Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 September bl. 8-13
  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JEHOVAH EN JESUS HAAT ONGEREGTIGHEID
  • HOE JESUS ONGEREGTIGHEID HANTEER HET
  • VOLG JESUS NA WANNEER JY ONGEREGTIGHEID SIEN
  • WAT KAN ONS NOU OMTRENT ONGEREGTIGHEID DOEN?
  • Hoe om ongeregtigheid te verduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Jy kan onreg verwerk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Antwoorde op Bybelvrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 September bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 37

LIED 114 Wees geduldig

Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer

“Hy het bly hoop op geregtigheid, maar daar was net ongeregtigheid.” – JES. 5:7.

FOKUS

Hoe Jesus se voorbeeld ons help om op ongeregtigheid te reageer op ’n manier wat Jehovah tevrede stel.

1-2. Hoe reageer baie mense op ongeregtigheid, en waaroor wonder ons dalk?

ONS lewe in ’n onregverdige wêreld. Mense word vir baie redes onregverdig behandel, soos hulle ekonomiese status, geslag, agtergrond of ras. Hulle ly as gevolg van omgewingsprobleme wat veroorsaak of vererger word deur gierige besigheidsmense en korrupte amptenare. Hierdie en ander onregte affekteer ons almal, of dit nou direk of indirek is.

2 Dit is nie verbasend dat baie kwaad is oor die ongeregtigheid wat hulle vandag in die wêreld sien nie. Ons almal wil in ’n wêreld lewe waar ons veilig voel en regverdig behandel word. Party raak betrokke by sosiale hervormingsbewegings. Hulle teken petisies, sluit by protesoptogte aan en ondersteun politieke leiers wat belowe om teen ongeregtigheid te veg. Maar as Christene word ons geleer om “geen deel van die wêreld” te wees nie en om op God se Koninkryk te wag om alle ongeregtigheid te verwyder (Joh. 17:16). Maar ons kan nie help om ontsteld – selfs kwaad – te wees wanneer ons sien dat iemand onregverdig behandel word nie. Ons wonder dalk: ‘Hoe moet ek reageer? Is daar enige iets wat ek nou omtrent ongeregtigheid kan doen?’ Om hierdie vrae te beantwoord, kom ons bespreek eers hoe Jehovah en Jesus oor ongeregtigheid voel.

JEHOVAH EN JESUS HAAT ONGEREGTIGHEID

3. Hoekom is dit verstaanbaar dat ongeregtigheid ons kwaad maak? (Jesaja 5:7)

3 Die Bybel sê hoekom dit verstaanbaar is dat ongeregtigheid ons ontstel. Dit verduidelik dat Jehovah ons na sy beeld geskep het en dat hy “lief [is] vir regverdigheid en geregtigheid” (Ps. 33:5; Gen. 1:26). Hy tree nooit onregverdig op nie, en hy wil nie hê dat enige iemand anders so moet optree nie! (Deut. 32:​3, 4; Miga 6:8; Sag. 7:9). Byvoorbeeld, gedurende die tyd van die profeet Jesaja het Jehovah “’n geroep om hulp” gehoor van baie Israeliete wat sleg behandel is deur ander Israeliete. (Lees Jesaja 5:7.) Jehovah het opgetree deur dié te straf wat sy Wet oor en oor geïgnoreer het en ander herhaaldelik onregverdig behandel het. – Jes. 5:​5, 13.

4. Wat openbaar ’n gebeurtenis in die Evangelies oor hoe Jesus ongeregtigheid beskou? (Sien ook prent.)

4 Soos Jehovah is Jesus lief vir geregtigheid en haat hy ongeregtigheid. By een geleentheid gedurende sy aardse bediening het hy ’n man gesien met ’n gebrek – ’n misvormde hand. Jesus is beweeg om hom te help, maar die ongevoelige godsdiensleiers het baie anders gevoel. Dit was vir hulle belangriker om hulle streng interpretasie van die Sabbatswet af te dwing as om die minderbevoorregte man te help. Hoe het Jesus gevoel oor hulle reaksie? Hy was “baie hartseer omdat hulle harte so ongevoelig was”. – Mark. 3:​1-6.

Jesus is in ’n sinagoge en hy praat met Joodse godsdiensleiers oor die man met ’n misvormde hand wat hy op die punt is om te genees. Die godsdiensleiers kyk krities na Jesus.

Joodse godsdiensleiers het nie empatie gehad met dié wat hulp nodig gehad het nie, maar Jesus het (Sien paragraaf 4)


5. Wat moet ons onthou oor die woede wat ons dalk voel in verband met ’n onreg?

5 Aangesien ongeregtigheid beide Jehovah en Jesus kwaad maak, is dit nie verkeerd dat ons ook so voel nie (Ef. 4:26 en studienota “Be wrathful” in nwtsty). Maar ons moet onthou dat enige woede wat ons voel – al is dit geldig – nie ongeregtigheid sal regstel nie. Om die waarheid te sê, langdurige of onbeheerste woede kan ons emosioneel en fisies benadeel (Ps. 37:​1, 8; Jak. 1:20). So hoe moet ons ongeregtigheid hanteer? Ons kan uit Jesus se voorbeeld leer.

HOE JESUS ONGEREGTIGHEID HANTEER HET

6. Watter onregte was algemeen toe Jesus op die aarde was? (Sien ook prent.)

6 Jesus het baie ongeregtigheid gesien toe hy op die aarde was. Hy het gesien hoe die gewone mense deur die godsdiensleiers onderdruk is (Matt. 23:​2-4). Hy was bewus van hoe wreed die Romeinse owerheid die mense behandel het. Baie Jode wou onafhanklikheid hê van Rome. Party, soos die Selote, was bereid om daarvoor te veg. Maar Jesus het nie bewegings vir sosiale verandering begin of ondersteun nie. Toe Jesus uitvind dat mense hom koning wou maak, het hy van hulle af weggegaan. – Joh. 6:15.

Jesus loop alleen teen ’n bergpad op. ’n Groot groep mense staan aan die onderkant van die berg.

Jesus het van die mense af weggegaan toe hulle hom by politieke kwessies van daardie tyd wou betrek (Sien paragraaf 6)


7-8. Hoekom het Jesus nie probeer om ongeregtigheid te verwyder toe hy op die aarde was nie? (Johannes 18:36)

7 Toe Jesus op die aarde was, het hy nie met die politieke stelsels van daardie tyd probeer saamwerk om ongeregtigheid te verwyder nie. Hoekom nie? Hy het geweet dat mense nie die reg of die vermoë het om oor hulleself te regeer nie (Ps. 146:3; Jer. 10:23). Hulle is ook nie in staat om die hoofoorsaak van ongeregtigheid te verwyder nie. Die wêreld word deur Satan die Duiwel beheer, ’n moorddadige geesskepsel wat sy gesag gebruik om ongeregtigheid aan te hits (Joh. 8:44; Ef. 2:2). En as gevolg van onvolmaaktheid is dit selfs vir mense met die beste bedoelings onmoontlik om altyd regverdig op te tree. – Pred. 7:20.

8 Jesus het geweet dat net God se Koninkryk die hoofoorsaak van ongeregtigheid ten volle sal verwyder. Daarom het hy sy tyd en energie gebruik om te preek en “die goeie nuus van die Koninkryk van God” bekend te maak (Luk. 8:1). Hy het “dié wat honger en dors na regverdigheid,” daarvan verseker dat die einde van korrupsie en ongeregtigheid sal kom (Matt. 5:6 en studienota in nwtsty; Luk. 18:​7, 8). Maar dit sal nie bereik word deur middel van sosiale hervorming nie, maar deur middel van die heerskappy van God se hemelse regering, wat “geen deel van hierdie wêreld [is] nie”. – Lees Johannes 18:36.

VOLG JESUS NA WANNEER JY ONGEREGTIGHEID SIEN

9. Wat oortuig jou dat net God se Koninkryk alle ongeregtigheid sal verwyder?

9 Vandag sien ons selfs meer ongeregtigheid as wat Jesus gesien het toe hy op die aarde was. Maar die bron van ongeregtigheid in hierdie “laaste dae” is nog steeds Satan en die onvolmaakte mense onder sy invloed (2 Tim. 3:​1-5, 13; Op. 12:12). Soos Jesus weet ons dat net God se Koninkryk die hoofoorsaak van ongeregtigheid sal verwyder. Omdat ons daardie Koninkryk ten volle ondersteun, weier ons om betrokke te raak by hierdie wêreld se protesoptogte en ander pogings om teen ongeregtigheid te veg. Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Stacy.a Voordat Stacy die waarheid geleer het, het sy gereeld by protesoptogte aangesluit om sosiale hervorming te bevorder. Maar sy het begin wonder oor wat sy doen. Sy sê: “Wanneer ek by protesoptogte was, het ek gewonder of ek aan die regte kant is. Noudat ek God se Koninkryk ondersteun, weet ek dat ek aan die regte kant is. Ek weet dat Jehovah beter vir elke slagoffer van onderdrukking sal veg as wat ek ooit kan.” – Ps. 72:​1, 4.

10. Op watter manier is sosiale hervormingsbewegings nie in ooreenstemming met Jesus se raad in Matteus 5:​43-48 nie? (Sien ook prent.)

10 Die sosiale hervormingsbewegings van hierdie wêreld word dikwels gekenmerk deur ’n onafhanklike en bitter gees wat teenstrydig is met Jesus se voorbeeld en leringe (Ef. 4:31). ’n Broer met die naam Jeffrey sê: “Ek weet dat mense gedurende protesoptogte vinnig so kwaad kan word dat hulle dinge begin breek en steel en mekaar selfs seermaak.” Maar Jesus leer ons om alle mense liefdevol te behandel, selfs dié wat nie met ons saamstem nie of ons vervolg. (Lees Matteus 5:​43-48.) As Christene doen ons ons bes om enige iets te vermy wat nie in ooreenstemming is met die patroon wat Jesus vir ons gestel het nie.

’n Suster kyk kalm vorentoe terwyl sy in ’n besige straat in die stad verby ’n groep betogers stap.

Dit verg vasbeslotenheid om neutraal te bly wanneer dit kom by die politieke en sosiale kwessies van ons tyd (Sien paragraaf 10)


11. Wat kan ons vasbeslotenheid toets om nie sosiale hervormingsbewegings te ondersteun nie?

11 Al weet ons dat God se Koninkryk ongeregtigheid permanent sal beëindig, kan ons dit moeilik vind om Jesus na te volg wanneer ons onregverdig behandel word. Kyk na wat gebeur het met Janiya, wat diskriminasie ondervind het. Sy erken: “Ek was woedend. Ek het ook seergemaak gevoel en wou hê dat die mense wat teen my gediskrimineer het, gestraf moet word. Toe het ek daaraan gedink om ’n beweging te ondersteun wat teen rassisme en diskriminasie betoog. Ek het gevoel dat dit ’n veilige manier is om aan my woede uiting te gee.” Maar met verloop van tyd het Janiya besef dat sy veranderinge moet maak. “Ek was besig om ander toe te laat om my te beïnvloed om my vertroue in mense te stel eerder as in Jehovah. Ek het besluit om alle assosiasie met die beweging te beëindig.” Ons moet versigtig wees om nie toe te laat dat enige geregverdigde woede wat ons voel, veroorsaak dat ons ons neutrale standpunt in verband met hierdie wêreld se politieke en sosiale kwessies prysgee nie. – Joh. 15:19.

12. Hoekom is dit wys om selektief te wees wanneer dit kom by die inligting wat ons inneem?

12 Wat kan ons help om ons woede oor ’n onreg te beheer? Dit het baie mense gehelp om selektief te wees wanneer dit kom by wat hulle lees, waarna hulle luister en wat hulle kyk. Party stories op sosiale media word oorgedra met die doel om mense te skok en om oor die regering te kla. Dikwels dra nuusagentskappe inligting op ’n bevooroordeelde manier oor. Al hoor ons ’n verslag oor ’n geldige onreg, sal dit ons regtig help om daaroor te tob? As ons baie tyd daaraan spandeer om sulke inligting in te neem, sal dit ons dalk onnodig frustreer of ontmoedig (Spr. 24:10). Selfs erger, ons kan die beste oplossing vir alle ongeregtigheid – God se Koninkryk – uit die oog verloor.

13. Hoe kan ’n goeie roetine van Bybellees ons help om die regte gesindheid teenoor ongeregtigheid te behou?

13 ’n Goeie roetine van Bybellees en bepeinsing kan ons help om ongeregtigheid te hanteer. ’n Suster met die naam Alia was baie ontsteld oor hoe sleg mense in haar gemeenskap behandel is. Dit het gelyk asof dié wat die slegte behandeling veroorsaak het, nie daarvoor verantwoordelik gehou is nie. Sy sê: “Ek moes gaan sit en my afvra: ‘Glo ek regtig dat Jehovah hierdie probleme sal oplos?’ Dit was gedurende daardie tyd dat ek Job 34:​22-29 gelees het. Daardie verse het my herinner aan die feit dat niemand vir Jehovah kan wegkruip nie. Net hy het ’n volmaakte sin vir geregtigheid, en net hy sal sake heeltemal regstel.” Maar terwyl ons vir God se Koninkryk wag om ware geregtigheid te bring, ondervind ons nou ongeregtigheid. Hoe kan ons dit hanteer?

WAT KAN ONS NOU OMTRENT ONGEREGTIGHEID DOEN?

14. Wat kan ons doen om te keer dat ons bydra tot hierdie wêreld se onregte? (Kolossense 3:​10, 11)

14 Ons kan nie die onregverdige dade van ander beheer nie, maar ons kan ons eie dade beheer. Soos voorheen bespreek is, volg ons Jesus na deur liefde te betoon. Sulke liefde kan ons beweeg om respekvol te wees teenoor ander – selfs teenoor dié wat ons sleg behandel (Matt. 7:12; Rom. 12:17). Dit maak Jehovah bly wanneer ons almal liefdevol en regverdig behandel. – Lees Kolossense 3:​10, 11.

15. Watter uitwerking het die feit dat ons Bybelwaarheid met ander deel op huidige ongeregtigheid?

15 Die belangrikste manier hoe ons op ongeregtigheid kan reageer, is deur Bybelwaarhede met ander te deel. Hoekom sê ons so? Omdat “die kennis van Jehovah” ’n persoon wat voorheen aggressief en gewelddadig was, kan verander in ’n liefdevolle, vreedsame individu (Jes. 11:​6, 7, 9). Voordat ’n man met die naam Jemal die waarheid geleer het, het hy by ’n rebellegroep aangesluit om teen ’n politieke regering te veg wat hy gevoel het onderdrukkend was. Hy sê: “Jy kan nie mense dwing om te verander nie. Ek is nie gedwing om te verander nie, maar ek is verander deur Bybelwaarheid wat ek besig was om te leer.” Die dinge wat Jemal geleer het, het hom gemotiveer om op te hou veg. Hoe meer mense deur Bybelwaarheid verander word, hoe minder mense sal tot huidige ongeregtigheid bydra.

16. Hoekom is jy gemotiveerd om die Koninkrykshoop met ander te deel?

16 Soos Jesus is ons gretig om vir mense te vertel dat God se Koninkryk die enigste permanente oplossing vir ongeregtigheid is. Daardie hoop kan dié wat al sleg behandel is, aanmoedig (Jer. 29:11). Stacy, wat vroeër aangehaal is, verduidelik: “Om die waarheid te leer, het my gehelp om die onregte wat ek gesien en ondervind het, te hanteer. Jehovah gebruik die Bybel se boodskap om vertroosting te voorsien.” Om die Bybel se vertroostende boodskap oor die oplossing vir ongeregtigheid met ander te deel, moet jy goed voorbereid wees. Hoe meer oortuig jy word van die betroubaarheid van die Bybelse gedagtes wat in hierdie artikel bespreek word, hoe beter toegerus sal jy wees om hierdie onderwerp op ’n taktvolle manier te bespreek as dit by die skool of by die werk opkom.b

17. Hoe help Jehovah ons om huidige ongeregtigheid te hanteer?

17 Ons weet dat ons ongeregtigheid sal ondervind solank as wat Satan “die heerser van hierdie wêreld” bly. Maar ons is nie hulpeloos of hopeloos terwyl ons wag dat hy “uitgedryf” word nie (Joh. 12:31). Deur middel van die Bybel openbaar Jehovah nie net hoekom daar so baie ongeregtigheid is nie, maar ook hoe hy voel oor die moeilike tye wat dit vir ons veroorsaak (Ps. 34:​17-19). Deur middel van sy Seun leer Jehovah ons hoe ons moet reageer op huidige ongeregtigheid en hoe sy Koninkryk binnekort ongeregtigheid eens en vir altyd sal verwyder (2 Pet. 3:13). Laat ons aanhou om die goeie nuus van daardie Koninkryk ywerig te verkondig, terwyl ons gretig uitsien na die tyd wanneer die aarde vol “geregtigheid en regverdigheid” sal wees. – Jes. 9:7.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom ontstel ongeregtigheid ons so baie?

  • Hoekom ondersteun ons nie mensepogings om teen ongeregtigheid te veg nie?

  • Wat kan ons doen wanneer ons of ander ongeregtigheid ondervind?

LIED 158 “Dit sal nie laat wees nie!”

a Party name is verander.

b Sien ook aanhangsel A punt 24-27 in die brosjure Wees lief vir mense – Maak dissipels.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel