Hoe om redeneervermoë te ontwikkel
1 Een definisie van die woord “redeneer” is “om op so ’n wyse met iemand te praat dat dit sy dade en opinies beïnvloed”. As jy bekwamer in die bediening wil wees, moet jy die vermoë ontwikkel om met diegene wat jy ontmoet te redeneer (Hand. 17:2-4). Maar hoe kan jy hierdie vaardigheid ontwikkel?
2 Dit begin met bepeinsing: Wanneer jy Bybelwaarhede bestudeer, sal jy dit nuttig vind om oor die materiaal na te dink. As punte effens ingewikkeld lyk, moet jy tyd neem om ’n bietjie navorsing te doen en oor die antwoorde te peins. Probeer om nie net ’n duidelike begrip van die verduidelikings te kry nie, maar ook die skriftuurlike redes vir daardie verduidelikings.
3 Voorbereiding vir die bediening is nodig: Dink oor hoe jy die waarheid vir verskillende soorte mense sal verduidelik. Formuleer ’n gedagteprikkelende vraag om belangstelling te wek. Besluit hoe om oor te gaan na ’n skriftuurlike punt en daaroor te redeneer. Wees voorbereid op moontlike besware en dink aan hoe jy dit gaan bespreek. Kry in die publikasie wat jy gaan aanbied ’n treffende gedagte wat die beste van toepassing sal wees.
4 Volg Jesus se voorbeeld: Jesus het die beste voorbeeld gestel van hoe om doeltreffend uit die Skrif te redeneer. Jy kan die manier ontleed waarop hy onderrig het deur die verslag in Lukas 10:25-37 na te gaan. Let op hierdie volgorde: (1) Vestig die aandag op die Skrif wanneer jy mense se vrae beantwoord. (2) Nooi hulle om hulle uit te druk en prys hulle wanneer hulle skerpsinnige kommentare maak. (3) Sorg dat die verband tussen die vraag en die tekste duidelik is. (4) Gebruik ’n illustrasie wat tot die hart spreek om seker te maak dat hulle die ware strekking van die antwoord snap.—Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1986, bladsye 27-8, paragrawe 8-10.
5 Gebruik die hulpmiddel wat vir ons gegee is: Redenering uit die Skrif is uitgegee as ’n handleiding vir die veldbediening. Die inleidings, reaksies op potensiële gesprekdempers en redenering-onderwerpe help ons om redeneervermoë te ontwikkel. Die Redenering-boek is ’n nuttige hulpmiddel wat ons altyd by ons moet hê in die velddiens, en ons moet nooit huiwer om dit te gebruik wanneer ons Bybelbesprekings het nie. Hersien bladsye 7-8 van die boek om te sien hoe ons die grootste voordeel daaruit kan trek.
6 As jy jou redeneervermoë ontwikkel, sal dit jou bekwamer maak in die predikings- en onderrigtingswerk. Dit sal ryk seëninge tot gevolg hê vir jou en vir diegene wat jy in die bediening ontmoet.