Help ander om ons Groot Skepper te waardeer
1 Wanneer ons na die skepping om ons kyk, is daar geen twyfel in ons gedagtes dat ’n Skepper bestaan en dat hy baie in ons toekoms belangstel nie (Rom. 1:20). Die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? het daartoe bygedra om ons waardering vir die Skepper te verskerp. Dit het ons ook gehelp om aan ander te verduidelik presies hoe lewe ontstaan het.
2 Nadat een persoon met ’n kennis van die wetenskap die boek gelees het, het hy dit beskryf as die beste boek wat hy nog gelees het om waardering vir die lewe op te bou. ’n Professor aan ’n universiteit het gesê: “Ek het nog nooit ’n argument vir die skepping gesien wat so goed aangebied is nie.” Die Skepping-boek was ongetwyfeld ’n puik instrument om baie te help om ons Groot Skepper, Jehovah God, te waardeer.
BENUT ALLE GEPASTE GELEENTHEDE
3 Gedurende September sal ons weer die voorreg hê om hierdie boek in die veldbediening aan te bied. Benewens in ons gereelde bediening van huis tot huis, kan ons ook ’n eksemplaar of twee van die Skepping-boek by ons hê terwyl ons straatwerk doen of informeel getuig. Ons kan dit aanbied by werkmaats, skoolmaats, familie en ander met wie ons in aanraking kom. Het jou Bybelstudente ’n eksemplaar? Indien nie, kan jy gerus sorg dat hulle een kry. Het jy ’n tydskrifroete? Hierdie mense sal dalk ’n eksemplaar wil hê. Benut elke gepaste geleentheid om die Skepping-boek vandeesmaand aan te bied.
4 Baie jongmense het die Skepping-boek met welslae by die skool versprei. Het jy al probeer om ’n eksemplaar van die boek saam met jou skool toe te neem? Wanneer nuuskieriges vrae stel, sal dit jou ’n geleentheid bied om vir hulle te getuig. Sommige verkondigers het sukses behaal deur straatwerk te doen buite woonstelle waar toegang moeilik is weens veiligheidsmaatreëls, en hulle het goeie besprekings met baie van die inwoners gehad.
GEBRUIK DIE ‘ONDERWERP VIR GESPREKKE’
5 Die aanbod van die Skepping-boek pas mooi by ons‘Onderwerp vir gesprekke’: “Aanbid die Lewegewer.” Wanneer jy die boek aanbied, kan jy sê: “Baie mense wil graag weet hoe lewe begin het. Het jy al ooit daaroor gewonder? [Laat huisbewoner antwoord.] Daar is verskillende menings oor die oorsprong van lewe. Kom ons kyk na die Bybel se redelike verduideliking. [Lees Hebreërs 3:4.] Dit is dus logies dat elke gebou of huis wat ons vandag om ons sien ’n ontwerper en ’n bouer het. Die veel komplekser heelal moes dus uiteraard ’n skepper gehad het. Volgens Hebreërs 3:4 is die Skepper God. Maar hoe moet kennis van hierdie feit ons raak? [Lees Openbaring 4:11.] Die verstandige weg om in te slaan terwyl daar nog tyd is, is dus om die Skepper se wil te leer ken en ons lewe daarvolgens aan te pas.” Bied dan die boek aan en beklemtoon dat dit sal wys hoe die mens hier gekom het en hoe gehoorsaamheid aan ons Skepper tot die ewige lewe kan lei.
6 Hoe bly is ons tog dat ons hierdie pragtig geïllustreerde boek met 256 bladsye het wat die waarheid oor evolusie en oor die skepping verduidelik! Maar hierdie boek strek veral ons Groot Skepper tot eer. Dit vereer hom deur ons in te lig oor hoe lewe hier gekom het, Jehovah se wonderlike voorneme om sy naam te verheerlik en sy belofte om die mensdom deur sy Koninkryk te seën.