Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 5/1 bl. 26-27
  • Die vrugbare land van die Vendas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vrugbare land van die Vendas
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • ’n Moeilike taal
  • Geestelike vrugte
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 5/1 bl. 26-27

Die vrugbare land van die Vendas

EK EN my vrou werk al die afgelope tien jaar as voltydse evangeliedienaars onder die Vendas. Die Vendas woon suid van die Limpoporivier in die noorde van Suid-Afrika, en hulle nasie bestaan uit ’n aantal stamme wat die Limpopo gedurende die afgelope eeue oorgesteek het. Party Vendas beweer dat hulle voorvaders hulle meer as 1 000 jaar gelede hier gevestig het.

Trouens, hierdie streek was vroeër deel van ’n ou beskawing wat die Mapungubwe-koninkryk genoem is. Dit was Suid-Afrika se eerste groot stedelike nedersetting, en hulle het die uitgestrekte Limpoporivier-vallei beheer, van Botswana in die weste tot Mosambiek in die ooste. Van 900 G.J. tot 1100 G.J. het Mapungubwe Arabiese handelaars van ivoor, renosterhorings, dierevelle, koper en selfs goud voorsien. Pragtige, vergulde beeldhouwerk is op ’n koppie opgegrawe wat ’n koninklike begraafplaas was en Mapungubwe genoem word. Dit is van “die vroegste aanduidings dat goud in suidelike Afrika ontgin is”, sê een ensiklopedie.

Goud word nie meer hier ontgin nie. Vandag is die land van die Vendas bekend vir sy vrugbaarheid. Suid van die Soutpansberg lê ’n geil vallei, waar vrugte soos avokado’s, piesangs, mango’s en koejawels volop groei. Buiten neute soos pekan- en makadamianeute, is daar ook ’n oorvloedige voorraad groente. Dit sluit die wilde muroho in, wat soos spinasie proe en wat die plaaslike mense baie geniet.

Die Vendas is ’n vreedsame en gasvrye nasie. Dit is nie ongewoon dat ’n gesinshoof vra dat ’n hoender vir ’n onverwagte gas gaargemaak word nie. Dit word saam met vhuswa geëet, die stapelvoedsel wat van mielies gemaak word. Ná die besoek sal die gesinshoof sy gas ’n entjie vergesel. Dit is die tradisionele manier om respek te toon vir ’n besoeker. Kinders word geleer om besoekers op ’n grasieuse manier te groet deur te buig en die een hand oor die ander te laat gly. Op hierdie bladsy sien jy twee Venda-vroue wat mekaar op hierdie gebruiklike manier groet.

’n Moeilike taal

Die Venda-taal word nie maklik deur mense met ’n Europese herkoms aangeleer nie. Een probleem is dat baie woorde dieselfde gespel word, maar verskillend uitgespreek word. Terwyl ek eendag ’n Bybeltoespraak in ’n Venda-gemeente van Jehovah se Getuies gehou het, het ek die gehoor probeer aanspoor om met almal te praat. Iemand in die gehoor kon nie anders as om te lag nie, want ek het “vinger tot vinger” gesê pleks van “persoon tot persoon”.

Toe ek aanvanklik Venda in die openbare getuieniswerk probeer praat het, het ’n Venda-vrou geantwoord: “Ek praat nie Engels nie.” Ek het gedink dat ek goeie Venda gepraat het, maar sy het gedink dit is Engels! Toe ek by ’n ander geleentheid na ’n huis toe aangestap gekom het, het ek ’n kind gevra om die gesinshoof te roep. Die Venda woord vir gesinshoof is thoʹho. Ek het per ongeluk thohoʹ gesê en dus gevra om met die aap van die huis te praat! Sulke foute het my ontmoedig, maar ons het volhard en ek sowel as my vrou kan Venda nou redelik goed praat.

Geestelike vrugte

Die land van die Vendas is ook in geestelike sin vrugbaar. In die vyftigerjare is ’n gemeente van Jehovah se Getuies onder trekarbeiders gevorm wat van buurlande af gekom het om op ’n kopermyn in die dorp Messina te werk. Hulle ywerige bedrywighede het daartoe gelei dat baie Vendas Bybelwaarhede gehoor het. ’n Dekade later het ’n groep Venda-Getuies vergaderinge in ’n huis op die dorp Sibasa gehou.

Die Suid-Afrikaanse takkantoor van die Wagtoringgenootskap het voltydse evangeliedienaars in hierdie vrugbare veld ingestuur om die vermeerdering te bespoedig. Weldra het die Sibasa-groep ’n groot gemeente geword. Christenvergaderinge is op daardie stadium in ’n klaskamer gehou. Maar met die hulp van Jehovah se Getuies in die Pietersburg-omgewing, wat ongeveer 160 kilometer na die suide is, is ’n Koninkryksaal in Thohoyandou, ’n aangrensende dorp, gebou.

Die Vendasprekende bevolking in die noorde van Suid-Afrika is meer as 500 000. Daar was geen Venda-Getuies toe die Koninkrykspredikingswerk in die vyftigerjare hier begin het nie. Nou is daar meer as 150. Maar daar is nog baie onaangeraakte gebiede en baie werk om te doen. In 1989 het ons ’n Venda-dorpie, wat Hamutsha genoem word, begin besoek. Net een Getuie het toe daar gewoon. Nou woon meer as 40 Koninkryksverkondigers in daardie dorpie. Ons is besig om ons Koninkryksaal te voltooi, weer eens danksy die hulp van Getuies van die Pietersburg-gemeentes en die geldelike bydraes van broers in welvarender lande.

Ons woon in ’n karavaan op ’n plaas. Ons hou ons lewe eenvoudig sodat ons meer tyd het om die plaaslike mense met die goeie nuus te bereik (Markus 13:10). Gevolglik is ons ryklik geseën met die voorreg om baie te help om hulle lewe aan Jehovah God toe te wy. Een voorbeeld is ’n man met die naam Michael, wat die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in ’n vriend se huis gesien het.a Hy het dit begin lees en onmiddellik gesien dat dit die waarheid is. Hy het dus aan die Wagtoringgenootskap geskryf vir nog Bybellektuur. In sy brief het Michael verduidelik dat hy onlangs as ’n lid van ’n plaaslike Apostoliese kerk gedoop is. “Ek het ontdek”, het hy verder gesê, “dat ek op die verkeerde weg na die Koninkryk van God is. Ek het besluit om een van julle lede te word, maar ek weet nie hoe om dit te doen nie.” Hy het toe sy adres gegee en gevra dat een van Jehovah se Getuies gestuur moet word om hom te help. Ek het Michael opgespoor en ’n tuisbybelstudie met hom begin. Vandag is hy ’n gedoopte Getuie en dien hy Jehovah getrou.

In Desember 1997 het ons die “Geloof in God se Woord”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon wat in ’n sportstadion in Thohoyandou gehou is. Die bywoningsyfer was 634, en 12 nuwes is gedoop. Ek het die voorreg gehad om twee toesprake in Venda te hou. Dit was waarlik ’n mylpaal in die gelukkige dekade wat ons in hierdie vrugbare land deurgebring het!—Bygedra.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel