Vraebus
◼ Is dit gepas om hande te klap wanneer iemand se herstelling aangekondig word?
Uit liefderyke goedhartigheid het Jehovah God ’n skriftuurlike manier voorsien waarop berouvolle oortreders weer sy guns kan verkry en in die Christengemeente herstel kan word (Ps. 51:14, 19). Wanneer dit gebeur, word ons aangemoedig om ons liefde te bevestig vir diegene wat opreg berouvol is.—2 Kor. 2:6-8.
Ondanks ons vreugde wanneer ’n familielid of kennis herstel word, moet die aankondiging in die gemeente dat iemand herstel is nogtans met ’n stil waardigheid aangehoor word. Die Wagtoring van 1 Oktober 1998, bladsy 17, het die saak so uitgedruk: “Ons moet onthou dat die meeste gemeentelede nie bewus is van die spesifieke omstandighede wat tot iemand se uitsetting of tot sy herstel gelei het nie. Daarbenewens is daar dalk sommige wat persoonlik geraak of seergemaak is deur die oortreding van die berouvolle persoon—en wat selfs lank as gevolg daarvan sal ly. Omdat ons hierdie faktore in ag neem, is dit derhalwe te verstane dat ons, wanneer daar aangekondig word dat iemand herstel is, ons betuigings van verwelkoming weerhou totdat dit persoonlik gedoen kan word.”
Hoewel ons baie bly is om te sien dat iemand na die waarheid terugkeer, sal dit onvanpas wees om hande te klap ten tye van sy of haar herstelling.