Toon persoonlike belangstelling—Deur voorbereid te wees
1 Goeie voorbereiding vir die bediening help ons om persoonlike belangstelling in ander te toon. Hoe so? Wanneer ons goed voorbereid is, hoef ons nie soveel op ons aanbieding te konsentreer nie en kan ons dus meer aandag aan die huisbewoner skenk. Verder help dit ons om senuweeagtigheid te oorkom en stel dit ons in staat om uit die hart te praat. Maar hoe kan ons ’n doeltreffende aanbieding voorberei?
2 Gebruik ’n gepaste aanbieding: Kies uit die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2005 een van die voorgestelde aanbiedings wat gepas is vir julle gebied, en kyk hoe jy dit in jou eie woorde kan stel. Pas dit by julle gebied aan. Byvoorbeeld, as jy waarskynlik mense van ’n sekere godsdiens- of etniese agtergrond gaan teëkom, moet jy aan ’n aanbieding dink wat hulle belangstelling sal wek. As jy jou benadering aanpas by die individue met wie jy praat, toon jy opregte belangstelling in hulle.—1 Kor. 9:22.
3 Wanneer jy die aanbieding begin gebruik, moet jy aanhou om dit te verfyn. Aangesien jou eerste woorde veral belangrik is, moet jy oplet na hoe mense op jou inleiding reageer. Stel hulle belang in die onderwerp? Reageer hulle op jou vrae? Indien nie, moet jy veranderinge aanbring totdat jy ’n benadering vind wat werk.
4 Geheuehulpe: Baie vind dit moeilik om ’n aanbieding te onthou wanneer hulle voor die deur staan. Het jy al, as dit met jou die geval is, probeer om oefensessies te hou waarin jy die aanbieding hardop saam met iemand doen? Dit kan jou help om jou idees duidelik agtermekaar te kry en dit op ’n eenvoudige, logiese manier oor te dra. Dit kan jou ook voorberei om die verskillende reaksies te hanteer wat jy moontlik sal kry.
5 ’n Ander manier om ’n aanbieding te onthou, is om ’n kort opsomming daarvan op ’n stukkie papier te skryf en vinnig daarna te kyk voordat jy die deur nader. Party vind dat hierdie kort herinnering hulle help om meer op hulle gemak te wees en makliker met mense te gesels. Op hierdie maniere kan goeie voorbereiding ons help om persoonlike belangstelling in ander te toon en sodoende ons aanbieding van die goeie nuus te verbeter.