Die grootste predikingskampanje wat die wêreld nog gesien het!
Jehovah se Getuies is al meer as 100 jaar lank georganiseerd om ander van die goeie nuus te vertel (1 Kor. 9:23). Ons verkondig hierdie boodskap in honderde tale in die grootste predikingskampanje wat die wêreld nog gesien het. Ons maak dit in meer as 230 lande bekend (Matt. 24:14). Maar waarom is hierdie werk nodig? En hoe word dit wêreldwyd uitgevoer?
Die videoprogram Jehovah’s Witnesses—Organized to Share the Good News beantwoord hierdie vrae deur van naderby te kyk na al die fasette van ons internasionale bedrywighede. Terwyl jy daarna kyk, kan jy aan hierdie vrae dink: (1) Hoe word ons bedrywighede georganiseer en gerig? (2) Watter rol speel die Skryf-, Vertaaldienste-, Kuns- en Oudio/Videodienste-afdeling daarin om die goeie nuus te verkondig? (3) Wat is die doel van ons uitgebreide druk- en versendingswerk? (Joh. 17:3). (4) Hoeveel stukke lektuur word in een jaar gedruk? (5) Wat het ons Bybelpublikasies bereik? (Heb. 4:12). (6) Wat word gedoen om aan gesig- en gehoorgestremdes geestelike hulp te verleen? (7) Hoe word ons werk gefinansier? (8) Hoe vind ons baat by die werk van Hospitaalinligtingsdienste, die Diensafdeling en die Byeenkomsafdeling? (9) Hoe het hierdie video jou waardering as een van Jehovah se Getuies vergroot vir (a) die poging wat Jehovah se organisasie aanwend om die goeie nuus te verkondig? (b) die meer as 100 Bethelgesinne oor die hele wêreld? (c) die opleiding wat opsieners en sendelinge ontvang? (d) die belangrikheid daarvan om elke dag met ’n bespreking van ’n Bybelteks te begin en elke week vir gemeentelike vergaderinge voor te berei? (e) die voordele wat dit inhou om ons Christelike samekomste by te woon? (f) wat die Paradys op aarde sal beteken? (Jes. 11:9) (g) jou persoonlike aandeel aan die oeswerk?—Joh. 4:35.
Watter gunstige reaksie het jy gesien toe jy hierdie video vir jou familielede, kennisse, herbesoeke en Bybelstudente gewys het? Jy kan dit gerus binnekort vir nog iemand wys en hom of haar van die goeie nuus vertel.—Matt. 28:19, 20.