31 DIE ISRAELITIESE MEISIETJIE
’n Moedige meisie praat oor haar God
ONS weet nie wat haar naam was nie, maar ons weet van ’n belangrike deel van haar storie. Sy was ’n meisietjie wat in Israel gebly het toe koning Joram regeer het. Hy en sy nasie was nie gehoorsaam aan Jehovah nie, en daarom het Jehovah toegelaat dat die Siriërs hulle aanhoudend aanval en die land stroop. Eendag het die Siriërs hierdie meisietjie gevange geneem en haar na Sirië gevat.
Ons kan ons net indink hoe bang hierdie kind was en hoe hartseer haar familie moes gewees het. Sy het ’n slaaf geword van Naäman, ’n leier van die Siriese leërmag. Naäman het die meisietjie vir sy vrou gegee om haar diensmeisie te wees. Die kind het sekerlik haar bes gedoen om by haar nuwe lewe aan te pas. Sy het dalk gesien dat die mense in Naäman se huis baie hartseer was. Naäman het ’n verskriklike siekte gehad, melaatsheid. Dit het lelike wonde op sy liggaam veroorsaak, en hy sou heel moontlik nooit beter word nie.
Alhoewel sy tussen valse aanbidders gebly het, het sy nooit haar groot hart of moed verloor nie
Hierdie meisietjie het ’n groot hart gehad. Alhoewel Naäman ’n vyand van Israel was, het sy jammer vir hom en sy vrou gevoel. En sy het geweet dat daar hoop was. Haar ouers het moontlik vir haar stories vertel van die wonderlike dinge wat Jehovah sy profeet Elisa laat doen het. Maar sy het nie geweet of Elisa al ooit iemand met so ’n siekte genees het nie. Maar die meisietjie was seker dat haar God, Jehovah, sy profeet die krag kon gee om te doen wat ook al nodig was.
Moet sy iets sê? Sy het heel moontlik geweet dat dit gevaarlik kon wees. Naäman het die Siriese god Rimmon aanbid, en hy het gereeld die koning van Sirië na die tempel gevat om Rimmon daar te aanbid. Dit lyk asof die Siriërs geglo het dat Rimmon ’n magtige god was. Wat sou Naäman van Jehovah dink, die God wat sy aanbid het? Sou Naäman kwaad word oor die feit dat sy sê dat Jehovah iets kon doen wat Rimmon nie kon doen nie? Die meisie moes sekerlik gebid het en Jehovah vir moed gevra het. Toe het sy vir Naäman se vrou gesê: “As my heer tog maar net na die profeet in Samaria sou gaan, dan sal hy hom van sy melaatsheid genees.”
Daardie woorde – die enigste woorde van haar wat in die Bybel opgeteken is – lyk dalk eenvoudig. Maar die gevolge daarvan was ongelooflik. In die volgende vers lees ons dat Naäman na sy koning, Ben-Hadad, gegaan het om vir hom te vertel wat die meisietjie vir hom gesê het. Toe het die koning Naäman met ’n brief na Israel gestuur. In sy brief het hy vir koning Joram gevra om Naäman van sy siekte te genees.
Nadat Naäman weg was, kon sy familie seker nie wag om te sien wat met hom sou gebeur nie. Daardie meisietjie het seker gebid en gebid en Jehovah gesmeek om vir Naäman te wys dat Hy alleen die enigste ware God is. Dae of selfs weke het verbygegaan. En eendag het Naäman uiteindelik terug huis toe gekom. Dink net hoe opgewonde sy familie en knegte was toe hulle hom uiteindelik sien. Sy vel, wat eens vol lelike wonde was, was nou skoon en vars soos ’n klein seuntjie s’n – hy was genees!
Daardie meisietjie moes seker baie mooi na die hele storie geluister het: Hoe Elisa Naäman verwelkom het, sy nederigheid getoets het en hom selfs kwaad gemaak het. Hoe Naäman se knegte hom gesmeek het om die profeet se eenvoudige instruksies te volg. Hoe Naäman sewe keer in die Jordaanrivier onder die water gegaan het en heeltemal genees was toe hy uiteindelik uitkom. Maar toe kom die beste deel. Van toe af was Naäman ook ’n aanbidder van Jehovah God!
Al hierdie wonderlike dinge het gebeur omdat hierdie meisietjie moedig was en oor haar God en sy profeet gepraat het. Alhoewel ons nie haar naam ken nie, ken Jehovah haar naam. En as ons haar moed navolg, sal ons haar sien wanneer Jehovah haar opwek. Dink net hoe lekker dit sal wees om haar te ontmoet, haar naam te leer ken en te hoor hoe sy die res van haar storie vertel!
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het die Israelitiese meisietjie gewys dat sy moedig is?
Soek dieper
1. Watter rede het die meisietjie gehad om bang te wees vir die Siriërs en te dink dat hulle vreemd was? (w96 5/15 8 ¶3) A
Courtesy of Musée du Louvre, Paris
Prent A: ’n Eertydse Siriese beeld, moontlik die god Rimmon
2. Beskryf wat met iemand kan gebeur wat melaatsheid het (it “Melaatsheid” ¶3-5-wcgr).
3. Hoekom het Elisa nie Naäman se geskenk aanvaar nie? (w05 8/1 9 ¶2)
4. Hoekom het Elisa vertrou dat Jehovah Naäman sou vergewe omdat hy voor die god Rimmon neerbuig? (2 Kon. 5:18, 19; w05 8/1 9 ¶3) B
Prent B
Dink aan die lesse
Naäman was ’n hoof van die Siriese leërmag wat Israel aangeval het. Maar Jehovah het hom nog steeds genees. Wat leer dit jou oor Jehovah se genade en onpartydigheid? C
Prent C
Hoe moedig die voorbeeld van die Israelitiese meisietjie jou aan om te preek selfs wanneer jy bang is?
Op watter ander maniere kan jy die Israelitiese meisietjie se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek die Israelitiese meisietjie graag wou vra nadat Jehovah haar opgewek het?a
Leer meer
Was die Israelitiese meisietjie te onbelangrik vir haar naam om genoem te word?
“Waarom word die naam van party Bybelkarakters nie gemeld nie?” (w13 8/1 10)
Kyk hoe jongmense vandag so dapper soos die Israelitiese meisietjie kan wees.
a As die meisietjie groot geword het, sal sy as ’n volwasse vrou opgewek word.