Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 6/15 bl. 11-13
  • Wie was die Anabaptiste?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie was die Anabaptiste?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hervorm die kerk—Maar hoe?
  • Die doop—Vir kinders of vir volwassenes?
  • Middeleeuse Münster soek verandering
  • Die Nuwe Jerusalem word beleër
  • Vernietiging van die Anabaptisteryk
  • Die drie hokke
  • Die Anabaptiste en “die patroon van gesonde woorde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Die Vrede van Wesfale—’n keerpunt in Europa
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Doop – ’n Wonderlike doelwit!
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 6/15 bl. 11-13

Wie was die Anabaptiste?

TOERISTE wat vir die eerste keer die middestad van Münster in Wesfale, Duitsland, besoek, stop byna altyd om na drie ysterhokke te staar wat aan ’n kerktoring hang. Met die uitsondering van ’n paar kort tydperke is die hokke al amper 500 jaar lank daar. Die lyke van drie mans wat in die openbaar gemartel en tereggestel is, is oorspronklik hierin vertoon. Die mans was Anabaptiste, en die hokke is oorblyfsels van hulle ryk.

Wie was die Anabaptiste? Hoe het die beweging ontstaan? Wat was hulle hoofleringe? Waarom is die mans tereggestel? En wat het die drie hokke met ’n ryk te doen?

Hervorm die kerk—Maar hoe?

In die laat 15de en vroeë 16de eeu het kritiek teen die Rooms-Katolieke Kerk en die geestelikes toegeneem. Die kerk was deurtrek van verdorwenheid en onsedelikheid; gevolglik het baie gemeen dat groot veranderinge nodig is. In 1517 het Martin Luther in die openbaar op hervorming aangedring, en namate ander aan die debat begin deelneem het, het die Protestantse Hervorming vinnig momentum gekry.

Maar die hervormers het nie ’n eenvormige strategie gehad oor wat gedoen moes word of hoe verreikend die veranderinge moes wees nie. Baie het besef dat dit nodig is om in sake van aanbidding by die Bybel te bly. Maar die hervormers kon nie eens saamstem oor die interpretasie van Bybelleringe nie. Party het gevoel dat die Hervorming te stadig vorder. En dit was onder hierdie hervormers dat die Anabaptistebeweging ontstaan het.

“Streng gesproke was daar nie net een baptistebeweging nie; daar was ’n hele paar”, skryf Hans-Jürgen Goertz in sy boek Die Täufer—Geschichte und Deutung. Byvoorbeeld, in 1521 het vier mans wat as die profete van Zwickau bekend gestaan het, ’n opskudding veroorsaak deur Anabaptisteleringe in Wittenberg te verkondig. En in 1525 is ’n aparte groep Anabaptiste in Zürich, Switserland, gevorm. Anabaptistegemeenskappe het ook in Morawië—nou die Tsjeggiese Republiek—en in Nederland ontstaan.

Die doop—Vir kinders of vir volwassenes?

Anabaptistegemeenskappe was gewoonlik klein, en hulle lede was oor die algemeen vreedsaam. Die aanhangers het hulle geloof glad nie geheim gehou nie; inteendeel, hulle het vir ander gepreek. Die grondleerstellings van die Anabaptistegeloof is in 1527 in die Geloofsbelydenis van Schleitheim uiteengesit. Daar is onder meer besluit dat hulle nie wapens sou dra nie, dat hulle van die wêreld afgeskeie sou bly en dat hulle oortreders sou ekskommunikeer. Maar die uitsonderlikste kenmerk van die geloof van die Anabaptiste, wat hulle heeltemal van ander godsdienste onderskei het, was die geloofsoortuiging dat die doop vir volwassenes is en nie vir kinders nie.a

Die kwessie van volwassenedoop was nie bloot ’n saak van godsdiensdogma nie; dit was ’n saak van mag. As die doop uitgestel sou word totdat iemand volwassenheid bereik het—en die persoon sodoende toegelaat word om op grond van geloof ’n besluit te neem—sou party glad nie gedoop word nie. En diegene wat nie gedoop is nie, sou, ten minste in sekere mate, buite die beheer van die kerk bly. Vir party kerke het die volwassenedoop ’n verlies van mag beteken.

Gevolglik wou Katolieke sowel as Lutherane die gebruik van volwassenedoop ontmoedig. Ná 1529 kon diegene wat die volwassenedoop uitgevoer het of wat hulle as volwassenes laat doop het, die doodstraf opgelê word, ten minste in party gebiede. Die joernalis Thomas Seifert verduidelik dat Anabaptiste “in die hele Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie bittere vervolging moes verduur”. Die vervolging het in Münster ’n klimaks bereik.

Middeleeuse Münster soek verandering

Middeleeuse Münster het sowat 10 000 inwoners gehad en was omring deur amper ondeurdringbare verdedigingswerke, wat ongeveer 90 meter wyd en sowat 5 kilometer in omtrek was. Die situasie binne die stad was egter nie naastenby so stabiel soos sy verdedigingswerke nie. The Kingdom of the Anabaptists, uitgegee deur die Stadsmuseum van Münster, meld dat daar “politieke onenigheid tussen die Stad se Raadshere en die Gildes” bestaan het. Daarbenewens was die inwoners gegrief deur die gedrag van die geestelikes. Münster het die Hervorming ondersteun en het in 1533 van ’n Katolieke na ’n Lutherse stad verander.

Een van die vernaamste hervormingsgesinde predikers in Münster was Bernhard Rothmann, ’n redelik voortvarende man. Die skrywer Friedrich Oehninger verduidelik dat Rothmann se “beskouings in groot mate met dié van die Anabaptiste begin ooreenstem het; hy en ander kollegas het geweier om babas te doop”. Baie mense in Münster het hom ondersteun, hoewel sy radikale beskouings vir party te ekstremisties was. “Al hoe meer mense wat die ou bedeling aangehang het, het die stad met ’n nare voorgevoel verlaat. Anabaptiste het van heinde en verre na Münster gestroom, in die hoop dat hulle ideale verwesenlik sou word.” Hierdie konsentrasie van Anabaptiste in Münster het tot ’n afgryslike gebeurtenis gelei.

Die Nuwe Jerusalem word beleër

Twee Hollandse immigrante in Münster—Jan Mathys, ’n bakker van Haarlem, en Jan Beuckelson, wat Jan van Leiden genoem is—sou ’n deurslaggewende rol speel in ontwikkelings in daardie stad. Mathys het beweer dat hy ’n profeet is en het aangekondig dat die wederkoms van Christus in April 1534 sou plaasvind. Die stad is die Nuwe Jerusalem genoem wat in die Bybel gemeld word, en die gemoedstemming het apokalipties geword. Rothmann het besluit dat alle eiendom gesamentlik besit moes word. Volwasse inwoners moes ’n besluit neem: Word gedoop of gee pad. Groot getalle is gedoop, selfs party wat hulle bloot laat doop het sodat hulle nie hulle huis en besittings sou verloor nie.

Ander gemeenskappe het met skok toegekyk terwyl Münster die eerste stad geword het waarin die Anabaptiste die grootste godsdienstige en politieke mag gehad het. Volgens die boek Die Täufer zu Münster het dit “Münster die vyandskap van die hele Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie” op die hals gehaal. ’n Plaaslike hoogwaardigheidsbekleër, prins-biskop graaf Franz von Waldeck, het ’n leërmag op die been gebring om Münster te beleër. Daardie leërmag het uit Lutherane sowel as Katolieke bestaan. Hierdie twee gelowe, wat tot op dié tydstip aan teenoorgestelde kante van die Hervorming gestaan het en kort daarna in die Dertigjarige Oorlog teen mekaar sou veg, het saam teen die Anabaptiste opgetree.

Vernietiging van die Anabaptisteryk

Die grootte van die leër wat die stad omring het, het nie diegene wat deur die stadsmure beskerm is, geïntimideer nie. In April 1534, toe Christus se wederkoms veronderstel was om plaas te vind, het Mathys op ’n wit perd uit die stad gery, in die verwagting dat hy goddelike beskerming sou geniet. Stel jou die afgryse van Mathys se ondersteuners voor toe hulle oor die stadsmuur kyk en sien hoe die soldate Mathys in stukke kap en sy kop op ’n paal sit.

Jan van Leiden het Mathys opgevolg en is in Münster tot koning Jan van die Anabaptiste uitgeroep. Hy het die wanbalans tussen die geslagte probeer regstel—daar was baie meer vroue as mans in die stad—deur die mans aan te moedig om vir hulle soveel vrouens te neem as wat hulle wou. Wat uiterstes in die Anabaptisteryk in Münster betref, egbreuk en hoerery was strafbaar met die dood, terwyl veelwywery toegelaat en selfs aangemoedig is. Koning Jan self het 16 vrouens gehad. Toe een van hulle, Elisabeth Wandscherer, sy toestemming gevra het om die stad te verlaat, is sy in die openbaar onthoof.

Die stad is 14 maande lank beleër, tot Junie 1535 toe dit uiteindelik geval het. So ’n groot verwoesting is tot met die Tweede Wêreldoorlog nooit weer in Münster aangerig nie. Rothmann het ontsnap, maar koning Jan en twee ander vooraanstaande Anabaptiste is gevange geneem, gemartel en tereggestel. Hulle lyke is in hokke gesit, opgehys en aan die toring van die St. Lambertuskerk gehang. Dit moes “dien as ’n skrikwekkende waarskuwing vir alle potensiële moeilikheidmakers”, verduidelik Seifert. Ja, inmenging in die politiek het drastiese gevolge gehad.

Wat het met ander Anabaptistegemeenskappe gebeur? Vervolging het etlike jare lank oor die hele Europa voortgeduur. Die meeste Anabaptiste het by hulle pasifistiese beginsels gebly, hoewel daar ’n strydlustige minderheid was. Na verloop van tyd het die voormalige priester Menno Simons die nuwe leier van die Anabaptiste geword, en die groep het uiteindelik as die Mennoniete of onder ander name bekend gestaan.

Die drie hokke

Die Anabaptiste was in werklikheid godsdienstige mense wat probeer het om by Bybelbeginsels te bly. Maar radikale in Münster het veroorsaak dat die Anabaptiste daarvan afgewyk het en by die politiek betrokke geraak het. Toe dit gebeur het, het die beweging in ’n revolusionêre mag verander. Dit het rampspoed vir die Anabaptistebeweging sowel as vir die Middeleeuse stad Münster beteken.

Besoekers aan die stad word nog steeds herinner aan die afgryslike gebeure wat amper 500 jaar gelede plaasgevind het. Hoe? Deur die drie ysterhokke wat aan die kerktoring hang.

[Voetnoot]

a Hierdie artikel bespreek nie die argumente vir of teen kinderdoop nie. Sien die artikel “Moet babas gedoop word?” in Die Wagtoring van 15 Maart 1986 vir meer inligting oor hierdie onderwerp.

[Prente op bladsy 13]

Koning Jan is gemartel, tereggestel en aan die toring van die St. Lambertuskerk gehang

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel