Vervolg en tog gelukkig
“Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my.”—MATTEUS 5:11.
1. Watter versekering het Jesus sy volgelinge oor geluk en vervolging gegee?
TOE Jesus sy apostels die eerste keer uitgestuur het om die Koninkryk te verkondig, het hy hulle gewaarsku dat hulle teenstand sou ondervind. Hy het vir hulle gesê: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees” (Matteus 10:5-18, 22). Hy het egter vroeër, in sy Bergpredikasie, sy apostels en ander die versekering gegee dat hierdie teenstand nie noodwendig hulle diepgewortelde geluk in gevaar sou stel nie. Trouens, Jesus het geluk selfs verbind met die vervolging wat Christene ondervind! Hoe kan vervolging geluk meebring?
Lyding ter wille van regverdigheid
2. Watter soort lyding bring volgens Jesus en die apostel Petrus geluk mee?
2 Die agtste gelukspreking wat Jesus genoem het, is: “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matteus 5:10). Lyding as sodanig het geen verdienste nie. Die apostel Petrus het geskryf: “Watter verdienste is daarin as julle, wanneer julle sondig en geslaan word, dit verduur? Maar as julle, wanneer julle goed doen en ly, dit verduur, is dit iets welgevalligs by God.” Hy het verder gesê: “Laat niemand van julle egter ly as ’n moordenaar of ’n dief of ’n kwaaddoener of as iemand wat hom met ander se sake bemoei nie. Maar as hy ly as ’n Christen, moet hy hom nie skaam nie, maar aanhou om God in hierdie naam te verheerlik” (1 Petrus 2:20; 4:15, 16). Volgens Jesus se woorde bring dit geluk mee wanneer ’n mens ter wille van regverdigheid ly.
3. (a) Wat beteken dit om ter wille van regverdigheid vervolg te word? (b) Watter uitwerking het vervolging op die vroeë Christene gehad?
3 Ware regverdigheid word gemeet aan ’n mens se gehoorsaamheid aan God se wil en sy bevele. Lyding ter wille van regverdigheid beteken derhalwe dat ’n mens ly omdat jy druk weerstaan om God se standaarde of vereistes te skend. Die apostels is deur die Joodse leiers vervolg omdat hulle geweier het om op te hou getuig in die naam van Jesus (Handelinge 4:18-20; 5:27-29, 40). Het dit hulle vreugde gedemp of hulle predikingswerk stopgesit? Glad nie! “Hulle het . . . van die Sanhedrin af weggegaan, bly omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly. En hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:41, 42). Hierdie vervolging het vir hulle vreugde meegebring en hulle hernieude ywer in die predikingswerk gegee. Later is die vroeë Christene deur die Romeine vervolg omdat hulle geweier het om keiseraanbidding te beoefen.
4. Waarom word Christene vervolg?
4 In hedendaagse tye is Jehovah se Getuies vervolg omdat hulle weier om op te hou met die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 24:14). Wanneer hulle Christelike vergaderinge verbied word, sal hulle eerder ly as om nie meer te vergader soos die Bybel beveel nie (Hebreërs 10:24, 25). Hulle is al vervolg weens hulle Christelike neutraliteit of omdat hulle weier om bloed te misbruik (Johannes 17:14; Handelinge 15:28, 29). Nietemin bring hierdie standpunt ten gunste van regverdigheid vir God se hedendaagse volk groot innerlike vrede en geluk mee.—1 Petrus 3:14.
Gesmaad ter wille van Christus
5. Om watter basiese rede word Jehovah se volk vandag vervolg?
5 Die negende gelukspreking wat Jesus in sy Bergpredikasie genoem het, hou ook verband met vervolging. Hy het gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my” (Matteus 5:11). Die basiese rede waarom Jehovah se volk vervolg word, is omdat hulle geen deel van die huidige goddelose stelsel van dinge is nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Die apostel Petrus het eweneens gesê: “Omdat julle nie meer hierdie weg tot dieselfde lae poel van losbandigheid saam met hulle bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om julle te smaad.”—1 Petrus 4:4.
6. (a) Waarom word die oorblyfsel en hulle metgeselle gesmaad en vervolg? (b) Laat hierdie smaad ons geluk afneem?
6 Ons het reeds gesien dat die vroeë Christene vervolg is omdat hulle geweier het om op te hou getuig in die naam van Jesus. Christus het sy volgelinge die opdrag gegee: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Die getroue oorblyfsel van Christus se gesalfde broers voer hierdie opdrag ywerig uit met die hulp van hulle lojale metgeselle, die “groot menigte” (Openbaring 7:9). Daarom voer Satan oorlog “teen die oorblywendes van haar saad [die saad van die “vrou”, die hemelse deel van God se organisasie], wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:9, 17). As Jehovah se Getuies getuig ons van Jesus, die tans heersende Koning van die Koninkryksregering, wat menseregerings sal vernietig wat in die pad van God se regverdige nuwe wêreld staan (Daniël 2:44; 2 Petrus 3:13). Hieroor word ons gesmaad en vervolg, maar ons ag ons gelukkig om vir die naam van Christus te ly.—1 Petrus 4:14.
7, 8. Wat het teenstanders valslik teen die vroeë Christene gesê?
7 Jesus het gesê dat sy volgelinge hulle gelukkig moet ag selfs wanneer mense “valslik allerhande goddelose dinge teen [hulle] sê” ter wille van hom (Matteus 5:11). Dit was beslis die geval met die vroeë Christene. Toe die apostel Paulus in Rome gevange gehou is, omstreeks 59-61 G.J., het die Joodse leiers daar van Christene gesê: “Waarlik, wat hierdie sekte betref, ons weet dat daar oral daarteen gepraat word” (Handelinge 28:22). Paulus en Silas is daarvan beskuldig dat hulle “die bewoonde aarde omgekeer het” en “in stryd met die verordeninge van die keiser” gehandel het.—Handelinge 17:6, 7.
8 Die geskiedskrywer K. S. Latourette het aangaande Christene in die tyd van die Romeinse Ryk geskryf: “Verskillende aantygings is gemaak. Omdat die Christene geweier het om aan heidense seremonies deel te neem, is hulle ateïste genoem. Omdat hulle nie deelgeneem het aan baie van die gemeenskapsbedrywighede nie—die heidense feeste, die openbare vermaak . . .—is hulle spottend haters van die mensdom genoem. . . . Daar is gesê dat mans en vroue saans ontmoet het . . . en dan promiskue geslagsomgang gehad het. . . . Die feit dat [die Herdenking van Christus se dood] slegs in die teenwoordigheid van gelowiges gevier is, het gerugte die ronde laat doen dat Christene gereeld ’n baba geoffer en sy bloed en vlees geëet het.” Verder is die vroeë Christene daarvan beskuldig dat hulle vyande van die Staat is omdat hulle geweier het om keiseraanbidding te beoefen.
9. Hoe het die eerste-eeuse Christene op valse beskuldigings teen hulle gereageer, en watter situasie bestaan vandag?
9 Daardie valse beskuldigings het nie gekeer dat die vroeë Christene hulle opdrag uitvoer om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie. In 60-61 G.J. kon Paulus praat van die “goeie nuus” wat “vrug dra en toeneem in die hele wêreld” en wat “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:5, 6, 23). Dieselfde gebeur vandag. Jehovah se Getuies word vals beskuldig, net soos die eerste-eeuse Christene. Maar die werk om die Koninkryksboodskap te verkondig, gaan vandag vooruit en bring groot geluk mee vir diegene wat daaraan deelneem.
Gelukkig al word ons vervolg soos die profete
10, 11. (a) Hoe het Jesus sy bespreking van die negende gelukspreking afgesluit? (b) Waarom is die profete vervolg? Gee voorbeelde.
10 Jesus het die negende gelukspreking afgesluit deur te sê: “Wees bly . . . , want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matteus 5:12). Die profete wat deur Jehovah gestuur is om ontroue Israel te waarsku, was glad nie welkom nie en is dikwels vervolg (Jeremia 7:25, 26). Die apostel Paulus het hiervan getuig en geskryf: “Wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek nog sou vertel van . . . die ander profete, wat deur geloof . . . hulle beproewing deur bespottinge en geselinge gekry [het], selfs meer as dit, deur boeie en gevangenisse.”—Hebreërs 11:32-38.
11 Gedurende die bewind van goddelose koning Agab en sy vrou Isebel is baie van Jehovah se profete met die swaard doodgemaak (1 Konings 18:4, 13; 19:10). Die profeet Jeremia is in die blok gesit en later in ’n modderput gegooi (Jeremia 20:1, 2; 38:6). Die profeet Daniël is in die leeukuil gegooi (Daniël 6:16, 17). Al hierdie voor-Christelike profete is vervolg omdat hulle die rein aanbidding van Jehovah verdedig het. Baie profete is deur die Joodse godsdiensleiers vervolg. Jesus het gesê dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs “kinders is van dié wat die profete vermoor het”.—Matteus 23:31.
12. Waarom beskou ons as Jehovah se Getuies dit as ’n voorreg om vervolg te word soos die profete van ouds?
12 Vandag word ons as Jehovah se Getuies dikwels vervolg omdat ons die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig. Ons vyande beskuldig ons van “aggressiewe proselitisme”, maar ons weet dat getroue aanbidders van Jehovah in die verlede voor soortgelyke kritiek te staan gekom het (Jeremia 11:21; 20:8, 11). Ons beskou dit as ’n voorreg om te ly om dieselfde rede as die getroue profete van ouds. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Broers, neem die profete, wat in die naam van Jehovah gespreek het, as ’n voorbeeld van die lyding van kwaad en die beoefening van geduld. Kyk! Ons noem dié wat volhard het gelukkig.”—Jakobus 5:10, 11.
Grondige redes vir geluk
13. (a) Waarom word ons nie deur vervolging ontmoedig nie? (b) Wat help ons om standvastig te bly, en wat bewys dit?
13 Ons word beslis nie deur vervolging ontmoedig nie, maar word eerder vertroos deur die gedagte dat ons in die voetstappe van die profete, die vroeë Christene en Christus Jesus volg (1 Petrus 2:21). Ons put groot bemoediging uit die Skrif, wat die volgende woorde van die apostel Petrus insluit: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie. As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus” (1 Petrus 4:12, 14). Ons weet uit ondervinding dat ons tydens vervolging standvastig kan bly alleenlik omdat Jehovah se gees op ons rus en ons versterk. Die onderskraging van die heilige gees bewys dat Jehovah se seën op ons rus, en dit verskaf ons groot geluk.—Psalm 5:12; Filippense 1:27-29.
14. Watter redes het ons om verheug te wees wanneer ons ter wille van regverdigheid vervolg word?
14 Nog ’n rede waarom teenstand en vervolging ter wille van regverdigheid ons gelukkig maak, is omdat dit bewys dat ons as ware Christene met godvrugtige toegewydheid lewe. Die apostel Paulus het geskryf: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Dit maak ons besonder gelukkig om te weet dat ons onkreukbaarheid tydens beproewing ’n verdere antwoord voorsien op Satan se uitdaging dat al Jehovah se skepsele Hom weens selfsugtige beweegredes dien (Job 1:9-11; 2:3, 4). Ons is verheug dat ons ’n aandeel daaraan kan hê om Jehovah se regverdige soewereiniteit te verdedig, al is ons aandeel ook baie klein.—Spreuke 27:11.
Spring van vreugde weens die beloning
15, 16. (a) Watter rede het Jesus ons gegee om ‘bly te wees en te spring van vreugde’? (b) Watter beloning is vir gesalfde Christene in die hemele weggelê, en hoe sal hulle metgeselle, die “ander skape”, ook beloon word?
15 Jesus het nog ’n rede gegee waarom ons vreugdevol kan wees wanneer ons soos die profete van ouds belaster en vervolg word. Aan die einde van die negende gelukspreking het hy gesê: “Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:12). Die apostel Paulus het geskryf: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Ja, die ‘groot beloning’ is die lewe, en ons kan dit nie verdien nie. Dit is ’n vrye gawe. Jesus het gesê dat die beloning “in die hemele” is, want dit kom van Jehovah.
16 Die gesalfdes ontvang “die kroon van die lewe”, wat in hulle geval onsterflike lewe saam met Christus in die hemel is (Jakobus 1:12, 17). Diegene met ’n aardse hoop, die “ander skape”, sien daarna uit om die ewige lewe in ’n aardse paradys te beërf (Johannes 10:16; Openbaring 21:3-5). Nie een van die twee klasse kan die “beloning” verdien nie. Die gesalfdes sowel as die “ander skape” ontvang hulle beloning as gevolg van Jehovah se “allesoortreffende onverdiende goedhartigheid”, wat die apostel Paulus beweeg het om te sê: “Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe.”—2 Korintiërs 9:14, 15.
17. Waarom kan ons gelukkig wees wanneer ons vervolg word en kan ons figuurlik gesproke “spring van vreugde”?
17 Die apostel Paulus het aan Christene, van wie party weldra wreed deur keiser Nero vervolg sou word, geskryf: “Laat ons ons verheug terwyl ons in verdrukkinge is, aangesien ons weet dat verdrukking volharding voortbring; volharding weer ’n goedgekeurde toestand; die goedgekeurde toestand weer hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie.” Hy het ook gesê: “Verbly julle in die hoop. Volhard onder verdrukking” (Romeine 5:3-5; 12:12). Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons beloning vir getrouheid tydens beproewing is oneindig groter as enigiets wat ons verdien. Ons vreugde oor die vooruitsig om vir ewig te lewe sodat ons ons liefdevolle Vader, Jehovah, onder ons Koning Jesus Christus kan dien en loof, ken geen perke nie. Figuurlik gesproke “spring [ons] van vreugde”.
18. Wat kan ons van die nasies verwag namate die einde nader kom, en wat sal Jehovah doen?
18 In sommige lande is Jehovah se Getuies al vervolg en word hulle nog steeds vervolg. In sy profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus ware Christene gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Namate die einde nader kom, sal Satan veroorsaak dat die nasies hulle haat teen Jehovah se volk openbaar (Esegiël 38:10-12, 14-16). Dit sal aandui dat dit tyd is vir Jehovah om op te tree. “Ek sal my beslis groot maak en my heilig en my bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 38:23). Jehovah sal sodoende sy groot naam heilig en sy volk uit vervolging verlos. Ja, “gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur”.—Jakobus 1:12.
19. Wat moet ons doen terwyl ons op die groot “dag van Jehovah” wag?
19 Terwyl daardie groot “dag van Jehovah” al hoe nader kom, moet ons ons verheug omdat ons “waardig geag is om [vir Jesus se] naam oneer te ly” (2 Petrus 3:10-13; Handelinge 5:41). Mag ons, soos die vroeë Christene, “sonder ophou [voortgaan] om te leer en die goeie nuus oor die Christus” en sy Koninkryksregering “bekend te maak” terwyl ons wag op ons beloning in Jehovah se regverdige nuwe wêreld.—Handelinge 5:42; Jakobus 5:11.
Ter hersiening
• Wat beteken dit om ter wille van regverdigheid te ly?
• Watter uitwerking het vervolging op die vroeë Christene gehad?
• Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se Getuies vervolg word soos die profete van ouds?
• Waarom kan ons ‘bly wees en van vreugde spring’ wanneer ons vervolg word?
[Prente op bladsy 16]
“Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg”
[Erkenning]
Groep in die gevangenis: Chicago Herald-American