Ons vind ware vrede in ’n land vol probleme
“Die monster van sektariese geweld is heeltemal uit sy hok”, het ’n berig in 1969 gesê. Dit was toe die probleme, die huidige tydperk van onrus in Noord-Ierland, begin toeneem het.
SEKTARIESE geweld en slagting het iets alledaags geword namate Protestantse en Katolieke vegters, “die wilde manne aan beide kante” van die politieke en godsdienstige skeiding, hulle stryd om oorheersing in Ierland verskerp het. Sedertdien is “meer as 3 600 mense doodgemaak en duisende vermink in byna 30 jaar van geweld”, berig The Irish Times.
Dit is natuurlik nie ’n nuwe stryd nie. Dit teister Ierland al eeue lank. In onlangse jare is die mees verwoestende gevolge in Noord-Ierland ondervind, maar dit het ’n negatiewe uitwerking op die lewe van al die inwoners van Ierland gehad as gevolg van die bitterheid en verdeeldheid wat daardeur veroorsaak is.
In daardie toestande vestig Jehovah se Getuies nou meer as honderd jaar lank die aandag op die ware oplossing vir die probleme wat hierdie land teister. Daardie oplossing is God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus (Matteus 6:9, 10). Toe die probleme in 1969 begin het, was daar 876 Getuies van Jehovah in Ierland. Nou is daar ver oor die 4 500 in meer as 100 gemeentes. Hier is ’n paar ondervindinge van party wat niks meer met politieke en paramilitêre bedrywighede te doen wil hê nie.
“Wanneer ek groot is, gaan ek by die IRL aansluit!”
Michaela het as ’n Katoliek in die Ierse Republiek grootgeword. Op skool het hy iets omtrent die geskiedenis van Ierland en die eeue oue konflik tussen Ierland en Brittanje geleer. As kind het hy ’n groot haat opgebou vir die Engelse, wat hy as die “verdrukkers van die Ierse volk” beskou het. Toe hy tien jaar oud was, het hy vir sy ouma gesê: “Wanneer ek groot is, gaan ek by die IRL (Die Ierse Republikeinse Leër) aansluit!” “Sy het my so hard deur die gesig geklap dat ek dit vandag nog onthou”, sê hy. Hy het later uitgevind dat sy oupa gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die Britse leër was. Sy ouma moes eenkeer voor sy oupa staan om te keer dat lede van die IRL hom skiet.
Toe Michael egter ouer was, wou hy iets doen om sy mede-Katolieke in Noord-Ierland te help. “Destyds het dit vir my gelyk”, sê hy, “of die IRL die enigste mense was wat enigiets gedoen het om die Katolieke in Noord-Ierland te help.” Aangesien hy aangespoor is deur wat hy as ’n regverdige saak beskou het, het hy ’n IRL-lid geword en is hy opgelei om wapens te gebruik. Drie van sy vriende is deur Protestantse paramilitêre lede in Noord-Ierland doodgeskiet.
Michael is uiteindelik ontnugter deur die paramilitêre stryd; hy is byvoorbeeld ontstel deur die bittere vete wat daar tussen verskillende paramilitêre groepe is. Terwyl hy in die gevangenis was vir oortredings in verband met IRL-bedrywighede, het hy God gevra om hom te help om die ware weg na blywende vrede en geregtigheid te vind. ’n Ruk later het Jehovah se Getuies aan sy deur geklop. Maar ou vooroordele het hindernisse veroorsaak. Die Getuies was Engelse. Sy diepgewortelde haat het dit vir hom moeilik gemaak om te luister. “Ek het hulle nie altyd met ope arms ontvang nie”, sê hy, “maar hulle het aangehou om my te besoek en besprekings met my te hou, en ek het begin besef dat God se Koninkryk al die politieke en sosiale ongeregtighede gaan beëindig wat ek probeer uitroei het.”—Psalm 37:10, 11; 72:12-14.
Die keerpunt het een aand gekom toe Michael sy bevelvoerder van die IRL ontmoet het, wat gesê het: “Ons het vir jou ’n taak om uit te voer.” “Ek het gevoel dat ek net daar ’n besluit moes neem”, sê Michael, “daarom het ek diep asemgehaal en gesê: ‘Ek is nou een van Jehovah se Getuies’, al was ek op daardie stadium nie gedoop nie. Ek het nou eenmaal geweet dat ek ’n kneg van Jehovah wou wees.” “Jy moet teen ’n muur gaan staan en geskiet word”, was die bevelvoerder se antwoord. Ten spyte van die dreigement het Michael die IRL verlaat. Hy het die moed gekry om dit te doen deur toe te laat dat Jehovah se woorde sy verstand en hart raak. “Mettertyd het my vrou en van my kinders ook hulle lewe aan Jehovah toegewy. Ons het nou ware vrede in ons hart. En ons sal altyd dankbaar teenoor Jehovah wees omdat hy ons die geleentheid gegee het om die waarheid te leer en om die boodskap van vrede te verkondig in ’n land vol probleme.”—Psalm 34:15; 119:165.
Dit is ’n ware beskerming om neutraal te wees
“Ek het in die platteland in die graafskap Derry in Noord-Ierland grootgeword”, sê Patrick. “As kind het ek grootgeword te midde van die konflik. Daardie milieu het uiteraard my siening en denke beïnvloed.” Patrick het ekstremistiese beskouings ontwikkel wat beïnvloed is deur bittere nasionalisme en diepgewortelde anti-Britse vooroordele. Hy het gesien hoe godsdienstige mense aan albei kante van die politieke stryd fundamentele Christelike beginsels sowel as beginsels van basiese menswaardigheid skend. Gevolglik het hy godsdiens die rug toegekeer en uiteindelik ’n ateïs en ’n Marxis geword.—Vergelyk Matteus 15:7-9; 23:27, 28.
“Van my vroegste herinneringe is die hongerstakings deur republikeinse gevangenes in die Noorde”, sê Patrick. “Dit het my diep geraak. Ek onthou nog dat ek oral Ierse vlae opgehang en anti-Britse graffiti geskryf het. Toe ek maar net 15 jaar oud was, was ek ’n wag by ’n begrafnis van een van die hongerstakers wat in die tronk gesterf het.” Soos baie ander wat in die beroering en verwarring van die tyd vasgevang was, het Patrick deelgeneem aan onluste en protesoptogte in sy strewe na wat hy as sosiale geregtigheid en gelykheid gesien het. Hy het goed bevriend geraak met ’n aantal vurige nasionaliste, en baie van hulle is deur die Britse owerheid in die tronk gesit.
“Toe”, sê Patrick, “moes ek om finansiële redes tyd in Engeland deurbring. Terwyl ek daar was, het die Britse polisie een van my vriende wat op ’n bomsending was in hegtenis geneem.” Hoewel Patrick nog steeds baie simpatiek teenoor die nasionaliste se doelstellings gestaan het, het sy gesindheid begin verander. Hy het begin sien dat sy vooroordele teenoor alle Engelse mense in beginsel ongegrond was. “Ek het ook begin besef”, sê hy, “dat paramilitêre bedrywighede nooit werklik die probleme sal oplos en die ongeregtigheid sal verwyder wat my so ontstel het nie. Daar is te veel korrupsie en ander onvolmaakthede onder diegene wat die paramilitêre organisasies beheer.”—Prediker 4:1; Jeremia 10:23.
Patrick het uiteindelik na Noord-Ierland teruggekeer. “Toe ek weer tuis was, het ’n vriend my in aanraking gebring met Jehovah se Getuies.” Uit sy studie van die Bybel met die Getuies het Patrick begin besef wat die ware oplossing vir konflik en onenigheid onder mense is. Hy het gou geestelike vordering gemaak namate die beginsels van die Bybel sy verstand en hart beïnvloed het (Efesiërs 4:20-24). “Nou”, sê hy, “verkondig ek eerder die boodskap van vrede uit die Bybel, selfs in gebiede van lojaliste waar ek dit vantevore nooit sou waag nie, as om saam te sweer om die bestaande stelsel omver te probeer werp. Trouens, op ’n stadium toe daar baie sektariese slagtings in Belfast was, was Jehovah se Getuies die enigstes wat sonder pantsermotors vryelik heen en weer tussen die gebiede van lojaliste en nasionaliste kon beweeg.” Hy het, soos ander Getuies in Noord-Ierland gedurende hierdie tyd, gevind dat dit ’n ware beskerming is om, net soos die vroeë Christene, neutraal te wees (Johannes 17:16; 18:36). Hy sluit af: “Dit is so bevrydend om te sien dat Jehovah deur middel van Jesus Christus ware geregtigheid en vryheid van verdrukking aan die hele mensdom gaan voorsien.”—Jesaja 32:1, 16-18.
“My vuurwapens was my enigste beskerming”
“Ek het aan die ander kant van die politieke en godsdienstige skeiding grootgeword”, sê William. “Ek was sterk beïnvloed deur Protestantse vooroordele en ek het alles wat met Katolieke verband hou intens gehaat. Indien moontlik, sou ek nie eers in ’n Katolieke winkel ingegaan het nie, en ek het die Ierse Republiek net een keer besoek. Ek het betrokke geraak by verskeie Protestantse groepe en instellings, soos die Oranje-orde—’n organisasie wat hom daarop toelê om die Protestantse geloof en lewensweg te bewaar.” Toe William 22 was, het hy aangesluit by die Ulster-verdedigingsregiment, ’n deel van die Britse leër wat plaaslik gewerf word. Die meeste van die lede was Protestante. Hy was heel gewillig om ander ter verdediging van sy erfenis dood te maak. “Ek het verskeie vuurwapens besit en sou nie aarsel om dit te gebruik as dit nodig was nie. Saans het ek een onder my kussing gehou.”
Maar daar was ’n keerpunt. “Ek het begin besef dat Jehovah se Getuies iets spesiaals het toe ek saam met een van hulle ’n ou huis gerestoureer het. Hierdie man het ’n groot indruk op my gemaak. Terwyl ons saam aan die huis gewerk het, kon ek hom baie vrae vra wat my gekwel het oor die politieke probleme, godsdiens en God. Sy eenvoudige, duidelike antwoorde het my gehelp om te sien wie Jehovah se Getuies werklik is—’n verenigde, niegewelddadige en polities neutrale organisasie van mense wat deur liefde vir God en hulle naaste gekenmerk word.”—Johannes 13:34, 35.
Binne vier maande nadat William die Bybel begin studeer het, het hy bedank as lid van al die godsdiens- en politieke instellings waaraan hy behoort het. “Dit was ’n groot stap vir my”, sê hy, “want ek moes afsien van talle ou tradisies wat ek gekoester het.” Maar sy grootste toets sou nog kom. “Vanweë die situasie in Noord-Ierland het ek gemeen dat my vuurwapens my enigste beskerming is. Ek is deur die paramilitêre lede van die IRL as ’n ‘wettige teiken’ gesien. Dit was dus baie moeilik om van hierdie wapens ontslae te raak.” Maar Bybelraad, soos dié in Jesaja 2:2-4, het hom geleidelik van mening laat verander. Hy het gesien dat Jehovah sy ware beskerming is, net soos Hy vir die eerste-eeuse Christene was. William het toe sy vuurwapens ingegee.
“Een van die dinge waaroor ek werklik bly is”, sê William, “is dat ek nou hegte en blywende vriende het onder mense wat ek vantevore as aartsvyande beskou het. Dit is ook ’n ware bron van vreugde vir my om die Bybel se boodskap van hoop na gebiede te neem wat vantevore vir my verbode was. As ek terugdink aan wat die waarheid vir my en my gesin gedoen het, is ek Jehovah en sy organisasie vir ewig dank verskuldig.”
‘Dinge maak eenvoudig nie vir my sin nie’
Robert en Teresa se agtergrond verskil hemelsbreed. “Ek kom uit ’n ywerige Protestantse gesin”, sê Robert. “Van my familielede was betrokke by paramilitêre bedrywighede. Ek het op 19-jarige ouderdom by die Ulster-verdedigingsregiment van die Britse leër aangesluit. ’n Groot deel van daardie tyd het ek die gebied gepatrolleer waar Teresa gewoon het. Een aand is ek van gewone patrollie afgehaal om ander take te verrig. Daardie nag is die Land-Rover waarin ek sou ry, opgeblaas. Twee soldate het gesterf en twee ander is beseer.”
Robert het oor die sin van die lewe begin wonder. “Ek het nog altyd in God geglo, maar wanneer ek na Noord-Ierland gekyk het, het dinge eenvoudig nie vir my sin gemaak nie. Ek het in werklikheid tot God begin bid. Ek het God gevra of hy werklik bestaan, en as hy wel bestaan, moet hy my wys wat die regte manier is om my lewe te lei. Ek onthou dat ek vir God gesê het dat daar êrens een ware godsdiens moet wees!” Net ’n paar dae later het een van Jehovah se Getuies Robert besoek en lektuur by hom gelaat. Toe Robert daardie aand laat van patrollie af gekom het, het hy dit begin lees, en teen vyfuur die volgende oggend het hy dit klaar gelees. “Ek het gou besef dat dit die waarheid is”, sê hy, “en ek kon sien dat alles direk uit die Bybel kom” (2 Timoteus 3:16). Hy het die Bybel begin studeer en het kort daarna sy lewe aan God toegewy.
“Die Getuies het altyd ons aandag op die Bybel gevestig”
Teresa het daarenteen ’n Katolieke agtergrond gehad, met diepgewortelde nasionalistiese gevoelens. “As jong meisie het ek by Sinn Fein aangesluit.”b Teresa erken: “Dit het daartoe gelei dat ek die paramilitêre bedrywighede ondersteun het. Ek het geld help insamel vir die militêre stryd. Ek het die IRL op hoogte gehou van gebeure in my gebied. Ek het ook betrokke geraak by opstande en het die polisie en weermagpatrollies met klippe bestook.”
Toe party van Teresa se gesin die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het dit ook haar nuuskierigheid gewek. Die krag van God se Woord het haar grootliks beïnvloed. “Die Getuies het altyd ons aandag op die Bybel gevestig om die antwoorde op vrae te kry”, sê sy. “Die belofte in Daniël 2:44 was werklik ’n openbaring. Ek het gesien dat God se Koninkryk die ware middel was wat al die ongeregtighede waarteen ek gestry het uit die weg sal ruim.” Sy het die wreedhede wat paramilitêre lede gepleeg het al hoe meer gehaat. Teresa kon byvoorbeeld nie verstaan waarom enigiemand met gevoelens van medelyde en menswaardigheid bly kan wees oor nuus van terroristeoptrede waar soldate of ander gesterf het of vermink is en families deur droefheid en pyn verpletter is nie. Ook sy het op die waarheid in die Bybel gereageer en God se beginsels toegelaat om haar denke te verander. Sy het haar lewe aan God toegewy en is kort daarna gedoop.—Spreuke 2:1-5, 10-14.
Teresa het Robert ontmoet toe hulle albei vergaderinge by een van die gemeentes van Jehovah se Getuies in Noord-Ierland bygewoon het. Sy vertel: “Toe ek Robert die eerste keer ontmoet, kon ek moeilik glo dat ek so kalm en vreedsaam met iemand praat wat ek net die ander dag nog as deel van die Britse oorlogsmasjien sou beskou het. God se Woord het my beslis gehelp om diepgewortelde haat en vooroordele uit te roei.” Sy en Robert het gevind dat hulle nou baie dinge in gemeen het en nie meer verdeeld was deur haat en vooroordele wat weens hulle verskillende tradisies en kulture ontstaan het nie. Die kragtigste hiervan was ’n liefde vir Jehovah God. Hulle het getrou. Nou werk hulle saam om God se boodskap van ware vrede na mense van alle agtergronde en oortuigings in hierdie land vol probleme te neem.
Ander in Ierland het soortgelyke ondervindinge gehad. Hulle is bevry van die ‘filosofie en leë bedrog’ van mense omdat hulle na die leringe van die geïnspireerde Woord van God geluister en dit aanvaar het (Kolossense 2:8). Nou stel hulle hulle volle vertroue in God se beloftes wat in die Bybel opgeteken is. Hulle is bly dat hulle vir enigeen wat wil luister van hulle hoop van ’n vreedsame toekoms kan vertel—’n toekoms wat geheel en al vry van sektariese en ander soorte geweld sal wees.—Jesaja 11:6-9.
[Voetnote]
a Die name is verander.
b ’n Politieke party wat nou verbonde is aan die Provisionele IRL.
[Prente op bladsy 10]
Die paramilitêre stryd is op mure in die hele Noord-Ierland geïdealiseer