Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 April bl. 20-25
  • Leer by “die God van alle vertroosting”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer by “die God van alle vertroosting”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VERTROOSTING SOOS DIT IN DIE BYBEL BESKRYF WORD
  • HOE OM ANDER TE VERTROOS
  • WANNEER JY VERTROOSTING NODIG HET
  • ’n Reëling om dié by Bethel te vertroos
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Ons is nooit alleen nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • ‘Vertroos al die treurendes’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Vertroosting vir dié wat mishandel is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 April bl. 20-25

22-28 JUNIE 2026

LIED 90 Bemoedig mekaar

Leer by “die God van alle vertroosting”

“Vertroos [ander] met die vertroosting wat ons van God ontvang.” – 2 KOR. 1:4.

FOKUS

Hoe om ander te vertroos deur die voorbeelde van Jehovah en van dié wat Hom navolg, te volg.

1. Hoekom moet ons ander vertroos?

SOMS het ons vertroosting en aanmoediging nodig omdat ons almal “allerhande moeilike tye deurmaak” (1 Pet. 1:6). Net soos ons dit waardeer wanneer ander ons vertroos, moet ons gou wees om dié wat moeilike tye deurmaak, te vertroos (Matt. 7:12). Jehovah, “die God van alle vertroosting,” wys vir ons hoe om “ander in alle soorte moeilike tye [te] vertroos”. Ons kan sy voorbeeld volg deur “mekaar . . . te vertroos” (2 Kor. 1:​3, 4; 1 Tess. 4:18). Ons doen dit, nie omdat ons moet nie, maar omdat ons ons broers en susters liefhet. In hierdie artikel sal ons kyk na (1) die betekenis van vertroosting soos dit in die Bybel beskryf word, (2) hoe ons ander kan vertroos en (3) wat ons kan doen wanneer ons vertroosting nodig het.

VERTROOSTING SOOS DIT IN DIE BYBEL BESKRYF WORD

2. In die Bybel, watter verskeidenheid betekenisse kan die woord wat met “vertroosting” vertaal word, hê?

2 In die Bybel kan die Griekse woord wat met “vertroosting” vertaal word, ’n groot verskeidenheid betekenisse hê, afhangende van die konteks. Dit kan “aanmoedig” of “aanspoor” beteken. (Rom. 12:8; sien studienota “encourages” in nwtsty.) Die Griekse woord vir “vertroosting” beteken letterlik “om na jou toe te roep”. So ons kan ons voorstel hoe ’n vriend vinnig kom om sy vriend wat ly, te help en hom van enige hulp of ondersteuning wat hy nodig het, te voorsien. Ongeag watter soort hulp daardie vriend gee, ware vertroosting het dieselfde uitwerking – die een wat ly, word opgebou en versterk.

3. Hoe het Barnabas ’n voorbeeld gestel wanneer dit by vertroosting kom? (Sien ook prent.)

3 Kyk na ’n voorbeeld uit die Bybel. ’n Christen met die naam Josef se vermoë om ander aan te moedig en te vertroos, was so merkwaardig dat die apostels hom Barnabas genoem het, wat “seun van vertroosting” beteken (Hand. 4:36). Daardie naam het hom so goed beskryf dat die Bybel nooit weer na hom as Josef verwys nie. Barnabas het op verskeie geleenthede gewys dat hy volgens die betekenis van sy naam lewe deur sy medegelowiges te help wanneer hulle dit nodig gehad het. Toe die pas bekeerde dissipel Saulus byvoorbeeld in Jerusalem aankom, wou hy die dissipels ontmoet. Maar hulle was bang vir hom as gevolg van sy reputasie as ’n vervolger. Maar Barnabas het Saulus vertrou en hom aan die apostels voorgestel. – Hand. 9:​26-28.

Barnabas bring Saulus liefdevol om party van die apostels by een van hulle huise te ontmoet. Die apostels kyk skepties na Saulus terwyl hy hulle nader.

Barnabas het gewys dat hy volgens die betekenis van sy naam lewe (Sien paragraaf 3)


HOE OM ANDER TE VERTROOS

4. Wat is een van die beste maniere om ander te vertroos? (Romeine 1:​11, 12)

4 Besoek hulle indien moontlik. Jehovah gebruik sy knegte om ander te vertroos. Byvoorbeeld, toe die profeet Elia depressief was, het Jehovah ’n engel gebruik om hom aan te moedig (1 Kon. 19:​4-7). Die apostel Paulus het ook besef wat ’n groot uitwerking dit kan hê om sy broers in persoon te besoek om hulle aan te moedig. (Lees Romeine 1:​11, 12.) Wanneer jy iemand besoek, bly lank genoeg sodat jy hulle kan vertroos (1 Kor. 16:7). Maar as jy iemand wat hulp nodig het, nie kan besoek nie, moet jy nie die krag onderskat wat ’n oproep, ’n brief, ’n kaartjie of ’n teksboodskap het om hom te versterk nie. Sal jy Jehovah toelaat om jou te gebruik om ander te vertroos?

5. Watter uitdagings kan ons verwag om te ondervind?

5 Soos die laaste dae al hoe erger word, kan ons verwag om meer uitdagings te ondervind wanneer ons ons broers en susters in persoon probeer vertroos. Toe Paulus in Rome in die tronk was, het Onesiforus, wat van Efese was, na hom gesoek, al was daar ’n kans dat hy in die tronk gegooi of selfs doodgemaak kon word (2 Tim. 1:​16-18). Getuies in Rusland het al ’n soortgelyke gesindheid geopenbaar wanneer hulle broers en susters as gevolg van hulle geloof vervolg word. Wanneer Getuies verhoor word, is hulle broers en susters daar in die hof om hulle ondersteuning te wys, al kan dit hulle eie vryheid in gevaar stel. Hoekom berei jy nie jouself voor om hulle dapper voorbeeld te volg deur navorsing te doen oor hoe God se volk mekaar in eertydse en in moderne tye ondersteun het en hoe hulle ten spyte van vervolging vreugde gevind het nie?

6. Hoe kan ons Jehovah navolg terwyl ons ander vertroos? (Sien ook prent.)

6 Luister na hulle. Toe die profeet Elia gevoel het dat sy lewe in gevaar is, het hy sy hart voor Jehovah uitgestort. Ons liefdevolle God het na Elia geluister terwyl hy oor sy bekommernisse praat, al het Hy reeds geweet wat hom pla. Jehovah het selfs geduldig geluister terwyl Elia homself herhaal! (1 Kon. 19:​9, 10, 14). Jehovah het die profeet Habakuk ook toegelaat om oor sy bekommernisse en twyfelgedagtes te praat op ’n manier wat kon gelyk het asof hy God se gesag bevraagteken (Hab. 1:​2, 3). Vandag luister Jehovah aandagtig na ons gebede, al weet hy reeds wat ons nodig het. Ons kan Jehovah navolg deur mooi en respekvol te luister wanneer ons broers en susters praat. “Wees [gou] om te hoor” terwyl hulle praat, en vermy dit om hulle in die rede te val of om aanstoot te neem, al lyk dit asof hulle praat sonder om te dink of asof hulle hulleself herhaal. – Jak. 1:19; Pred. 7:9.

’n Suster luister geduldig na ’n ontstelde suster terwyl sy tot laat die aand oor haar gevoelens praat.

Volg Jehovah na deur mooi te luister wanneer jou broers en susters praat (Sien paragraaf 6)


7. Hoe kan ons uitvind wat iemand nodig het?

7 Vind uit wat ’n persoon nodig het. Ons kan nie harte lees soos Jehovah nie, so ons kan net verstaan watter vertroosting ’n persoon nodig het as ons aandagtig na hom luister. Moenie aanneem dat jy weet wat die persoon nodig het omdat jy weet wat jy nodig sou hê as jy in ’n soortgelyke situasie was nie. Ons almal is anders. So neem jou tyd, luister mooi, en vra taktvolle vrae wat jou sal help om uit te vind hoe hy voel. – Spr. 20:5.

8. Hoe het Jesus Marta en Maria vertroos nadat Lasarus gesterf het? (Sien ook prente.)

8 Dink aan hoe Jesus Marta en Maria vertroos het nadat hulle broer, Lasarus, gesterf het. Albei vrouens het dieselfde verlies gely; maar Jesus het hulle op verskillende maniere vertroos. Nadat Marta met hom gepraat het, het Jesus waarhede oor die opstanding gedeel en haar gehelp om haar geloof in daardie liefdevolle voorsiening te versterk. Maar toe Maria gehuil en na hom toe gekom het, het Jesus blykbaar nie die opstanding genoem nie. Hy het eerder saam met Maria gehuil en gevra waar Lasarus neergelê is (Joh. 11:​20-35). Die les? Wanneer ons dié wat ly, vertroos, moet ons probeer uitvind wat hulle nodig het eerder as om almal op dieselfde manier te probeer vertroos.

Collage: ’n Ouerman besoek twee wewenaars by hulle huise. 1. Die ouerman sit sy hand op die broer se skouer terwyl hy huil. 2. Die ouerman deel ’n teks met ’n ouer broer terwyl hulle saam deur fotoalbums kyk.

Wanneer jy ander vertroos, probeer uitvind wat hulle nodig het (Sien paragraaf 8)a


9. Hoe kan ons die Bybel gebruik om ander te vertroos? (Romeine 15:​4, 5)

9 Gebruik die Bybel. Wanneer jy “die vertroosting uit die Skrif” met iemand deel, kan jy daardie persoon help om hoop te verkry. (Lees Romeine 15:​4, 5.) Daardie hoop voorsien dan weer verdere vertroosting en aanmoediging (Jes. 40:31). Hoe kan jy Bybeltekste vind om iemand aan te moedig? Party hou ’n lys tekste wat hulle kan gebruik om ander te vertroos, soos dié onder die onderwerp “Vertroosting” in Bybeltekste vir ons Christelike lewenswyse. Vra Jehovah om jou te help om sy Woord op die beste moontlike manier te gebruik om ander aan te moedig. Sy gees kan jou help om gepaste tekste te onthou wanneer jy dit nodig het. – Joh. 14:26.

10. Hoekom moet ons op ’n liefdevolle manier praat wanneer ons iemand probeer aanmoedig?

10 Praat op ’n liefdevolle manier. Die woord in die oorspronklike taal wat vir “vertroosting” gebruik word, kan ook as “aanspoor” vertaal word. Soms moet jy dalk die persoon wat jy vertroos, aanspoor om sy denke te verander. As jy dit moet doen, dink mooi voordat jy praat sodat jou woorde genees eerder as seermaak (Spr. 12:18). Jehovah het die perfekte voorbeeld gestel toe hy met Elia gepraat het, wat gedink het dat hy die enigste een is wat Jehovah nog dien en dat hy as God se profeet misluk het. Jehovah het Elia liefdevol gehelp om sy denke reg te stel sonder om sy foute direk uit te wys (1 Kon. 19:​15-18). Jy kan dieselfde doen as jy liefdevol is en mooi dink oor wat jy gaan sê. Wanneer jy toesprake of antwoorde by Christelike vergaderinge gee, moet jy altyd op ’n liefdevolle en positiewe manier praat terwyl jy probeer om jou broers en susters aan te moedig en te versterk.

11. Wat het dié wat moeilike tye deurmaak, dikwels nodig? (1 Johannes 3:18)

11 Voorsien praktiese hulp. Dié wat moeilike tye deurmaak, het dikwels meer as net vertroostende woorde nodig. (Lees 1 Johannes 3:18.) Barnabas het ’n goeie voorbeeld gestel toe hy ’n stuk eiendom verkoop het en die geld geskenk het om sy pas gedoopte broers en susters wat hulp nodig gehad het, te ondersteun (Hand. 4:​36, 37). Vandag volg baie van ons mede-Christene sy goeie voorbeeld deur praktiese hulp te voorsien aan dié wat dit nodig het. Gabriela, van Pole, was verpletterd toe ’n oorstroming haar huis erg beskadig het. Sy sê: “My ouers het by my gebly, en ons was almal baie bang en bekommerd. Ek het nie geweet hoe ons ons huis sou herstel nie. Maar broers van nabygeleë gemeentes het gekom en baie werk in net een dag gedoen. Daardie ondervinding het my geloof versterk dat Jehovah sy volk rig om dié wat ly, te vertroos.”

12. Hoe kan jy jou mede-Christene help wanneer jy moeilike tye getrou verduur?

12 Verduur jou moeilike tye. Paulus het vir die Tessalonisense gesê dat hy vertroos is en nuwe krag gekry het toe hy hoor dat hulle getrou volhard. Hy het geweet dat sy werk onder hulle nie verniet was nie (1 Tess. 3:​5-8). Paulus het op sy beurt gehoop om sy broers – selfs dié wat hom nie ontmoet het nie – te vertroos deur middel van al die dinge wat hy gedoen het om hulle te help (Kol. 2:​1, 2). Net so, wanneer ons mede-Christene sien hoe Jehovah ons help om ons moeilike tye suksesvol te verduur, moedig dit hulle grootliks aan.

13. Wat moet ons aanhou doen terwyl ons ander aanmoedig?

13 Wees geduldig. Broers en susters wat mismoedig is, sal dalk nie onmiddellik reageer op ons pogings om hulle te vertroos nie. Maar die Bybel sê vir ons om “aan [te hou] om mekaar aan te moedig” (1 Tess. 5:11). Wees geduldig terwyl jy aanhou om dié wat jou ondersteuning nodig het, te vertroos (1 Tess. 5:14). Elkeen van ons sal natuurlik soms vertroosting nodig hê. Wat kan ons dan doen?

WANNEER JY VERTROOSTING NODIG HET

14-15. Wat moet ons doen wanneer ons angstig is of moeilike tye deurmaak?

14 Bid tot Jehovah. Vra hom om jou te vertroos wanneer jy angstig is of moeilike tye deurmaak (Ps. 94:19). Wees spesifiek in jou gebede, en stort jou hart voor hom uit (Ps. 62:8). Dit is so dat Jehovah reeds weet hoe jy voel selfs voordat jy bid. Maar wanneer jy jou diepste gedagtes in opregte gebed met hom deel, wys dit dat jy geloof het. En Jehovah sal altyd iets doen om ’n persoon te help wat geloof in hom het en tot hom bid (Mark. 11:24). Filippense 4:​6, 7 spoor ons aan: “Vra God in elke situasie om julle te help . . . Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm.”

15 Vra ander vir hulp. Deel jou gevoelens met ’n volwasse vriend, of praat met ’n ouerman wat jy vertrou. Jou broers en susters kan ’n bron van vertroosting wees, maar hulle weet dalk nie hoe jy voel of wat jy nodig het tensy jy vir hulle sê nie (Spr. 14:10). Jy kan hulle vra om met empatie te luister of om ’n teks of ’n artikel wat hulle vertroostend gevind het, met jou te deel.

16. Wat gebeur dalk wanneer ander jou probeer aanmoedig, maar wat moet jy onthou?

16 Wees geduldig en vergewensgesind. Jou broers en susters maak dalk foute wanneer hulle jou probeer aanmoedig. Hulle doen of sê byvoorbeeld dalk iets wat jou erger laat voel in plaas van beter. As dit gebeur, wees geduldig met hulle (1 Kor. 13:​4, 7). En onthou die woorde in Jakobus 3:2: “As iemand nie struikel in wat hy sê nie, is hy ’n volmaakte mens.” Fokus op jou broers en susters se goeie motiewe. Hou in gedagte dat “die gees . . . natuurlik gretig [is], maar die vlees is swak”. – Matt. 26:41.

17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Ons almal het vertroosting en aanmoediging nodig, en ons behoefte daaraan sal net groter word soos die laaste dae al hoe erger word en soos die teenstand van God se vyande al hoe intenser word. Laat ons vasbeslote wees om alles te doen wat ons kan om mekaar te vertroos.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat beteken “vertroosting” soos dit in die Bybel beskryf word?

  • Hoe kan ons ander vertroos?

  • Wat kan ons doen wanneer ons vertroosting nodig het?

LIED 130 Wees vergewensgesind

a BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman luister met empatie na ’n broer wat onlangs sy vrou aan die dood verloor het. Later besoek die ouerman ’n broer wat sy vrou jare gelede verloor het en hulle praat oor die goeie dinge wat hulle omtrent haar onthou.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel