Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 12/15 bl. 4-8
  • Kersfeesvierings—Waarom selfs in die Ooste?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersfeesvierings—Waarom selfs in die Ooste?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die rol van geskenke
  • Die oorsprong van Kersfees
  • Wat die Skrif oor Kersfees sê
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?
    Ontwaak!—1993
  • Die oorsprong van die hedendaagse kersfees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 12/15 bl. 4-8

Kersfeesvierings—Waarom selfs in die Ooste?

’N OU Oosterse volksgeloof toon ooreenkomste met Kersvader. Dit is die Koreaanse volksgeloof omtrent Tsjowangsjin, en iets soortgelyks kan onder party Chinese en Japannese gevind word.

Tsjowangsjin is beskou as ’n god van die kombuis, ’n god van vuur wat in die eertydse Koreaanse vuuraanbidding aanbid is. (In die ou tyd het Koreane gloeiende kole versigtig gedra, en seker gemaak dat dit nooit geblus word nie.) Daar is geglo dat hierdie god die gedrag van gesinslede ’n jaar lank dopgehou het, waarna hy deur die stoof en skoorsteen in die kombuis na die hemel opgevaar het.

Tsjowangsjin het na bewering op die 23ste van die maanmaand Desember aan die koning van die hemel verslag gedoen. Hy sou dan na verwagting aan die einde van die jaar deur die skoorsteen en die stoof terugkom en belonings en straf bring in ooreenstemming met elkeen se gedrag. Op die dag van sy terugkeer moes die lede van die gesin kerse in die kombuis en op ander plekke in die huis aansteek. In prente van daardie kombuisgod sien ons nog ’n ooreenkoms met Kersvader—hy is in rooi uitgebeeld! Dit was ’n gebruik dat die skoondogter ’n paar tradisionele Koreaanse kouse brei en dit op die wintersonstilstand vir haar skoonmoeder gee. Dit sou ’n blyk wees van haar wens dat haar skoonmoeder ’n lang lewe moet hê, aangesien die dae ná daardie datum langer word.

Sien jy nie ’n hele paar ooreenkomste tussen die voorafgaande punte en Kersfees nie? Hulle het soortgelyke verhale en gebruike: die skoorsteen, kerse, geskenke wat gegee word, kouse, ’n ou man in rooi klere en die datum. Nogtans is sulke ooreenkomste alleen nie verantwoordelik vir die feit dat Kersfees so maklik in Korea aanvaar is nie. Geloof in Tsjowangsjin het byna heeltemal verdwyn teen die tyd dat Kersfees die eerste keer in Korea gevier is. Trouens, die meeste Koreane van vandag weet nie eers dat so ’n volksgeloof bestaan het nie.

Dit lig nietemin toe hoe gebruike wat verband hou met die wintersonstilstand en die einde van die jaar op verskillende maniere regoor die wêreld versprei het. In die vierde eeu G.J. het die hoofkerk in die Romeinse Ryk die naam van die Saturnalieë, die heidense Romeinse fees van die geboorte van die songod, verander en dit deel van Kersfees gemaak. Die Kersfeesviering was dus in werklikheid ’n herlewing van plaaslike gebruike onder ’n ander naam. Hoe was dit moontlik?

Die rol van geskenke

Een gebruik wat nooit verdwyn het nie, is die gebruik om geskenke te gee. Koreane put al lank groot vreugde daaruit om geskenke te gee en te ontvang. Dit was een rede waarom die Kersfeesviering in Korea gewild geword het.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was kerke vir die Amerikaanse soldate, wat in Korea gestasioneer was en wat hulle bande met die mense wou versterk, plekke om bymekaar te kom en om geskenke te gee en noodleniging te voorsien. Dit het veral op Kersdag gebeur. Baie kinders het uit nuuskierigheid na die kerke gegaan, en daar het hulle vir die eerste keer sjokoladegeskenke ontvang. Dit is te verstane dat baie van hulle toe na die volgende Kersfees uitgesien het.

Vir sulke kinders was Kersvader ’n Amerikaanse soldaat met ’n lang, rooi mus. Spreuke 19:6 sê: “Die man van geskenke het ’n hoop vriende.” Ja, om geskenke te gee, was baie doeltreffend. Maar soos jy uit daardie vers kan aflei, waarborg sulke geskenke nie ’n blywende vriendskap nie. Selfs in Korea is daar baie mense wat die kerk net onthou as die plek waar hulle sjokolade ontvang het toe hulle jonger was. Maar hulle het nie van Kersfees vergeet nie. Namate Korea se ekonomie vinnig gegroei het, het kommersialisme toegeneem, en Kersgeskenke het ’n eenvoudige manier geword om die verbruiker meer te laat bestee. Sakeondernemings het misbruik gemaak van Kersfees om hulle winste te vergroot.

Dit gee jou insig in die hedendaagse Kersfeesviering in die Ooste. Nuwe produkte word geskep om munt te slaan uit die koopkoors gedurende Kerstyd. Daar word al van die middel van die somer af aan advertensies gewerk. Verkoopsyfers bereik aan die einde van die jaar ’n hoogtepunt as gevolg van al die Kersgeskenke, -kaartjies en -musiekopnames wat gekoop word. Advertensies kan selfs die gemiddelde jongmens ellendig laat voel as hy of sy op Kersaand by die huis gebly het en geen geskenke gekry het nie!

Namate Kersdag nader kom, begin winkels en winkelsentrums in Seoel wemel van mense wat daar is om geskenke te koop, en dieselfde gebeur in ander Oosterse stede. Daar is verkeersknope. Hotelle, sakebuurte, restaurante en nagklubs word oorstroom deur klante. Die klanke van uitbundige partytjies—luidrugtige singery—kan gehoor word. Op Kersaand loop daar oral dronk mans en vroue rond op strate wat vol rommel is.

Dit is wat Kersfeesvierings behels. Kersfees in die Ooste is nie meer ’n vakansiedag waarop verklaarde Christene die leiding neem nie. Kommersialisme het natuurlik in Korea, soos op ander plekke, die voortou geneem om hierdie vakansiedag van die Christendom ten volle te benut. Maar moet kommersialisme alleen die skuld kry vir ’n Kersfees wat so in stryd is met die gees van Christus? Ware Christene moet dieper ondersoek instel na die belangrike kwessie wat hierby betrokke is.

Die oorsprong van Kersfees

’n Wilde dier wat in ’n hok in ’n dieretuin gesit word, is nog steeds wild. En dit sou ’n ernstige fout wees om te dink dat die dier nou mak is net omdat hy ’n ruk lank in ’n hok was en skynbaar lekker saam met sy kleintjies speel. Jy het dalk al berigte gehoor van werkers in ’n dieretuin wat aangeval is.

In sommige opsigte kan ons dieselfde sê van die viering van Kersfees. Aanvanklik was dit ’n “dier” wat buite die Christelike godsdiens gelewe het. Onder die onderhofie “Verband met die Romeinse Saturnalieë” sê The Christian Encyclopedia (in Koreaans)a aangaande Kersfees:

“Die heidense Saturnalieë en Brumalia was te diep in die gewilde gebruike gewortel om deur Christelike invloed verdring te word. Die erkenning van Sondag (die dag van Foibos en Mitras sowel as die dag van die Here) deur keiser Konstantyn . . . het dalk daartoe gelei dat die Christene van die vierde eeu dit as gepas beskou het om die verjaarsdag van die Seun van God met die verjaarsdag van die fisiese son te laat saamval. Die heidense fees met sy oordadige etery en drinkery en vrolikheid was so gewild dat die Christene bly was oor die verskoning om die viering voort te sit sonder dat veel verander is aan die gees of manier waarop dit gedoen is.”

Dink jy dat so ’n verwikkeling sonder enige teenstand kon plaasvind? Dieselfde ensiklopedie sê: “Christenpredikers van die Weste en die Nabye Ooste het beswaar gemaak teen die ongepaste uitgelatenheid waarmee Christus se verjaarsdag gevier is, terwyl Christene van Mesopotamië hulle Westerse broers van afgodediens en sonaanbidding beskuldig het omdat hulle hierdie heidense fees as Christelik aangeneem het.” Daar was waarlik van die begin af iets verkeerd. “En tog is die fees gou aanvaar en het dit eindelik so diep gevestig geraak dat selfs die Protestantse revolusie van die sestiende eeu daar nie ’n einde aan kon maak nie”, sê die ensiklopedie.

Ja, ’n fees vir die songod, wat geen deel van die ware Christelike godsdiens is nie, is in die hoofkerk ingebring. Dit het ’n ander naam gekry—maar dit het sy heidense karakter behou. En dit het daartoe bygedra dat heidense gebruike in die sogenaamde Christelike kerke opgeneem word en individue geestelik verdorwe geword het. Die geskiedenis staaf die feit dat die Christendom, namate dit ontwikkel het, die aanvanklike gesindheid van “julle moet julle vyande liefhê”, laat plek maak het vir sedelike verdorwenheid en gewelddadige oorloë.

Mettertyd het dit duidelik geword dat Kersfees sy heidense oorsprong weerspieël het met swelgerye, oormatige drinkery, vrolikheid, dansery, geskenke wat gegee word en huise wat met immergroen takkies versier word. Daar is op elke moontlike manier misbruik gemaak van Kersfees om die einddoel van kommersialisme te bereik—meer verkope. Die massamedia prys dit; die publiek word bloot vermaak. In die middestad van Seoel het ’n winkel wat net onderklere verkoop op die televisienuus verskyn omdat hulle ’n Kersboom wat net met onderklere versier is in die venster ten toon gestel het. Daar was beslis ’n atmosfeer van Kersfees, maar geen teken dat die Christus verwelkom word nie.

Wat die Skrif oor Kersfees sê

Wat leer ons uit hierdie geskiedkundige agtergrond en verwikkelinge? As ’n hemp of ’n bloes van die begin af verkeerd toegeknoop is, is die enigste manier waarop die situasie reggestel kan word om weer van voor af te begin, nie waar nie? Ondanks hierdie waarheid voer party aan dat Kersfees, ten spyte van sy oorsprong in heidense sonaanbidding, deur die Christendom aanvaar is. Hulle meen dus dat die vakansiedag geheilig is as die verjaarsdag van Christus en dat dit ’n nuwe betekenis aangeneem het.

Ons kan ’n waardevolle les leer uit ’n geskiedkundige gebeurtenis wat in eertydse Juda plaasgevind het. In 612 v.G.J. het die Judeërs die heidense aanbidding van die son in die tempel in Jerusalem ingebring. Was sulke heidense aanbidding geheilig omdat dit beoefen is in die plek wat toegewy is aan die rein aanbidding van Jehovah God? Die Bybelskrywer Esegiël het van die sonaanbidding wat in Jerusalem se tempel beoefen is, geskryf: “Kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met . . . hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou!”—Esegiël 8:16, 17.

Ja, in plaas daarvan om geheilig te word, het daardie heidense vorm van aanbidding eerder die hele tempel bedreig. Hierdie gebruike het in die hele Juda voorgekom en het daartoe bygedra dat geweld en sedelike verdorwenheid algemeen in daardie land voorkom. Dieselfde gebeur in die Christendom waar gebruike wat hulle oorsprong in die sonaanbidding van Saturnalieë het gedurende Kersfees beoefen word. Dit is betekenisvol dat Jerusalem ’n paar jaar ná Esegiël daardie visioen ontvang het God se oordeel ondervind het—dit is deur die Babiloniërs vernietig.—2 Kronieke 36:15-20.

Jy het dit dalk amusant gevind om in die vorige artikel te lees hoe ’n Koreaanse skrywer die jong Jesus beskryf het. Maar aangesien dit die reaksie was van iemand wat nie juiste kennis van Christus het nie, gee dit ’n mens stof tot nadenke. Dit sal mense wat Kersfees vier dalk opnuut laat ondersoek instel. Waarom? Omdat Kersfees Christus glad nie reg uitbeeld nie. Trouens, dit maak die ware posisie wat hy nou beklee onduidelik. Jesus is nie meer ’n baba in ’n krip nie.

Die Bybel vestig die aandag oor en oor op die feit dat Jesus nou die Messias is, die magtige Koning van God se hemelse Koninkryk (Openbaring 11:15). Hy is gereed om ’n einde te maak aan die armoede en ellende waaraan party mense gedurende die Kersseisoen dink wanneer hulle geld vir liefdadigheid gee.

Kersfees het om die waarheid te sê nie die lande van die Christendom of ander lande, waaronder die lande in die Ooste, tot voordeel gestrek nie. Dit het eerder die aandag afgetrek van die ware Christelike boodskap oor die Koninkryk van God en die einde van die huidige goddelose stelsel (Matteus 24:14). Ons nooi jou om Jehovah se Getuies te vra hoe daardie einde teweeggebring gaan word. En jy kan by hulle leer aangaande die blywende seëninge wat daarna oor die aarde uitgestort gaan word, onder die leiding van God se Koninkryk en die heersende Koning, Jesus Christus.—Openbaring 21:3, 4.

[Voetnoot]

a Gebaseer op The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge.

[Lokteks op bladsy 6]

Kersfees het daartoe bygedra dat heidense gebruike in die sogenaamde Christelike kerke opgeneem word

[Prent op bladsy 5]

Baie kinders het uit nuuskierigheid na die kerke gegaan en sjokolade as geskenke ontvang. Hulle het dan na die volgende Kersfees uitgesien

[Prent op bladsy 7]

Kersaand in die middestad van Seoel, Korea

[Prent op bladsy 8]

Christus is nie meer ’n baba nie, maar die magtige Koning van God se Koninkryk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel