Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 September bl. 2-7
  • Roep die ouermanne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Roep die ouermanne
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WANNEER MOET ONS “DIE OUERMANNE . . . ROEP”?
  • HOEKOM MOET ONS DIE OUERMANNE ROEP?
  • HOE HELP DIE OUERMANNE ONS?
  • ONS PERSOONLIKE VERANTWOORDELIKHEID
  • Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Hoe die Christengemeente georganiseer word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Broers – Reik julle uit om as ouermanne te dien?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Herders wat hulle bes doen om Jehovah se volk te help
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 September bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 36

LIED 103 Herders — Gawes in mense

Roep die ouermanne

“Laat hom die ouermanne van die gemeente na hom toe roep.” – JAK. 5:14.

FOKUS

Kry geestelike hulp van die gemeentelike ouermanne wanneer jy dit nodig het.

1. Hoe het Jehovah gewys dat sy skape kosbaar is vir hom?

JEHOVAH se skape is kosbaar vir hom. Hy het hulle met Jesus se bloed gekoop en die gemeentelike ouermanne aangewys om vir Sy kudde te sorg (Hand. 20:28). God wil hê dat sy skape liefdevol behandel moet word. Onder Christus se leierskap verfris die ouermanne die skape, en hulle beskerm hulle teen geestelike gevaar. – Jes. 32:​1, 2. 

2. Aan wie skenk Jehovah spesiale aandag? (Esegiël 34:​15, 16)

2 Jehovah is baie besorgd oor al sy skape, maar hy skenk spesiale aandag aan dié wat ly. Deur middel van die ouermanne help hy dié wat in ’n geestelike sin ly. (Lees Esegiël 34:​15, 16.) Maar hy wil hê dat ons hulp moet soek wanneer ons dit nodig het. Op sulke tye bid ons nie net opreg tot God vir ondersteuning nie, maar ons vra ook die hulp van die “herders en onderrigters” in die gemeente. – Ef. 4:​11, 12.

3. Hoe kan ons almal baat vind by ’n bespreking van die rol wat die ouermanne speel?

3 In hierdie artikel sal ons kyk na die reëling wat God in plek gestel het vir ons om geestelike hulp deur middel van die ouermanne te kry. Ons sal hierdie vrae beantwoord: Wanneer moet ons die ouermanne vir hulp vra? Hoekom moet ons dit doen? En hoe help hulle ons? Al gaan ons nie op die oomblik deur ’n moeilike tyd nie, sal die antwoorde op daardie vrae ons waardering vir God se reëling vergroot en dalk eendag ons lewe red.

WANNEER MOET ONS “DIE OUERMANNE . . . ROEP”?

4. Hoe weet ons dat Jakobus 5:​14-16, 19, 20 na geestelike siekte verwys? (Sien ook prente.)

4 Die dissipel Jakobus lei die onderwerp van God se reëling vir geestelike hulp in deur te vra: “Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouermanne van die gemeente . . . roep.” (Lees Jakobus 5:​14-16, 19, 20.) Die konteks wys dat Jakobus van geestelike siekte praat. Byvoorbeeld, daar word vir die sieke gesê om nie ’n dokter nie, maar die ouermanne te roep. En geestelike siekte word geïmpliseer omdat die genesing die vergifnis van sondes kan insluit. In party opsigte is die stappe wat nodig is om geestelike siekte te behandel, soortgelyk aan dié wat nodig is vir fisiese siektes. Wanneer ons fisies siek is, gaan ons dokter toe, verduidelik ons ons simptome en volg ons sy raad. Net so, wanneer ons geestelik siek is, moet ons na ’n ouerman toe gaan, ons situasie beskryf en die skriftuurlike raad wat ons ontvang, toepas.

Collage: 1. ’n Man verduidelik ’n probleem met sy skouer aan ’n dokter. 2. ’n Broer verduidelik sy situasie aan ’n ouerman terwyl hulle buite op ’n bankie sit.

Wanneer ons fisies siek is, gaan ons dokter toe; wanneer ons geestelik siek is, moet ons na die ouermanne toe gaan (Sien paragraaf 4)


5. Hoe kan ons vasstel of ons besig is om geestelik siek te word?

5 Die reëling wat in Jakobus hoofstuk 5 beskryf word, moedig ons aan om na die ouermanne toe te gaan wanneer ons voel dat ons geestelike gesondheid op enige manier besig is om agteruit te gaan. Maar dit is baie belangrik dat ons hulp moet ontvang voordat ons ons vriendskap met God ernstig beskadig! Ons moet eerlik wees met onsself. Die Bybel waarsku dat ons onsself oor ons geestelike toestand kan bedrieg (Jak. 1:22). Party vroeë Christene in Sardis het hierdie fout gemaak, en Jesus het hulle oor hulle geestelike toestand gewaarsku (Op. 3:​1, 2). Een manier hoe ons kan seker maak of ons geestelik gesond is, is deur die ywer wat ons nou vir ons aanbidding het, te vergelyk met hoe ons voorheen gevoel het (Op. 2:​4, 5). Ons kan onsself afvra: ‘Geniet ek dit nou minder om my Bybel te lees en daaroor na te dink? Het ek my vergaderingvoorbereiding en -bywoning begin afskeep? Het my ywer vir die bediening afgekoel? Spandeer ek meer van my tyd en aandag aan besittings of aan ander dinge?’ As die antwoord op enige van hierdie vrae ja is, kan dit ’n teken wees van ’n swakheid wat waarskynlik erger sal word as jy nie iets daaromtrent doen nie. As ons nie die swakheid op ons eie kan oorkom nie of as dit reeds veroorsaak het dat ons God se standaarde verbreek, moet ons die ouermanne vir hulp vra.

6. Wat moet dié wat ’n ernstige sonde gepleeg het, doen?

6 Dié wat ’n ernstige sonde gepleeg het, een wat daartoe kan lei dat ’n persoon uit die gemeente verwyder word, moet natuurlik na ’n ouerman toe gaan (1 Kor. 5:​11-13). Enige iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, het hulp nodig om hulle verhouding met Jehovah te herstel. Om Jehovah se vergifnis deur middel van die losprys te verkry, moet ons “werke . . . doen wat by berou pas” (Hand. 26:20). Daardie werke sluit in dat ons na die ouermanne toe moet gaan as ons ’n ernstige sonde gepleeg het.

7. Wie anders het die hulp van die ouermanne nodig?

7 Die ouermanne help nie net dié wat ’n ernstige sonde gepleeg het nie, maar ook dié wat geestelik swak is (Hand. 20:35). Byvoorbeeld, jy is dalk bekommerd dat jy besig is om jou geveg teen verkeerde begeertes te verloor. Jou stryd is dalk veral moeilik as jy, voordat jy die waarheid geleer het, aan dwelms verslaaf was, na pornografie gekyk het of ’n onsedelike lewe gelei het. Jy hoef nie hierdie uitdagings alleen te hanteer nie. Jy kan kies om met ’n ouerman te praat wat na jou bekommernisse sal luister, jou praktiese raad sal gee en jou sal verseker dat jy Jehovah gelukkig kan maak deur te weier om op verkeerde begeertes te reageer (Pred. 4:12). As jy mismoedig geword het in jou stryd, kan die ouermanne jou daaraan herinner dat dit heel moontlik wys dat jou verhouding met Jehovah vir jou belangrik is en dat jy nie te veel selfvertroue het nie. – 1 Kor. 10:12.

8. In verband met watter soort sondes hoef ons nie na die ouermanne toe te gaan nie?

8 Ons hoef nie na die ouermanne toe te gaan vir elke bekommernis wat ons dalk oor ons geestelike gesondheid het nie. Byvoorbeeld, sê nou jy sê iets wat ’n broer of ’n suster seermaak of jy verloor dalk selfs jou humeur. Eerder as om na ’n ouerman toe te gaan, kan jy Jesus se raad toepas oor hoe om vrede tussen jou en jou broer of suster te maak (Matt. 5:​23, 24). Jy kan navorsing doen oor sagmoedigheid, geduld en selfbeheersing sodat jy hierdie goeie eienskappe in die toekoms in ’n groter mate kan openbaar. As jy nog steeds hulp nodig het, kan jy natuurlik ’n ouerman vir hulp vra. In sy brief aan die Filippense het die apostel Paulus ’n broer gevra om Euodia en Sintige te help om hulle verskille op te los, en ’n ouerman in jou gemeente kan jou op dieselfde manier help. – Fil. 4:​2, 3. 

HOEKOM MOET ONS DIE OUERMANNE ROEP?

9. Hoekom moet ons die ouermanne nog steeds vir hulp vra, al voel ons skaam oor wat ons gedoen het? (Spreuke 28:13)

9 Ons het geloof en moed nodig om vir hulp te vra wanneer ons ’n ernstige sonde gepleeg het of wanneer ons voel dat ons besig is om ons geveg teen ’n persoonlike swakheid te verloor. Al voel ons skaam, moet ons nie toelaat dat dit keer dat ons die ouermanne roep nie. Hoekom nie? Wanneer ons Jehovah se reëling volg, wys ons dat ons hom vertrou, sowel as sy instruksies wat ons gesond en sterk in die geloof hou. Ons besef dat ons sy hulp nodig het om te bly doen wat reg is (Ps. 94:18). En as ons gesondig het, sal ons God se genade ontvang as ons ons sondes bely en ophou daarmee. – Lees Spreuke 28:13.

10. Wat kan gebeur as ons ons sondes probeer wegsteek?

10 In teenstelling met die seëninge wat ons kry deur met ’n ouerman te praat wanneer ons hulp nodig het, kan ons ons situasie erger maak as ons ons sondes probeer wegsteek. Toe koning Dawid sy sondes probeer wegsteek, het hy geestelik, emosioneel en selfs fisies gely (Ps. 32:​3-5). Nes ’n fisiese siekte of besering raak ’n geestelike probleem dikwels erger as ons dit nie behandel nie. Jehovah verstaan dit, en daarom nooi hy ons om ‘sake reg te stel’ met hom deur middel van die reëling wat hy in plek gestel het vir ons geestelike genesing. – Jes. 1:​5, 6, 18.

11. Hoe kan ander geaffekteer word as ons ernstige sondes wegsteek?

11 As ons ons ernstige sonde wegsteek, kan ons ander affekteer. Ons kan die vloei van God se gees na die hele gemeente keer en die vrede van ons broers en susters bedreig (Ef. 4:30). Net so, as ons uitvind dat iemand anders in die gemeente ’n ernstige sonde gepleeg het, moet ons daardie persoon aanmoedig om met die ouermanne oor die saak te gaan praat.a As ons iemand anders se ernstige sonde wegsteek, sal dit ons ook skuldig maak (Lev. 5:1). Ons liefde vir Jehovah moet ons beweeg om met die ouermanne te gaan praat en hulle die waarheid te vertel. Op daardie manier help ons om die gemeente skoon te hou en help ons die persoon wat gesondig het, om weer ’n goeie verhouding met Jehovah te verkry.

HOE HELP DIE OUERMANNE ONS?

12. Hoe help die ouermanne dié wat geestelik swak is?

12 Die Bybel sê vir die ouermanne om dié te ondersteun wat geestelik swak is (1 Tess. 5:14). As jy gesondig het, sal die ouermanne jou dalk vrae vra om jou gedagtes en gevoelens te verstaan (Spr. 20:5). Jy kan hulle help deur openlik te sê hoe jy voel, al is dit vir jou moeilik as gevolg van jou kultuur, jou persoonlikheid of omdat jy skaam voel oor wat gebeur het. Moenie bang wees dat jou woorde dalk soos “wilde praatjies” sal klink nie (Job 6:3). Ouermanne sal nie vinnig tot ’n gevolgtrekking kom nie; hulle sal eerder mooi probeer luister en die hele prentjie probeer kry voordat hulle jou raad gee (Spr. 18:13). Hulle besef dat dit tyd neem om iemand te help, en daarom verwag hulle nie om moeilike kwessies met een bespreking op te los nie.

13. Hoe kan die ouermanne ons help deur middel van hulle gebede en hulle Bybelse raad? (Sien ook prente.)

13 Wanneer jy die ouermanne roep, sal hulle hard probeer om jou nie skuldiger te laat voel nie. Hulle sal eerder namens jou bid. Jy sal dalk aangenaam verras wees deur die “kragtige uitwerking” wat hulle gebede kan hê. Hulle hulp sluit ook in dat hulle “in die naam van Jehovah olie aan [jou] smeer” (Jak. 5:​14-16). Hierdie “olie” verwys na die waarheid van God se Woord. Deur middel van hulle vaardige gebruik van die Bybel kan die ouermanne jou vertroos en jou help om jou verhouding met Jehovah te herstel (Jes. 57:18). Hulle Bybelse raad kan jou meer vasbeslote maak om te bly doen wat reg is. Deur middel van hulle kan jy hoor hoe Jehovah se stem vir jou sê: “Dit is die weg. Volg dit.” – Jes. 30:21.

Collage: 1. Die dokter van die vorige prent ondersoek die man se skouer. ’n X-straal van die man se skouer is teen die muur. 2. Die ouerman van die vorige prent en ’n ander ouerman gebruik die Bybel om die broer by sy huis aan te moedig. Die broer luister vreugdevol na die ouermanne.

Die ouermanne gebruik die Bybel om siekes te vertroos (Sien paragraaf 13-14)


14. Volgens Galasiërs 6:​1, hoe help die ouermanne iemand wat “’n verkeerde rigting [begin] inslaan” het? (Sien ook prente.)

14 Lees Galasiërs 6:1. ’n Christen wat “’n verkeerde rigting [begin] inslaan”, tree nie in ooreenstemming met God se regverdige standaarde op nie. Die verkeerde rigting kan verwys na ’n oordeelsfout of ’n ernstige oortreding van God se wet. Christenouermanne word gemotiveer deur liefde en probeer “so iemand op ’n sagmoedige manier . . . reghelp”. Die Griekse uitdrukking wat met “reghelp” vertaal word, is gebruik om te beskryf hoe ’n dokter ’n gebreekte been reguit maak sodat die been behoorlik sal genees. Net soos ’n vaardige dokter probeer om ’n gebreekte been met so min pyn as moontlik reguit te maak, fokus die ouermanne daarop om ons geestelike siekte te genees sonder om ons pyn erger te maak. Die Bybel sê ook vir die ouermanne: “Wees versigtig dat julle nie ook in die versoeking kom nie.” Wanneer hulle ons help om ons pad reguit te maak, sal die ouermanne altyd onthou dat hulle ook onvolmaak is en ’n verkeerde rigting kan begin inslaan. Daarom sal hulle baie versigtig wees om nie te dink dat hulle beter of regverdiger is as die persoon wat hulle probeer help nie. Hulle sal eerder nederig wees en meegevoel betoon. – 1 Pet. 3:8.

15. Wat kan ons doen as ons ’n probleem het?

15 Ons kan ons gemeentelike ouermanne vertrou. Hulle is opgelei om ons vertroulike sake privaat te hou, om hulle raad op die Bybel te baseer eerder as op hulle eie opinies en om ons te help om ons laste te dra (Spr. 11:13; Gal. 6:2). Hulle persoonlikhede en ondervinding verskil, maar ons kan vry voel om na enige ouerman toe te gaan om ’n probleem te bespreek. Ons sal natuurlik nie van die een ouerman na die ander gaan en vir raad vra in die hoop dat ons een vind wat vir ons sal sê wat ons wil hoor nie. As ons dit sou doen, sou ons soos dié wees wat na mense toe gaan “wat dinge sê wat hulle graag wil hoor”, eerder as om “die gesonde lering” van God se Woord te leer (2 Tim. 4:3). Wanneer ons na ’n ouerman toe gaan oor ’n probleem, sal hy ons dalk vra of ons met ander ouermanne daaroor gepraat het en watter raad hulle ons gegee het. En beskeidenheid sal hom dalk beweeg om ’n ander ouerman vir raad te vra. – Spr. 13:10.

ONS PERSOONLIKE VERANTWOORDELIKHEID

16. Watter persoonlike verantwoordelikheid het ons?

16 Al waak die ouermanne oor ons as God se skape, sê hulle nie vir ons wat om te doen nie. Ons het ’n persoonlike verantwoordelikheid om ’n lewe van toegewydheid aan God te lei. Ons is verantwoordelik teenoor God vir ons eie woorde en dade. Met sy ondersteuning kan ons wyse besluite maak en lojaal aan hom bly (Rom. 14:12). Dit is hoekom die ouermanne nie vir ons sal sê wat om te doen nie; hulle sal eerder die aandag op God se denke vestig soos gevind kan word in sy Woord. Wanneer ons hulle Bybelse raad volg, kan ons ons eie “denkvermoë” oefen om wyse besluite te maak. – Heb. 5:14.

17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Wat ’n kosbare voorreg het ons om Jehovah se skape te wees! Jehovah het “die goeie herder”, Jesus, gestuur om die losprys vir ons te betaal sodat ons die geleentheid kan hê om vir ewig te lewe (Joh. 10:11). En deur middel van die ouermanne in die Christengemeente het Jehovah sy belofte vervul: “Ek sal vir julle herders gee na my eie hart, en hulle sal julle met kennis en insig voed” (Jer. 3:15). Wanneer ons geestelik swak of siek is, moet ons nie huiwer om die ouermanne te roep om ons te help nie. Laat ons vasbeslote wees om ten volle baat te vind by Jehovah se voorsiening van die gemeentelike ouermanne.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wanneer moet ons die ouermanne roep om ons te help?

  • Hoekom moet ons die ouermanne roep?

  • Hoe help die ouermanne ons?

LIED 31 O, wandel met Jehovah God!

a As die sondaar dit nie na ’n redelike tydperk doen nie, moet jou lojaliteit aan Jehovah jou beweeg om vir die ouermanne te sê wat jy weet.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel