Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Desember bl. 8-13
  • Die boek Job kan jou help wanneer jy raad gee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boek Job kan jou help wanneer jy raad gee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE JOB SE DRIE VRIENDE HOM RAAD GEGEE HET
  • HOE ELIHU JOB RAAD GEGEE HET
  • HOU AAN BAAT VIND BY DIE BOEK JOB
  • Jehovah het sy pyn weggeneem
    Volg hulle geloof na
  • ’n Les oor hoe om probleme te hanteer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Job se beloning—’n bron van hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Bybelboek nommer 18—Job
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Desember bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 49

LIED 44 Gebed van die bedrukte

Die boek Job kan jou help wanneer jy raad gee

“Luister asseblief nou na my woorde, Job.” – JOB 33:1.

FOKUS

Hoe die boek Job ons leer om goeie raad te gee.

1-2. Watter uitdaging het Job se drie vriende en Elihu?

DIE nuus versprei soos ’n veldbrand onder die mense van die Ooste. Job, ’n man wat wyd en syd bekend is vir sy rykdom, het alles verloor. Toe drie van Job se vriende – Elifas, Bildad en Sofar – uitvind wat met Job gebeur het, reis hulle na Us om hom te gaan vertroos. Maar hulle is nie voorbereid op wat hulle sien wanneer hulle daar aankom nie.

2 Stel jou die toneel voor. In ’n sekere sin is alles wat Job besit het, van hom af weggeneem. Sy baie koeie, kamele en skape is of doodgemaak of gesteel. Sy kinders is dood, en die meeste van sy knegte is doodgemaak. En die huis waarin Job se kinders gesterf het, is vernietig. Asof dit nie erg genoeg is nie, het Job baie siek geword. Sy liggaam is nou vol pynlike swere. Van ’n afstand af sien die drie mans hoe Job in die as sit en verskriklik hartseer lyk. Hoe reageer hulle? Omtrent sewe dae lank sê hulle nie ’n woord vir hierdie man wat in baie pyn is nie (Job 2:​12, 13). Op een stadium kom ’n jonger man met die naam Elihu daar aan, en hy gaan sit naby hulle. Job breek uiteindelik die stilte deur die dag waarop hy gebore is, te vervloek en te wens dat hy sterf (Job 3:​1-3, 11). Dit is duidelik dat Job hulp nodig het! Wat hierdie mans sê en hoe hulle dit sê, sal bewys of hulle regtig Job se vriende is en of hulle regtig vir hom omgee.

3. Wat sal ons nou bespreek?

3 Jehovah het Moses laat neerskryf wat Job se drie vriende en Elihu gesê en gedoen het. Dit is die moeite werd om te noem dat van die dinge wat Elifas gesê het, blykbaar deur ’n bose gees geïnspireer is. In teenstelling daarmee is Elihu se woorde deur Jehovah geïnspireer (Job 4:​12-16; 33:​24, 25). So dit is geen wonder dat die boek Job van die beste raad maar ook van die slegste raad wat al ooit gegee is, bevat nie. ’n Groot voordeel wat ons uit die boek Job kan kry, is hoe dit ons kan help wanneer ons raad moet gee. Eerstens sal ons kyk na die slegte voorbeelde van Job se drie vriende. Dan sal ons die goeie voorbeeld van Elihu bespreek. In elke geval sal ons leer hoe die Israeliete by die boek Job kon baat vind en hoe ons vandag daarby kan baat vind.

HOE JOB SE DRIE VRIENDE HOM RAAD GEGEE HET

4. Hoekom het Job se drie vriende nie hulle doelwit bereik nie? (Sien ook prent.)

4 Die Bybel sê dat Job se drie vriende na Job toe gegaan het “om met hom te simpatiseer en hom te vertroos” nadat hulle van al die slegte dinge gehoor het wat met hom gebeur het (Job 2:11). Maar hulle het nie daardie doelwit bereik nie. Hoekom nie? Vir ten minste drie redes. Eerstens, hulle het gou tot die verkeerde gevolgtrekkings gekom. Byvoorbeeld, hulle het verkeerdelik aangeneem dat Job gestraf word vir sondes wat hy gepleeg het (Job 4:7; 11:14).a Tweedens, baie van die raad wat daardie mans Job gegee het, het hom nie gehelp nie, was nie liefdevol nie en het hom baie seergemaak. Byvoorbeeld, al drie mans het dinge gesê wat goed geklink het, maar wat nie eintlik veel vir hom beteken het nie (Job 13:12). Bildad het twee keer op ’n lelike manier vir Job gesê dat hy te veel praat (Job 8:2; 18:2). En Sofar was wreed en het gesê dat Job “sonder verstand” is (Job 11:12). Derdens, al het hulle dalk nie op Job geskree nie, het hulle dikwels op ’n neerhalende, sarkastiese en beskuldigende manier met hom gepraat (Job 15:​7-11). Op die ou end het hierdie mans meer daarin begin belangstel om Job verkeerd te bewys as om sy hart te genees of om sy geloof op te bou.

Een van Job se vriende praat op ’n lelike manier met hom terwyl die ander twee vriende toekyk. Job is vol swere en luister hartseer na die raad terwyl hy op die grond sit.

Wanneer jy raad gee, moet jy dit vermy om op ’n neerhalende manier te praat. Jou doelwit moet wees om te help (Sien paragraaf 4)


5. Wat was die gevolg van die raad wat Job se vriende gegee het?

5 Dit is nie verbasend dat die raad wat Job se vriende gegee het, nie goeie resultate gehad het nie. Job was diep seergemaak deur hulle woorde (Job 19:2). Jy kan verstaan hoekom hy ook sy reputasie wou verdedig. Dit het veroorsaak dat hy ongebalanseerd geword het in sy denke en onwyse dinge gesê het (Job 6:​3, 26). Job se vriende het nie gedagtes gedeel wat met Jehovah se denke ooreengestem het nie, en hulle het Job ook nie met medelye behandel nie. As gevolg daarvan is hulle onwetend deur Satan gebruik (Job 2:​4, 6). Hoe kon dié in die verlede by hierdie verslag baat vind, en hoe kan ons vandag daarby baat vind?

6. Wat kon die ouermanne in Israel leer uit die slegte voorbeeld van Job se drie vriende?

6 Hoe die Israeliete kon baat vind. Nadat Jehovah die nasie Israel gevorm het, het hy bekwame mans, ouermanne, aangestel om die nasie volgens sy regverdige standaarde te oordeel (Deut. 1:​15-18; 27:1). Sulke mans moes mooi luister voordat hulle raad gegee het of oordele uitgespreek het (2 Kron. 19:6). Hulle moes ook vrae vra eerder as aanneem dat hulle al die feite ken (Deut. 19:18). Daardie raadgewers in Israel moes dit vermy om op ’n wrede manier te praat met dié wat na hulle toe gekom het vir hulp. Hoekom? Want as ’n persoon gesien het dat hulle geïrriteerd is, kon dit daardie persoon ontmoedig om sy of haar hart oop te maak (Eks. 22:​22-24). Die ouermanne in Israel wat die verslag van Job gelees het, kon beslis lesse daaruit leer.

7. Behalwe die ouermanne in Israel, wie kon raad gee, en hoe kon hulle baat vind by die verslag van Job? (Spreuke 27:9)

7 Volwasse mans was natuurlik nie die enigstes wat in Israel raad kon gee nie. Eintlik kon enige Israeliet – jonk of oud, manlik of vroulik – raad gee vir ’n vriend wat hulp nodig gehad het om in sy aanbidding te verbeter of om sy gedrag reg te stel (Ps. 141:5). Sulke opregte raad is die kenmerk van ’n ware vriend. (Lees Spreuke 27:9.) Die slegte voorbeeld van Job se drie vriende het die potensiaal gehad om vir die Israeliete ’n lewende patroon te gee van wat om nie te sê nie en wat om nie te doen nie wanneer hulle raad gee.

8. Watter strikke moet ons vermy wanneer ons raad gee? (Sien ook prente.)

8 Hoe ons kan baat vind. As Christene wil ons ons broers en susters help wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Maar om dit te doen, moet ons vermy wat Job se drie vriende gedoen het. Eerstens, ons moet dit vermy om gou tot gevolgtrekkings te kom en seker wees dat die dinge wat ons sê, gebaseer is op vaste feite. Tweedens, ons moenie ons raad, soos Elifas dikwels gedoen het, hoofsaaklik bou op die onstabiele grond van persoonlike ondervinding nie, maar eerder op die vaste rots van God se Woord (Job 4:8; 5:​3, 27). Derdens, ons moet dit vermy om wrede of kritiese dinge te sê. Onthou, Elifas en sy vriende het party dinge gesê wat waar is; een van hulle stellings is selfs deur ’n ander geïnspireerde Bybelskrywer aangehaal. (Vergelyk Job 5:13 met 1 Korintiërs 3:19.) Maar die meeste van die dinge wat hulle gesê het, het God in ’n verkeerde lig gestel en Job seergemaak, en daarom het Jehovah gesê dat hulle nie die waarheid gepraat het nie (Job 42:​7, 8). Goeie raad laat Jehovah nooit onredelik lyk of laat nie sy knegte voel dat Jehovah hulle nie kan liefhê nie. Kom ons bespreek nou wat ons uit Elihu se voorbeeld kan leer.

Collage: ’n Broer gee liefdevolle raad vir ’n broer wat ontsteld is. 1. ’n Broer luister geduldig na ’n ontstelde broer terwyl hulle buite by ’n tafel sit en koeldrank drink. 2. Die broer wat luister, maak ’n Bybel oop. 3. Die broer gee liefdevol raad uit die Bybel terwyl die ander broer kalm luister.

Wanneer jy raad gee, (1) baseer wat jy sê, op feite, (2) gebruik God se Woord en (3) praat op ’n liefdevolle manier (Sien paragraaf 8)


HOE ELIHU JOB RAAD GEGEE HET

9. Verduidelik hoekom Job hulp nodig gehad het nadat sy vriende opgehou praat het en hoe Jehovah dit voorsien het.

9 Teen die tyd dat Job en sy vriende ophou stry het, kon ’n mens die atmosfeer sekerlik met ’n mes sny. Daardie mans het genoeg woorde gesê om 28 hoofstukke van die Bybel vol te maak, en baie van die dinge wat hulle gesê het, het hulle gesê omdat hulle kwaad of gefrustreerd was. Dit is geen wonder dat Job nog steeds mismoedig was nie! Hy het nog steeds vertroosting en teregwysing nodig gehad. Hoe het Jehovah Job gehelp? Hy het Elihu gebruik om hom raad te gee. Hoekom het Elihu nie vroeër iets gesê nie? Hy het gesê: “Ek is jonk, en julle is ouer as ek. Daarom het ek uit respek stilgebly” (Job 32:​6, 7). Jong Elihu het besef wat baie vandag besef: Ouer persone het gelewe en geleer, en as gevolg daarvan het hulle wysheid sowel as ondervinding in die lewe wat jonger persone dikwels nie het nie. Maar nadat Elihu geduldig na Job en sy vriende geluister het, kon hy nie langer stilbly nie. Hy het gesê: “Mense is nie noodwendig wys net omdat hulle oud is nie, en dit is nie net oumense wat weet wat reg is nie” (Job 32:9). Wat het Elihu volgende gesê, en hoe het hy dit gesê?

10. Wat het Elihu gedoen voordat hy Job raad gegee het? (Job 33:​6, 7)

10 Voordat Elihu Job enige raad gegee het, het hy die regte atmosfeer geskep. Hoe? Eerstens, hy het sy eie emosies onder beheer gekry. Ons weet dit omdat die Bybel sê dat Elihu aan die begin kwaad was (Job 32:​2-5). Maar Elihu het Job nie een keer uit frustrasie aangeval nie. Hy het eerder vertroostend met hom gepraat. Byvoorbeeld, hy het vir Job gesê: “Kyk! Voor die ware God is ek net soos jy.” (Lees Job 33:​6, 7.) Toe het Elihu dit duidelik gemaak dat hy mooi na Job geluister het. Om die waarheid te sê, hy het die hoofpunte in Job se ses sprake opgesom (Job 32:11; 33:​8-11). Elihu het iets soortgelyks gedoen toe hy Job weer raad gegee het. – Job 34:​5, 6, 9; 35:​1-4.

11. Hoe het Elihu Job raad gegee? (Job 33:1)

11 Toe Elihu Job raad gee, het hy dit op ’n manier gedoen wat respek vir daardie getroue man gewys het. Byvoorbeeld, Elihu het Job se naam gebruik, iets wat die ander drie mans blykbaar nie gedoen het nie. (Lees Job 33:1.) Dalk het hy gedink aan sy eie sterk begeerte om te praat terwyl Job en sy vriende gestry het, en daarom het Elihu Job ook ’n kans gegee om op sy raad te reageer (Job 32:4; 33:32). Elihu het Job ook duidelik gewaarsku oor die gevaar van party van sy redenasies en hom liefdevol herinner aan Jehovah se wysheid, krag, geregtigheid en lojale liefde (Job 36:​18, 21-26; 37:​23, 24). Elihu se goeie raad het ongetwyfeld gehelp om Job voor te berei op verdere raad, hierdie keer van sy Skepper (Job 38:​1-3). Hoe kon dié in die verlede baat vind by die voorbeeld van Elihu, en hoe kan ons vandag daarby baat vind?

12. Hoe het Jehovah profete gebruik om sy volk te help, en hoe kon die Israeliete by Elihu se goeie voorbeeld baat vind?

12 Hoe die Israeliete kon baat vind. Regdeur Israel se geskiedenis het Jehovah profete aangestel om die Israeliete te onderrig en tereg te wys. Byvoorbeeld, gedurende die tydperk van die Rigters het Debora moederlike geestelike leiding aan die nasie voorsien, en Samuel het van jongs af ywerig as Jehovah se woordvoerder gedien (Rigt. 4:​4-7; 5:7; 1 Sam. 3:​19, 20). Toe gedurende die tyd van die konings het Jehovah die een profeet ná die ander voorsien om sy volk geestelik te versterk en om raad te gee aan dié wat van rein aanbidding afgedwaal het (2 Sam. 12:​1-4; Hand. 3:24). Elihu se voorbeeld wat in die boek Job neergeskryf is, het die potensiaal gehad om getroue mans en vrouens te help om te verstaan wat om te sê en hoe om dit te sê wanneer hulle raad gee.

13. Hoe kan Christene vandag medeaanbidders aanmoedig?

13 Hoe ons kan baat vind. As Christene maak ons ook God se wil bekend deur te verkondig wat in sy Woord, die Bybel, is. Nog ’n manier hoe ons dit doen, is deur woorde te gebruik wat ons medeaanbidders opbou en aanmoedig (1 Kor. 14:3). Ouermanne moet veral bewus wees van die feit dat hulle “vertroostend” met hulle broers en susters moet praat, selfs met dié wat dalk ontsteld is of geneig is tot “wilde praatjies”. – 1 Tess. 5:14; Job 6:3.

14-15. Illustreer hoe ’n ouerman Elihu kan navolg wanneer hy raad gee.

14 Stel jou hierdie situasie voor. ’n Ouerman vind uit dat ’n suster in sy gemeente depressief voel. Hy en ’n ander broer besoek haar om haar te probeer aanmoedig. Gedurende die besoek verduidelik die suster dat sy min vreugde het, al doen sy nog velddiens en al woon sy nog die vergaderinge by. Hoe sal die broer wat die leiding neem, reageer?

15 Eerstens, hy sal heel moontlik probeer uitvind wat die onderliggende redes vir die suster se pyn is. Om dit reg te kry, sal hy geduldig moet luister. Voel sy dat sy nie God se liefde verdien nie? Voel sy oorweldig deur die “bekommernisse van die lewe”? (Luk. 21:34). Tweedens, die ouerman sal na geleenthede soek om die suster te prys. Sy woon darem nog vergaderinge by en doen darem nog velddiens, al voel sy depressief. En derdens, sodra die ouerman die situasie verstaan, en wat veroorsaak dat die suster mismoedig voel, sal hy die Bybel gebruik om haar vertroue in God se liefde vir haar op te bou. – Gal. 2:20.

HOU AAN BAAT VIND BY DIE BOEK JOB

16. Hoe kan ons aanhou om by die boek Job baat te vind?

16 Ons vind baie daarby baat as ons die boek Job ondersoek! Soos ons in die vorige artikel gesien het, leer hierdie geïnspireerde verslag ons nie net hoekom God lyding toelaat nie, maar ook hoe ons dit kan verduur. En soos ons in hierdie artikel bespreek het, kan ons almal leer om goeie raad te gee deur nie die slegte voorbeelde van Job se drie vriende na te volg nie, maar eerder die goeie voorbeeld van Elihu. Hoekom hersien jy nie die lesse wat jy uit die boek Job geleer het voordat jy ander in die toekoms raad gee nie? En as jy die boek Job lanklaas gelees het, maak dit jou doelwit om hierdie merkwaardige boek weer te lees. Jy sal vind dat jy vandag net soveel daarby kan baat vind soos toe dit geskryf is.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat het jy geleer by Job se drie vriende oor wat om te vermy wanneer jy raad gee?

  • Hoe het Elihu wysheid geopenbaar toe hy Job raad gee?

  • Hoe kan ons aanhou om by die boek Job baat te vind?

LIED 125 ‘Gelukkig is dié wat genade toon!’

a Dit lyk asof ’n bose gees veroorsaak het dat Elifas tot die gevolgtrekking kom dat Jehovah geen mens as regverdig beskou nie en dat geen mens God dan ooit tevrede kan stel nie. Elifas het hierdie verkeerde idee geglo. Hy het dit in al drie sy sprake herhaal. – Job 4:17; 15:​15, 16; 22:2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel