Wees geestelik voorberei vir skool volgende jaar
1 Noudat die skooljaar ten einde loop, moet ouers, ouere manne en jongmense almal ernstig dink aan die uitdagings wat Christenjongmense volgende jaar sal teëkom. Wat sal hulle help om hulle opvoedkundige geleenthede ten beste te benut terwyl hulle ’n goeie voorbeeld stel wat godvrugtige gedrag en die handhawing van Christelike onkreukbaarheid betref?
2 Toe Daniël en sy drie tienermetgeselle voor ’n tydperk van sekulêre onderwys te staan gekom het, het hulle hul ywerig voorberei. Hulle vaste ‘hartsvoorneme’ om onkreukbaarheid te handhaaf, het hulle Jehovah se guns en seën laat geniet. Soortgelyke onwrikbare vasbeslotenheid om gedurende hierdie komende skooljaar lojaal aan Jehovah te bly, sal vir Christenjongmense van vandag ryk beloninge meebring.—Dan. 1:8, 17, vgl. NW; Spr. 10:22.
HERSIEN SKOOL-BROSJURE
3 Ouers speel ’n sleutelrol om kinders te help om geestelik voorberei te wees vir die nuwe skooljaar. Ouers moet, deur liefde aangespoor, die inisiatief neem en die nodige tyd inruim om die Skool-brosjure deeglik met hulle kinders te hersien. Dit sal voordelig wees as ouers onderwerpe soos “Geen deel van die wêreld nie” op bladsy 7, “Buitemuurse bedrywighede” op bladsy 22 tot 25, “Godsdiens en gebed” en “Oggendbyeenkoms” op bladsy 26 as deel van hulle gesinstudie hersien. Ouers moet egter nie net wat kinders moet sê wanneer geskille opduik nie, maar ook hoe hulle dit moet sê” met hulle kinders oefen. Wanneer situasies by die skool opduik, moet ouers en kinders gepaste gedeeltes van hierdie brosjure hersien voordat finale besluite geneem word (Filip. 1:10). Ouers kan baie doen om Jehovah se naam te eer deur hulle kinders te leer hoe om ’n vaste standpunt vir die waarheid in te neem en skoolowerhede dan te help om ons Christelike standpunt te verstaan.
4 Ook ouere manne kan jongmense help om geestelik voorberei te wees. Maak seker dat die gemeente Skool-brosjures in voorraad het. Gemeentelike Boekstudiehouers kan by ouers en jongmense navraag doen of hulle hulp nodig het. Talle ouere manne toon voortdurend belangstelling in die Christelike gedrag en skoolpunte van jongmense, en op hierdie manier is hulle in staat om praktiese hulp aan te bied wanneer dit nodig is. Sulke opregte besorgdheid deur die ouere manne van die gemeente verskaf morele ondersteuning en kan vir jongmense “’n versterkende hulp” wees.—Kol. 4:11, 12, NW.
5 Jongmense, is julle bereid om Christelike beginsels op skool te handhaaf? Jou begeerte en vermoë om dit te doen, sal nie net jouself en enige ander jeugdige Getuie wat tans in jou skool is tot nut strek nie, maar ook diegene wat na jou daar sal skoolgaan. Sal jy die portuurdwang kan weerstaan wat daarop gemik is om jou by verkeerde gedrag te betrek? Kan jy, selfs wanneer jy bespot word, Christelike neutraliteit moedig handhaaf? Is jy voorberei om die inligting in die Skool-brosjure en die Redenering-boek goed te benut om jou Bybelgebaseerde beskouing ten opsigte van die bywoning van godsdiensonderrigklasse, feesdae en wêreldse vierings te verduidelik? Sal buitemuurse bedrywighede en die najaging van vermaak jou in die strik van slegte omgang lok? Hersien die Skool-brosjure nou, hetsy jy dit voorheen gelees en bestudeer het of nie, en ‘besluit in jou hart’ watter weg jy sal volg. As jy dit doen, sal jou dade strook met die goeie gedrag van ander toegewyde Getuies in die skool.
6 Mag ouers en jongmense gedurende die komende skooljaar eweneens geestelik voorberei wees om die inligting in die Skool-brosjure toe te pas, en mag Jehovah julle getrouheid in hierdie opsig seën.