (Sien ook prent.)

12 Eerstens, ons kan meer oor Jehovah leer deur sy Woord te lees en te studeer. Soms identifiseer die Bybel God se eienskappe spesifiek (Eks. 34:​6, 7). Maar in die meeste gevalle praat die Bybel oor mense en die besluite wat hulle gemaak het. Wanneer jy sulke verslae lees, dink aan wat dit jou oor Jehovah kan leer.

13 Kyk na ’n voorbeeld. Terwyl jy Jeremia 38:​6-13 lees, leer jy oor die Etiopiër Ebed-Meleg, wat die profeet Jeremia gered het. Jy identifiseer ongetwyfeld vinnig maniere hoe jy Ebed-Meleg se selfopoffering, moed en liefde vir sy mede-aanbidders kan navolg. Sien jy ook watter eienskappe van Jehovah in hierdie verslag geopenbaar word? (Lees Jeremia 39:​15-18.) Byvoorbeeld, watter vers wys dat Jehovah dankbaar is? Regverdig? Onpartydig? Oor watter ander aspekte van Jehovah se persoonlikheid leer jy in hierdie verslag? Wanneer jy ook al ’n gedeelte in God se Woord lees, identifiseer Jehovah se eienskappe wat weerspieël word, en bedank en loof hom dan vir daardie eienskappe.

Ebed-Meleg en ’n verskeie mans trek Jeremia met ’n tou uit ’n reënput. Ander gewapende mans is op die uitkyk.

Ebed-Meleg is moedig en red Jeremia, wat in ’n reënput gegooi is (Sien paragraaf 12-13)


14. Wat kan ons doen om ten volle baat te vind by wat ons in die skepping sien?

14 Tweedens, ons kan meer oor Jehovah leer deur oor sy skepping na te dink (Ps. 145:​9, 10). Dit is natuurlik nie genoeg om net na die natuur te kyk nie. Party gebruik hulle hele lewe om die natuur te bestudeer maar erken nie God se eienskappe of selfs dat hy bestaan nie! Die apostel Paulus het geskryf dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word] omdat dit waargeneem kan word in die dinge wat gemaak is” (Rom. 1:20). Een vertaling van hierdie vers sê dat ons God se eienskappe kan waarneem omdat dit “vir die oë van die verstand sigbaar is”. So ons moet dink en redeneer oor wat ons sien sodat ons oor die eienskappe van ons Skepper kan leer.

15. Wat het Patrick gedoen om Jehovah beter te leer ken, en hoe kan jy iets soortgelyks doen? (Sien ook prent.)

15 Baie van ons bly in stede waar daar nie baie plante en diere is nie. As dit jou situasie is, kan jy nog steeds lesse uit die skepping leer? Kyk na Patrick, wat in Brazzaville, ’n groot stad in die Republiek die Kongo, bly. Hy sê: “Ek probeer om van my balkon af na die skepping te kyk. Ek sien dikwels klein insekte of klein voëls wat besig is om na kos te soek, of na ’n plek om te bly. Ek het eenkeer ’n paar voëls gesien wat besig was om hulle nes te maak. Hulle het materiaal in ons gebied gevind en dit toe gebruik om ’n sagte nes vir hulle kleintjies te maak.” Maar Patrick het nie daar opgehou nie; hy het diep nagedink oor die Skepper. Hy sê: “Ek het geleer dat Jehovah vir sy skepsele omgee, selfs dié wat onbelangrik lyk. Dit verseker my dat hy ook vir my omgee en altyd vir my sal gee wat ek nodig het.”

’n Suster wat by haar huis in ’n groot stad is, maak haar plante op haar balkon nat en bewonder ’n kolibrie wat besig is om te eet.

Leer ken Jehovah beter deur na te dink oor wat jy in die skepping sien (Sien paragraaf 15)


16. Wat het Maria, Jesus se ma, gehelp om Jehovah beter te leer ken, en hoe kan ons haar navolg? (Sien ook prent.)

16 ’n Derde manier hoe ons Jehovah beter kan leer ken, is deur oor ons eie ondervindinge na te dink. Dit is wat Jesus se ma, Maria, gedoen het. Sy het Jehovah alreeds goed geken, en sy het “[sy] goedkeuring” gehad (Luk. 1:30). Maar toe is sy ’n gewigtige toewysing gegee – om die ma van God se Seun te wees. Deur middel van die engel Gabriël en Maria se familielid Elisabet het Jehovah Maria versterk en verseker. Sy het later nagedink oor wat haar ondervinding oor Jehovah geopenbaar het – insluitende sy krag, genade, onpartydigheid en belangstelling in selfs dié met ’n nederige posisie (Luk. 1:​46-55). Net soos Maria God se ondersteuning waardeer het, is ons dankbaar wanneer Jehovah ons “op die regte tyd” help (Heb. 4:16). Wanneer jy hierdie hulp ontvang, vra jouself: ‘Wat het dit my oor Jehovah geleer? Watter eienskappe van Jehovah het hierdie ondervinding geopenbaar?’

Collage: ’n Broer dink na oor ’n tyd toe hy Jehovah se ondersteuning ontvang het. 1. Hy het ernstig oor ’n gemeentelike toewysing gebid. 2. Hy het sy deel suksesvol vanaf die verhoog gedoen.

Leer ken Jehovah beter deur na te dink oor wat hy al vir jou gedoen het (Sien paragraaf 16)c


ONS SAL NOOIT OPHOU LEER NIE

17-18. Hoekom kan ons sê dat ons nooit sal ophou om oor Jehovah te leer nie?

17 Dink aan hoe baie ons nog oor Jehovah in die nuwe wêreld sal leer. Ons sal nuwe boekrolle ontvang wat sy vereistes vir ons openbaar (Op. 20:12). Ons sal alles in die natuur ten volle kan geniet (Jes. 11:​6-9). En ons sal ons Vader beter leer ken terwyl ons nuwe dinge ondervind, insluitende wanneer ons sien hoe hy ons geliefdes opwek en hoe hy ons help om elke dag nader aan volmaaktheid te kom.

18 Ons sal nooit ophou om Jehovah te leer ken nie. Hy lewe alreeds vir ewig, so “sy wysheid kan nie gemeet word nie” (Ps. 90:2; 147:5). Ons sal “nooit die werke van die ware God ten volle verstaan nie” (Pred. 3:11). So ongeag hoe lank ons al in die waarheid is, laat ons elke geleentheid aangryp om meer oor ons liefdevolle Vader te leer.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat beteken dit om Jehovah te leer ken?

  • Hoekom moet ons aanhou om Jehovah te leer ken?

  • Hoe leer ken ons Jehovah beter?

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

a Sien die voorste deel in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel met die titel “’n Inleiding tot God se Woord”, vraag 20.

b Sien les 07 punt 5-7 in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat aan angstigheid ly, dink na oor hoe Jehovah hom gehelp het om sy toewysing by die vergadering in die week uit te voer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel