Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Desember bl. 26-30
  • Bejaardes – Julle is waardevol vir die gemeente

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bejaardes – Julle is waardevol vir die gemeente
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT JEHOVAH VAN JOU VERWAG
  • JY KAN ANDER BAIE HELP
  • JEHOVAH WAARDEER JOU GETROUE DIENS
  • BLY SO AKTIEF AS WAT JY KAN
  • Sy hartsbegeerte is verwesenlik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Jehovah sorg met teerheid vir sy bejaarde knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Vind vreugde deur Jehovah jou beste te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Waardeer ons getroue ouer broers en susters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Desember bl. 26-30
Collage: Bejaarde broers en susters geniet hulle diens aan Jehovah. 1. ’n Broer glimlag terwyl hy met vertroue vorentoe kyk. 2. ’n Suster in ’n rolstoel bied ’n pamflet vir gesondheidswerker aan. 3. ’n Suster antwoord by ’n vergadering. 4. ’n Suster hou aan ’n jonger broer se arm vas terwyl hulle saam in die veldbediening werk. 5. ’n Broer spandeer tyd saam met twee jong kinders en hulle ma by die Koninkryksaal.

Bejaardes – Julle is waardevol vir die gemeente

“Wanneer ek terugkyk, is ek verstom oor wat ek voorheen kon doen. Noudat ek ouer is, kan ek nie meer so baie doen soos wat ek voorheen gedoen het nie.” – Connie, 83 jaar oud.

Dalk kan jy ook nie meer so baie dinge doen soos wat jy gedoen het toe jy jonger was nie. Ten spyte van die feit dat jy Jehovah al baie jare lank getrou dien, het jy dalk ’n negatiewe beskouing van jouself as gevolg van jou huidige beperkings. Byvoorbeeld, jy is dalk geneig om wat jy vandag doen, te vergelyk met wat jy in die verlede gedoen het. Indien wel, wat kan jy doen om sulke denke te hanteer?

WAT JEHOVAH VAN JOU VERWAG

Vra jou af: ‘Wat verwag Jehovah van my?’ Jy kan vertroosting vind in die woorde van Deuteronomium 6:​5, wat sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou krag.”

Volgens daardie vers verwag Jehovah dat jy hom met jou hele hart en siel en al jou krag moet dien. Daardie feit kan jou help om dit te vermy om jouself met ander te vergelyk – of om wat jy nou kan doen, te vergelyk met wat jy in die verlede kon doen.

Dink hieraan: Wat het jy Jehovah gegee toe jy jonger was? Die meeste van Jehovah se aanbidders sou sê dat hulle hom hulle bes gegee het. Vir jou was dit jou bes volgens jou omstandighede op daardie stadium. Wat kan jy op die oomblik vir Jehovah gee? Dit is heel moontlik jou bes volgens wat jou omstandighede vandag is, wat jy nou kan doen. As jy sake in daardie lig beskou, kan jy tot die slotsom kom dat jy Jehovah dieselfde gee as wat jy in die verlede gegee het. Jy het hom toe jou bes gegee, en jy gee hom nou jou bes.

Collage: ’n Suster dien Jehovah jare lank getrou. 1. Dekades gelede praat die jong suster met ’n vrou in die huis-tot-huis-bediening. 2. Die suster, wat nou bejaard is, neem deel aan telefoongetuieniswerk saam met ’n jonger suster.

Jy het Jehovah jou bes gegee toe jy jonger was, en jy gee jou bes terwyl jy ouer is

JY KAN ANDER BAIE HELP

Hier is nog ’n aspek van die saak: Eerder as om jou ouderdom as ’n beperking te beskou, kan jy probeer om dit as ’n geleentheid te sien. Ja, as ’n ouer Christen kan jy nou sekere dinge doen wat jy nie kon doen toe jy jonger was nie. Byvoorbeeld, jy kan die volgende doen:

Deel jou ondervinding met ander. Kyk na die volgende uitdrukkings wat in die Bybel opgeteken is:

Koning Dawid: “Ek was eens jonk en nou is ek oud, maar ek het nog nooit gesien dat ’n regverdige verlaat word of dat sy kinders na brood soek nie.” – Ps. 37:25.

Josua: “Kyk! Ek gaan binnekort sterf, en julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie beloftes wat Jehovah julle God aan julle gemaak het, onvervuld gebly het nie. Alles het vir julle waar geword. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” – Jos. 23:14.

Dalk het jy al soortgelyke dinge gesê. Dawid en Josua het elkeen uit persoonlike ondervinding gepraat. Omdat hierdie getroue knegte van Jehovah gepraat het oor wat hulle oor baie dekades gesien en gehoor het, het hulle woorde meer gewig gedra.

As jy Jehovah al baie lank dien, kan jy ook uit ondervinding praat oor die belonings wat dit inhou om dit te doen. Het jy ’n gunstelingherinnering van ’n tyd toe jy Jehovah se seën oor sy volk gesien het? Wel, voel vry om ander daarvan te vertel! Dit kan ’n verfrissende impak hê, soos jy dalk al ondervind het. Jy kan jou broers en susters baie aanmoedig deur jou ondervinding met hulle te deel. – Rom. 1:​11, 12.

Nog ’n manier hoe jy ander kan aanmoedig, is deur gemeentelike vergaderinge in persoon by te woon, tot die mate waarin jy in staat is. Daar kan jy medegelowiges aanmoedig en kan jy ook aangemoedig word. Connie, wat vroeër aangehaal is, sê: “Om vergaderinge by te woon, help my om nie ontmoedig te word nie. Met al die liefde wat ek by die Koninkryksaal ontvang, hoe kan ek mismoedig word? Ek probeer om my waardering vir ander te wys deur klein geskenkies vir hulle te gee. En ek sorg dat ek altyd ’n deelname aan geestelike aktiwiteite het, saam met my broers en susters.”

JEHOVAH WAARDEER JOU GETROUE DIENS

Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat deur hulle omstandighede beperk was, maar vir wie Jehovah lief was. Dink aan Simeon, ’n bejaarde Israeliet wat gelewe het toe Jesus gebore is. Gedurende Simeon se besoeke aan die tempel het hy heel moontlik jonger mans gesien wat besig was om belangrike werk daar te doen. Maar wat van Simeon self? Vanuit ’n menslike oogpunt kon hy gedink het dat hy op sy oudag min waarde in Jehovah se oë het. Maar Jehovah het dinge anders gesien. Hy het Simeon as ’n “regverdige, toegewyde man” gesien en hom geseën met die voorreg om Jesus as ’n jong kindjie te sien. Jehovah het Simeon selfs gebruik om oor hierdie toekomstige Messias te profeteer! (Luk. 2:​25-35). Dit is duidelik dat Jehovah verby Simeon se bejaarde liggaam gekyk het en ’n man met sterk geloof gesien het, “en heilige gees was op hom”.

Josef en Maria wys vreugdevol vir Simeon die jong kindjie Jesus.

Jehovah het Simeon geseën met die voorreg om Jesus as ’n jong kindjie te sien en om oor hom as die toekomstige Messias te profeteer

Jy kan ook daarvan seker wees dat Jehovah jou getroue diens aan hom waardeer ten spyte van enige beperkings wat jy dalk het. Jehovah aanvaar ’n opoffering “met graagte” as dit gemaak word “volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie”. – 2 Kor. 8:12.

Met dit in gedagte, fokus op wat jy kan doen. Byvoorbeeld, aan watter vorme van die bediening kan jy nog deelneem – selfs as dit vir kort periodes is? Kan jy dalk ander aanmoedig deur middel van ’n kort oproep of ’n kaartjie? Eenvoudige dade van liefde kan ’n kragtige uitwerking op jou medegelowiges hê, veral wanneer hierdie dade van ’n kneg kom wat Jehovah al jare lank dien.

Party het fisiese beperkings. Kyk na ’n ondervinding uit Oos-Afrika in die bygaande venster “Dit het haar lewe gered”.

Hou in gedagte dat jou rekord van geloof en lojaliteit ander kan aanmoedig. Jy is ’n lewende voorbeeld van volharding, en jy kan seker wees van die volgende: “God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en bly dien nie.” – Heb. 6:10.

BLY SO AKTIEF AS WAT JY KAN

Studies wys dat baie bejaarde mans en vrouens wat ander help, gesonder is, helderder dink en langer lewe.

Om goeie dinge vir ander te doen, sal natuurlik nie al die gevolge van die ouderdom wegneem nie. Net God se Koninkryk sal dit bereik deur ontslae te raak van die ware oorsaak van die ouderdom en die dood – ons sondige toestand. – Rom. 5:12.

Maar die diens wat jy aan Jehovah verrig – wat insluit om ander te help om hom te leer ken – hou jou hoop sterk en kan selfs jou gesondheid bevoordeel. Bejaardes, wees verseker dat Jehovah dit wat jy in sy diens doen, waardeer en dat die gemeente jou voorbeeld van geloof waardeer.

’n Ouer suster neem deel aan die trollie-getuieniswerk. Sy deel ’n teks met ’n jong vrou wat trane het wat oor haar wange rol.

Dit het haar lewe gered

’n Jong vrou het verby ons lektuurtrollie geloop. Nadat die bejaarde suster by die trollie die vrou gegroet het, het sy haar gevra of sy ’n aanmoedigende teks met haar kan deel. Die suster het Jeremia 29:11 gelees, wat sê dat Jehovah vir ons vrede, nie rampspoed nie, wil gee. Die suster het gevra: “Het jy opgelet watter soort toekoms God vir jou wil hê?”

Die jong vrou was diep geraak. Met oë vol trane het sy geantwoord: “Hy wil hê dat ek ’n toekoms van vrede en hoop moet hê. Baie dankie vir daardie vers. Ek glo dat dit die antwoord op my gebed is. Ek het onlangs so baie moeilike tye deurgemaak, die een ná die ander. Dinge was so moeilik dat ek daaraan gedink het om my eie lewe te neem. Ek het vanoggend tot God gebid om vir my ’n teken te gee dat hy nog steeds vir my omgee, en toe het jy – ’n wildvreemdeling – my gestop en vir my ’n vers gelees wat presies wys wat God vir my in gedagte het. Dit is nie toevallig nie.”

Die suster het vir die vrou ’n hele paar artikels op jw.org gewys wat haar kan help om die Bybel te gebruik om selfmoordgedagtes te hanteer. Die suster het toe verduidelik hoe die Bybelstudiekursus werk en het haar na ons vergadering toe genooi. Die volgende week het die vrou die vergadering oor die naweek bygewoon en nou ’n studie in die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure begin.

Ongeag hoe oud jy is, kan jy aan die trollie-getuieniswerk deelneem?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel