Onthou jy?
Het jy noukeurig aandag geskenk aan onlangse nommers van Die Wagtoring? Indien wel, sal jy dit interessant vind om die volgende gedagtes te hersien:
◻ Wat is party vrae wat twee Christene hulleself kan afvra voordat hulle daaraan begin dink om verloof te raak?
‘Is ek werklik seker van die ander een se geestelikheid en toegewydheid aan God? Kan ek my voorstel dat ek God ’n leeftyd saam met hierdie persoon gaan dien? Is ons genoeg aan mekaar se karaktertrekke blootgestel? Is ek seker dat ons altyd goed bymekaar sal pas? Weet ons genoeg omtrent mekaar se verlede asook huidige omstandighede?’—8/15, bladsy 31.
◻ Wat het Jesus bedoel toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Julle is die sout van die aarde”? (Matteus 5:13).
Jesus het geïmpliseer dat sy volgelinge se verkondiging van God se Koninkryk aan ander moontlik ’n preserverende, of lewensreddende, invloed op hulle toehoorders sou hê. Trouens, diegene wat Jesus se woorde toegepas het, sou teen die sedelike en geestelike verval in die wêreld beskerm word.—8/15, bladsy 32.
◻ Hoe kan paartjies wat mekaar die hof maak die strik van geslagsonsedelikheid vermy?
As jy uitgaan, is dit verstandig om nie alleen met jou toekomstige huweliksmaat in ongepaste situasies te wees nie. Dit is beter om mekaar se geselskap in ’n groep of in ’n openbare plek te geniet. Stel beperkings op liefdesblyke en respekteer mekaar se gevoelens en gewete.—9/1, bladsye 17, 18.
◻ Wat is verstand?
Dit is die vermoë om tot die kern van ’n saak deur te dring en die samestelling daarvan te onderskei deur in te sien watter verband daar tussen die dele daarvan en die geheel bestaan, en sodoende die sin daarvan te begryp (Spreuke 4:1, NW).—9/15, bladsy 13.
◻ Wat vra Jehovah vandag van ons?
Wat Jehovah basies van ons vra, is om na Sy Seun te luister en sy voorbeeld en leringe te volg (Matteus 16:24; 1 Petrus 2:21).—9/15, bladsy 22.
◻ Slegs wie kan vrede geniet?
Aangesien Jehovah “die God [is] wat vrede gee”, is dit slegs mense wat God liefhet en diepe eerbied vir sy regverdige beginsels het wat vrede kan geniet (Romeine 15:33).—10/1, bladsy 11.
◻ Hoe het Josef die sedelike krag verkry om, dag na dag, vir Potifar se vrou nee te sê?
Josef het sy verhouding met Jehovah van veel groter waarde geag as kortstondige genot. Daarbenewens het Josef ’n duidelike begrip van sedelike beginsels gehad, hoewel hy nie onder ’n Goddelike regskode was nie (Genesis 39:9).—10/1, bladsy 29.
◻ Hoe belangrik is ons gewilligheid om ons broers te vergewe?
Of God ons sal aanhou vergewe of nie, hang in groot mate af van ons gewilligheid om ander te vergewe (Matteus 6:12, 14; Lukas 11:4).—10/15, bladsy 17.
◻ Na watter soort sondes het Matteus 18:15-17 verwys, en hoe word dit aangedui?
Die sondes wat Jesus in gedagte gehad het, was ernstig genoeg om daartoe te lei dat die oortreder “soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder” beskou kon word. Jode het nie met heidene geassosieer nie, en hulle het belastinggaarders vermy. Matteus 18:15-17 verwys dus na ernstige sondes, nie bloot na gevalle waar iemand aanstoot gegee is of na gekwetste gevoelens wat ’n mens net kan vergewe en vergeet nie (Matteus 18:21, 22).—10/15, bladsy 19.
◻ Wat behels ware liefde vir God se Woord?
Liefde vir God se Woord beweeg ’n mens om in ooreenstemming met die vereistes daarvan te lewe (Psalm 119:97, 101, 105). Dit vereis voortdurend aanpassings in ’n mens se denke en lewenswyse.—11/1, bladsy 14.
◻ Aangesien ons soveel uit Jehovah se hand ontvang het, wat kan ons op ons beurt aan die grootste Koning en Gewer gee?
Die Bybel toon dat “’n lofofferande” die beste geskenk is wat ons aan Jehovah kan gee (Hebreërs 13:15). Waarom? Omdat hierdie offerande direk verband hou met die redding van lewens, iets wat vir Jehovah van groot belang is in hierdie tyd van die einde (Esegiël 18:23).—11/1, bladsy 21.
◻ Wat het Salomo bedoel toe hy geskryf het: “Die woorde van die wyse manne is soos prikkels”? (Prediker 12:11).
Die woorde van diegene wat Goddelike wysheid besit, spoor die lesers of luisteraars aan om vooruitgang te maak in ooreenstemming met die wyse woorde wat hulle lees of hoor.—11/15, bladsy 21.
◻ Wat is godvrugtige onderskeidingsvermoë?
Dit is die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en dan die regte weg te kies. Ons verkry onderskeidingsvermoë deur God se Woord te bestudeer en toe te pas.—11/15, bladsy 25.
◻ Waarmee moet ’n gewilligheid om verantwoordelikhede te aanvaar, getemper word? (1 Timoteus 3:1).
Dit moet met goeie oordeel getemper word. Niemand moet soveel toewysings aanvaar dat hy sy vreugde in Jehovah se diens verloor nie. ’n Gewillige gees is prysenswaardig, maar gewilligheid moet ook beskeidenheid en “gesonde verstand” weerspieël (Titus 2:12; Openbaring 3:15, 16).—12/1, bladsy 28.
◻ Hoe kan die uitdaging van ouerskap die hoof gebied word?
God spoor ouers aan om voorbeelde, vriende, kommunikeerders en onderrigters te wees (Deuteronomium 6:6, 7).—12/1, bladsy 32.