Gebruik jy die Redenering-boek?
1. Hoe het die apostel Paulus en Jesus ander geleer?
1 Die apostel Paulus het daarna gestreef om ‘uit die Skrif te redeneer’ (Hand. 17:2, 3; 18:19). Sodoende het hy Jesus nagevolg, wat dikwels die Skrif aangehaal het en illustrasies gebruik het om sy toehoorders te help om God se wil te verstaan (Matt. 12:1-12). Die boek Redenering uit die Skrif is saamgestel om ons te help om dit ook te doen.
2. Hoe kan ons die Redenering-boek gebruik om doeltreffende inleidings voor te berei?
2 Berei doeltreffende inleidings voor: Op bladsye 9-15 van Redenering uit die Skrif kan gedagteprikkelende inleidings gevind word. As jy verskillende inleidings leer en gebruik, veral as julle julle gebied dikwels dek, sal daar meer afwisseling in jou bediening wees en sal dit jou help om veelsydiger en bekwamer te word om gesprekke te begin. Inleidings kan regstreeks uit die boek gelees word wanneer jy telefoongetuieniswerk doen of oor die interkom praat by geboue waar daar streng veiligheidsmaatreëls is.
3. Wat vind ons op bladsye 16-24 van die Redenering-boek wat ons in die bediening sal help?
3 Oorkom gesprekdempers: Dink gerus aan die gesprekdempers wat jy moontlik in julle gebied sal teëkom en neem ’n paar minute voordat jy aan die predikingswerk deelneem om bladsye 16-21 te hersien vir wenke oor hoe om daarop te reageer. Sal jy waarskynlik huisbewoners teëkom wat Boeddhiste, Hindoes, Jode of Moslems is? Dan sal die inligting op bladsye 21-24 nuttig wees.
4. Hoe kan ons die Redenering-boek gebruik wanneer ’n vraag of ’n omstrede onderwerp geopper word?
4 Beantwoord vrae: Die Redenering-boek kan ons ook help wanneer ’n vraag of ’n omstrede onderwerp geopper word. Jy kan eenvoudig vir die persoon sê dat jy hom graag iets interessants oor die onderwerp wil wys en jou Redenering-boek uithaal. Aangesien die onderwerpe alfabeties gerangskik is, kan jy na die hoofopskrif blaai waar jy dink die nodige inligting sal wees. Lees dan vlugtig deur die vrae in vetdruk. As jy nie gou kry waarna jy soek nie, kan jy na die saakregister agterin blaai. Wanneer jy die gepaste inligting vind, kan jy dit regstreeks uit die boek lees. As jy ’n spesifieke teks bespreek, sal jy dalk op bladsy 445 onder “Tekste wat dikwels verkeerd toegepas word” vind waarna jy soek.
5. Watter ander nuttige gebruike is daar vir die Redenering-boek?
5 Ander gebruike: Party hou ’n Redenering-boek by die werk of by die skool om hulle te help om vrae te beantwoord soos: ‘Waarom vier julle nie vakansiedae nie?’ Jongmense het die inligting onder die opskrifte “Skepping” en “Evolusie” al nuttig gevind wanneer hulle skooltake voorberei het. Gaan jy iemand besoek wat siek is of wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het? Die inligting onder “Bemoediging” kan jou help om vertroosting uit die Bybel te bied. Die Redenering-boek bevat ook nuttige inligting vir diegene wat toesprake voorberei en velddiensvergaderinge hou.
6. Wat is ons oogmerk wanneer ons die predikingswerk doen?
6 Wanneer ons die predikingswerk doen, is ons oogmerk nie om ’n woordestryd te wen nie; en dit is ook nie om bloot inligting oor te dra nie. Ons wil op vaardige wyse uit die Skrif redeneer. Wanneer ons die Redenering-boek goed gebruik, toon ons dat ons voortdurend op ons onderrigting let.—1 Tim. 4:16.