Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Julie bl. 20-25
  • Help ander om Jehovah te leer ken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help ander om Jehovah te leer ken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HELP DIE STUDENT OM JEHOVAH GOED TE LEER KEN
  • LEER HOM WATTER SOORT PERSOON JEHOVAH IS
  • HELP HOM OM SY KENNIS TE GEBRUIK
  • SEËNINGE VIR DIÉ WAT JEHOVAH GOED LEER KEN
  • Help Bybelstudente om ’n standpunt vir die waarheid in te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Julie bl. 20-25

28 SEPTEMBER–4 OKTOBER 2026

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

Help ander om Jehovah te leer ken

“Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God.” – JOH. 17:3.

FOKUS

Hoe om jou Bybelstudente te help om Jehovah te leer ken, insluitende sy eienskappe en wat hom gelukkig maak en wat hom ongelukkig maak.

1. Hoe voel jy wanneer jy sien hoe ’n Bybelstudent vordering maak?

HOE voel jy wanneer ’n Bybelstudent sy eerste gemeentelike vergadering bywoon, begin antwoord, sy geloof met ander deel en met verloop van tyd besluit om homself aan Jehovah God toe te wy? Jy is ongetwyfeld opgewonde! Jehovah verdien natuurlik die eer vir die geestelike vordering wat ons Bybelstudent maak. Ons loof Jehovah wanneer ons sien hoe hy iemand help om geestelik te groei. – 1 Kor. 3:​5-9; 3 Joh. 3, 4.

2. Wat is Jehovah se wil vir Bybelstudente? (1 Timoteus 2:​3, 4)

2 God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en akkurate kennis van die waarheid moet kry”. (Lees 1 Timoteus 2:​3, 4.) So Jehovah wil hê dat mense hom goed moet leer ken, asook die wonderlike dinge wat hy gedoen het en sal doen (Jer. 9:24). Dit beteken dat mense akkurate kennis moet inneem. Die woord in die oorspronklike taal wat met “akkurate kennis” vertaal word, verwys nie net na ’n versameling feite wat iemand leer nie maar na kennis wat “sy volle uitwerking op die persoon het”, soos een Bybelgeleerde gesê het. Wanneer ’n Bybelstudent Jehovah leer ken, het daardie kennis ’n uitwerking op hoe hy lewe. En dit gee hom die vooruitsig op die “ewige lewe”. – Joh. 17:3.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Jehovah het ons die voorreg gegee om ander te help om hom te leer ken. In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Hoekom moet Bybelstudente Jehovah goed leer ken? Hoe kan ons hulle leer watter soort Persoon Jehovah is? En hoe kan ons hulle help om hulle kennis van Jehovah in hulle lewe te gebruik?

HELP DIE STUDENT OM JEHOVAH GOED TE LEER KEN

4. In ooreenstemming met Markus 12:​30, wat is ons hoofdoelwit wanneer ons ’n Bybelstudie hou?

4 Jesus het gesê dat die grootste gebod is om Jehovah lief te hê met ons hele hart, siel, verstand en krag. (Lees Markus 12:30.) ’n Bybelstudent moet Jehovah leer ken om hom lief te kan hê. Ons wil hê dat ons Bybelstudent homself moet toewy – nie aan ons nie, nie aan ’n stel leringe nie, nie aan ’n organisasie nie – maar aan Jehovah. So, ons hoofdoelwit wanneer ons ’n Bybelstudie hou, is om ons student te help om Jehovah te leer ken en lief te hê.

5. Wat sal liefde vir Jehovah jou Bybelstudent motiveer om te doen?

5 Daar is ’n verband tussen liefde en gehoorsaamheid. Wanneer jou Bybelstudent Jehovah leer ken en liefkry, sal hy beweeg word om hom te gehoorsaam. Jesus het gesê: “Sodat die wêreld kan weet dat ek lief is vir die Vader, doen ek alles wat die Vader my beveel het om te doen” (Joh. 14:31). Net so sal liefde vir Jehovah – meer as enige iets anders – ’n Bybelstudent motiveer om hom te gehoorsaam en lojaal aan hom te bly. – 1 Joh. 5:3.

6. Hoe sal kennis van Jehovah jou Bybelstudent help wanneer hy besluite maak? Illustreer.

6 Bybelstudente wat Jehovah goed leer ken, sal meer geneig wees om wyse besluite te maak. Om te illustreer: ’n Kommersiële vlieënier leer nie om te vlieg deur net vlugregulasies te studeer of ’n eksamen te skryf nie. Hy moet ook ’n vliegtuig baie keer vlieg. Met verloop van tyd leer hy hoe die vliegtuig in verskillende omstandighede reageer en hoe sy besluite die vliegtuig affekteer. Net so sal ’n Bybelstudent Jehovah nie net leer ken deur sy studie nie maar ook deur te sien hoe dinge vir hom uitdraai wanneer hy besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels maak. Soos hy meer kennis van Jehovah opdoen en sien hoe sy hemelse Vader hom help, sal hy toegerus wees om in enige situasie goeie besluite te maak.

7. Hoe het kennis van Jehovah Josef gehelp om ’n goeie besluit te maak?

7 Kennis van Jehovah het Josef gehelp toe Potifar se vrou hom probeer verlei het. Josef het ongetwyfeld van jongs af die verslae oor Adam en Eva en oor Abraham en Sara gehoor (Gen. 2:24; 20:​3, 6). Josef kon uit daardie verslae verstaan hoe Jehovah die huwelik en die geskenk van seks beskou. Josef het Jehovah so goed leer ken dat hy die toenaderings van Potifar se vrou verwerp het en vir haar gesê het: “Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” (Gen. 39:​7-9). Josef het geweet wat in Jehovah se oë goed en sleg is. Hy het verstaan wat sy God sou seermaak. As gevolg daarvan het Josef die regte besluit gemaak. As ons ons Bybelstudente help om Jehovah goed te leer ken en om te leer watter soort Persoon hy is, sal hulle ook besluite maak wat hom gelukkig maak.

LEER HOM WATTER SOORT PERSOON JEHOVAH IS

8. Hoe kan jy die Geniet die lewe vir ewig!-boek gebruik om ’n Bybelstudent te help om Jehovah te leer ken?

8 So hoe kan jy ’n Bybelstudent leer watter soort Persoon Jehovah is? Jehovah het Job gehelp om meer oor Hom te leer deur vrae te vra – meer as 50 vrae! (Job 38:1–41:34). Ons kan ook vrae vra. Die vrae in die Geniet die lewe vir ewig!-boek is ontwerp om ’n student te help om geleidelik meer oor Jehovah se persoonlikheid te leer. (Sien die venster “Vrae wat ons help onderrig”.) So gebruik hierdie vrae om jou student te help om Hom te leer ken.

’n Suster luister terwyl haar Bybelstudent ’n vraag uit les 17 van die “Geniet die lewe vir ewig!”-boek beantwoord.

Vrae wat ons help onderrig

Die Geniet die lewe vir ewig!-boek bevat baie vrae wat studente geleidelik meer oor Jehovah leer. Kyk na ’n paar voorbeelde:

  • “Hoe voel Jehovah oor mense wat ander van die goeie nuus vertel?” (les 21)

  • “Hoe verseker die dinge wat jy oor Jehovah en Jesus geleer het jou dat hulle [by Armageddon] regverdig sal optree?” (les 33)

  • “Hoe voel Jehovah wanneer jy wys optree en hom gehoorsaam? Hoekom?” (les 34)

  • “Hoe dink jy sal Jehovah voel as ons met iemand trou wat nie vir Hom lief is nie?” (les 42)

  • “Hoe groot is Jehovah se vergifnis?” (les 56)

  • “Hoe wys die manier hoe Jehovah sondaars hanteer dat hy redelik, genadig en liefdevol is?” (les 57)

9-10. (a) Wat sal Bybelstudente help om die meeste uit hulle Bybellees te kry? (Jakobus 5:11) (b) Illustreer hoe ’n Bybelverslag kan openbaar wat Jehovah gelukkig maak of ongelukkig maak.

9 Ons moedig ons studente vroeg in ons interaktiewe Bybelstudieprogram aan om ’n roetine van Bybellees te begin.a Hoe kan ons hulle help om die meeste uit hulle persoonlike Bybellees te kry? Ons kan voorstel dat hulle, elke keer dat hulle ’n Bybelgedeelte lees, dink aan hoekom Jehovah dit in sy Woord ingesluit het en watter eienskappe dit oor hom openbaar. Kyk hoe die dissipel Jakobus presies dit gedoen het toe hy na die verhaal van Job verwys het. Jakobus het nie net die aandag gevestig op ’n eienskap van Job nie – sy volharding – maar ook op eienskappe van Jehovah – Sy groot liefde en genade. – Lees Jakobus 5:11.

10 Ons wil hê dat ons studente uit elke Bybelverslag moet leer wat Jehovah gelukkig maak of ongelukkig maak. Byvoorbeeld, dalk gebruik ons student die tabel “Lees die Bybel elke dag” in die Geniet die lewe vir ewig!-boek en sê hy vir ons dat hy besluit het om die verhaal van Daniël in die leeukuil te lees. Ons kan hom aanmoedig om na te dink oor vrae soos: ‘Hoekom het Jehovah Daniël gered? Wat sê dit vir my oor wat Jehovah gelukkig maak?’ (Dan. 6:​10, 22). Hy kan ook homself vra: ‘Wat het met die mans gebeur wat Daniël beskuldig het? Wat sê dit vir my oor wat Jehovah ongelukkig maak?’ (Dan. 6:​4, 5, 24). Laastens kan hy dink aan ander eienskappe van Jehovah wat in die verslag gesien kan word. – Dan. 6:​26, 27.

11. Hoe kan ons ons student help om sy Bybelstudie as ’n geskenk van Jehovah te sien?

11 Ons is bly wanneer ons student die voordele wat hy uit sy Bybelstudie ontvang, waardeer. Maar ons moet hom help om te sien dat Jehovah, die Groot Onderrigter, die Bron van hierdie voordele is (Jes. 30:​20, 21). Ons student sal ons dalk bedank vir wat hy besig is om te leer en ons dalk selfs prys vir die manier hoe ons onderrig. Al is hierdie opregte woorde van waardering nie verkeerd nie, moet ons probeer om sulke lof en waardering aan Jehovah te rig.

HELP HOM OM SY KENNIS TE GEBRUIK

12-13. Wanneer ’n student sukkel om ’n Bybelverslag te verstaan, hoe kan dit hom help as hy Jehovah leer ken? (Sien ook prent.)

12 Om ten volle by akkurate kennis baat te vind, moet ons dit wat ons weet, gebruik. So hoe kan jy jou student help om dit te doen? Eerstens, leer hom om te dink aan wat hy omtrent Jehovah weet wanneer hy sukkel om ’n Bybelverslag te verstaan. Terwyl hy byvoorbeeld oor God se oordele lees, wonder hy dalk hoekom Jehovah party mense doodgemaak het maar ander gespaar het. Hoe kan jy jou student help om oor die saak te redeneer?

13 Jy kan jou student aanmoedig om na te dink oor wat hy omtrent Jehovah geleer het. Hoe kosbaar is lewe vir Jehovah? (2 Pet. 3:9). Hoe ver het hy gegaan om ons te red – al is ons sondaars? (Ef. 2:​4, 5). Straf Jehovah mense wat dit nie verdien nie? Aan die ander kant, laat hy toe dat enige iemand wat straf verdien, dit vryspring? (Eks. 34:​6, 7). Soms gee ’n Bybelverslag nie die besonderhede wat ons sal help om Jehovah se besluit beter te verstaan nie. Maar ons het nie daardie besonderhede nodig nie. Ons ken ons God, en ons is oortuig dat ons God altyd doen wat reg is.

Collage: Dieselfde suster hersien met die Bybelstudent wat sy geleer het. 1. Jehovah sit op sy hemelse troon. 2. Adam en Eva oorweeg dit om ’n verbode vrug te eet. 3. ’n Hakskeen vergruis die kop van ’n slang. 4. Noag se ark dryf op die water gedurende die Vloed. 5. Moses verdeel die Rooisee. 6. Ragab se huis bly staan terwyl die mure van Jerigo inmekaarval. 7. Ebed-Meleg haal Jeremia uit ’n waterput. 8. Jesus hang aan ’n paal.

Leer jou student om te dink aan wat hy oor Jehovah weet wanneer hy sukkel om ’n Bybelverslag te verstaan (Sien paragraaf 12-13)


14. Hoe kan jy ’n student help as hy sukkel om met iemand in die gemeente oor die weg te kom?

14 Kyk na ’n tweede manier hoe ’n Bybelstudent sy kennis van Jehovah kan gebruik. Sê nou jou student woon nou vergaderinge by, maar hy sukkel om met iemand in die gemeente oor die weg te kom. Dalk het daardie verkondiger hom aanstoot gegee. Moedig jou student aan om te dink aan hoe Jehovah ons broers en susters beskou. Watter opoffering het Jehovah gemaak om sy liefde aan hulle te betoon? (Joh. 3:16). Hoe belangrik is ons Christelike eenheid vir hom? (Ps. 133:1). Hoe voel hy wanneer ons probeer om daardie eenheid te beskerm? (2 Kor. 13:11). Help jou student om te sien hoe gelukkig dit Jehovah sal maak wanneer ons op die positiewe eienskappe van ander fokus, eerder as op hulle foute.

15-16. (a) Wanneer ’n Bybelstudent ’n belangrike besluit moet maak, hoe kan hy Jesus navolg? (Johannes 8:29) (b) Hoe het Marianne haar student gehelp om ’n goeie besluit te maak? (Sien ook prent.)

15 Laastens, jy kan jou Bybelstudent help om sy kennis van Jehovah te gebruik om goeie besluite te maak. Jy kan eers sy aandag vestig op les 35 van die Geniet die lewe vir ewig!-boek, met die titel “Hoe om goeie besluite te maak”. Maar wat as jou student gebid en navorsing gedoen het, maar nog steeds sukkel om ’n besluit te maak? Hy voel dalk oorweldig deur die aantal Bybelbeginsels wat op die onderwerp van toepassing is. Jy kan voorstel dat hy nadink oor Jesus se voorbeeld. Hoe het Jesus besluite gemaak? Hy het gesê: “Ek doen altyd die dinge wat [my Vader se] hart bly maak.” (Lees Johannes 8:29.) Moedig die student aan om homself te vra: ‘Gebaseer op die navorsing wat ek gedoen het en op wat ek oor Jehovah geleer het, watter keuse sal hom gelukkig maak?’ Enige besluit wat Jehovah gelukkig maak, is ’n goeie besluit.

16 ’n Vrou in Chili wat besig was om die Bybel te studeer, moes ’n belangrike besluit maak. Haar familie het druk op haar geplaas om ’n goed betaalde werk te aanvaar wat met haar vergaderingbywoning sou inmeng. Haar Bybelonderrigter, Marianne, sê: “Ek het haar aangespoor om na te dink oor hoe haar besluit Jehovah sou laat voel. Sou hy gelukkig of hartseer wees? Ek het haar ook aangemoedig om spesifiek oor die situasie tot Jehovah te bid en om te sien hoe hy sou antwoord. Sy het die werksaanbod geweier en kort daarna ’n werk gevind wat dit vir haar moontlik gemaak het om vergaderinge by te woon.” Let op dat Marianne nie vir die student gesê het wat om te doen nie, maar haar eerder gehelp het om na te dink oor wat sy alreeds oor Jehovah weet. As gevolg daarvan het hierdie ondervinding die student se verhouding nie net met Marianne versterk nie, maar ook met Jehovah. Marianne sê oor haar student: “Sy het geleer dat Jehovah vir ons sorg as ons sy aanbidding eerste stel.”

’n Bybelstudent sê respekvol nee vir ’n werksaanbod van ’n bestuurder terwyl hy ’n kontrak en ’n pen vashou.

Help jou Bybelstudent om te leer om besluite te maak wat Jehovah gelukkig maak (Sien paragraaf 15-16)b


SEËNINGE VIR DIÉ WAT JEHOVAH GOED LEER KEN

17. Behalwe om die feite te leer, wat anders wil ons hê moet Bybelstudente doen?

17 Ons interaktiewe Bybelstudieprogram dek baie belangrike leringe. Studente studeer basiese Bybelleerstellings – insluitende die toestand van die dooies, die losprys en die Koninkryk. Hulle leer ook oor organisatoriese aspekte – soos die vergaderinge, die ouermanreëling en die rol van die Bestuursliggaam. Maar ons wil hê dat ons studente meer moet doen as om net feite te leer. Ons wil hê dat hulle Jehovah goed moet leer ken.

18. Watter seëninge wag op dié wat Jehovah leer ken?

18 Wat ’n voorreg is dit vir ons om ander te leer om Jehovah te leer ken! Selfs nou word dié wat Jehovah leer ken en aanbid, geseën met die gelukkigste lewe wat vandag moontlik is (Ps. 25:​12-15). In die toekoms sal almal wat “kennis van die ware God”, Jehovah, verkry, die ewige lewe geniet (1 Joh. 5:20). Maar dit is nie al nie. Die Bybel sê vir ons dat dié wat probeer om Jehovah te leer ken en lief te hê, “deur Hom geken” word (1 Kor. 8:3). Ja, God die Almagtige sien ons raak en beskou ons as sy vriende. Wat ’n wonderlike beloning vir dié wat die enigste ware God leer ken!

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom moet ’n Bybelstudent Jehovah goed leer ken?

  • Hoe kan ons ’n Bybelstudent leer watter soort Persoon Jehovah is?

  • Hoe kan ons ’n Bybelstudent help om sy kennis van Jehovah te gebruik?

LIED 84 Ons doen ons bes

a Die doelwit in les 05 van die Geniet die lewe vir ewig!-boek sê: “Lees die Bybel gereeld deur die tabel ‘Lees die Bybel elke dag’ te gebruik.”

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dramatisering van Marianne se Bybelstudent wat ’n werksaanbod weier.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel