Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Desember bl. 14-19
  • Volg Jehovah se nederigheid na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg Jehovah se nederigheid na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JEHOVAH IS ALTYD BEREID OM NA ONS TE LUISTER
  • JEHOVAH IS REDELIK
  • JEHOVAH IS GEDULDIG
  • JEHOVAH SKENK AANDAG AAN DIE NEDERIGES
  • Volg Jehovah en Jesus na in jou denkwyse
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Kweek ware nederigheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Desember bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 50

LIED 48 Wandel daagliks met Jehovah

Volg Jehovah se nederigheid na

“Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders.” – EF. 5:1.

FOKUS

Vier maniere om Jehovah se nederigheid na te volg.

1. Hoekom is Jehovah se nederigheid indrukwekkend?

DINK jy aan die eienskap van nederigheid wanneer jy vandag na mense in gesagsposisies kyk? Heel moontlik nie. Maar Jehovah, wat almagtig is, is nederig (Ps. 113:​5-8). Niemand is so nederig soos Jehovah nie; daar is nie ’n sweempie hoogmoed in hom nie. In hierdie artikel sal ons na vier aspekte van Jehovah se pragtige persoonlikheid kyk en ontdek hoe sy nederigheid in elkeen van hulle weerspieël word. Ons sal ook kyk na hoe Jesus sy Vader se nederigheid nagevolg het. As ons hierdie fasette ondersoek, sal dit ons help om nader aan Jehovah te kom en om sy nederigheid in ’n groter mate na te volg.

JEHOVAH IS ALTYD BEREID OM NA ONS TE LUISTER

2. Wat openbaar Psalm 62:8 omtrent Jehovah? (Sien ook prent.)

2 Dit is gewoonlik nie maklik om met trotse mense te praat nie. Hulle groot ego’s veroorsaak dat hulle op maniere optree wat ander laat huiwer om na hulle toe te gaan of veroorsaak dat ander hulle heeltemal vermy. Jehovah is baie anders! Omdat ons hemelse Vader nederig is, nooi hy ons om hom in gebed te nader en hom van al ons bekommernisse te vertel. (Lees Psalm 62:8.) Net soos ’n liefdevolle pa graag na sy kinders se bekommernisse luister, luister Jehovah graag na die gebede van sy aanbidders. Om die waarheid te sê, hy het baie van hierdie gebede in die Bybel laat opteken. Dit wys hoe graag hy na ons gebede wil luister (Jos. 10:​12-14; 1 Sam. 1:​10-18). Maar wat as ons vir die een of ander rede soms onwaardig voel om Jehovah in gebed te nader?

’n Pa luister geduldig na sy jong seun terwyl die seun verduidelik hoe hy per ongeluk ’n blompot gebreek het terwyl hy met ’n speelgoedvliegtuig gespeel het.

’n Pa volg Jehovah na deur nederig na sy seun te luister, wat ’n blompot gebreek het terwyl hy gespeel het (Sien paragraaf 2)


3. Hoekom kan jy daarvan seker wees dat Jehovah wil hê dat jy hom gereeld in gebed moet nader?

3 Ons kan Jehovah in gebed nader, al voel ons dat ons nie sy liefde verdien nie. Hoekom kan ons dit sê? In Jesus se illustrasie van die verlore seun het hy Jehovah vergelyk met ’n liefdevolle pa wie se berouvolle seun gevoel het dat hy nie verdien om weer in die familie terugverwelkom te word nie. Hoe het daardie pa gereageer toe sy seun teruggekeer het huis toe? Jesus het gesê dat die pa, die oomblik toe hy sy seun sien, na hom toe “gehardloop en hom omhels en hom gesoen” het (Luk. 15:​17-20). Jehovah is soos daardie pa. Sodra hy die gebede hoor van individue wie se harte gebreek en verpletter is as gevolg van die las van skuldgevoelens of bekommernisse, beweeg sy nederigheid hom om hulle sy volle aandag te gee (Klaagl. 3:​19, 20). Jehovah word deur medelye beweeg, en hy hardloop as ’t ware na hulle toe om hulle te vertroos en van sy genade en liefde te verseker (Jes. 57:15). Hoe “hardloop” Jehovah vandag na ons toe? Hy doen dit dikwels deur middel van die ouermanne, gelowige familielede en ander medeaanbidders (Jak. 5:​14, 15). Jehovah voorsien hierdie hulp omdat hy wil hê dat ons na aan hom moet wees.

4. Hoekom het mense gemaklik gevoel om met Jesus te gaan praat?

4 Jesus volg sy Vader na. Soos sy Vader is Jesus nederig. As gevolg daarvan het mense gemaklik gevoel om na hom toe te gaan terwyl hy op die aarde was. Hulle was nie bang om vir hom vrae te vra nie (Mark. 4:​10, 11). En wanneer hy hulle gevra het wat hulle van iets dink, het hulle vir hom gesê hoe hulle werklik voel (Matt. 16:​13-16). En wanneer hulle foute gemaak het, was hulle nie bang dat Jesus vir hulle sou kwaad word nie; hulle het geweet dat Jesus liefdevol, genadig en geduldig is (Matt. 17:​24-27). Omdat Jesus sy Vader so goed nagevolg het, het sy volgelinge Jehovah beter leer ken (Joh. 14:9). Hulle het geleer dat Jehovah glad nie soos die wrede, trotse en afsydige godsdiensleiers van daardie tyd is nie. Hy is eerder nederig en gewillig om na mense te luister.

5. Hoekom sal ander gemakliker voel om met ons te kom praat as ons nederig is?

5 Hoe kan ons Jehovah navolg? As ons nederigheid ontwikkel, sal ander gemakliker voel om met ons te kom praat. Nederigheid sal keer dat ons jaloers, trots en onvergewensgesind is – eienskappe wat ander wegstoot. Maar nederigheid sal ons help om liefdevol, geduldig en vergewensgesind te wees – eienskappe wat ander na ons toe trek (Kol. 3:​12-14). Ouermanne moet seker maak dat ander in die gemeente gemaklik voel om met hulle te kom praat. Om dit te doen, moet hulle natuurlik sigbaar wees. Dit beteken dat hulle hulle bes probeer om gemeentelike vergaderinge verkieslik in persoon by te woon, eerder as om dit onnodig deur middel van videokonferensie by te woon. En soos hulle omstandighede dit toelaat, probeer hulle om saam met die broers en susters aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Terwyl dié in die gemeente die ouermanne beter leer ken, sal hulle gemaklik voel om hulle in hulle vertroue te neem wanneer dit nodig is.

JEHOVAH IS REDELIK

6-7. Gee voorbeelde van hoe Jehovah toegegee het aan die versoeke van sy knegte.

6 Baie trotse mense is onredelik wanneer dit kom by hoe hulle ander behandel. Maar omdat Jehovah nederig is, is hy redelik, of toegewend – al is hy op elke manier ver verhewe bo almal. Kyk hoe hy Moses se suster, Mirjam, behandel het. Sy, sowel as Aäron, het teen Moses gemurmureer, wat Jehovah se verteenwoordiger was. So Mirjam was eintlik disrespekvol teenoor Jehovah. As gevolg daarvan was Jehovah woedend vir Mirjam en het hy haar met melaatsheid getref. Maar toe Aäron Moses gesmeek het om haar te help en Moses Jehovah gesmeek het om haar te genees, hoe het God gereageer? God het nie trots by die oordeel gebly wat hy oor haar gebring het nie. Omdat Jehovah nederig is, het hy toegegee deur Mirjam te genees. – Num. 12:​1-15.

7 Jehovah het ook gewys dat hy nederig is in die manier hoe hy koning Hiskia behandel het. Deur middel van Sy profeet het Jehovah die koning in kennis gestel dat hy sou sterf. Hiskia het Jehovah met trane gesmeek om hom te genees. Jehovah was toe genadig en het 15 jaar by die koning se lewe gevoeg (2 Kon. 20:​1, 5, 6). Ja, nederigheid beweeg Jehovah om medelye te hê en toegewend te wees.

8. Watter voorbeelde wys dat Jesus redelik is? (Markus 3:​1-6)

8 Jesus volg sy Vader na. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy nie die goeie van ander teruggehou toe dit redelik was om hulle te help nie. Byvoorbeeld, hy het mense op die Sabbat genees ten spyte van die besware van sy hardvogtige teenstanders. (Lees Markus 3:​1-6.) Jesus is nog steeds redelik as hoof van die Christengemeente. Byvoorbeeld, wanneer iemand in die gemeente ’n ernstige sonde pleeg, is hy geduldig met hom en gee hy hom genoeg geleentheid om sy gedrag te verander. – Op. 2:​2-5.

9. Hoe kan ons redelikheid ontwikkel en openbaar? (Sien ook prente.)

9 Hoe kan ons Jehovah navolg? Ons moet nederig daaraan werk om die redelike manier hoe Jehovah dink en optree, na te volg (Jak. 3:17). Ouers wat Jehovah navolg, sal nie verwag dat hulle kinders dinge moet doen wat hulle nie kan doen nie. Jakob is ’n goeie voorbeeld hiervan, soos ons kan sien in die verslag in Genesis 33:​12-14. Nederige en redelike ouers moet dit ook probeer vermy om een kind onregverdig met ’n ander kind te vergelyk. Christenouermanne moet ook redelik wees. Een manier hoe hulle dit kan doen, is deur toe te gee aan die besluit van die meerderheid op die liggaam wanneer dit nie teen Bybelbeginsels is as hulle dit doen nie (1 Tim. 3:​2, 3). En ons almal kan ander se beskouing probeer verstaan, al sien ons dinge anders (Rom. 14:1). Ja, almal in die gemeente moet probeer om hulle “redelikheid aan alle mense bekend [te laat] word”. – Fil. 4:5.

Collage: ’n Pa is gelukkig terwyl hy saam met sy jong kinders aan die huis-tot-huis-bediening deelneem. 1. Hy glimlag terwyl sy seun die “Geniet die lewe vir ewig!”-brosjure vir ’n man aanbied. 2. Later glimlag hy terwyl sy dogter ’n jw.org-kontakkaartjie vir ’n vrou aanbied.

’n Pa is redelik wanneer dit kom by wat hy van sy kinders in die bediening verwag (Sien paragraaf 9)


JEHOVAH IS GEDULDIG

10. Op watter maniere het Jehovah gewys dat hy geduldig is?

10 Jy het seker al opgelet dat trotse mense nie daarvan hou wanneer ander hulle laat wag nie. Trots maak hulle ongeduldig. Hoe anders is Jehovah tog, wat die verpersoonliking van geduld is! Byvoorbeeld, in die dae van Noag het Jehovah gesê dat Hy 120 jaar sou wag voordat hy die goddeloses sou vernietig (Gen. 6:3). Noag het tyd gehad om sy kinders groot te maak en die ark met die hulp van sy familie te bou. Later het Jehovah se engeleverteenwoordiger geduldig geluister terwyl Abraham hom bevraagteken het oor die vernietiging van Sodom en Gomorra. ’n Trotse persoon sou dalk gesê het: ‘Hoe durf jy my bevraagteken!’ Maar daardie engel het Jehovah nagevolg en was geduldig met Abraham. – Gen. 18:​20-33.

11. Hoekom is Jehovah in ons tyd geduldig volgens 2 Petrus 3:9?

11 Jehovah is ook in ons tyd nederig en geduldig. Hy wag vir sy vasgestelde tyd om die einde te bring. Hoekom is hy geduldig? “Omdat hy nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon.” (Lees 2 Petrus 3:9.) Was Jehovah se geduld verniet? Nee! Miljoene opregtes het nader aan hom gekom. En ons hoop dat nog baie miljoene dit sal doen. Maar Jehovah se geduld het perke. Jehovah is lief vir mense, maar hy sal nie vir ewig toelaat dat hulle doen wat hulle ook al wil nie. Hy sal ’n einde maak aan goddeloosheid. – Hab. 2:3.

12. Hoe volg Jesus Jehovah se geduld na?

12 Jesus volg sy Vader na. Jesus volg al duisende jare lank Jehovah se geduld na. Jesus het gesien hoe Satan teen Jehovah en getroue mense laster (Gen. 3:​4, 5; Job 1:11; Op. 12:10). Jesus het ook onbeskryflike lyding gesien. Dink net hoe graag hy “die werke van die Duiwel [wil] vernietig”! (1 Joh. 3:8). Wat help Jesus om geduldig vir Jehovah se goedkeuring te wag om die Duiwel se werke heeltemal te vernietig? Om maar een ding te noem, Jesus se nederigheid beweeg hom om die tydsberekening van sake te laat waar dit behoort – in Jehovah se hande. – Hand. 1:7.

13. Hoe en hoekom was Jesus geduldig met sy apostels?

13 Toe Jesus op die aarde was, was hy ook geduldig met sy apostels. Byvoorbeeld, toe die apostels herhaaldelik gestry het oor wie die grootste is, het Jesus nie moed opgegee met hulle nie. Hy het eerder geduldig gebly (Luk. 9:46; 22:​24-27). Hy het die vertroue gehad dat hulle met verloop van tyd die nodige veranderinge sou maak. Het jy al herhaaldelik dieselfde fout gemaak? As dit die geval is, is jy nie dankbaar om so ’n nederige en geduldige Koning te hê wat oor jou regeer nie?

14. Hoe kan ons geduld ontwikkel?

14 Hoe kan ons Jehovah navolg? Wanneer ons “die denke van Christus” ontwikkel, plaas ons onsself in die beste posisie om soos Jehovah te dink en op te tree (1 Kor. 2:16). Hoe kan ons Christus se denke beter verstaan? Daar is nie ’n kortpad nie. Ons moet die Evangelies lees. Dan moet ons tyd neem om na te dink oor hoe die verslae wat ons gelees het, openbaar hoe Jesus oor sake dink. En ons moet Jehovah beslis vra om ons te help om die nederige manier hoe Jesus dink, te weerspieël. Terwyl ons die denke van Christus ontwikkel, sal ons meer soos God word deur geduldiger te wees met onsself en met ons medegelowiges. – Matt. 18:​26-30, 35.

JEHOVAH SKENK AANDAG AAN DIE NEDERIGES

15. Hoe het Jehovah in ooreenstemming met Psalm 138:6 opgetree?

15 Lees Psalm 138:6. Wat ’n eer is dit vir nederiges om deur die Soewerein van die heelal erken te word! Kyk na net ’n paar voorbeelde van nederige mense aan wie Jehovah oor die eeue heen aandag geskenk het. Dit is dalk nie vir ons maklik om aan party van hulle te dink nie, maar hulle is by die Bybelverslag ingesluit. Jehovah het Moses geïnspireer om die naam neer te skryf van ’n oppasser met die naam Debora, wat gedurende die tyd van die aartsvaders gelewe het. Sy het getrou gedien in beide Isak en Jakob se huisgesinne vir omtrent 125 jaar! Al weet ons nie baie oor hierdie lojale vrou nie, het Jehovah seker gemaak dat die geïnspireerde verslag sê hoe geliefd sy was (Gen. 24:59; 35:​8, vtn.). Eeue later het Jehovah Dawid, ’n herderseun, gekies om koning van die nasie Israel te wees (2 Sam. 22:​1, 36). Kort nadat Jesus gebore is, het God engele gestuur om nederige herders te eer deur eerste vir hulle te sê dat die toekomstige Messias in nabygeleë Betlehem gebore is (Luk. 2:​8-11). En toe Josef en Maria Jesus na die tempel toe gebring het, het Jehovah die bejaarde Simeon en Anna met waardigheid behandel deur hulle die eer te gee om Sy Seun te sien (Luk. 2:​25-30, 36-38). Ja, “al is Jehovah hoog, skenk hy aandag aan die nederiges”!

16. Hoe het Jesus die manier hoe sy Vader ander behandel, nagevolg?

16 Jesus volg sy Vader na. Jesus het, soos sy Vader, nederige mense met waardigheid behandel. Hy het “ongeleerde en gewone” mense waarhede oor die Koninkryk van God geleer (Hand. 4:13; Matt. 11:25). Jesus het ook die siekes genees en hulle op maniere behandel wat nie net hulle gesondheid herstel het nie, maar ook hulle waardigheid (Luk. 5:13). Op die laaste aand voor Jesus se dood het hy die rol van ’n kneg aangeneem deur sy apostels se voete te was (Joh. 13:5). En voordat hy opgevaar het hemel toe, het hy al sy nederige volgelinge, insluitende ons vandag, met waardigheid behandel deur vir hulle die belangrikste werk te gee wat enige mens kan hê – om ander te help om die ewige lewe te verkry. – Matt. 28:​19, 20.

17. Hoe kan ons ander met waardigheid behandel? (Sien ook prent.)

17 Hoe kan ons Jehovah navolg? Ons behandel mense met waardigheid wanneer ons die goeie nuus deel met almal wat luister, ongeag wat hulle agtergrond of velkleur is of hoeveel opvoeding hulle het. En ons behandel ons broers en susters met waardigheid wanneer ons hulle as hoër as onsself beskou, ongeag enige vermoë of voorregte wat ons dalk het (Fil. 2:3). Dit maak Jehovah bly wanneer ons nederig ‘die leiding daarin neem’ om mekaar op hierdie en op ander maniere te eer. – Rom. 12:10; Sef. 3:12.

Twee susters hou ’n Bybelstudie met ’n vroulike gevangene in ’n gevangenis.

Ons volg Jehovah se nederigheid na wanneer ons die goeie nuus met alle soorte mense deel (Sien paragraaf 17)a


18. Hoekom wil jy Jehovah se nederigheid navolg?

18 Terwyl ons probeer om ons liefdevolle hemelse Vader se nederigheid na te volg, sal mense gemakliker begin voel om met ons te kom praat en sal ons redeliker en geduldiger word. En ons sal ander met waardigheid behandel, soos Jehovah hulle behandel. Mag ons pogings om nader aan ons nederige God te kom, elkeen van ons selfs waardevoller in sy oë maak! – Jes. 43:4.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom sal ander gemaklik voel om met jou te kom praat as jy nederig is?

  • Hoe kan nederigheid jou help om redelik te wees?

  • Hoe kan nederigheid jou help om geduldig te wees?

LIED 159 Gee eer aan Jehovah

a BESKRYWING VAN PRENT: Susters volg Jehovah nederig na terwyl hulle gevangenes leer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel