STUDIEARTIKEL 51
LIED 132 Nou is ons een
Hoe om ’n troue te beplan wat Jehovah eer
“Laat alles reg en ordelik plaasvind.” – 1 KOR. 14:40.
FOKUS
Hoe Christenpaartjies Jehovah op hulle troudag kan eer.
1-2. Hoe beskou Jehovah troues?
IS JY verloof? Indien wel, baie geluk! Julle is waarskynlik baie besig om julle trouea te beplan. Jehovah stel belang in julle huwelik. Hy wil hê dat julle julle troudag moet geniet en ’n gelukkige toekoms saam moet hê. – Spr. 5:18; Hoogl. 3:11.
2 Jehovah verdien om by julle troue geëer te word. Hoekom kan ons dit sê? En hoe kan julle dit doen? Al is hierdie artikel hoofsaaklik vir paartjies wat besig is om voor te berei vir hulle troue, kan die beginsels wat bespreek word, ons almal help om Jehovah te eer as ons ’n troue bywoon of as ons vir raad gevra word oor die planne wat hulle maak.
HOEKOM MOET ONS JEHOVAH EER?
3. Wat moet ’n Christenpaartjie in ag neem wanneer hulle hulle troue beplan, en hoekom?
3 Paartjies wat besig is om ’n Christentroue te beplan, moet dit doen in ooreenstemming met die beginsels wat Jehovah in sy Woord vir ons gegee het. Hoekom? Omdat Jehovah die Insteller van die huwelik is. Hy het die heel eerste troue gereël – die een waarin Adam en Eva in die huwelik bymekaargebring is (Gen. 1:28; 2:24). So God se denke moet die belangrikste wees vir dié wat besig is om ’n troue te beplan.
4. Watter rede het paartjies om Jehovah op hulle troudag te eer?
4 Julle het ’n baie belangrike rede om op julle troudag te dink aan hoe Jehovah voel: Hy is julle hemelse Vader en julle beste Vriend (Heb. 12:9). Julle wil beslis hê dat dit so moet bly. Julle sal nooit wil hê dat enige iets op daardie dag of enige ander dag moet gebeur wat julle Vriend sal seermaak nie (Ps. 25:14). Wanneer julle dink aan alles wat Jehovah vir julle gedoen het en sal doen, sou julle nie saamstem dat hy verdien om by julle troue geëer te word nie? – Ps. 116:12.
HOE KAN JULLE JEHOVAH EER?
5. Hoe kan die Bybel paartjies help om hulle troue te beplan?
5 Die Bybel gee nie ’n lys reëls oor Christentroues of enige onthale wat dalk daarop volg nie. Daar is plek vir verskillende omstandighede, gebruike en voorkeure. Ware aanbidders respekteer ook wetlike vereistes wat deur die keiser voorsien word (Matt. 22:21). Maar ’n troue wat georganiseer word volgens Bybelbeginsels, sal Jehovah eer en hom gelukkig maak. So, watter beginsels moet julle in gedagte hou?
6. Hoekom is dit belangrik dat ’n paartjie gehoorsaam moet wees aan wetlike vereistes vir die huwelik?
6 Wees gehoorsaam aan wetlike vereistes (Rom. 13:1, 2). In die meeste lande moet ’n paartjie aan sekere wetlike vereistes voldoen voordat hulle trou. Die paartjie moet uitvind wat hierdie vereistes is waar hulle woon. As julle vrae het oor hoe om dit te doen, voel vry om die ouermanne vir hulp te vra.b
7. Watter atmosfeer is gepas vir ’n troue?
7 Skep die regte atmosfeer (1 Kor. 10:31, 32). Probeer om ’n atmosfeer te hê wat die vrug van God se gees weerspieël eerder as die gees van die wêreld (Gal. 5:19-26). In ooreenstemming met die Bybelbeginsel van hoofskap is die bruidegom daarvoor verantwoordelik om seker te maak dat die troue ’n gelukkige en waardige geleentheid is. Wat kan hiermee help? ’n Bybelgebaseerde troutoespraak, wat met liefde en waardigheid gegee word, bou waardering op vir God se huweliksreëling. Almal wat dit bywoon, kan baat vind omdat die toespraak sal help om die erns van die geleentheid te beklemtoon. Daarom kies die meeste Christenpaartjies om die seremonie by ’n Koninkryksaal te hou, indien dit moontlik is. As julle graag ’n Koninkryksaal wil gebruik, moet julle lank voor die tyd ’n brief vir die liggaam van ouermanne skryf.
8. Wat kan help om ’n waardige atmosfeer by ’n onthaal te behou? (Romeine 13:13)
8 Lees Romeine 13:13. As julle kies om ’n onthaal te hê, hoe kan julle keer dat dit die gees van die wêreld weerspieël? Die Griekse woord wat met “wilde partytjies” vertaal word, het verwys na geleenthede waar mense te veel gedrink het en waar musiek tot laat in die nag gespeel is. (Sien die studienota “wild parties” vir Romeine 13:13 in nwtsty.) As julle kies om alkohol te bedien, moet julle dinge in plek stel om seker te maak dat niemand te veel drink nie.c As daar musiek is, maak seker dat dit nie te hard is nie sodat julle gaste nog steeds met mekaar kan gesels. Kies die musiek wat gespeel gaan word, versigtig en luister na die woorde sodat dit niemand sal laat struikel nie.
9. Wat moet ’n paartjie in gedagte hou oor toesprake of ander vermaak gedurende hulle onthaal?
9 Sal ander by julle onthaal kort toesprake gee of sal daar skyfievertonings, video’s of ander vorme van vermaak wees? Dit kan dikwels help om die dag spesiaal te maak. Maar maak seker dat hierdie dinge opbouend gaan wees (Fil. 4:8). Vra julleself: ‘Sal dit respekvol wees teenoor ander? Sal dit respekvol wees teenoor die huweliksreëling?’ En nog belangriker, vra julleself: ‘Sal dit Jehovah eer?’ Al is dit dalk gepas vir iemand om iets snaaks te sê, moet hy nie enige iets ongepas sê wat mense aan seks sal laat dink nie (Ef. 5:3). Maak seker dat familielede en vriende wat ’n paar woorde gaan sê, julle wense verstaan en respekteer.
10. Hoekom moet ’n paartjie beskeie wees wanneer hulle hulle troue beplan? (1 Johannes 2:15-17)
10 Wees beskeie. (Lees 1 Johannes 2:15-17.) Jehovah waardeer dit wanneer sy aanbidders hom wil eer eerder as om ongepaste aandag op hulleself te vestig. So beskeie Christene sal dit vermy om te veel geld te spandeer en om te ‘spog’. Hoe sal dit julle help as julle julle troue eenvoudig hou? Kyk na die voorbeeld van Mike, ’n broer van Noorweë. Hy sê: “Ons het nie skuld gemaak nie en kon aanhou pionier. Ons troue was eenvoudig maar nog steeds baie mooi en onvergeetlik.” Tabitha, ’n suster van Indië, sê: “Ons het baie angstigheid vermy. Deur ons troue eenvoudig te hou, was daar minder om te beplan en minder dinge om oor te stry.”
Maak nie saak waar ons woon nie, ’n Christentroue kan beskeie, pragtig en onvergeetlik wees (Sien paragraaf 10-11)
11. Hoe kan ’n bruid en bruidegom wys dat hulle beskeie is wanneer dit kom by hulle kleredrag en voorkoms? (Sien ook prente.)
11 Het julle al besluit wat julle gaan aantrek? Julle wil beslis op julle mooiste lyk. Selfs in Bybeltye was dit vir ’n bruid en bruidegom baie belangrik hoe hulle gelyk het (Jes. 61:10). Wat julle na julle troue toe aantrek, is dalk ietwat anders as wat julle op ander geleenthede aantrek, maar dit moenie minder beskeie wees nie (1 Tim. 2:9). Moenie toelaat dat klere – of enige ander materiële ding – die belangrikste kenmerk van julle troue word nie. – 1 Pet. 3:3, 4.
12. Hoekom moet ’n paartjie seker maak dat hulle enige onskriftuurlike trougebruike wat in hulle gebied algemeen is, verwerp?
12 Verwerp onskriftuurlike gebruike (Op. 18:4). Satan se wêreld het troutradisies besmet met heidense, spiritistiese en bygelowige gebruike. Jehovah waarsku ons duidelik om ver weg te bly van sulke onrein dinge (2 Kor. 6:14-17). As daar party gebruike, of tradisies, in julle gebied is waaroor julle twyfel, kyk wat hulle oorsprong is en of daar enige Bybelbeginsels is wat van toepassing is, voordat julle besluit wat om by julle troue in te sluit.
13. Hoe kan ’n paartjie Jehovah se beskouing van geskenke navolg?
13 Is dit algemeen waar julle bly vir gaste om ’n geskenk vir die getroude paartjie te gee? Die finansiële situasie van party gaste kan die soort geskenk wat hulle kies om te gee, affekteer. Christene word natuurlik aangemoedig om te gee, en dit maak hulle gelukkig om dit te doen (Spr. 11:25; Hand. 20:35). Maar ons wil nie ons gaste verplig laat voel om te gee nie, en ons wil hulle ook nie laat voel dat ’n beskeie geskenk nie waardeer sal word nie. Ons volg Jehovah na en probeer om sy beskouing van geskenke te hê deur ander toe te laat om uit die hart te gee, en volgens wat hulle kan bekostig. – 2 Kor. 9:7.
VERMY EN OORKOM UITDAGINGS
14. Watter uitdagings het party paartjies?
14 Julle sal dalk uitdagings hê terwyl julle ’n troue probeer beplan wat Jehovah eer. Byvoorbeeld, julle vind dit dalk moeilik om ’n eenvoudige troue te beplan. Charlie, wat van die Salomonseilande is, sê: “Dit was baie moeilik om te besluit wie om na die onthaal te nooi. Ons het baie vriende, en in ons kultuur verwag almal om genooi te word.” Tabitha, wat vroeër genoem is, sê: “Waar ek woon, is groot onthale algemeen. Dit het tyd geneem vir ons ouers om ons besluit te aanvaar om net omtrent 100 mense te nooi.” Sarah, van Indië, sê: “Vir party mense is sosiale status baie belangrik. My niggies en neefs het baie duur troues gehad, en daarom het ek onder druk gevoel om ’n selfs duurder troue te hê.” Wat kan julle help om hierdie en ander uitdagings te oorkom?
15. Hoekom is gebed ’n belangrike deel van trouplanne?
15 Maak julle trouplanne ’n saak van gebed. Julle kan Jehovah in gebed vertel van enige probleem wat julle het of hoe julle voel (Fil. 4:6, 7 en studienota “in everything” in nwtsty). Julle kan hom vra om julle te help om goeie besluite te maak, om kalm te bly wanneer julle angstig voel en om moedig te wees wanneer julle moed nodig het (1 Pet. 5:7). Julle vertroue in Jehovah sal groei wanneer julle sien hoe hy julle gebede beantwoord. Tabitha, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek en my verloofde was bekommerd dat ons met mekaar en met ons families sou stry. So elke keer dat ons trouplanne bespreek het, het ons met ’n gebed begin. Ons het regtig Jehovah se hulp gevoel en ’n vreedsame atmosfeer geniet.”
16-17. Hoe kan goeie kommunikasie help wanneer julle ’n troue beplan?
16 Kommunikeer op ’n duidelike en taktvolle manier (Spr. 15:22). As ’n paartjie sal julle baie besluite moet maak oor julle troue. Dit sluit in dat julle op ’n datum, ’n begroting, ’n gastelys en oor baie ander dinge moet besluit. Voordat julle ’n besluit maak, moet julle julle opsies saam oorweeg en Bybelbeginsels bespreek wat van toepassing is, sowel as enige raad wat julle by volwasse, ervare Christene kry. Wanneer julle sê wat julle persoonlike voorkeure is, wees liefdevol, redelik en aanpasbaar. Byvoorbeeld, as julle ouers redelike versoeke het, moet julle hulle probeer eer. Dit is ook vir hulle ’n spesiale geleentheid. As julle nie kan doen wat hulle voorstel nie, moet julle julle redes taktvol verduidelik (Kol. 4:6). Maak dit duidelik aan familielede dat julle hoofdoelwit is om ’n gelukkige geleentheid te hê wat Jehovah eer.
17 Om julle keuses aan julle ouers te verduidelik, sal dalk veral moeilik wees as hulle nie in die waarheid is nie, maar julle kan suksesvol wees. “Ons families wou hê dat ons verskeie Hindoerituele by ons troue moet insluit,” sê Santhosh, ’n broer in Indië. “Dit het my en my verloofde lank geneem om ons besluite aan hulle te verduidelik. Ons het ’n paar aanpassings gemaak waar ons gevoel het ons kon sonder om Jehovah ongelukkig te maak. Byvoorbeeld, ons het die spyskaart by die onthaal verander na iets waarvan hulle gehou het en besluit om nie te sing of te dans nie omdat hulle nie aan sulke dinge gewoond is nie.”
18. Wat kan julle help om seker te maak dat die troudag glad verloop? (1 Korintiërs 14:40) (Sien ook prent.)
18 Beplan goed. As julle goed georganiseerd is, sal julle heel moontlik minder stres op julle troudag hê. (Lees 1 Korintiërs 14:40.) Wayne, van Taiwan, sê: “’n Paar dae voor ons troue het ons ’n klein vergadering gehou met dié wat aangebied het om ons met die geleentheid te help. Ons het ons reëlings bespreek en party dele van die troue geoefen om seker te maak dat dit glad sou verloop.” Uit respek vir julle gaste moet julle julle bes doen om dinge op tyd te hou.
Goeie beplanning voor ’n troue kan verseker dat dinge glad verloop (Sien paragraaf 18)
19. Wat kan julle help om in beheer te bly van wat by julle onthaal gebeur?
19 Julle kan baie probleme vermy as julle vooruitbeplan (Spr. 22:3). Byvoorbeeld, as julle in ’n gebied woon waar dit algemeen is vir ongenooide gaste om by ’n onthaal op te daag, moet julle dink aan wat julle kan doen om te keer dat dit gebeur. Maak seker dat enige familielede wat nie in die waarheid is nie, weet wat hulle kan verwag, en verduidelik julle beskouing van sekere trougebruike aan hulle. Julle kan die artikel “Wat gebeur by ’n troue van Jehovah se Getuies?” op jw.org met hulle deel. Om julle te help om in beheer te bly van wat by julle onthaal gebeur, kan julle dit oorweeg om ’n volwasse broer aan te stel as “die feesleier” (Joh. 2:8). As julle duidelik vir hom sê wat julle trouplanne is, kan hy julle help om seker te maak dat die troue waardig bly en volgens plan verloop.
20. Wat moet ’n paartjie onthou oor hulle troue?
20 Julle voel dalk ’n bietjie oorweldig wanneer julle dink aan alles wat daarby betrokke is om julle troue te beplan. Maar onthou dat julle troue net een dag is. Dit is die eerste dag van iets wat ’n pragtige lewe saam as knegte van Jehovah kan word. Doen julle bes om julle troue eenvoudig en waardig te hou. Vertrou op Jehovah. Met sy leiding sal julle ’n troue kan organiseer waarop julle sal terugkyk met mooi en gelukkige herinneringe en waaroor julle glad nie spyt sal wees nie. – Ps. 37:3, 4.
LIED 107 God se voorbeeld van liefde
a WAT DIT BETEKEN: In baie kulture sluit ’n troue ’n seremonie in waarin ’n paartjie hulle beloftes voor God maak. ’n Onthaal volg dalk daarop. In kulture waar daar geen formele trouseremonie of onthaal is nie, kan dit paartjies nog steeds help as hulle Bybelbeginsels vir hulle troudag bespreek.
b Vir meer inligting oor ’n Christen se beskouing van wetlike vereistes vir die huwelik, sien die artikel “Troues wat eerbaar is in die oë van God en die mens” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2006.
c Sien op jw.org die video Moet ek alkohol bedien?