Kersfees in die Ooste
• ONGEVEER TWEEHONDERD JAAR gelede het ’n vooraanstaande Koreaanse geleerde Peking, China, besoek. Hy het na ’n skildery teen die plafon van ’n katedraal gekyk wat Maria met die kind Jesus in haar arms uitgebeeld het. Hy het van hierdie vreemde skildery gesê:
“’n Vrou het ’n kind wat siek lyk, en omtrent vyf of ses jaar oud was, op haar skoot vasgehou. Haar nek het skynbaar slap gehang, asof sy uit jammerte vir haar seun nie na hom kon kyk nie. En ver agter hulle was daar ’n klomp spoke en babas met vlerke wat rondgevlieg het. Terwyl ek na hulle almal bokant my gekyk het, het dit gelyk asof hulle enige oomblik op my gaan val. Verskrik het ek my hand uitgesteek om hulle te vang.”
HIERDIE voorval het plaasgevind lank ná die Hervorming in Europa begin het, lank ná die donker tydperk van die Middeleeue. Maar vir die meeste Oosterlinge was die Christelike godsdiens so onbekend soos die skildery self. Hoe het daardie situasie tog nie verander nie! Elke Kersseisoen is daar oral tonele van die baba Jesus. Die Ooste het gewoond geraak aan sulke tonele, en baie strate daar lyk nou soos strate in Europa.
Op die aand van 25 November 1998, ’n maand voor Kersfees, is die Champs Élysées in Parys helder verlig deur meer as 100 000 gloeilampe aan die 300 bome wat in rye langs daardie bekende laan staan. Ook in ’n straat in die middestad van Seoel, Korea, word ’n reusagtige Kersboom deur ’n groot afdelingswinkel uitgestal wat die nag in daardie hoofstad begin verlig. Weldra is die strate van die stad met Kersversierings versier.
Die televisie, radio en koerante bied dag na dag Kersfeesverwante programme aan. Die hele land is in ’n Kersfeesstemming, en mense begin die einde van die jaar verwelkom. Die kerke in Seoel, wat baie besoekers verstom wanneer hulle sien hoeveel daar is, word haastig versier. Korea en ander lande in die Ooste word dus deur die Kersfeesgees meegevoer omtrent dieselfde tyd wanneer die Verenigde State laat in November hulle Dankdag vier.
Die meeste lande in die Ooste word nie as deel van die Christendom beskou nie. Net 26,3 persent van die bevolking van Korea sê byvoorbeeld dat hulle Christene is. In Hongkong is dit 7,9 persent, in Taiwan 7,4 persent en in Japan net 1,2 persent. Dit is duidelik dat die meeste Oosterlinge nie die Christelike godsdiens beoefen nie, maar dit lyk nie of hulle beswaar daarteen het om Kersfees te vier nie. Trouens, hulle lyk dikwels meer entoesiasties daaroor as wat Westerlinge is. Hongkong is byvoorbeeld bekend vir sy indrukwekkende Kersfeesvierings, hoewel die meeste van sy inwoners Boeddhiste of Taoïste is. Selfs in China, waar net 0,1 persent sê dat hulle Christene is, word Kersfees baie vinnig al hoe gewilder.
Waarom word Kersfees deur soveel mense in die Ooste gevier? Waarom vier mense wat nie vir Jesus as die Messias aanvaar nie ook Kersfees, wat die meeste verklaarde Christene as sy verjaarsdag beskou? Moet ware Christene hulle beskouing van Kersfees navolg? Ons sal die antwoorde vind terwyl ons ondersoek instel na hoe Kersfees so gewild geword het in Korea, ’n eeue oue land in die Ooste.