Hoe om doeltreffende inleidings voor te berei
1. Hoe belangrik is ’n goeie inleiding?
1 Net soos ’n smaaklike voorgereg afwagting wek vir die maaltyd wat daarop volg, baan ’n goeie inleiding die weg tot ’n positiewe skriftuurlike bespreking. Doeltreffende inleidings kan van lengte en inhoud verskil, maar net soos smaaklike kos verg dit altyd goeie voorbereiding (Spr. 15:28). Wat kan ons help om ’n doeltreffende inleiding voor te berei?
2. Hoe kan ons ’n interessante inleiding voorberei?
2 Kies onderwerpe wat belangstelling wek: As ons inleiding nie die huisbewoner se belangstelling wek nie, sal hy dalk die gesprek beëindig. Wanneer ons voorberei, moet ons dus dink aan dinge wat plaaslik van belang is. Stel mense in die gemeenskap belang in goeie regering, ’n gelukkige gesinslewe of ’n einde aan oorlog? Oor die algemeen hou mense daarvan om hulle mening te lug, en daarom moet ons ’n gedagteprikkelende beskouingsvraag voorberei. Kan jy een van die voorgestelde inleidings in Ons Koninkryksbediening gebruik en dit volgens julle gebied aanpas? Oefen gerus van tyd tot tyd ’n paar inleidings gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding.
3. Hoe kan ons ons inleiding aanpas volgens die kultuur en agtergrond van die mense in ons gebied?
3 Neem kultuur en agtergrond in ag: Op party plekke verwag mense dat ons eers die rede vir ons besoek moet meld. Op ander plekke word dit as onbeleefd beskou as ’n besoeker nie eers vra hoe dit met die huisbewoner gaan en dan iets oor homself sê nie. In sommige gebiede laat die godsdiensagtergrond van die mense ons toe om vryelik in ons inleiding na die Bybel te verwys (Hand. 2:14-17). Maar in gebiede waar mense aan ’n nie-Christelike godsdiens behoort, of aan geen godsdiens behoort nie, sal dit dalk beter wees om tydens ’n herbesoek van die Bybel melding te maak en nie tydens die eerste besoek nie.—Hand. 17:22-31.
4. Wat moet ons in verband met ons inleidende woorde in gedagte hou?
4 Die inleidende woorde: Berei jou inleidende woorde noukeurig voor. Kort, eenvoudige sinne is gewoonlik die beste. Die manier waarop ons ons inleidende woorde sê, is ook baie belangrik. Wees entoesiasties. ’n Opregte en vriendelike glimlag sal toon dat jy in die huisbewoner belangstel. As ons hierdie wenke volg, sal dit ons help om interessante inleidings voor te berei wat mense in ons gebied sal aanspoor om hulle aan “die tafel van Jehovah” te voed.—1 Kor. 10:21.