Smaak vreugde deur meer tydskrifte te versprei
1 Jehovah se groot universele organisasie is bekend vir sy produktiwiteit. Jehovah het deur middel van Jesus Christus ’n aardse organisasie opgebou wat ook gekenmerk word deur gewillige, produktiewe werkers (Ps. 110:3; Matt. 9:37, 38). Wanneer ons aandag gee aan die kwaliteit sowel as die kwantiteit van ons bediening sal ons beslis groter vreugde smaak (Luk. 10:17). Dit is veral die geval wanneer ons ons gedagtes daarop instel om ons persoonlike verspreiding van Die Wagtoring en Ontwaak! te vermeerder.
2 Tydskrifverspreiding is een van die vernaamste maniere waarop die Koninkryksboodskap oral bekend gemaak word. Hoewel dit steeds die geval is namate die predikingswerk uitbrei, is daar gemerk dat tydskrifverspreiding in sommige gebiede afneem. Hoe kan hierdie neiging reggestel word? Wat is sommige belangrike dinge wat ons in gedagte kan hou wat ons persoonlik in staat sal stel om meer tydskrifte te versprei?
’N POSITIEWE BENADERING
3 ’n Eerste stap om meer tydskrifte te versprei, is: WEES TYDSKRIFBEWUS. Hierdie doelwit word makliker bereik wanneer ons self gereelde lesers van Die Wagtoring en Ontwaak! is. As ons eers vertroud is met die inhoud daarvan, moet ons elke gepaste geleentheid gebruik om dit vir die publiek aan te bied. Vir die meeste van ons is daar elke Saterdag ’n goeie geleentheid om deel te neem aan tydskrifverspreiding van huis tot huis. Baie gemeentes het tyd opsygesit vir middeweekse tydskrifwerk ter wille van verkondigers wat nie Saterdae aan die velddiens kan deelneem nie. Sommige vind dalk dat aandgetuieniswerk puik geleenthede bied om tydskrifte van huis tot huis aan te bied. Straatwerk, winkel-tot-winkelwerk, informele getuieniswerk en tydskrifroetes is almal goeie maniere waarop ons aan tydskrifverspreiding kan deelneem. In gereelde huis-tot-huiswerk kan die jongste tydskrifte aangebied word wanneer die aanbod vir die maand van die hand gewys word. As ons wakker is vir geleenthede om dit te doen, kan dit ons vreugde besorg.
4 ’n Tweede wenk om meer tydskrifte te versprei, is: HOU DIT EENVOUDIG. Sommige verkondigers het huisbewoners wat die tydskrifte wou neem blykbaar van gedagte laat verander deur lang aanbiedings. Ander verkondigers het die ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik wanneer hulle tydskrifwerk doen. Dit word egter nie aanbeveel nie. Die Wagtoring, 15 Februarie 1957 het groter tydskrifverspreiding aangemoedig en gesê: “’n Kort, saaklike aanbieding [is] die beste .. . wanneer tydskrifte aangebied word. Die doel is om baie eksemplare te plaas. Hulle sal self ‘praat’. Die Genootskap doen aan die hand ’n aanbieding van ’n halwe minuut tot ’n minuut, ’n goed bewoorde verklaring van een punt wat bespreek word in die tydskrif wat aangebied word.”
5 Volgende: WEES AANPASBAAR. Berei meer as een aanbieding voor. Wanneer jy dan uiteenlopende omstandighede teëkom, sal jy met allerhande mense kan praat en jou aanbieding by hulle belange kan aanpas. Hierdie voorbereiding lei dikwels daartoe dat jy meer tydskrifte versprei en groter vreugde smaak.
6’n Laaste wenk: STEL ’N PERSOONLIKE DOELWIT. Jy onthou dalk dat dit beklemtoon is in die byvoegsel: “Tydskrifte wys die weg na die lewe”, wat in Ons Koninkryksbediening vir Mei 1984 verskyn het. Jy kan dalk strewe na ’n gemiddelde van een tydskrif vir elke uur wat jy in die maand aan die bediening deelneem. Jou persoonlike doelwit moet redelik wees en jou individuele omstandighede en die tyd wat jy in die velddiens kan deurbring, in ag neem.
7 Deur middel van sy sigbare organisasie hou Jehovah aan om te voorsien wat ons nodig het om ons aandeel in die bediening te vergroot. Ons het interessante, kleurryke tydskrifte om mee te werk. Dit hang van ons af om met die gemeentelike reëlings vir tydskrifverspreiding saam te werk. Aangesien sulke werk Jehovah verheerlik, sal ons die innige vreugde ervaar wat ’n groter aandeel in die bediening met die tydskrifte meebring.—Johannes 15:8.