Die gewone pionierdiens—Kan jy dit in September betree?
1 September is die begin van die 1988-diensjaar. Dit sal ook vir talle die eerste maand van gewone pionierdiens wees. Sal dit vir jou wees? Kan jy die gewone pionierdiens in September betree?
2 Talle het gedurende die 1987-diensjaar as hulppioniers gedien. Soos in Ons Koninkryksbediening vir Junie gemeld, kan die hulppionierdiens ’n trapklip tot gewone pionierdiens wees. Waarom begin jy nie in September as dit met jou die geval is nie? Hoewel dit goed is om genoeg voorbereiding te tref, is ewewig ook nodig sodat jy nie hierdie belangrike persoonlike doelwit verbeur nie. Die Skrif maan gepas: “Moenie jou werk traag doen nie. Wees vurig van gees. Dien Jehovah as slawe.”—Rom. 12: 11, NW.
3 Voor jy aansoek doen om gewone pionierdiens, moet jy Jesus se raad volg om ‘te gaan sit en die koste te bereken’ (Luk. 14:28). Faktore soos gesondheid, gesinsverantwoordelikhede, ouderdom en gemeentelike verantwoordelikhede moet in ag geneem word. Maar as jy reeds jou omstandighede ontleed het en vasgestel het dat jy met enkele aanpassings ’n gewone pionier kan wees, moet jy nie aarsel nie.
VERTROU OP JEHOVAH SE KRAG
4 Wanneer jy jou persoonlike omstandighede in oënskou neem, moet jy nie tot die slotsom kom dat sommer enige belemmering, ongunstige situasie of gesinsverantwoordelikheid jou sal verhinder om ’n suksesvolle pionier te wees nie. Jy ken waarskynlik gewone pioniers wat ondanks bejaardheid, swak gesondheid en verskillende persoonlike of gesinsverantwoordelikhede as sodanig dien. Sulke faktore kan op ’n individuele grondslag oorweeg word met algehele vertroue dat ons “die krag bo die normale” kan hê as ons op Jehovah in plaas van op ons eie krag vertrou.—2 Kor. 4:7, NW.
5 Die Genootskap ontvang reeds aansoeke van diegene wat in September as gewone pioniers wil begin dien. Daar word verwag dat talle voor die einde van Augustus aansoek sal doen. Dit is alles bewys van die werking van Jehovah se krag. Met biddende beplanning en volkome vertroue in Jehovah sal talle die nodige aanpassings kan maak en aan die begin van die 1988-diensjaar by die geledere van die gewone pioniers aansluit. Sal jy onder hulle wees?
6 Die vreugde om aan die voltydse predikingswerk deel te neem en nuwelinge in die veld te help, is van die seëninge wat op diegene wag wat gewone pioniers word. Diegene wat in September as pioniers kan begin dien, het ook die vooruitsig om die Pionierdiensskool in Augustus 1988 by te woon. Hoe waar is die spreuk tog: “Die seën van die Here—dit maak ryk”!—Spr. 10:22.