Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/10 bl. 3-6
  • Jy kan informeel getuig!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan informeel getuig!
  • Ons Koninkryksbediening—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Praat oor die heerlikheid van God se koningskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Bied die Goeie Nuus Aan—Getuig informeel
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Is jy gereed vir informele getuieniswerk?
    Ons Koninkryksbediening—2009
  • Loof Jehovah deur informeel te getuig
    Ons Koninkryksbediening—2003
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2010
km 8/10 bl. 3-6

Jy kan informeel getuig!

1. (a) Wat is informele getuieniswerk? (b) Hoeveel by hierdie vergadering het die eerste keer deur middel van informele getuieniswerk met die waarheid in aanraking gekom?

1 Hoeveel in julle gemeente het die eerste keer deur middel van informele getuieniswerk met die waarheid in aanraking gekom? Die antwoord sal julle dalk verbaas. Informele getuieniswerk behels dat ons die goeie nuus verkondig aan mense wat ons in ons daaglikse bedrywighede teëkom—wanneer ons reis, familielede of bure besoek, inkopies doen, by die skool of by die werk is, ensovoorts. In een groep van meer as 200 gedoopte Getuies is 40 persent die eerste keer deur middel van informele getuieniswerk gekontak! Hierdie predikingsmetode is dus baie doeltreffend.

2. Watter voorbeelde van informele getuieniswerk vind ons in die Skrif?

2 In die eerste eeu het evangeliedienaars dikwels informeel getuig. Byvoorbeeld, terwyl Jesus deur Samaria gereis het, het hy vir ’n vrou getuig wat water by Jakob se fontein kom skep het (Joh. 4:6-26). Filippus het ’n gesprek begin met ’n Etiopiese hofbeampte wat uit die boek Jesaja gelees het, deur te vra: “Verstaan u werklik wat u lees?” (Hand. 8:26-38). Toe die apostel Paulus in Filippi in die gevangenis was, het hy vir ’n tronkbewaarder getuig (Hand. 16:23-34). Later, terwyl Paulus onder huisarres was, het hy “almal wat na hom toe ingekom het, vriendelik ontvang en die koninkryk van God aan hulle verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus geleer” (Hand. 28:30, 31). Ook jy kan informeel getuig, selfs as jy skaam is. Hoe?

3. Wat kan ons help om skaamheid te oorkom?

3 Berei jou voor: Baie van ons vind dit moeilik om gesprekke met vreemdelinge te begin. Dit kan selfs vir ons ’n bietjie moeilik wees om met kennisse oor die waarheid te praat. Ons sal egter aangespoor voel om te praat as ons peins oor Jehovah se goedheid, die geestelike skatte wat hy vir sy knegte gegee het en die droewige toestand waarin mense in die wêreld verkeer (Jona 4:11; Ps. 40:5; Matt. 13:52). Daarbenewens kan ons Jehovah vra om ons te help om ‘vrymoedigheid bymekaar te skraap’ (1 Tess. 2:2). ’n Gileadstudent het gesê: “Ek het al dikwels gevind dat gebed my help wanneer dit vir my moeilik is om met mense te praat.” As jy huiwerig voel, kan jy ’n kort, stille gebed doen.—Neh. 2:4.

4. Watter doelwit kan ons aanvanklik stel, en waarom?

4 Soos die term informele getuieniswerk te kenne gee, is dit nie nodig om die gesprek met ’n formele inleiding of ’n teks te begin nie. Dit sal dalk help as jy jou ten doel stel om eenvoudig ’n gesprek te begin sonder om te voel dat ons dadelik hoef te getuig. Baie verkondigers sê dat hierdie stap hulle die nodige selfvertroue gee om uiteindelik oor die goeie nuus te begin praat. As die persoon nie wil gesels nie, moet jy hom nie probeer dwing nie. Sluit die gesprek vriendelik af en laat dit daar.

5. Wat help een skamerige suster om informeel te getuig?

5 Wanneer een skamerige suster inkopies doen, maak sy eers oogkontak, waarna sy vriendelik glimlag. As die persoon ook glimlag, maak sy ’n kort opmerking. As die persoon gunstig reageer, gee dit haar die selfvertroue om verder te gesels. Sy luister aandagtig en probeer onderskei watter aspek van die goeie nuus by die persoon byval sal vind. Deur hierdie benadering te gebruik, het sy al baie lektuur by mense gelaat en selfs ’n Bybelstudie begin.

6. Hoe kan ons in informele omstandighede ’n gesprek begin?

6 Hoe om gesprekke te begin: Wat kan ons sê om ’n gesprek te begin? Toe Jesus met die vrou by die put gepraat het, het hy begin deur haar bloot ’n bietjie water te vra (Joh. 4:7). Dalk kan ons ’n gesprek begin deur iemand vriendelik te groet of ’n vraag te vra. Terwyl julle gesels, sal jy moontlik ’n geleentheid vind om ’n skriftuurlike gedagte in te bring of ’n saadjie van waarheid te saai (Pred. 11:6). Party het gevind dat dit werk om ’n gedagteprikkelende stelling te maak wat die ander persoon laat wonder en ’n vraag laat vra. Wanneer jy byvoorbeeld in ’n dokter se spreekkamer wag, kan jy ’n gesprek aanknoop deur te sê: “Ek sien daarna uit om nie meer siek te word nie.”

7. Hoe sal oplettendheid ons help om informeel te getuig?

7 Oplettendheid sal ons ook help om gesprekke te begin. As ons ’n ouer met goedgemanierde kinders sien, kan ons die ouer prys en vra: “Wat het jou gehelp om ’n suksesvolle ouer te wees?” Een suster neem kennis van die onderwerpe wat ander by die werk bespreek en gaan soek dan spesifieke inligting oor die dinge waarin haar kollegas belangstel sodat sy dit vir hulle kan gee. Toe sy uitgevind het dat ’n vrou by haar werk gaan trou, het sy vir haar ’n Ontwaak! gegee met inligting oor hoe om ’n troue te beplan. Dit het tot verdere Bybelbesprekings gelei.

8. Hoe kan ons ons lektuur gebruik om gesprekke aan te knoop?

8 Nog ’n manier om gesprekke aan te knoop, is om ons lektuur te lees waar ander ons kan sien. Een broer maak Die Wagtoring of Ontwaak! by ’n artikel met ’n interessante titel oop en begin dit stilweg lees. As hy sien dat iemand naby hom na sy tydskrif kyk, vra hy ’n vraag of maak hy ’n kort opmerking oor die artikel. Dit lei dikwels tot ’n gesprek en ’n getuienis. As ons een van ons publikasies neersit op ’n plek waar ander dit kan sien, kan dit werksmaats of klasmaats se nuuskierigheid prikkel en hulle vrae daaroor laat vra.

9, 10. (a) Hoe kan ons geleenthede skep om informeel te getuig? (b) Wat het jou al gehelp om dit te doen?

9 Skep geleenthede: Met die oog op die dringendheid van die predikingswerk moet ons informele getuieniswerk nie as iets beskou wat bloot aan die toeval oorgelaat kan word nie. Ons moet eerder tydens ons daaglikse bedrywighede geleenthede probeer skep om te getuig. Dink aan watter mense jy waarskynlik sal teëkom en hoe jy ’n vriendelike gesprek kan begin. Hou ’n Bybel byderhand sowel as lektuur wat jy vir diegene kan gee wat belangstelling toon.—1 Pet. 3:15.

10 Vindingrykheid het baie verkondigers al gehelp om geleenthede te skep om informeel te getuig. ’n Suster wat in ’n hoësekuriteitswoonstelblok woon, gebruik die plek se ontspanningsarea om legkaarte van pragtige natuurtonele te bou. Wanneer mense stop en oor die pragtige toneel kommentaar lewer, gebruik sy dié geleentheid om ’n gesprek te begin en vir hulle te vertel van die Bybel se belofte van “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” (Op. 21:1-4). Kan jy aan maniere dink waarop jy geleenthede kan skep om informeel te getuig?

11. Hoe kan ons die belangstelling wat ons tydens informele getuieniswerk vind, verder kweek?

11 Kweek die belangstelling verder: As jy ’n horende oor vind, moet jy die belangstelling verder probeer kweek. As dit gepas is, kan jy vir die persoon sê: “Ek het dit regtig geniet om met jou te praat. Waar kan ek jou in die hande kry sodat ons weer kan gesels?” Party verkondigers gee eenvoudig hulle adres en telefoonnommer vir die persoon en sê: “Ek het ons gesprek geniet. Hier is my kontakbesonderhede as jy meer wil weet omtrent wat ons bespreek het.” As jy die belangstelling nie self verder kan kweek nie, moet jy reël dat die gepaste gemeente dit doen deur so gou as moontlik ’n Volg asseblief op-vorm (S-43) in te vul en vir jou gemeentelike sekretaris te gee.

12. (a) Waarom moet ons rekord hou van die tyd wat ons aan informele getuieniswerk bestee en dit rapporteer? (b) Watter resultate is al as gevolg van informele getuieniswerk behaal? (Sien die venster “Informele getuieniswerk lewer resultate!”)

12 Die tyd wat ons aan informele getuieniswerk bestee, moet gerapporteer word. Maak dus seker dat jy rekord daarvan hou, al is dit net ’n paar minute per dag. Dink hieraan: As elke verkondiger elke dag vyf minute lank informeel getuig, sal dit ’n totaal van meer as 17 miljoen uur elke maand wees!

13. Wat moet ons beweeg om informeel te getuig?

13 Ons het die edelste redes om informeel te getuig—liefde vir God en ons naaste (Matt. 22:37-39). ’n Hart vol waardering vir Jehovah se eienskappe en voornemens beweeg ons om oor “die heerlikheid van die prag van sy koningskap” te praat (Ps. 145:7, 10-12). Opregte besorgdheid oor ons naaste beweeg ons om elke geleentheid te benut om die goeie nuus te verkondig terwyl daar nog tyd is (Rom. 10:13, 14). Met ’n bietjie beplanning en voorbereiding kan ons almal informeel getuig en moontlik die vreugde smaak om iemand wat opreg van hart is, van die waarheid te vertel.

[Lokteks op bladsy 4]

Dit sal dalk help as jy jou ten doel stel om eenvoudig ’n gesprek te begin met mense wat jy teëkom

[Lokteks op bladsy 5]

Vindingrykheid het baie verkondigers al gehelp om geleenthede te skep om informeel te getuig

[Venster op bladsy 5]

Wenke om gesprekke te begin

◼ Bid vir hulp om te begin praat

◼ Kies mense wat vriendelik lyk en nie haastig is nie

◼ Maak oogkontak, glimlag en lewer kommentaar oor iets waarin julle al twee belangstel

◼ Wees ’n goeie luisteraar

[Venster op bladsy 6]

Informele getuieniswerk lewer resultate!

• Terwyl ’n broer by ’n garage gewag het dat sy motor herstel word, het hy getuig vir diegene wat daar was en vir hulle uitnodigings na die openbare toespraak gegee. ’n Jaar later by ’n streekbyeenkoms het ’n broer wat hy nie herken het nie, hom hartlik gegroet. Dit was een van die mans vir wie hy die vorige jaar ’n uitnodiging by die garage gegee het! Die man het na die openbare toespraak gaan luister en ’n Bybelstudie gevra. Hy sowel as sy vrou is nou gedoop.

• ’n Suster wat die waarheid deur middel van informele getuieniswerk geleer het, beskou die mense wat sy deur haar drie kinders ontmoet, as haar spesiale gebied. Haar gebied sluit bure in sowel as ouers wat sy by die skool en by oueraande ontmoet. Wanneer sy haar voorstel, sê sy op ’n eenvoudige dog opregte manier dat die Bybel haar ontsettend baie help om haar kinders groot te maak, en dan praat sy oor ’n ander onderwerp. Maar omdat die ys gebreek is, vind sy dit baie makliker om in verdere besprekings oor die Bybel te praat. Deur hierdie metode te gebruik, het sy al 12 mense gehelp om tot doop te vorder.

• Toe ’n versekeringsagent ’n suster besoek het, het sy die geleentheid aangegryp om vir hom te getuig. Sy het hom gevra of hy graag verseker wil wees van goeie gesondheid, geluk en ewige lewe. Hy het ja gesê en haar gevra van watter versekeringspolis sy praat. Sy het vir hom die Bybel se beloftes gewys en een van ons publikasies aangebied, wat hy in een aand deurgelees het. ’n Bybelstudie is gereël. Hy het vergaderinge begin bywoon en is later gedoop.

• Terwyl ’n suster per vliegtuig gereis het, het sy met die vrou langs haar begin praat en kon sy vir haar getuig. Ná die vlug het die suster haar adres en telefoonnommer vir die vrou gegee en haar aangespoor om ’n Bybelstudie te vra wanneer Jehovah se Getuies haar weer besoek. Die volgende dag het twee Getuies aan die vrou se deur geklop. Die vrou het die Bybel begin studeer, het vinnig gevorder, is gedoop en het kort voor lank self drie Bybelstudies gehad.

• ’n Honderdjarige blinde broer wat in ’n verpleeginrigting is, sê dikwels: “Ons het die Koninkryk nodig.” Dit het verpleegsters en pasiënte vrae laat vra wat hom die geleentheid gegee het om te verduidelik wat die Koninkryk is. Een van die vroue wat daar werk, het hom gevra wat hy in die Paradys sal doen. Hy het geantwoord: “Ek sal weer kan sien en loop, en ek gaan my rolstoel verbrand.” Omdat hy blind is, vra hy haar om die tydskrifte vir hom te lees. Toe die broer se dogter hom besoek het, het die werker die dogter gevra of sy die tydskrifte huis toe kan neem. ’n Verpleegster het vir die dogter gesê: “Ons almal in die verpleeginrigting sê deesdae: ‘Ons het die Koninkryk nodig.’”

• ’n Suster wat in ’n ry by ’n restaurant gewag het, het gehoor hoe ’n groep bejaarde mans wat daar naby gesit het, politieke kwessies bespreek. Een man het gesê dat die regering nie ons probleme kan oplos nie. Die suster het vir haarself gesê: ‘Dít is my kans.’ Sy het ’n kort gebed gedoen en na hulle toe gegaan. Nadat sy haar voorgestel het, het sy hulle vertel van ’n regering wat die mensdom se probleme sal oplos, God se Koninkryk, en vir hulle ’n brosjure aangebied wat sy by haar gehad het. Op daardie oomblik het die bestuurder na hulle toe gekom. Die suster het gedink dat hy haar gaan vra om te loop. Maar hy het vir haar gesê dat hy geluister het en dat hy ook ’n brosjure wil hê. ’n Werknemer wat ook geluister het, het nader gekom terwyl trane oor haar wange gerol het. Sy het voorheen die Bybel gestudeer en wou haar studie hervat.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel