Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 11/15 bl. 21-23
  • Die Anabaptiste en “die patroon van gesonde woorde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Anabaptiste en “die patroon van gesonde woorde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die patroon” word gevestig
  • Die grondbeginsels
  • Hulle beskouing van die wêreld
  • Vervolging—en daarna
  • “Die patroon” vandag
  • Wie was die Anabaptiste?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Help studente om “gesonde woorde” te deel
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Hou aan om te beoefen wat julle geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 11/15 bl. 21-23

Die Anabaptiste en “die patroon van gesonde woorde”

DIE apostel Paulus het gewaarsku dat afvallige Christene, soos “wrede wolwe”, na sy dood onder God se kudde sal inkom en sal probeer om “die dissipels weg te trek agter hulle aan”. Hoe sou hulle dit doen? Deur tradisies en valse leringe in te bring om die waarheid van die Bybel te verdraai.—Handelinge 20:29, 30; 1 Timotheüs 4:1.

Om hierdie rede het Paulus die jong man Timotheüs vermaan: “Bly vashou aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde in verband met Christus Jesus. Bewaar hierdie goeie pand deur die heilige gees wat in ons woon.” Wat is hierdie “patroon van gesonde woorde”?—2 Timotheüs 1:13, 14, NW.

“Die patroon” word gevestig

Al die boeke van die Christelike Griekse Skrifte is in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling voltooi. Ofskoon hulle deur verskillende skrywers geskryf is, het God se heilige gees, of werkende krag, verseker dat die boeke nie net met mekaar ooreenstem nie, maar ook met die vroeër Hebreeuse Skrifte. Op hierdie manier is ’n “patroon” van gesonde Skriftuurlike leer saamgestel waaraan Christene trou moes bly, net soos Jesus Christus vir hulle “’n voorbeeld” geword het om na te volg.—1 Petrus 2:21; Johannes 16:12, 13.

Wat het gedurende die geestelik donker eeue wat op die dood van die apostels gevolg het met “die patroon van gesonde woorde” gebeur? Talle opregte mense het probeer om dit te herontdek, ofskoon dit eers in “die tyd van die einde” volkome herstel sou word (Daniël 12:4). Soms was dit ’n enkele stem, en dan was dit weer ’n groepie mense wat na “die patroon” gesoek het.

Die Waldense was skynbaar so ’n minderheidsgroep.a Hulle het gedurende die 12de tot die 14de eeu in Frankryk, Italië en ander streke van Europa gewoon. Die Anabaptiste het later uit hierdie beweging voortgekom. Wie was hulle, en wat het hulle geglo?

Die grondbeginsels

Die Anabaptiste het om en by die jaar 1525 in Zürich, Switserland, op die voorgrond gekom. Hulle opvattings het vinnig vanuit daardie stad na baie ander dele van Europa versprei. Die Hervorming vroeg in die 16de eeu het ’n paar veranderings aangebring, maar na die Anabaptiste se mening is dit nie ver genoeg gevoer nie.

Weens hulle begeerte om na die Christelike leringe van die eerste eeu terug te keer, het hulle meer van die Rooms-Katolieke dogma verwerp as wat Martin Luther en ander hervormers gedoen het. Die Anabaptiste het byvoorbeeld volgehou dat net ’n volwassene ’n toewyding aan Christus kan maak. Omdat hulle grootdoop beoefen het, selfs in die geval van iemand wat as ’n baba gedoop is, is hulle “Anabaptiste” genoem, wat “wederdopers” beteken.—Mattheüs 28:19; Handelinge 2:41; 8:12; 10:44-48.

“Die Anabaptiste het die ware Kerk as ’n gemeenskap van gelowiges beskou”, skryf dr. R. J. Smithson in sy boek The Anabaptists—Their Contribution to Our Protestant Heritage. As sodanig het hulle hulself as ’n gemeenskap van gelowiges binne die algemene gemeenskap beskou en het hulle nie ’n spesiaal opgeleide, of besoldigde predikantskap gehad nie. Hulle was, soos Jesus se dissipels, rondreisende predikers wat stede en dorpe besoek het en op markpleine en by werksplekke en huise met mense gepraat het.—Mattheüs 9:35; 10:5-7, 11-13; Lukas 10:1-3.

Elke individuele Anabaptis was na hulle mening persoonlik teenoor God aanspreeklik, het wilsvryheid geniet en sy geloof deur sy werke getoon, maar het besef dat redding nie op werke alleen berus nie. As iemand teen die geloof oortree het, kon hy uit die gemeente gesit word. Hy kon herstel word slegs as hy bewys gelewer het van gepaste berou.—1 Korinthiërs 5:11-13; vergelyk 2 Korinthiërs 12:21.

Hulle beskouing van die wêreld

Die Anabaptiste het besef dat hulle nie die wêreld kan hervorm nie. Hoewel die Kerk sedert die tyd van die Romeinse keiser Konstantyn in die vierde eeu G.J. met die Staat verenig was, het dit nie vir hulle beteken dat die Staat Christelik geword het nie. Hulle het geweet dat ’n Christen, volgens wat Jesus gesê het, “nie van die wêreld” moes wees nie, selfs al het dit tot vervolging gelei.—Johannes 17:15, 16; 18:36.

Wanneer daar geen konflik tussen die Christelike gewete en sekulêre belange was nie, het die Anabaptiste erken dat die Staat tereg gerespekteer en gehoorsaam moet word. Maar ’n Anabaptis het geweier om by die politiek betrokke te raak, ’n burgerlike amp te beklee, ’n magistraat te wees of om ede af te lê. Aangesien hy alle vorme van geweld verwerp het, het hy ook nie aan oorlogvoering deelgeneem of militêre diens gedoen nie.—Markus 12:17; Handelinge 5:29; Romeine 13:1-7; 2 Korinthiërs 10:3, 4.

Die Anabaptiste het ’n hoë morele standaard en ’n eenvoudige lewenswyse gehandhaaf wat basies vry was van besittings en materialistiese begeertes. Vanweë hulle liefde vir mekaar het hulle dikwels nedersettings gestig, ofskoon die meeste van hulle ’n gemeenskapslewe as ’n leefwyse verwerp het. Met die uitgangspunt dat alles aan God behoort, was hulle nietemin altyd bereid om hulle materiële besittings ten behoewe van die armes aan te wend.—Handelinge 2:42-45.

Op grond van ’n noukeurige studie van die Bybel, veral van die Christelike Griekse Skrifte, het party Anabaptiste geweier om die Drie-eenheidsleerstelling van drie persone in een God aan te neem, soos sommige van hulle geskrifte getuig. Hulle manier van aanbidding was gewoonlik baie eenvoudig terwyl die Here se Aandmaal ’n spesiale plek beklee het. Hulle het die tradisionele Rooms-Katolieke, Lutherse en Calvinistiese beskouings verwerp en hierdie viering as ’n herdenking van Jesus se dood beskou. “Vir hulle”, skryf R. J. Smithson, “was dit die plegtigste daad waaraan ’n Christen kon deelneem en het dit die hernuwing van die gelowige se gelofte om sy lewe onvoorwaardelik aan Christus se diens te wy, ingesluit.”

Vervolging—en daarna

Die Anabaptiste is misverstaan, net soos die vroeë Christene. Hulle is insgelyks beskou as mense wat die bestaande orde van die samelewing ontwrig en ‘die wêreld in opstand bring’ (Handelinge 17:6). In Zürich, Switserland, het die owerheid, saam met hervormer Huldrych Zwingli, in die besonder die stryd met die Anabaptiste aangebind oor hulle weiering om babas te doop. In 1527 het hulle Felix Manz, een van die leiers van die Anabaptiste, wreed verdrink en die Switserse Anabaptiste so bitterlik vervolg dat hulle feitlik uitgewis is.

In Duitsland is die Anabaptiste bitterlik deur sowel Katolieke as Protestante vervolg. Ingevolge ’n keiserlike mandaat, wat in 1528 aangeneem is, is enigeen wat ’n Anabaptis geword het die doodstraf opgelê—en dít sonder enige vorm van verhoor. Vervolging in Oostenryk het veroorsaak dat die meeste Anabaptiste daar na Morawië, Boheme en Pole, en later na Hongarye en Rusland, gevlug het.

Aangesien so baie van die oorspronklike leiers gesterf het, was dit onafwendbaar dat ekstremiste na vore sou tree. Hulle het ’n wanbalans meegebring wat gelei het tot baie verwarring en toe tot ’n afval van die norme wat vroeër tye gekenmerk het. Dit het in 1534 op tragiese wyse geblyk toe sulke ekstremiste die stadsbestuur van Münster, Wesfale, met geweld oorgeneem het. Die stad is die daaropvolgende jaar met baie bloedvergieting en marteling herower. Hierdie voorval het nie met die ware leer van die Anabaptiste ooreengestem nie en het veel daartoe bygedra dat hulle in onguns geraak het. Party volgelinge wou die naam Anabaptiste ten gunste van die naam “Baptiste” verwerp. Maar watter naam hulle ook al gekies het, hulle het nietemin die slagoffers van teëkanting en van die Katolieke Inkwisisie in die besonder geword.

Uiteindelik het groepe Anabaptiste geemigreer om na groter vryheid en vrede te soek. Ons vind hulle vandag in Noord- en Suid-Amerika, sowel as in Europa. Talle kerkgenootskappe is deur hulle aanvanklike leringe beïnvloed, onder meer die Kwakers, die hedendaagse Baptiste en die Calvinistiese Broedergemeente. Die Kwakers onderskryf die Anabaptiste se hewige afkeer van oorlog en die opvatting van leiding deur ’n ‘innerlike lig’.

Die voortbestaan van die Anabaptiste kan vandag die duidelikste gesien word in twee besondere groepe. Die eerste groep is die Huteriese Broeders, wat na hulle 16de-eeuse leier, Jakob Hutter, vernoem is. Hulle het gemeenskapsnedersettings in Engeland, westelike Kanada, Paraguay en Suid-Dakota in die Verenigde State gestig. Die Mennoniete is die ander groep. Hulle is vernoem na Menno Simons, wat veel daartoe bygedra het om die slegte naam uit te wis wat hulle in die Nederlande as gevolg van die Münsteraangeleentheid gehad het. Simons is in 1561 oorlede. Vandag kom die Mennoniete, sowel as die Amish-Mennoniete, in Europa en Noord-Amerika voor.

“Die patroon” vandag

Ofskoon die Anabaptiste moontlik na “die patroon van gesonde woorde” gesoek het, het hulle dit nie gevind nie. Daarbenewens sê K. S. Latourette in sy boek A History of Christianity: “Hoewel hulle aanvanklik stoere sendelinge was, het hulle hulle as gevolg van vervolging grotendeels afgesonder en hulle bestaan deur middel van geboorte eerder as deur bekering voortgesit.” En dieselfde geld selfs nou vir daardie klein groepies wat van die Anabaptiste-beweging afkomstig is. Hulle begeerte om van die wêreld en sy weë afgeskeie te wees, het daartoe gelei dat hulle op ’n kenmerkende manier aantrek, wat deur hulle dikwels afsonderlike gemeenskapslewe bevorder word.

Kan “die patroon van gesonde woorde” dan vandag werklik gevind word? Ja, maar dit verg tyd en liefde vir die waarheid om dit te vind. Vergewis jou gerus daarvan of wat jy glo aan die goddelik geopenbaarde “patroon” voldoen. Dit is nie moeilik om vas te stel wat mensgemaakte tradisie en wat Skriftuurlike feite is nie. Jehovah se Getuies in jou buurt sal jou graag help, want hulle waardeer self die manier waarop hulle gehelp is om “die patroon van gesonde woorde” te verstaan.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1981, bladsye 11-15.

[Prent op bladsy 23]

Jehovah se Getuies help talle om “die patroon van gesonde woorde” te verstaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel