29 JUNIE–5 JULIE 2026
LIED 131 ‘Wat God saamgevoeg het’
Hou aan om jou vriendskap met jou huweliksmaat te versterk
“Daar is ’n vriend wat lojaler is as ’n broer.” – SPR. 18:24.
FOKUS
’n Gelukkige huwelik word gebou op ’n sterk vriendskap tussen ’n man en vrou en op hulle gemeenskaplike liefde vir Jehovah.
1. Hoekom is goeie vriende ’n geskenk van Jehovah?
GOEIE vriende is ’n geskenk van Jehovah (Jak. 1:17). Hulle is lief vir God, en hulle is lief vir ons. Hulle is saam met ons bly wanneer ons bly is, vertroos ons wanneer ons af voel en gee ons eerlike raad wanneer ons dit nodig het. Hulle is lojaal, en ons kan hulle vertrou. Ja, sulke vriende “maak die hart bly”! – Spr. 27:9.
2. Hoekom is dit belangrik dat ’n getroude paartjie moet aanhou om hulle vriendskap te versterk? (Matteus 19:6)
2 Dit is belangrik dat ’n man en sy vrou beste vriende moet wees. Hulle kan nie hulle vriendskap as vanselfsprekend aanvaar nie – hulle moet daaraan bly werk om dit te versterk. As hulle hulle vriendskap afskeep, kan hulle eensaam, gefrustreerd, selfs kwaad, begin voel. Maar as hulle aanhou om hulle vriendskap te versterk, kan hulle die sterkste band geniet wat twee mense ooit kan hê. (Lees Matteus 19:6.) In hierdie artikel sal ons sien hoe getroude paartjies kan aanhou om hulle vriendskap te versterk. Maar kom ons bespreek eers hoe ongetroude Christene ’n maat kan kies wat lewenslank hulle beste vriend sal wees.
HOE OM ’N LEWENSLANGE VRIEND TE KIES
3-4. Wat sal iemand help om ’n goeie huweliksmaat te vind? (Spreuke 18:22)
3 Voordat ons ’n groot besluit maak, moet ons nadink oor die moontlike risiko’s, voordele en gevolge. Groot besluite kan vir baie lank ’n uitwerking op ons lewe hê, en daarom is dit belangrik om mooi daaroor na te dink.
4 Wanneer ons ’n lewenslange vriend – ’n huweliksmaat – kies, maak ons een van die belangrikste besluite wat ons ooit sal maak. Aangesien Jehovah die huweliksreëling ingestel het, maak dit sin dat ons op hom vertrou vir leiding wanneer ons ’n maat kies. Hy wil hê dat ’n man ’n goeie vrou moet vind, en Hy wil hê dat ’n vrou ’n goeie man moet vind. Jehovah weet altyd wat die beste vir ons is. (Lees Spreuke 18:22; Jes. 48:17, 18.) Die beginsels in God se Woord kan ’n Christen help om iemand te vind wat reg is vir hom of vir haar.
5. Hoekom is dit belangrik om ’n gedoopte persoon as ’n maat te kies?
5 Wanneer ons gedoop word, word ons vriende van God (Ps. 25:14). As jy graag wil trou, moet jy jou potensiële maat kies onder Jehovah se vriende (1 Kor. 7:39). As jy dit doen, wys jy dat jy Jehovah se standaarde waardeer en sal jy besef dat jou maat ’n seën van Jehovah is (Spr. 19:14). Jy sal ook die probleme vermy wat ’n mens ondervind as jy onder ’n “ongelyke juk” met ’n ongelowige is (2 Kor. 6:14). Dit sou nie wys wees om met ’n ongelowige uit te gaan omdat jy miskien dink dat gepaste opsies onder mede-Christene beperk is nie. En jy wil ook nie redeneer dat as jy met ’n ongelowige uitgaan, hy dalk die waarheid sal aanvaar nie.
6-7. Watter soort vrae moet jy beantwoord wanneer jy met iemand uitgaan?
6 Maar nie net enige gedoopte persoon is natuurlik ’n gepaste maat nie. Kyk eerlik na jou potensiële maat.a Vra jouself: ‘Hoe behandel hy sy familie? Is hy bedagsaam en respekvol? Wie is sy vriende? Hoe hanteer hy dit wanneer ander ’n ander opinie as hy het? Dring hy daarop aan om dinge op sy manier te doen, of is hy bereid om toe te gee wanneer daar nie ’n Bybelbeginsel betrokke is nie? Wat is sy gesindheid teenoor geld?’
7 Jy kan jouself ook vra: ‘Wys my vriend dat hy baie lief is vir Jehovah? Trek hy “die nuwe persoonlikheid” aan? Sal hy my help om ’n beter kneg van Jehovah te word? Het ons dieselfde geestelike doelwitte? Kan ek sien dat ons nie net goeie vriende nie, maar beste vriende word?’ (Kol. 3:9, 10). As jy ’n suster is, sal die broer met wie jy uitgaan, ’n goeie vriend en ’n goeie gesinshoof wees? (1 Kor. 11:3). As jy ’n broer is, sal die suster met wie jy uitgaan, bereid wees om jou gesag as ’n hoof te aanvaar ten spyte van jou onvolmaakthede? Dit neem tyd om sulke vrae te beantwoord. So, gebruik die tyd dat julle uitgaan om jou potensiële maat goed te leer ken.
8-9. Wat kan iemand wat in ’n verhouding is, help om ’n wyse besluit te maak? (Sien ook prent.)
8 Wanneer jy met iemand uitgaan, is jy meer geneig om ’n wyse besluit te maak as jy probeer uitvind watter soort persoon die persoon regtig is. Vind uit hoe ander jou vriend beskou. Jy kan ander vra oor die persoon se reputasie en eienskappe. Byvoorbeeld, is hy of sy daarvoor bekend dat hulle nederig, vriendelik en redelik is? Sarah, ’n suster in Frans-Guiana wat met ’n broer met die naam Daniel getrou het, sê: “Ek het die broer wat Daniel se woonstelmaat en pioniermaat was, oor Daniel uitgevra, en ’n ouerman in sy gemeente, gemeenskaplike vriende sowel as susters in sy gemeente.” Jy kan op ’n mooi manier vir die persoon met wie jy uitgaan, vra of daar enige iets uit sy of haar verlede of hede is wat jy moet weet, aangesien party faktore of gewoontes dalk later ernstige huweliksprobleme kan veroorsaak.
9 Moenie enige ernstige twyfelgedagtes wat jy dalk het, of eerlike opmerkings van volwasse vriende ignoreer nie. Sodoende sal jy kan besluit of dit wys is om met die verhouding voort te gaan of nie.b Kom ons fokus nou vir die res van die artikel ons aandag op paartjies wat reeds getroud is.
Wanneer jy met iemand uitgaan, probeer uitvind watter soort persoon die ander persoon regtig is (Sien paragraaf 8-9)
SPANDEER TYD SAAM OM JULLE VRIENDSKAP TE VERSTERK
10. Hoekom is dit goed vir ’n man en vrou om hulle tyd en aandag aan mekaar te gee?
10 ’n Man en vrou kan hulle vriendskap en huwelik sterk hou deur tyd te maak vir mekaar, maak nie saak hoe besig hulle is nie. Dit gee hulle ’n geleentheid om oor alledaagse dinge te gesels, hulle diepste gedagtes en gevoelens te deel, liefde aan mekaar te betoon en om net die lewe saam te geniet.
11. Wat kan die vriendskap tussen ’n man en vrou bedreig?
11 ’n Man en vrou wat goeie vriende is, verkies om saam te wees eerder as weg van mekaar. Natuurlik sal hulle dalk soms tydelik weg van mekaar moet wees. Maar om vir lang tye weg van mekaar te wees, kan gevaarlik wees. Party het byvoorbeeld ’n werk in ’n ander land aanvaar, wat beteken dat hulle vir ’n lang tydperk weg van hulle familie is. Al hou so ’n reëling dalk finansiële voordele in, kan dit gevaarlik wees vir ’n huwelik om vir ’n lang tyd weg van mekaar af te wees.
12-13. (a) Wat het party getroude Christene al gedoen om tyd saam met hulle maat te spandeer? (Sien ook prent.) (b) Waar pas ons verhouding met ons maat in? (Sien die venster “Jou maat se plek in jou lewe”.)
12 Let op wat party getroude paartjies al gedoen het om seker te maak dat hulle gereeld tyd saam spandeer. Leah, in Guam, sê: “Ek en my man geniet dit om ’n verskeidenheid dinge saam te doen. Ons gaan amper nooit sonder mekaar na sosiale geleenthede of op uitstappies nie.” Roxanne, in die Verenigde State, voeg by: “Omdat ons al hoe besiger geword het, het ons besef hoe belangrik dit is om tyd vir mekaar opsy te sit, net soos ons vir ander belangrike dinge doen.” (Vergelyk Amos 3:3.) Damien, in Frankryk, maak hierdie punt: “Ons het geleer om belangstelling te toon in en om selfs lief te wees vir die dinge wat die ander persoon baie geniet” (Matt. 7:12). En Katie, ook in die Verenigde State, sê: “Soms sit ons ons selfone weg sodat dit nie ons aandag aflei nie.”
13 Die belangrikste van alles is, spandeer tyd saam in geestelike aktiwiteite. Myriam, in Frankryk, sê: “Ons begin ons dag deur die Bybel te lees en dan vertel ons vir mekaar wat ons geniet het en wat ons in ons lewe kan toepas. Hierdie oomblikke is vir my baie kosbaar.” Sy voeg by: “Ek geniet dit ook wanneer ons saam bid en om te hoor hoe lief my man vir Jehovah is.” Katie, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ons gunstelingtyd saam is in die bediening. Ons geniet dit om te hoor hoe die ander een oor sy geloof praat en ons leer die heeltyd nuwe dinge by mekaar.” – Spr. 27:17.
Versterk julle huwelik deur gereeld tyd saam te spandeer as vriende (Sien paragraaf 12-13)
WERK SAAM WANNEER UITDAGINGS ONTSTAAN
14-15. Hoekom moet ’n paartjie hulle bes doen om uitdagings wat dalk in hulle huwelik ontstaan, te oorkom? Illustreer.
14 As onvolmaakte mense sal getroude paartjies uitdagings in hulle huwelik ondervind. Die Bybel is realisties en sê dat getroude mense “probleme [sal] ondervind” (1 Kor. 7:28). ’n Studienota op hierdie vers sê dat hierdie uitdrukking “na probleme verwys wat algemeen is vir ’n getroude paartjie”. Hoekom moet hulle hulle bes doen om saam te werk en die uitdaging te oorkom wanneer sulke probleme ontstaan?
15 Dink aan ’n illustrasie. As ’n beroemde gebou of kunswerk beskadig is, sal die eienaars heel moontlik besluit om dit te herstel. Hulle sal dalk baie geld en ander hulpbronne beskikbaar stel om die herstelwerk te doen, wat dalk jare sal neem om klaar te maak. Hoekom? Omdat die gebou of kunswerk vir hulle kosbaar is. Net so is alle huwelike kosbaar. Selfs in die beste huwelike sal daar konflik wees. Maar net soos ’n beskadigde gebou of ’n kunswerk dikwels herstel kan word, kan ’n huwelik met probleme gered word. Die herstelproses sal heel moontlik tyd neem en harde werk behels, maar Jehovah sal bly wees as die paartjie hard werk om hulle huwelik te versterk en bymekaar te bly (Mal. 2:16). Deur dit te doen, wys hulle nie net liefde en respek vir mekaar nie, maar ook vir Jehovah, die Insteller van die huwelik.
16. Volgens 1 Korintiërs 13:4-8a, wat kan ’n paartjie help wat ’n ernstige uitdaging in hulle huwelik ondervind? (Sien ook prent en die venster “Hulp om julle vriendskap te versterk”.)
16 As probleme in julle huwelik ontstaan, moenie vinnig wees om uitmekaar te gaan nie (1 Kor. 7:10, 11). Vra jouself eerder: ‘Kan ek meer doen om ons vriendskap te versterk?’ Hersien wat die Bybel sê oor wat dit beteken om liefde te betoon, en vra jouself of jy daarin kan verbeter om party van die kenmerke wat in 1 Korintiërs 13:4-8a genoem word, te openbaar. (Lees.) Eerder as om na ’n manier te soek om uit julle verhouding te kom, doen jou bes om na ’n manier te soek om weer in mekaar se harte te kruip. Fokus op wat jy kan doen om die verhouding te herstel. Vra Jehovah in gebed om jou te lei. Kry die nodige hulp uit ons publikasies en video’s sowel as by ouermanne en ander volwasse Christene. Deur staat te maak op Jehovah, die derde en sterkste deel van die “driedubbele tou”, sal jou huwelik “nie maklik gebreek word nie”. – Pred. 4:12.
Werk saam wanneer uitdagings in julle huwelik ontstaan (Sien paragraaf 16)
17. Hoe kan dié wat daaraan dink om te trou, en dié wat getroud is, geluk vind?
17 Jehovah wil hê dat al sy knegte gelukkig moet wees, insluitende dié wat daaraan dink om te trou, en dié wat reeds getroud is. So as jy ongetroud is en graag wil trou, kies jou lewenslange vriend versigtig. En as jy getroud is, hou aan om jou vriendskap met jou maat te versterk. Werk hard om uitdagings wat dalk in jou huwelik ontstaan, te oorkom, en vertrou op Jehovah se hulp. As jy hierdie dinge doen, sal jy “die lewe [geniet]” met jou geliefde maat! – Pred. 9:9.
LIED 132 Nou is ons een
a Die vrae wat volg, is op mans sowel as op vrouens van toepassing.
b Vir nog wenke oor hoe om mekaar beter te leer ken, sien die artikel “Hoe om ’n sukses te maak van ’n romantiese verhouding” in Die Wagtoring van Mei 2024, onder die onderhofie “Leer mekaar goed ken”.