Bied die tydskrifte aan wat van die waarheid getuig
1. Verduidelik die rol van Die Wagtoring en die Ontwaak!
1 Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan en sy medetydskrif die Ontwaak! bly aan die voorpunt van die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matt. 24:14; 28:19, 20). Ons geniet dit om hierdie twee tydskrifte gereeld aan te bied terwyl ons aan verskillende aspekte van die Koninkryksdiens deelneem.
2. Watter veranderinge is al aan Die Wagtoring en die Ontwaak! aangebring, en waarom?
2 Oor die jare heen het ons veranderinge in die grootte en inhoud van die tydskrifte gesien, sowel as in die metodes wat ons gebruik om dit te versprei. Hierdie veranderinge is aangebring om die tydskrifte aantrekliker en doeltreffender te maak, sodat die Koninkryksboodskap die hart kan raak van ‘alle soorte mense en hulle gered kan word en tot juiste kennis van die waarheid kan kom’.—1 Tim. 2:4.
3. Hoe sal die tydskrifte in die bediening gebruik word?
3 Sedert Januarie 2006 het ons bedrewe geword in die gebruik van verskillende aanbiedings vir die een maandelikse nommer van die Ontwaak! Nou sal ons ’n soortgelyke benadering volg wanneer ons net een van die twee maandelikse nommers van Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan aanbied. Voorgestelde aanbiedings vir elke tydskrif verskyn op die agterblad van Ons Koninkryksbediening. Dit vestig gewoonlik die aandag op een van die inleidende artikels in die tydskrif, maar soms ook op sekere ander artikels wat by baie mense byval sal vind. Ons kan die gedrukte wenke met die grootste welslae gebruik wanneer ons goed vertroud is met die artikel waarop ons die aandag vestig en die aanbieding in ons eie woorde stel om dit by ons gebied aan te pas.
4. Waarom kan dit voordelig wees om ander aanbiedings behalwe die voorgestelde aanbiedings in Ons Koninkryksbediening te gebruik?
4 Ons Koninkryksbediening bevat twee aanbiedings vir elke tydskrif, maar as jy wil, kan jy ’n heeltemal ander aanbieding gebruik. ’n Rede hiervoor kan wees dat een van die ander artikels groter byval in julle gebied sal vind. Of jy meen dalk dat jou aanbieding doeltreffender sal wees as jy ’n artikel gebruik waarin jy meer belangstel.
5. Wat moet jy doen voordat jy ’n aanbieding voorberei vir die tydskrif wat jy wil aanbied?
5 Hoe om jou aanbieding voor te berei: Eerstens moet jy goed vertroud wees met die artikel wat jy besluit om te gebruik. Jy sal miskien nie altyd met al die artikels in die tydskrif vertroud kan raak voordat jy dit in die veldbediening begin gebruik nie. Maar jy moet die artikels wat jy besluit om te gebruik, met geesdrif en opregtheid aanbied. Jy kan dit net doen as jy goed vertroud is met die inligting wat jy aanbied.
6. Hoe kan ons ons eie aanbiedings voorberei?
6 Tweedens moet jy buigsaam, of aanpasbaar, wees wanneer jy jou inleiding voorberei. ’n Gepaste vraag wat belangstelling wek en met die artikel verband hou, kan gebruik word om ’n gesprek te begin. Vertrou altyd op die krag van God se Woord om die hart te raak (Heb. 4:12). Kies ’n gepaste teks wat verband hou met die onderwerp waaroor jy gesels, verkieslik ’n teks wat aangegee of aangehaal word in die artikel wat jy gebruik. Dink aan hoe jy kan toon wat die verband tussen die teks en die artikel is.
7. Hoe kan ons ons aanbiedings verder verfyn?
7 By elke geleentheid: ’n Aanbieding kan slegs doeltreffend wees as dit gebruik word. Neem Saterdae saam met die gemeente aan tydskrifwerk deel. Bied die tydskrifte aan vir mense wat voorheen ander lektuur geneem het. Bied altyd die tydskrifte aan vir jou Bybelstudente en vir ander mense wat dalk teenwoordig is wanneer jy ’n herbesoek doen. Jy sal dalk tydskrifte kan laat by mense met wie jy gesels wanneer jy inkopies doen, reis of in ’n dokter se spreekkamer wag. Verfyn jou aanbiedings terwyl jy dit gedurende die maand gebruik.
8. In watter opsigte is Die Wagtoring en Ontwaak! uniek?
8 Die Wagtoring en Ontwaak! is uniek. Dit verheerlik Jehovah as die Soewerein van die heelal (Hand. 4:24). Dit vertroos mense met die goeie nuus van God se Koninkryk en staan geloof voor in Jesus Christus (Matt. 24:14; Hand. 10:43). Dit lewer ook verslag oor wêreldgebeure wat Bybelprofesieë vervul (Matt. 25:13). Help mense in julle gebied om by hierdie tydskrifte baat te vind deur voor te berei om dit by elke gepaste geleentheid aan te bied!
9. Hoe kan ons die grondslag vir ’n herbesoek lê?
9 Wanneer jy ’n tydskrif by iemand laat, of selfs as jy net ’n vriendelike geestelike gesprek met iemand het, moet jy gereed wees met ’n vraag of ’n gedagteprikkelende stelling wat die weg kan baan vir ’n herbesoek en nog ’n geestelike gesprek. As ons die saadjies van waarheid ywerig saai, kan ons seker wees dat Jehovah die harte sal oopmaak van mense wat ’n opregte begeerte het om Hom te leer ken en te dien.—1 Kor. 3:6.