Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Desember bl. 2-7
  • Die boek Job kan jou help wanneer jy ly

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boek Job kan jou help wanneer jy ly
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD LAAT TOE DAT JOB LY
  • HOE DIE VERSLAG VAN JOB ONS HELP OM TE VOLHARD
  • GEBRUIK DIE BOEK JOB OM ANDER TE HELP
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Hoop op Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Bybelboek nommer 18—Job
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Job
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Desember bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 48

LIED 129 Ons sal volhard

Die boek Job kan jou help wanneer jy ly

“God tree beslis nie goddeloos op nie.” – JOB 34:12.

FOKUS

Wat ons uit die boek Job kan leer oor hoekom God lyding toelaat en hoe ons kan volhard wanneer ons ly.

1-2. Wat is party redes hoekom dit die moeite werd is om die boek Job te lees?

HET jy dit onlangs geniet om die boek Job te lees? Al is hierdie boek omtrent 3 500 jaar gelede geskryf, word dit dikwels onder die meesterstukke van wêreldliteratuur getel. Mense prys die skrywer van hierdie boek omdat hy woorde gebruik wat maklik is om te verstaan, maar wat ook pragtig en kragtig is. Moses is die man wat hierdie merkwaardige boek neergeskryf het, maar die werklike Skrywer is Jehovah God. – 2 Tim. 3:16.

2 Die boek Job is ’n belangrike deel van die Bybel. Hoekom? Om maar een ding te noem, dit openbaar duidelik wat die groot kwessie is waarvoor engele en mense te staan kom – die heiliging van Jehovah se naam. Dit leer ons ook oor Jehovah se wonderlike eienskappe, soos sy liefde, wysheid, geregtigheid en krag. Byvoorbeeld, die boek Job verwys 31 keer na Jehovah as “die Almagtige”, meer as die res van die Bybel altesaam. Die boek Job beantwoord ook baie van die lewe se vrae, insluitende een waaroor baie mense nog steeds wonder: Hoekom laat God lyding toe?

3. Wat is party maniere hoe ons daarby kan baat vind as ons die boek Job studeer?

3 Net soos ’n berg ons ’n uitkykpunt gee vanwaar ons ons omgewing duidelik kan sien, help die boek Job ons om die lewe se moeilike tye vanuit ’n verhewe perspektief te sien – Jehovah se perspektief. Kom ons kyk hoe die boek Job ons kan help wanneer ons ly. Ons sal leer hoe die Israeliete by Job se verhaal kon baat vind en hoe ons vandag daarby kan baat vind. Ons sal ook leer hoe ons hierdie Bybelverslag kan gebruik om ander te help.

GOD LAAT TOE DAT JOB LY

4. Watter skerp teenstelling was daar tussen Job en die Israeliete in Egipte?

4 Gedurende die tyd dat die Israeliete as slawe in Egipte gely het, het ’n man met die naam Job in die land Us gebly, wat moontlik oos van die Beloofde Land en iewers in die noorde van Arabië was. In skerp teenstelling met die Israeliete wat begin het om afgode in Egipte te aanbid, het Job Jehovah getrou gedien (Jos. 24:14; Eseg. 20:8). Jehovah het die volgende van Job gesê: “Daar is niemand soos hy op die aarde nie” (Job 1:8).a Job was verskriklik ryk en het groot aansien geniet – meer as enige ander persoon van die Ooste (Job 1:3). Dit moes Satan seker baie kwaad gemaak het om te sien hoe hierdie prominente en invloedryke man God met integriteit dien!

5. Hoekom het Jehovah toegelaat dat Job ly? (Job 1:​20-22; 2:​9, 10)

5 Satan het beweer dat Job ware aanbidding sou verlaat as hy ly (Job 1:​7-11; 2:​2-5). Al het Jehovah Job baie liefgehad, het Satan se skaamtelose bewering baie belangrike kwessies laat ontstaan, en daarom het Jehovah Satan toegelaat om sy saak te probeer bewys (Job 1:​12-19; 2:​6-8). Satan het Job se diere weggeneem, veroorsaak dat Job se tien kinders sterf en Job van kop tot toon met pynlike swere getref. Maar hierdie sadistiese pogings om Job se integriteit te breek, was nie suksesvol nie. (Lees Job 1:​20-22; 2:​9, 10.) Met verloop van tyd het Jehovah Job se gesondheid, rykdom en reputasie herstel, en Hy het Job nog tien kinders gegee. Hy het ook Job se lewe wonderdadig met 140 jaar verleng, lank genoeg vir hom om te sien hoe vier geslagte van sy nakomelinge floreer (Job 42:​10-13, 16). Hoe kon dié in die verlede by hierdie verslag baat vind, en hoe kan ons vandag daarby baat vind?

6. Hoe kon die verhaal van Job die Israeliete gehelp het? (Sien ook prent.)

6 Hoe die Israeliete kon baat vind. Die verhaal van Job sou die Israeliete wat baie in Egipte gely het, gehelp het. Byvoorbeeld, Josua en Kaleb was slawe toe hulle jonk was. Toe moes hulle 40 jaar lank in die wildernis rondswerf omdat ander Israeliete ongehoorsaam was aan Jehovah. As die Israeliete geweet het van die moeilike tye wat Job deurgemaak het en hoe sy lewe uitgedraai het, sou dit hulle, sowel as die toekomstige Israelitiese geslagte, ongetwyfeld gehelp het om te verstaan wie eintlik verantwoordelik is vir lyding. Hulle sou ook beter verstaan hoekom God lyding toelaat en hoe baie hy mense se integriteit en getrouheid waardeer.

’n Israelitiese man peins terwyl hy in Egipte bakstene op mekaar pak. Egiptenare daar naby slaan ander hardwerkende Israeliete met stokke.

Die Israeliete, wat vir ’n lang tyd slawe in Egipte was, kon uiteindelik daarby baat vind om te weet wat met Job gebeur het (Sien paragraaf 6)


7-8. Hoe kan die boek Job dié van ons help wat ly? Vertel ’n ondervinding.

7 Hoe ons kan baat vind. Ongelukkig het baie mense vandag geloof in God verloor omdat hulle nie kan verstaan hoekom slegte dinge met goeie mense gebeur nie. Kyk na die voorbeeld van Hazelb van Rwanda. Toe sy jonk was, het sy in God geglo. Maar toe het dinge verander. Haar ouers het geskei, en as gevolg daarvan is sy grootgemaak deur haar stiefpa, wat haar sleg behandel het. As ’n tiener is sy verkrag. Toe Hazel na haar plek van aanbidding gegaan het vir vertroosting, het sy dit nie ontvang nie. Later het Hazel ’n brief aan God geskryf. Daarin het sy gesê: “God, ek het tot u gebid, en ek het probeer om goeie dinge te doen, maar u het die goeie met die slegte beloon. Ek verlaat u nou, en ek beplan om te doen wat ook al my gelukkig maak.” Ons harte breek vir mense wat, soos Hazel, leuens oor God vertel is en glo dat God verantwoordelik is vir hulle lyding!

8 Maar ons het uit die verslag in die boek Job geleer dat God nie verantwoordelik is vir lyding nie – Satan is! Ons het ook geleer om nie aan te neem dat dié wat ly, oes wat hulle gesaai het nie. Die Bybel sê vir ons dat “tyd en onverwagse gebeure” enige iemand op enige tyd kan affekteer (Pred. 9:11; Job 4:​1, 8). En ons het geleer dat ons vir Jehovah ’n antwoord gee om vir Satan te gee as ons moeilike tye getrou verduur. Dit help om Sy reputasie te verdedig (Job 2:3; Spr. 27:11). Ons neem nie wat ons geleer het, as vanselfsprekend aan nie – hierdie dinge stel ons in staat om die waarheid te weet oor hoekom ons en ons geliefdes ly. Hazel het later saam met Jehovah se Getuies gestudeer en geleer dat God nie haar lyding veroorsaak het nie. Sy het gesê: “Ek het weer uit my hart tot God gebid. Ek het vir Jehovah gesê dat ek dit nie regtig bedoel het toe ek gesê het dat ek hom gaan verlaat nie. Om die waarheid te sê, ek het hom nie eintlik geken nie. Ek verstaan nou dat Jehovah my liefhet. Ek is uiteindelik gelukkig en tevrede.” Ons is baie dankbaar omdat ons weet hoekom God lyding toelaat! Kom ons bespreek nou hoe die verslag van Job ons persoonlik kan help gedurende moeilike tye.

HOE DIE VERSLAG VAN JOB ONS HELP OM TE VOLHARD

9. Hoe sou jy Job beskryf terwyl hy in die as gesit het? (Jakobus 5:11)

9 Stel jou voor hoe Job alleen in die as gesit het, vol swere en kromgetrek van die pyn. Sy vel, wat donker geword het as gevolg van die siekte, het van sy uitgeteerde liggaam afgedop. Dit het dalk gelyk asof Job, wat fisies uitgeput was, niks anders doen as om homself met potskerwe te krap en om oor sy verskriklike situasie te kla nie. Maar Job was nie net besig om te oorleef nie, hy was besig om te volhard. (Lees Jakobus 5:11.) Wat het Job gehelp om te volhard?

10. Watter soort verhouding het Job met Jehovah gehad? Verduidelik.

10 Job het vir Jehovah gesê presies hoe hy voel (Job 10:​1, 2; 16:20). Byvoorbeeld, hoofstuk 3 sê vir ons dat Job bitterlik gekla het oor die tragedies wat hy ondervind het, wat hy verkeerdelik aangeneem het deur Jehovah veroorsaak is. Toe in ’n reeks debatte met sy drie vriende het Job sy integriteit sterk verdedig en sy antwoorde dikwels aan Jehovah gerig. Job se woorde impliseer dat hy ’n ruk lank gedink het dat hy regverdiger as God is (Job 10:​1-3; 32:​1, 2; 35:​1, 2). Maar in werklikheid het hy erken dat sy pogings om sy integriteit te verdedig soms “wilde praatjies” was (Job 6:​3, 26). In hoofstuk 31 lees ons dat Job wou hê dat God hom moes vryspreek (Job 31:35). Dit was natuurlik verkeerd van Job om daarop aan te dring dat God hom ’n direkte antwoord gee oor hoekom hy ly.

11. Hoe het Jehovah gereageer op Job se antwoord in verband met sy integriteit?

11 Ons verstaan nou dat Job se desperate versoek ’n weerspieëling was van sy heelhartige toegewydheid aan Jehovah en sy vaste hoop dat God sy integriteit op die een of ander manier sou raaksien. Toe Jehovah Job uiteindelik vanuit ’n windstorm antwoord, het Hy nie al die besonderhede gegee oor die redes hoekom Job ly nie. Hy het Job ook nie veroordeel omdat hy gekla het nie of ook nie gepraat oor die kere dat hy gesê het dat hy onskuldig is nie. Jehovah het Job eerder onderrig soos ’n pa ’n seun sou onderrig. En dit was die regte benadering. As gevolg daarvan het Job nederig erken hoe min hy eintlik weet, en hy het berou getoon oor sy oorhaastige woorde (Job 31:6; 40:​4, 5; 42:​1-6). Hoe kon mense in die verlede by hierdie verslag baat vind, en hoe kan ons vandag daarby baat vind?

12. Hoe kon die Israeliete by die verslag van Job baat vind?

12 Hoe die Israeliete kon baat vind. Die Israeliete kon leer uit wat met Job gebeur het. Kyk na Moses se voorbeeld. Hy moes baie moeilike tye en teleurstellings verduur en was baie keer ontmoedig terwyl hy die nasie Israel gelei het. In teenstelling met die rebelse Israeliete, wat dikwels teen Jehovah gekla het, het Moses na Jehovah gegaan met sy bekommernisse (Eks. 16:​6-8; Num. 11:​10-14; 14:​1-4, 11; 16:​41, 49; 17:5). Moses moes ook volhard toe hy persoonlik tereggewys is. Byvoorbeeld, terwyl die Israeliete by Kades gekamp het, moontlik gedurende die 40ste jaar dat hulle deur die wildernis getrek het, het Moses “oorhaastig met sy lippe” gepraat en Jehovah se naam nie verheerlik nie (Ps. 106:​32, 33). As gevolg daarvan het Jehovah Moses nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie (Deut. 32:​50-52). Hierdie dissipline het Moses sekerlik seergemaak; maar hy het dit nederig aanvaar. Die verslag oor Job kon toekomstige geslagte van die Israeliete help om hulle moeilike tye te verduur. As getroues nagedink het oor die verslag, kon hulle leer hoe om vir Jehovah te sê hoe hulle voel en dat hulle hulleself nie voor hom moet regverdig nie. Hulle kon ook leer hoe om Jehovah se dissipline met nederigheid te aanvaar.

13. Hoe kan die verslag van Job ons help om te volhard? (Hebreërs 10:36)

13 Hoe ons kan baat vind. As Christene het ons ook volharding nodig. (Lees Hebreërs 10:36.) Byvoorbeeld, party van ons sukkel met ’n fisiese of ’n emosionele probleem, ’n moeilike gesinsituasie, die dood van ’n geliefde of ’n ander ernstige probleem. En soms maak ander se woorde of dade dit dalk vir ons moeiliker om ons situasie te verduur (Spr. 12:18). Maar die boek Job leer ons dat ons Jehovah van ons diepste gevoelens kan vertel, met die vertroue dat hy ons sal hoor (1 Joh. 5:14). Hy sal ons nie veroordeel as ons opregte versoeke, soos in Job se geval, elke nou en dan grens aan “wilde praatjies” nie. God sal ons eerder die krag en die wysheid gee wat ons nodig het om te volhard (2 Kron. 16:9; Jak. 1:5). Hy sal ons dalk ook teregwys in die mate wat ons nodig het, soos hy met Job gedoen het. Die boek Job leer ons ook hoe om te volhard as ons raad of dissipline uit Jehovah se Woord, van Sy organisasie of van volwasse vriende ontvang (Heb. 12:​5-7). Net soos Job daarby baat gevind het omdat hy die teregwysing wat hy ontvang het, nederig aanvaar het, vind ons daarby baat wanneer ons toelaat dat ons reggehelp word (2 Kor. 13:11). Ons leer beslis waardevolle lesse uit Job! Kom ons kyk nou hoe ons die verslag van Job kan gebruik om ander te help.

GEBRUIK DIE BOEK JOB OM ANDER TE HELP

14. Watter redenasie kan ons in die bediening gebruik om te verduidelik hoekom lyding bestaan?

14 Het jy al ooit iemand in die bediening ontmoet wat gevra het hoekom lyding bestaan? Hoe het jy sy vraag beantwoord? Jy het dalk verwys na wat die Bybel sê in die tuin van Eden gebeur het. Dalk het jy begin deur te noem dat Satan, ’n goddelose gees, vir die eerste mensepaar ’n leuen vertel het wat veroorsaak het dat hulle teen God rebelleer (Gen. 3:​1-6). Toe het jy dalk verduidelik dat lyding en die dood regoor die wêreld begin versprei het nadat Adam en Eva gerebelleer het (Rom. 5:12). Laastens het jy dalk verduidelik dat God toelaat dat genoeg tyd verbygaan om Satan se leuen verkeerd te bewys en om die goeie nuus te versprei dat mense in die toekoms weer volmaak sal wees (Op. 21:​3, 4). Dit is ’n goeie manier om oor die vraag te redeneer, en dit kan tot goeie resultate lei.

15. Hoe kan ons die boek Job gebruik om iemand te help wat vra hoekom lyding bestaan? (Sien ook prente.)

15 Kyk na nog ’n redenasie wat jy dalk by jou benadering wil voeg, een uit die boek Job. Jy kan begin deur die persoon te prys omdat hy so ’n betekenisvolle vraag gevra het. Noem dan dat Job, ’n getroue man wat baie gely het, ’n soortgelyke vraag gevra het. Hy het selfs geglo dat God op die een of ander manier die oorsaak van sy pyn is (Job 7:​17-21). Die persoon met wie jy praat, sal dalk ietwat beïndruk wees dat sy beskouing ’n lang geskiedenis het. Daarna kan jy taktvol verduidelik dat dit die Duiwel is wat Job se lyding veroorsaak het, nie God nie. Die Duiwel het dit gedoen omdat hy wou bewys dat mense God net vir selfsugtige redes dien. Jy kan byvoeg dat God, al het hy nie Job se lyding veroorsaak nie, dit toegelaat het, en dit wys dat God getroue mense vertrou om Satan verkeerd te bewys. Laastens kan jy verduidelik dat God Job met verloop van tyd vir sy getrouheid geseën het. So ons kan ander vertroos deur hulle te verseker dat Jehovah nie die oorsaak van lyding is nie.

Collage: 1. ’n Ontstelde vrou hou ’n geraamde foto vas nadat sy die oorblyfsels van ’n brand deursoek het. 2. Later stop die vrou by ’n trollie naby ’n noodlenigingsentrum en luister sy terwyl ’n suster vir haar ’n teks lees.

Hoe kan jy die boek Job gebruik om ander te verseker dat ‘God nie goddeloos optree nie’? (Sien paragraaf 15)


16. Vertel ’n ondervinding wat wys hoe die boek Job iemand wat ly, kan help.

16 Kyk hoe die boek Job Mario gehelp het. Op ’n dag in 2021 het ’n suster telefoongetuieniswerk gedoen. Gedurende haar eerste oproep het sy ’n Bybelvers met Mario gedeel en verduidelik dat God nie net na ons gebede luister nie maar ook vir ons ’n toekoms en ’n hoop bied. Toe sy Mario vra wat hy daarvan dink, het hy gesê dat hy besig was om ’n selfmoordbrief te skryf toe sy bel. Hy het gesê: “Ek glo in God, maar ek het net vanoggend gewonder of hy my verlaat het.” Gedurende die tweede oproep het hulle oor Job se lyding gepraat. Mario het besluit dat hy die hele boek Job moes lees. Toe het ons suster vir hom ’n skakel na die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel gestuur. Die gevolg? Mario het ’n Bybelstudie aanvaar en was opgewonde om meer te leer oor die liefdevolle God wat belangstelling in hom getoon het.

17. Hoekom is jy dankbaar dat Jehovah die boek Job by Sy geïnspireerde Woord ingesluit het? (Job 34:12)

17 Dit is duidelik dat God se Woord groot krag het om mense te help, insluitende dié wat ly (Heb. 4:12). Ons is baie dankbaar dat Jehovah die verslag van Job by Sy geïnspireerde Woord ingesluit het! (Job 19:​23, 24). Die boek Job verseker ons van die volgende: “God tree beslis nie goddeloos op nie.” (Lees Job 34:12.) Dit leer ons ook hoekom God lyding toelaat en hoe ons dit kan verduur. En dit help ons om dié wat ly, te vertroos. Die volgende artikel sal gedagtes uit die boek Job bespreek, soos hoe om goeie raad te gee.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe vind ons daarby baat omdat ons verstaan hoekom God toegelaat het dat Job ly?

  • Hoe kan die verslag van Job ons help om moeilike tye te verduur?

  • Hoe kan ons die boek Job gebruik om ander te help?

LIED 156 Oë van geloof

a Job het blykbaar gelewe in die tydperk tussen die dood van getroue Josef (1657 VHJ) en Moses se aanstelling as Israel se leier (omtrent 1514 VHJ). Die gesprekke tussen Jehovah en Satan en die moeilike tye wat Job deurgemaak het, het heel moontlik gedurende hierdie tyd plaasgevind.

b Party name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel