Het jy al die agterblad gebruik?
Wanneer mense ’n tydskrif optel, kyk hulle gewoonlik na die voorblad, waarna hulle dit outomaties omdraai en vlugtig na die agterblad kyk. Die agterblad van die publieke uitgawe van Die Wagtoring bevat verskeie gedagteprikkelende vrae en stellings tesame met die bladsynommers wat aandui waar die inligting gevind kan word.
Ons kan die agterblad gebruik om goeie idees te kry vir vrae waarmee ons ’n gesprek kan begin. As ons die gebied dikwels werk, kan ons ons aanbieding afwissel deur verskillende vrae gedurende die maand te gebruik. As ’n huisbewoner besig is, kan ons ons aanbieding verkort deur vir hom een van die vrae op die agterblad te wys en te sê: “As jy graag wil weet wat die antwoord is, kan ek hierdie tydskrifte by jou laat, en ons kan verder gesels wanneer jy tyd het.” Party verkondigers sal dalk gesprekke wil begin deur die agterblad vir die huisbewoner te wys en hom te nooi om ’n vraag te kies waarin hy belangstel. Dan kan hulle hom wys waar die antwoord gevind kan word en ’n teks lees wat hulle vooraf gekies het. Miskien kan jy aan ander maniere dink om die agterblad te gebruik om belangstelling in Die Wagtoring aan te wakker.