Gilead stuur sendelinge na “die mees afgeleë deel van die aarde”
DIE Wagtoring-Bybelskool Gilead stuur al meer as ’n halfeeu lank sendelinge uit. Op 11 September 1999 het Gilead se 107de klas gegradueer. Dit het bestaan uit 48 studente van 11 lande, en hulle is gestuur om in 24 verskillende lande te dien. Hulle sal by duisende ander sendelinge aansluit, wat ’n betekenisvolle rol gespeel het in die vervulling van Jesus se laaste woorde voordat hy na die hemel opgevaar het. Hy het voorspel dat sy dissipels ‘getuies van hom sou wees tot in die mees afgeleë deel van die aarde’.—Handelinge 1:8.
Die gradueringsprogram, wat by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou is, was ’n wonderlike geleentheid in ’n pragtige omgewing. Die studente wat gegradueer het, was baie bly dat hulle familielede, intieme vriende en gaste teenwoordig kon wees. Altesaam 4 992 het dit bygewoon, insluitende diegene wat deur middel van klank- en videoverbindings by die Brooklyn- en Wallkill-kompleks daarna geluister en gekyk het.
Dien Jehovah en jou naaste getrou
“Wie is aan Jehovah se kant?” Dit was die tema van die inleidingskommentare van Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam en voorsitter van die gradueringsprogram. Hy het verduidelik dat dit die besluit was waarvoor die Israeliete in Moses se dag te staan gekom het. Die studente en diegene in die gehoor is daaraan herinner dat baie van die Israeliete hulle lewe in die woestyn verloor het omdat hulle nie lojaal aan Jehovah se kant gebly het nie. Nadat hulle by afgodediens betrokke geraak het, het hulle “gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om ’n vrolike tyd te hê” (Exodus 32:1-29, vgl. NW). Jesus het Christene teen dieselfde gevaar gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom . . . nie.”—Lukas 21:34-36.
Die volgende spreker, Gene Smalley, van die Skryfafdeling, het vir die studente gevra: “Sal jy ’n versterkende hulp wees?” Hy het verduidelik dat die Griekse woord pa·re·go·riʹa in Engels oorgeneem is as die naam van ’n geneeskundige mengsel om pyn te verlig. Maar die apostel Paulus het hierdie veelseggende Griekse woord in Kolossense 4:11 gebruik om sy medewerkers te beskryf. In die Nuwe Wêreld-vertaling word hierdie woord as “’n versterkende hulp” vertaal.
In hulle toewysings kan die sendelinge wat nou gegradueer het op praktiese maniere ’n versterkende hulp vir die plaaslike broers en susters word en soos hulle medesendelinge ’n gees van samewerking en liefde weerspieël.
Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, het daarna gepraat oor die onderwerp “Die Gulde Reël waarvolgens ons moet lewe”. Hy het verduidelik dat die verhewe beginsel wat Jesus in Matteus 7:12 uiteengesit het, “alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen”, nie net beteken dat ’n mens ander nie kwaad moet aandoen nie, maar ook dat jy positiewe dinge vir hulle moet doen.
Om dit met welslae te doen, is drie dinge nodig: ’n opmerksame oog, ’n medelydende hart en ’n helpende hand. Ter opsomming het hy gesê: “As ons voel ons wil help, moet ons dadelik help. Ons moet ons inspan om vir ander te doen wat ons graag wil hê hulle vir ons moet doen.” Dit sal veral waar wees van sendelinge wat na ander lande gaan om mense te help om die ware Christelike geloof te beoefen.
Instrukteurs gee vriendelike herinneringe
Die Gileadinstrukteur Karl Adams het die sendelinge aangemoedig met die tema “Hou aan groei”. In watter opsigte? Eerstens in kennis en in die vermoë om dit goed te gebruik. By Gilead het die studente geleer hoe om navorsing te doen sodat hulle kon uitvind wat die agtergrond en omstandighede van Bybelverslae is. Hulle is aangemoedig om te kyk hoe elke verslag hulle lewe moet beïnvloed. Hulle is aangespoor om daarmee voort te gaan.
“Tweedens moet hulle aanhou groei in liefde. Liefde is iets wat groei as dit gevoed word. Wanneer dit verwaarloos word, kan dit doodgaan”, het broer Adams gesê (Filippense 1:9). As sendelinge sal hulle nou onder ander omstandighede moet groei in liefde. En derdens: “Hou aan om te groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). “Dít is die wonderlike goedhartigheid wat Jehovah deur sy Seun betoon het”, het die spreker gesê. “Namate ons waardering vir hierdie onverdiende goedhartigheid toeneem, skep ons meer behae daarin om God se wil te doen en te vervul wat hy ons toegewys het om te doen.”
Nog ’n Gileadinstrukteur, Mark Noumair, het gepraat oor die tema “Aanvaar dit met liefde, dan sal julle dit kan verduur”. Hy het gemaan: “Leer om moeilike situasies in julle lewe as sendelinge met liefde te aanvaar, dan sal julle dit kan verduur. Jehovah dissiplineer net diegene wat hy liefhet. Selfs as jy meen dat sekere raad onvanpas is, dat iemand op jou pik of onredelik teenoor jou is, sal liefde vir Jehovah en jou verhouding met hom jou help om dit te aanvaar.”
Broer Noumair het getoon dat sendingdiens baie pligte insluit. “Maar as jy jou pligte sonder liefde uitvoer, sal dit jou ongelukkig maak. Sonder liefde kan jou pligte in die huis—soos om te kook, inkopies te doen, die vrugte te was, die water te kook—baie eentonig word. Jy moet stilstaan en jou afvra: ‘Waarom doen ek hierdie dinge?’ Wel, as jy vir jouself sê: ‘My takies dra by tot die gesondheid en geluk van my medesendelinge’, dan sal dit nie te moeilik wees om te verduur nie.” Ter opsomming het hy gewaarsku: “Of jy nou raad moet aanvaar, jou sendingverpligtinge moet nakom of misverstande uit die weg moet ruim, jy sal in jou toewysing kan volhard as jy hierdie dinge met liefde aanvaar. ‘Die liefde faal nooit nie.’”—1 Korintiërs 13:8.
Die Gileadinstrukteur Wallace Liverance het vervolgens die studente gebruik om ’n hele paar van die interessante ondervindinge op te voer wat hulle gehad het terwyl hulle saam met die plaaslike gemeentes gewerk het. Buiten dat hulle van huis tot huis gegaan het, het hulle hulle sendingopleiding gebruik om mense te nader by stilhouplekke vir vragmotors, wasserye, spoorwegstasies en op ander plekke.
Gerusstelling van ervare sendelinge
Moet nuwe sendelinge baie bevrees wees wanneer hulle na ’n vreemde land gaan? Kan hulle die uitdagings van ’n buitelandse toewysing die hoof bied? Wat doen takkantore om hierdie nuwelinge te help om suksesvol te wees? Om hierdie en ander vrae te beantwoord het Steven Lett, van die Diensafdeling, en David Splane, van die Skryfafdeling, ’n onderhoud met broers gevoer wat op daardie stadium die skool vir takkomiteelede by die Wagtoring-onderrigsentrum bygewoon het. Die broers met wie daar onderhoude gevoer is, dien op takkomitees in Spanje, Hongkong, Liberië, Benin, Madagaskar, Brasilië en Japan.
Hierdie ervare knegte van Jehovah, waarvan baie van hulle dekades lank as sendelinge gedien het, het die studente sowel as hulle ouers en familielede in die gehoor gerusgestel. Uit hulle eie ondervinding en dié van medesendelinge kon hulle sê dat probleme en bekommernisse met welslae die hoof gebied kan word. Hulle probleem is moontlik groot, “maar dit kan opgelos word, en die Genootskap help ons”, het Raimo Kuokkanen, ’n sendeling in Madagaskar, gesê. “Ons het nie die toewysing gekies nie; ons het dit ontvang”, het Östen Gustavsson, wat nou in Brasilië dien, gesê. “Daarom het ons besluit om ons bes te doen om te volhard.” James Linton, wat in Japan dien, het gesê dat hy gehelp is deur “die teenwoordigheid van die broers wat alreeds in ’n sendingtoewysing dien”. Sendingdiens is ’n vreugdevolle en bevredigende manier om Jehovah te dien en na sy skape om te sien.
Vermy die plaag wat geestelikheid vernietig
Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam, wat self in 1946 aan Gilead se sewende klas gegradueer het, het die slottoespraak gehou met die tema “Die uitdaging om geestelik lewend te bly”. Hy het eers erken dat verskriklike wreedhede in verskillende dele van die wêreld plaasvind, en toe het hy getoon dat die mensdom in werklikheid met veel erger dinge te kampe het.
Broer Jaracz het na Psalm 91 verwys en die “pes” en “vernietiging” geïdentifiseer wat miljoene mense om ons geestelik siek gemaak en hulle dood veroorsaak het. Die Duiwel en sy goddelose stelsel gebruik propaganda, wat soos pes is en op intellektualisme en materialisme gebaseer is, om mense se geestelikheid te ondermyn en te vernietig, maar Jehovah verseker ons dat hierdie plaag nie naby enigeen sal kom “wat in die skuilplek van die Allerhoogste woon” nie.—Psalm 91:1-7, NW.
“Die uitdaging”, het broer Jaracz gesê, “is om gesond in die geloof te bly, om in die plek van veiligheid te bly. Ons kan nie soos die spotters wees wat ‘nie geestelikheid het nie’. Dit is juis vandag ’n probleem. Dit is ’n probleem waarvoor ons almal in die organisasie te staan kom. Julle kan dit ook in julle sendingtoewysing teëkom” (Judas 18, 19). Maar vir die sendelinge wat gegradueer het, is daar gesê dat hulle wel in hulle toewysings geestelik sterk kan bly. Hulle is aangemoedig om byvoorbeeld daaraan te dink hoe ons broers in Rusland, in Asië en in Afrikalande volhard—ten spyte van verbooie, hewige teenstand, bespotting, ateïstiese propaganda en valse aanklagte. En in baie gevalle is daar boonop fisiese probleme, wat deur etniese konflikte en ’n tekort aan lewensbenodigdhede veroorsaak word.
Wanneer ’n mens se geestelikheid agteruitgaan, “moet jy aan die oorsaak van die probleem aandag gee en dan daaraan werk deur die raad van God se Woord toe te pas”. Bybelse voorbeelde is gegee. Josua is aangemoedig om sy afskrif van die Wet elke dag op gedempte toon te lees (Josua 1:8, NW). Toe die Wetboek in Josia se dag gevind is, het Jehovah hulle geseën omdat hulle die riglyne daarin getrou toegepas het (2 Konings 23:2, 3). Timoteus het die heilige geskrifte van kleintyd af geken (2 Timoteus 3:14, 15). Die Bereane het nie net goed geluister nie; hulle is as ‘edelmoedig’ beskou omdat hulle die Skrif daagliks ondersoek het (Handelinge 17:10, 11). En Jesus Christus is die vernaamste voorbeeld van iemand wat God se Woord geken en gebruik het.—Matteus 4:1-11.
Ten slotte het broer Jaracz die nuwe sendelinge liefdevol aangespoor: “Julle is nou gereed om in julle sendingtoewysing te begin. En julle gaan na die buiteland, in ’n baie letterlike sin na baie verskillende dele van die aarde. As ons die uitdaging die hoof bied om geestelik lewend te bly, sal ons nie toelaat dat enigiets ons aandag aftrek sodat ons nie ons voorneme uitvoer nie. Julle gaan met ywer getuig, ander motiveer om julle geloof na te volg, en ons sal saam met julle bid dat Jehovah diegene wat deur julle geleer word lewend sal maak soos hy met ons gedoen het. En sodoende sal nog baie uit die slegte geestelike toestand kom wat nou in die wêreld heers. Hulle sal in toenemende getalle by ons aansluit om Jehovah se wil te doen. En mag Jehovah julle seën om dit te bereik.”
Nadat die voorsitter die groete van verskillende lande oor die wêreld gelees het, het die tyd aangebreek om vir die studente wat gegradueer het hulle diplomas te gee. Daarna is ’n hartlike brief van waardering gelees wat die studente geskryf het. Hoe dankbaar was hulle tog teenoor Jehovah en sy organisasie vir die spesiale opleiding wat hulle ontvang het en vir hulle onderskeie toewysings as sendelinge wat na “die mees afgeleë deel van die aarde” gaan!—Handelinge 1:8.
[Venster op bladsy 29]
Klasstatistiek
Aantal lande verteenwoordig: 11
Aantal lande waarheen gestuur: 24
Aantal studente: 48
Aantal egpare: 24
Gemiddelde ouderdom: 34
Gemiddelde jare in waarheid: 17
Gemiddelde jare in voltydse diens: 12
[Prent op bladsy 26]
107de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
1. Peralta, C.; Hollenbeck, B.; Shaw, R.; Hassan, N.; Martin, D.; Hutchinson, A. 2. Edwards, L.; Vezer, T.; Ceruti, Q.; Entzminger, G.; D’Aloise, L.; Baglieri, L. 3. Knight, P.; Krause, A.; Kasuske, D.; Rose, M.; Friedl, K.; Nieto, R. 4. Rose, E.; Backus, T.; Talley, S.; Humbert, D.; Bernhardt, A.; Peralta, M. 5. D’Aloise, A.; Humbert, D.; Dunn, H.; Gatling, G.; Shaw, J.; Ceruti, M. 6. Baglieri, S.; Krause, J.; Hollenbeck, T.; Martin, M.; Bernhardt, J.; Hutchinson, M. 7. Backus, A.; Dunn, O.; Gatling, T.; Vezer, R.; Knight, P.; Hassan, O. 8. Nieto, C.; Talley, M.; Friedl, D.; Kasuske, A.; Edwards, J.; Entzminger, M.