Deel 4: Hou progressiewe Bybelstudies
Lei studente op om voor te berei
1 ’n Student wat die les vooraf lees, die antwoorde onderstreep en nadink oor hoe hy dit in sy eie woorde kan stel, behoort vinnig geestelike vooruitgang te maak. Sodra ’n gereelde studie gehou word, moet jy dus ’n les saam met die student voorberei om vir hom te wys hoe om dit te doen. Met die meeste studente sal dit nuttig wees om ’n hele hoofstuk of les saam voor te berei.
2 Onderstreping en aantekeninge: Verduidelik hoe om direkte antwoorde op die gedrukte vrae te kry. Wys vir die student jou eksemplaar van die studiepublikasie waarin jy net die sleutelwoorde of -frases onderstreep het. Terwyl julle die materiaal bespreek, kan hy jou voorbeeld volg en in sy eksemplaar onderstreep net wat nodig is om hom die antwoord te help onthou (Luk. 6:40). Vra hom dan om die antwoord in sy eie woorde te gee. Dit sal jou in staat stel om te sien hoe goed hy die materiaal verstaan.
3 ’n Noukeurige ondersoek van tekste wat nie aangehaal word nie, maak ’n belangrike deel uit van die student se voorbereiding vir die studie (Hand. 17:11). Help hom om te sien dat elke teksverwysing ’n punt in die paragraaf staaf. Wys vir hom hoe om kort aantekeninge in die kantlyn van sy studiepublikasie te maak. Beklemtoon die feit dat die Bybel die grondslag is vir wat hy leer. Spoor hom aan om die teksverwysings vryelik in sy kommentare gedurende die studie te gebruik.
4 Oorsig en hersiening: Voordat die student die studiemateriaal in besonderhede begin voorberei, sal dit vir hom nuttig wees om ’n oorsig van die onderwerp te kry. Wys daarop dat hy ’n oorsig van die materiaal kan kry deur kortliks na die hoofstuktitel, onderhofies en prente te kyk. Verduidelik dat dit verstandig sal wees as hy, voordat hy sy voorbereidingsessie afsluit, ’n oomblik neem om die hoofgedagtes in die les te hersien, miskien deur die hersieningsvenster te gebruik as daar een is. Hierdie herhaling sal hom help om die inligting te onthou.
5 As jy die student oplei om goed vir sy studie voor te berei, sal dit hom help om sinvolle kommentare by gemeentelike vergaderinge te lewer. Dit sal hom ook help om studiegewoontes aan te kweek wat hom tot voordeel sal strek lank nadat sy persoonlike Bybelstudie voltooi is.